Hoe lank was Israel in Egipte?

Probleem

In Eksodus 12:40 word gesê dat die Israeliete 430 jaar in Egipte was:

(40)Die Israeliete was vier honderd en dertig jaar in Egipte.

Dit skep egter ’n probleem, want:

  • Moses was 80 jaar oud toe die Israeliete Egipte verlaat het (Eksodus 7:7).
  • Moses se pa, Amram het 137 jaar oud geword (Eksodus 6:19).
  • Amram se pa, Kehat het 133 jaar oud geword (Eksodus 6:17).
  • Kehat (seun van Levi) was hoogs waarskynlik een van die 66 mense wat na Egipte getrek het (Genesis 46:26 : Afgesien van die vrouens van Jakob se seuns was daar ses en sestig afstammelinge van Jakob wat na Egipte toe is.)

Om die tydsduur so ver as moontlik uit te sterk, moet aanvaar word dat:

  • Kehat ’n pasgebore baba was toe hy in Egipte aangekom het.
  • Amram is gebore toe Kehat 133 jaar oud was.
  • Moses is gebore to Amram 137 jaar oud was.

Dit gee ’n totale tyd van 133 + 137 + 80 = 350 jaar.

Dit is onrealisties en dit kom ook nie naby die 430 jaar nie soos beskryf in Eksodus 12:40 nie.

Oplossing

Die tydperk van Abraham se belofte tot Jakob in Egipte intrek het is (kyk tydlyntabel onder):

  • Belofte aan Abraham tot Isak se geboorte = 100-75 = 25
  • Isak se geboorte tot Jakob se geboorte = 60
  • Jakob se geboorte tot toe hy in Egipte ingetrek het = 130
  • Totaal = 25 + 60 + 130 = 215 jaar

In Genesis 12:7 belowe God om die land Kanaän vir Abraham te gee:

Toe het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land.”

In Galasiërs 3:16-17 lei ’n mens af dat hierdie belofte eers 430 jaar later in vervulling gekom het:

(16)God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie “aan nakomelinge”, meer as een nie, maar: “en aan jou nakomeling”, net een, en hierdie nakomeling is Christus. (17)Hiermee wil ek dít sê: God het ’n verbond met Abraham gesluit en dit tóé al geldig gemaak. Die wet, wat eers vier honderd en dertig jaar later gekom het, kan nie hierdie verbond ongeldig maak, sodat God se belofte aan Abraham nie meer sou geld nie.

Maar hoekom sê Eksodus 12:40 dat die Israeliete 430 jaar in Egipte was?

In die Griekse septuagint lui Eksodus 12:40 soos volg:

And the sojourning of the children of Israel, while they sojourned in the land of Egypt and the land of Chanaan, [was] four hundred and thirty years.”

(“sojourning” = tydelik woon)

Dus is Eksodus 12:40 ’n vertaalfout. Dit moet Kanaän insluit.

Dus:

  • Daar het 215 jaar verloop vandat God die belofte aan Abraham gemaak het tot Jakob na Egipte getrek het.
  • Die uittog uit Egipte was 430 jaar ná God die belofte aan Abraham gemaak het.
  • Die Israeliete was 430 – 215 = 215 jaar in Egipte.

Die volgende tydlyn geld dus:

vC Jaar na
skepping
Persoon Ouder-
dom
Gebeurtenis Verwysing
1996 2008 Abraham 0 Geboorte
1921 2083 Abraham 75 Trek na Kanaän Genesis 12:4
1896 2108 Abraham 100 Isak word gebore Genesis 21:5
1836 2168 Isak 60 Jakob word gebore Genesis 25:26
1756 2248 Jakob 80 Levi word gebore
1745 2259 Jakob 91 Josef word gebore Bereken
1728 2276 Josef 17 Josef word verkoop Genesis 37:2
1716 2288 Isak 180 Oorlede Genesis 35:28-29
1715 2289 Josef 30 Tree in diens van Farao Genesis 41:45
1706 2298 Jakob 130 Trek na Egipte Genesis 47:9
1689 2315 Jakob 147 Sterf Genesis 47:28
1635 2369 Josef 110 Sterf Genesis 50:22
1619 2385 Levi 137 Sterf Eksodus 6:15
1571 2433 Moses 0 Gebore Bereken
1491 2513 Moses 80 Uittog uit Egipte Eksodus 7:7
1451 2553 Moses 120 Sterf Deut 34:7
Israeliete neem Kanaän in

Grafiese tydlyn van Abraham tot Moses
En ook:

‘n Mens kan redeneer dat dit nie 430 jaar geneem het vir die belofte om in vervulling te kom nie, maar eers 430+40=470 jaar (of 1921vC-1451vC=470). Dit was egter as gevolg van die ongehoorsaamheid van die volk dat hierdie belofte met 40 jaar uitgestel moes word.

Vraag

Volgens die volkstelling in Numeri 1:44-46 was daar 603 550 weerbare manne. Dit kom neer op ongeveer 3 miljoen mense (kyk berekening in Excel en Waar is al die mense?). Is dit moontlik dat Jakob se nageslag so vinnig kon vermeerder?

Berekening van groeikoers:

Tyd van Jakob se geboorte tot volkstelling ~ 355 jaar

Die algemene formule vir bevolkingsaanwas is: P = P0(1+i)n

Groeikoers i = (P/P0)(1/n) – 1 = (3000000/1)^(1/355) – 1 = 4.3%

Dus, was ’n groeikoers van 4.3% nodig om 3 miljoen mense te hê tydens die uittog uit Egipte.

Om ’n groeikoers van 4.3% te kry moes alle ouerpare ses kinders kry wanneer hulle gemiddeld 26 jaar oud is, en daar moes ewe veel seuntjies en dogtertjies gebore word. Dit word soos volg bereken in die tabel hieronder:

Aantal
jare
Gebore Dood Totale
mense
Groeikoers
0 2 0 2
26 4 0 6 4.32%
52 12 0 18 4.32%
78 36 2 52 4.16%
104 108 4 156 4.32%
130 324 12 468 4.32%
156 972 36 1404 4.32%

As daar meer dogtertjies as seuntjies gebore word en mans meer as een vrou neem, dan kon vrouens selfs minder kinders kry as ses. Verder, as in ag geneem word dat die Israeliete so vinnig vermeerder het dat farao bang geword het vir hulle, is hierdie ’n baie realistiese groeikoers.

Kyk:

Genesis 47:27 Israel en sy seuns het in Egipte gebly, in die Gosenstreek. Hulle het dit as hulle eiendom ontvang en hulle was vrugbaar en hulle het baie geword.

Eksodus 1:7 Israel en sy seuns het in Egipte gebly, in die Gosenstreek. Hulle het dit as hulle eiendom ontvang en hulle was vrugbaar en hulle het baie geword.

Eksodus 1:12 Maar hoe meer die Israeliete onderdruk is, hoe meer het hulle geword en hoe meer het hulle oor die land versprei, in so ’n mate dat die Egiptenaars baie bang geword het vir hulle.

Eksodus 1:20 As gevolg hiervan het die volk aanhou vermeerder en baie talryk geword.

Eksodus 5:5 Julle mense is alreeds te veel en nou wil julle hulle ook nog laat ophou werk!”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui