Christendom 101

Kyk ook:

Hier volg ’n opsomming van dit wat die gemiddelde evangeliese Christen glo:

Skepping

God skep die aarde in ses 24-uur dae (kyk Skeppingsvolgorde volgens Genesis 1). God skep onder andere Adam en Eva as die eerste twee mense op aarde. Uit die geslagsregisters kan mens bereken dat hierdie ongeveer 4004 vC gebeur het.

Reeds in Genesis stel God Homself bekend as ’n drie-eenheid.

God skape goed. In Genesis 1, kom die woord “goed” sewe keer voor. Dus was daar geen dood en swaarkry direk ná die skepping nie. God skep ook twee spesifieke bome:

  1. Die boom van die lewe in die middel van die tuin
  2. Die boom van alle kennis

God beveel die mens om nie van die boom van alle kennis te eet nie. Aan die mens gee God die plante wat saad gee en vrugte as kos. Aan die diere gee God die groen plante om te eet (vers 29-31).

Alle mense op aarde is afstammelinge van Adam en Eva.

Sondeval

Genesis 3: Die Satan, in die vorm van ’n slang, verlei vir Eva en Eva verlei vir Adam om van die boom van goed en kwaad (boom van alle kennis) te eet. Deur hierdie ongehoorsaamheid bring hulle ’n vloek oor die hele aarde. Hulle besef dat hulle kaal is en kry skaam daaroor. God vervloek die slang, die vrou en die man. Alle mense en diere sal van nou af doodgaan en nie vir ewig leef nie. Adam en Eva word uit die tuin gejaag sodat hulle nie meer van die boom van die lewe kan eet nie. Hierdie is die sondeval. Hierdie is ook die rede hoekom Jesus aarde toe moes kom om gekruisig te word.

Sondvloed

In Genesis 6-8 word Noag en die sondvloed beskryf: Die mens verval en het selfs gemeenskap met hemelse wesens. God besluit om die aarde te vernietig met ’n wêreldwye vloed. Hy roep Noag om ’n ark te bou sodat sy familie gespaar bly. 2348 vC stuur God reën wat die hele aarde met water bedek. Noag en sy gesin is vir meer as ’n jaar op die water. Na die sondvloed gee God die mens toestemming om ook vleis te eet. Alle mense op aarde vandag is afstammelinge van Noag. Ná die sondvloed word mense nie meer so oud nie.

Toring van Babel

In 2242 vC verval die mense weer en besluit om ’n hoë toring te bou. God skep verwarring onder hulle deur hulle verskillende tale te laat praat. Hierdie gebeurtenis verklaar die verskillende tale in die wêreld vandag.

Roeping van Abraham

In Genesis 12 roep God vir Abraham om Sy volk te begin (1921 vC). As teken daarvan moet hy homself en al sy seuns ná hom besny. Alle Joodse seuntjies word vandag nog besny. Abraham se seun Isak word gebore toe hy 100 jaar oud is. Jakob word uit Isak gebore. Hy het 12 seuns, wat die 12 stamme van Israel word.

Trek na Egipte

Josef is een van die 12 seuns. Sy broers verkoop hom omdat hulle jaloers is op hom omdat Jakob hom voortrek. Josef word na Egipte geneem waar hy vir Potifar werk. Hy beland egter in die tronk omdat Potifar se vrou hom valslik beskuldig van seksuele teistering. Hy lê die skinker en bakker se drome uit en dit gee hom die geleentheid om farao se droom uit te lê wat die hele land van hongersnood red. Josef se pa en broers trek na Egipte.

Uittog uit Egipte

215 jaar ná Jakob na Egipte getrek het, roep God vir Moses om die volk uit te lei. Jode vier vandag nog pasga om die uittog uit Egipte te herdenk.

Die 12 stamme van Israel = 12 seuns van Jakob minus Levi minus Josef plus Efrain plus Manasse.

Moses kry die 10 gebooie op twee plat kliptafels en ontvang die wet by God. Na ’n jaar bereik die Israeliete Jerigo, maar vertrou God te min om Jerigo in te neem. God besluit dat hulle nog 40 jaar in die woestyn sal deurbring. Ná die 40 jaar in die woestyn verower Israel Kanaän. Josua is Moses se opvolger.

Tyd van die rigters

God roep rigters om sy volk te red van die vyand. Hier volg ’n lys van ’n paar rigters: Otniël, Ehud, Samgar, Debora (vrou), Gideon, Abimelek, Simson, Samuel

Tyd van die konings

Na Samuel word Saul gesalf as eerste koning. Daarna word Dawid koning en na hom sy seun, Salomo.

Skeuring van die ryk

Na Salomo skeur die Ryk in twee:

  1. Juda: Koning Rehabeam regeer oor Juda en Benjamin
  2. Israel: Koning Jerobeam regeer oor die ander 10 stamme

Stelselmatig verlaat die volk vir God. God stuur baie profete om die volk te waarsku om terug te keer na Hom: Jesaja, Jeremia, Esegiël, Hosea, Joël, Amos, ens, maar dit help nie.

Ballingskap

721 vC word Israel weggevoer en herstel nooit weer nie. Hulle vermeng met ander volke.

588 vC word Juda weggevoer en word regeer deur Nebukadnesar, Belsasar en Darius. Die profeet Daniël dien onder al drie hierdie konings tydens ballingskap.

Herbouing van Jerusalem en die tempel

Na 70 jaar in ballingskap keer Juda terug na Israel.

Esra help om die tempel te herbou (520 vC tot ~515 vC).

Nehemia help om die muur rondom Jerusalem te herbou (454 vC tot 442 vC).

’n Nuwe bedeling (Jesus)

Die Messias, Jesus (die seun van God), word gebore uit die maagd, Maria. Toe hy ongeveer 30 jaar oud is begin sy bediening op aarde. Hy verduidelik sy leer aan mense deur gelykenisse. Jesus skaf al die ou Joodse reëls af. Dit is dinge soos die besnydenis, die eet van onrein kos, Sabbatsonderhouding op die Saterdag, ens. Jesus vervang hierdie dinge met soms selfs strenger reëls (kyk Matteus 5). In hierdie tyd doen Hy ook baie wonderwerke.

Jesus se dood en opstanding

Jesus word deur die Joodse leiers uitgelewer en word gekruisig onder Pontius Pilatus.

Ná drie dae staan Hy op uit die dood.

Ná 40 dae vaar Hy op na die Hemel.

Ná 10 dae word die Heilige Gees uitgestort in die vorm van tonge vuur op die koppe van die apostels (Handelinge 2)

Paulus

Paulus, wat voorheen die Kerk vervolg het, kom tot bekering nadat Jesus aan hom verskyn (Handelinge 9). Later gaan werk hy onder die heidene (Handelinge 15). Hy word baie keer in die tronk gegooi oor sy geloof. Wat Paulus moontlik as ’n terugslag gesien het, word ’n seën omdat hy in die tronk baie briewe skryf wat vandag in die Bybel opgeteken is. Die laaste wat die Bybel van Paulus vertel is dat hy onder huisarres was. Op die ou einde het hy hoogs waarskynlik gesterf vir sy geloof (kyk Hoe is die 12 dissipels dood?).

Wederkoms

Tans sit Jesus aan die regterhand van God vanwaar Hy sal kom om almal op aarde te oordeel. Die boek Openbaring (van Johannes) vertel meer hiervan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui