Jesus is die Een! deur Johan Janse van Rensburg (Resensie deur Gerda de Villiers)

Kyk ook:

Hierdie resensie van Gerda de Villiers van die Teologiese fakulteit van UP wys die idees wat sommige teoloë daar het. Vir ’n weerlegging hiervan, kyk Die Bybel oor die vervulling van profesieë.

(Lees oorspronklike artikel hier op www.teo.co.za.)

***********************

Deur Gerda de Villiers

Gepubliseer 25 November 2011

Gerda de Villiers se Artikels

Verloor ons nie die evangelie in die Emerging Church nie

Volle bibliografiese besonderhede:Titel: Jesus is die Een

Subtitel: Verloor ons nie die evangelie in die Emerging Church nie
Outeur: Johan Janse van Rensburg
Datum: 2011
Paginae: 161, bibliografie ingesluit
Uitgewer: Christelike Media Publikasies
ISBN 978 1 920460 26 6
Prys: Onbekend

Jesus is die Een! deur Johan Janse van Rensburg bestaan uit drie onderafdelings. Afdeling A (pp 19-57) handel oor ‘Die Jesus van die Skrif’, in Afdeling B (pp 61-123) neem die outeur ‘Die ander teologie’ onder die loep, en in Afdeling C (pp 127-157) stel hy ‘Emerge in perspektief’. Soos dit uit die subtitel blyk, tree Johan Janse van Rensburg in hierdie publikasie met die sogenaamde Emerging Church-beweging – afgekort na EC – in gesprek.

Janse van Rensburg doen moeite om die EC te verstaan. Hy maak ’n deeglike studie van hul werk en wy meer as ’n derde van sy boek aan ’n uiteensetting van hul benadering tot die geloof en die kerk (Afdeling B). Volgens die EC gaan dit daaroor dat die Christelike geloof vir die postmoderne mens herbedink moet word om in die een en twintigste eeu te kan bly voortbestaan. Die ou strakke en onverbiddelike ‘waarhede’ is eenvoudig nie meer bevatlik of aanvaarbaar nie. ’n God wat veroordeel, ’n evangelie wat eksklusief is, moet hervorm word na ’n God van liefde wat almal insluit, ongeag geloof (pp 63-68).

Jesus se lewe is baie meer belangrik as die leer oor Hom. Jesus is nie die Een wat ons van ons sonde kom verlos het nie, Hy was eerder iemand wat sosiale geregtigheid laat geskied het en wat naasteliefde aan alle mense bewys het (p 72). Daarom vervaag begrippe soos hemel en hel. Die leer oor sonde het geen plek nie. Hel is waar daar die uiterste nood en ellende op aarde is (armoede, ellende, onreg ens), en hemel is waar die kerk hierdie toedrag van sake met mag en mening beveg (p 114).

Volgens die EC is die postmoderne mens van die een en twintigste eeu ook baie meer op ervaring as op dogma ingestel. Meditasie, (‘centering prayer’) word beklemtoon, maar die verrassende is dat God slegs deur ’n diepe kennis van die self gevind word (p 101).

In die een en twintigste eeu, sê die EC, moet daar heeltemal nuut en anders oor kerk en kerk-wees gedink word. Die fokus op struktuur, strategiese beplanning, begroting en akademiese opleiding is onnodig (pp 75, 84), die kerk moet weer haar antieke wortels ontdek en die kerk van Nuwe Testament laat herleef (pp 75, 83). Denominasies moet verdwyn, die Koninkryk van God moet kom!

Johan Janse van Rensburg kritiseer hierdie sienswyses van die EC. Wat laasgenoemde mening oor die terugkeer van die kerk na haar Nuwe Testamentiese gestalte, merk hy tereg op: ‘Daar is ’n innerlike teenstrydigheid in die dringende oproep dat die kerk moet verander en die vreemde droom dat die kerk in ’n postmoderne tyd sal terugkeer na die eenvoudige kerk-wees van die Bybel’ (p89). En hy veg ook vir teologiese opleiding (p 77).

Maar ongelukkig slaag die res van sy argumente teen die EC-beweging nie. Janse van Rensburg voer aan dat die EC die belangrike geloofswaarhede van die Skrif verwerp (p 177) as hulle beweer dat geen sekerheid oor enige geloofsake uit die Bybel te kry is nie (pp 119, 123). ‘As daar geen absolute waarheid is nie, kan die Christelike geloof nie daarop aanspraak maak om die enigste ware geloof te wees nie,’ skryf hy op bladsy 87. Die enigste ware geloof is die Christelike geloof. Die Bybel is die gesaghebbende Woord van God en die evangelie van Jesus Christus is ‘so duidelik soos daglig’ (p 117). Die Skrif leer belangrike geloofswaarhede en sleutelwaarhede oor Jesus en sy verlossing. Die hooftemas in die Bybel, is sonde, verlossing deur Jesus Christus en ’n lewe van dankbaarheid (p 123). Volgens Janse van Rensburg mag daar onsekerheid oor sommige sake in die Skrif bestaan, maar oor hierdie hooftemas is daar geen twyfel nie. Dis alles so ‘deursigtig dat selfs ’n kindjie dit kan verstaan!’

Is dit werklik al waaroor dit gaan? Deur slegs enkele sogenaamde ‘geloofswaarhede’ uit die Skrif te belig, gaan die volle rykdom en verskillende skakerings van die Bybel – die Ou – en die Nuwe Testament – verlore. Die Skrif vertel van aansienlik meer as bloot sonde, verlossing deur Jesus en ’n dankbare lewe. En klein kindertjies verstaan hierdie ingewikkelde en abstrakte konsepte gewoonlik glad nie. Dit maak hulle eintlik baie baie bang.

Wanneer Janse van Rensburg in Afdeling A die ‘Jesus van die Skrif’ aan die leser voorstel, is sy Skrifhantering letterlik en onkrities. Jesus se woorde, byvoorbeeld in die Johannes-evangelie (p 23, 24), is volgens hom Jesus se werklike woorde. So ook die afskeidswoorde van Jesus in Matteus 28:19 (p 41; vgl ook p 71 waar Jesus as oordeelsfiguur voorgestel word.) Hy hou hoegenaamd nie rekening met die verskillende teologiese motiewe van die Nuwe Testamentiese skrywers nie, en ook nie met die verskillende historiese kontekste van die evangelies en die briewe nie.

Meer ontstellend is egter Janse van Rensburg se vermoë om Jesus wel in die Ou Testament te vind! Op bladsy 28 skryf hy: ‘Jesus is die vervulling van die profesie van Psalm 118:22.’ Die uiters problematiese teks in Job 19:25 is ’n bewys van geloofsekerheid in Jesus Christus (p 36). Jesaja 40:3-5 se profesie het betrekking op Johannes die Doper (p 37), en op bladsy 38 is die wondergenesings in Matteus 11:5 die vervulling van Jesaja se beloftes (28:18-19; 35:5-6; 61:1-2). So wil Jesus vir Johannes die Doper wys dat die beloftes van profete in Hom vervul is. Hierdie teologie is hopeloos verouder, en totaal onwetenskaplik. Jesus word nêrens in die Ou Testament voorspel nie, en al is Janse van Rensburg nie ’n Ou Testamentikus nie, behoort hy as ’n professor in teologie ten minste hiervan bewus te wees!

Verder skryf hy: ‘Satan het in die Ou Testamentiese tyd die Here se kerk probeer vernietig deur Israel as klein volkie deur ander nasies te laat verswelg’ (p 56); en ‘Satan se versekering aan Eva, dat as hulle van die verbode vrugte eet …’ (p 111). Weer eens, die Ou Testament ken nie Satan as ’n bose duiwelse figuur nie. Satan word in die Hebreeuse Bybel slegs op drie plekke by die naam genoem: 1 Kronieke 21:1; Sagaria 3: 1&2; en Job 1&2 – en hier is Satan een van die seuns van God. Janse van Rensburg se aantygings teen die Ou Testamentiese Satan is Skriftuurlik volkome ongegrond.

Uiteindelik slaag sy kritiek teen die EC nie, want albei redeneer volgens dieselfde gebreke: ’n gebrek aan Bybelwetenskaplike kennis – selfs basiese kennis; ’n onvermoë om die Skrif binne historiese konteks te plaas en gevolglik krities te hanteer; ’n blindheid vir die uiteenlopende, selfs teenstrydige tekste in die Ou en die Nuwe Testament. Albei probeer om die Skrif op ’n bepaalde manier en vir ’n bepaalde doel aan die woord te stel, of dit nou is deur middel van sekerheid (Janse van Rensburg) of deur middel van onsekerheid (EC). Die ryke verskeidenheid en die lewendige dialoog binne die Bybel self word verskraal tot ’n verpakking van die evangelie vir die post-moderne mens, of die enigste sekere geloofswaarheid dat Jesus die Een is.

Die EC oortuig nie, en Johan Janse van Rensburg se argumente ook nie.

Reaksies op “Jesus is die Een! deur Johan Janse van Rensburg”

Prof. Johan van Rensburg se kommentaar op 28 Nov 2011 12:55:07 AM PST

Ek is bewus daarvan dat dit nie gebruiklik is dat ’n outeur op ’n resensie reageer nie. Daar is egter sulke growwe verdraaiings in Gerda de Villiers se resensie van my boek, dat ek dit ter wille van die teologie en die waarheid nie daar kan laat nie. Om op alles te reageer waarvan sy my beskuldig, sou bladsye kommentaar verg. Ek bespreek slegs die belangrikste sake: 1 Gerda vra of die grondmotiewe van sonde, verlossing en dankbaarheid al is waaroor dit gaan? Natuurlik nie! Die bedoeling was egter nie om ’n hele kommentaaar van die Bybel weer te gee nie. Ek gebruik hierdie drie hooftemas om die boodskap van die EC in perspektief te stel. 2 Natuurlik kan klein kindertjies nie al die teologiese kompleksiteite van die Bybel verstaan nie. Volwassenes en teoloë ook nie, behalwe Gerda wat oor haar eie teologie so seker is en so kategories skryf, terwyl sy die sekerheid waaroor ek skryf, verfoei. Gelukkig hoef kindertjies en ons nie alles te verstaan nie. Die praktyk bewys met watter merkwaardige insig klein kindertjies die Skrifwaarhede hanteer en die geloofsekerheid op ’n baie jong ouderdom ervaar. 3 Dit is onwaar dat ek Jesus in die bladsye van die Ou Testament vind. Dit is ’n moedswillige verdraaing van die waarheid en ek beskou dit as ’n teologiese en etiese vergryp. Ek sluit in my benadering aan by die wyse waarop Jesus en die apostels die Ou Testamentiese geskrifte hanteer (Byv.Hand 8). Vervulling van profesieë is hoegenaamd nie so simplisties gelyk aan “Jesus in die bladsye van die Ou Testament” nie. Ek sluit aan by Brüggemann se verduideliking van die poëtise karakter van die profesieë wat ’n uitgestelde betekenis veronderstel wat nog in die toekoms lê. As Jesus dan sê: “Vandag is hierdie Skrif in julle oë vervul”, dan word die uitgestelde poëtise betekenis ’n werklikheid. In hierdie konteks is my verwysing na Ps.118:22 en ander vervullings hoegenaamd nie so onwetenskaplik en oud-teologies as wat Gerda voorgee nie. 4 Dit is nóg ’n verdraaiing van die waarheid as Gerda beweer dat ek Job 19:25 as ’n bewys van geloofsekerheid in Jesus Christus voorgehou het. Ek het ’n hele aantal Nuwe Testamentiese Skrifgegewens gebruik om tot die legitimiteit van geloofsekerheid te kom en toe geskryf: “Daarom is die taal van die gelowige nie ‘Ek weet nie’, maar ‘Ek weet my verlosser lewe’ “ (bls.36). Die taal van Job verwoord die sekerheid van die gelowige. Nêrens het ek Job 19:25 gebruik as ’n bewys van geloofsekerheid nie! 5 As Gerda skryf :”Weer eens, die Ou Testament ken nie Satan as ’n bose duiwelse figuur nie”, is ek werklik verbaas. Sy weerspreek haarself hierin want sy verwys sélf na tekste waar Satan in ’n negatiewe sin met negatiewe bedoelings optree. Sy skryf vreeeslik kategories en toon nie die versigtigheid wat byvoorbeeld in die verslag van ATLAS aan die Algemene Sinode (2011) oor die Satan in die Ou Testament getoon word nie. Die Ou Testamentiese adviseurs vir daardie verslag verskil kennelik van haar standpunt! 6 Dit is jammer dat Gerda nie by ’n professionele resensie bly nie, maar haarself toelaat om ook persoonlike en neerhalende opmerkings oor my teologiese integriteit te maak Sy skryf dat ek as teologiese professor bewus daarvan behoort te wees dat die Ou Testament nie die duiwel as ’n bose wese ken nie. Is die implikasie dat ek nie die titel “professor” waardig is nie? Sy gee my dus ’n rooi kaart vir swak teologie en beskuldig my daarvan dat ek ’n verouderde en onwetenskaplike teologie aanhang. Vreemd dat daar heelwat ander meer gesiene teoloë as ek en sy is wat presies my standpunt onderskryf. Haar teologiese onderrok hang uit as sy met haar skrywe blootlê wat haar eie Skrifbeskouing en epistemologiese vertrekpunte is. Die kerk behoort hiervan kennis te neem.

Bielie se kommentaar op 02 Dec 2011 6:24:06 AM PST:

Gerda Jou resensie is ontstellend: Dit is van wetenskaplike meriete ontbloot en wys slegs jou eie vooroordeel teen Jesus en sy Evangelie van genade. Dit is jammer dat die instansie wat veronderstel is om die NG kerk se kwekelinge op te lei so laag gedaal het dat mense wat duidelik Chrsitus se genade minag die woordvoerder is. Jou bespreking oor die “ou testamentiese Satan” getuig van ongelooflike vooroordeel. Net kinders bly in feetjieland waar woorde geen betekenis het nie. Ekskuus. Kinders en postmoderniste.

Tienie Strauss se kommentaar op 14 Dec 2011 11:49:11 AM PST:

Ek ondersteun vir Prof Johan Janse van Rensburg en ek sien uit om sy boek te lees. Ek het hierdie dinge in my ou kerk gesien. Noem dit maar Christian Mysticism, New Age of Emerging Church. As jy die sondeval-verlossingswerk van Jesus wegvat dan bly jy oor met ’n Jesus wat baie dieselfde is as Buddha, Gandhi etc. (almal het armes gehelp, almal is ’n goeie voorbeeld van hoe om goed te lewe en jy kan by hulle almal leer hoe om met “god” te connect). Volgers van hierdie nuwe Jesus kan oor tyd vir Jesus met Buddha of Gandhi vervang of hulle kan kies om die beste van elkeen te vat en daarin te glo. Dit is hierdie nuwe Jesus waarvan Len Sweet in sy boek praat. My ou dominee het ook op sy blog geskryf dat Buddha vir ons ’n nuwe manier van menswees kom wys het. Baie SA leeraars is vriende met Len Sweet en Ron Martoia. Ron Martoia preek gereeld in SA kerke. Len Sweet erken vir Matthew Fox in een van sy boeke en Ron Martoia erken vir Matthew Fox op sy webwerf. Aangeheg is ’n youtube gedeelte van Matthew Fox (skrywer van die boek Christian Mystics). Op die videoclip “chant” hy op name soos Buddha, Brahman, Alla etc.  http://www.youtube.com/watch?v=60ufS8DM5ro Gerda, ek sal graag jou opinie hieroor wil hê. Ek sukkel om te verstaan waarmee baie SA leraars besig is.

Philippus P J van Rensburg se kommentaar op 29 Feb 2012 11:35:31 AM PST:

Om Prof Johan uit te maak as ’n verouderde en onwetenskaplike teoloog is om die hele fokus van die Nuwe Testament opsy te sit, want ” Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof. . .Rom 3:25 ens. Daar kan geen teologie wees sonder hierdie waarheid nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui