Hoë Bybelse ouderdomme

In die Bybel lees ons van mense wat oor die 900 jaar oud geword het (met Metúsalag die oudste – 969 jaar). Daar is ’n duidelike skeiding voor en na die sondvloed (2348 vC): voor die sondvloed het mense baie oud geword en na die sondvloed baie jonger (kyk die diagram hier onder uit Living for 900 years. Kliek daarop vir ’n meer duidelike diagram (34kB)).

alt

Sommige mense dink dat dit onmoontlik is dat hierdie mense so oud kon word en maak hierdie gedeeltes in die Bybel af as mites. Daar is egter ’n paar goeie argumente vir die feit dat mense werklik so oud geword het:

Hoekom sou die Bybelskrywers hierdie ouderdomme gee indien dit nie waar was nie?

In Genesis 5 word die volgende ouderdomme gegee:

  • Gen 5:5 Adam = 930
  • Gen 5:8 Set = 912
  • Gen 5:11 Enos = 905
  • Gen 5:14 Kenan = 910
  • Gen 5:17 Mahalálel = 895
  • Gen 5:20 Jered = 962
  • Gen 5:23 Henog = 365 (hy is nooit dood nie, maar het in die hemel opgevaar)
  • Gen 5:27 Metúsalag = 969
  • Gen 5:31 Lameg = 777
  • Gen 9:29 Noag = 950

Indien hierdie mense werklik nie so oud geword het nie, hoekom het die skrywers in soveel detail onwaarhede geskryf? Wat sou die doel wees om hieroor te jok of hierdie ouderdomme op te maak?

Hulle sou ook weet dat hulle lesers hulle integriteit sou bevraagteken (die skrywer(s) skryf ook van Henog wat in die hemel opgeneem is en nie doodgegaan het nie (Gen 5:24)). Hoekom sou hulle hierdie risiko neem?

Daar is ook geen patroon in die ouderdomme, wat ’n aanduiding is dat dit uitgedink is nie.

En wat moet ons van die res van die Bybel glo as die skrywers daarvan so probeer mislei het?

Na die vloed word mense nog oud

Selfs kort na die vloed het mense ouer geword as wat ons vandag word:

In Genesis 11 word die volgende ouderdomme gegee:

  • Sem = 100 + 500 = 600
  • Arpagsad = 35 + 403 = 438
  • Selag = 30 + 403 = 433
  • Heber = 34 + 430 = 464
  • Peleg = 30 + 209 = 239
  • Rehu = 32 + 207 = 239
  • Serug = 30 + 200 = 230
  • Nahor = 29 + 190 = 219
  • Tera = 205

Maar kom ons kyk na die ouderdom van meer bekende name in die Bybel:

  • Gen 23:1 Sara (Abraham se vrou) = 127
  • Gen 25:7 Abraham = 175
  • Gen 25:17 Ismael = 137
  • Gen 35:28 Isak = 180
  • Gen 47:28 Jakob = 147
  • Gen 50:22 Josef = 110
  • Eks 6:16 Levi = 137
  • Eks 6:18 Kehat = 133
  • Eks 6:20 Amram = 137
  • Num 33:39 Aäron = 123
  • Deut 34:7 Moses = 120
  • Jos 24:29 Josua = 110
  • 2 Kron 24:15 Jójada = 130
  • Job 42:16 En Job het daarna [sy beproewing] honderd en veertig jaar lank gelewe; en hy het sy kinders en kindskinders gesien, vier geslagte.
  • Samuel = 111

Wat moet ’n mens van hierdie mense glo? Was hulle werklike mense met fiktiewe ouderdomme?

Ouderdomme neem af, dus het dit hoog begin

Volgens die Bybel het ouderdomme afgeneem van die skepping af:

In 1706 vC was ’n ouderdom van 130 jaar oud laag terwyl ’n ouderdom van 130 jaar oud in ~960 vC hoog was:

  • Gen 47:9 Jakob het vir hom gesê: “Ek is nou al honderd en dertig jaar ’n vreemdeling hier op aarde. In vergelyking met dié van my voorvaders is dit maar min, en my lewensjare was vol swaarkry.” (1706 vC)
  • 2 Kron 24:15 Jojada het ’n hoë ouderdom bereik. Hy is dood toe hy honderd en dertig jaar was. (~960 vC)

In Ps 90:10 skryf Moses (1571-1451 vC): “Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe.”

Dawid het slegs 70 jaar oud geword (1085-1015 vC) (2 Sam 5:4 Dertig jaar was Dawid oud toe hy koning geword het; veertig jaar het hy geregeer.) en daar word beraam dat Salomo slegs 59 jaar oud geword het (1034-975 vC).

As ouderdomme in die Bybel afgeneem het is dit ’n goeie aanduiding dat dit hoog begin het.

Wat bepaal hoe oud ’n mens word?

Hoekom word mens oud? Hoekom “verweer” menslike organe as nuwe selle die hele tyd in ’n mens se liggaam vorm?

Aan die punte van ’n mens se DNS kry mens sogenaamde telomere wat korter word elke keer wanneer die sel verdeel. As al die telomere op is, dan kan die sel nie meer verdeel nie. As te veel selle nie meer kan verdeel nie, dan begin die liggaam agteruit gaan.

Hoekom leef ons nie meer so lank soos Noag en sy tydgenote nie?

Reeds voor die sondvloed sê God in Gen 6:3 die volgende: Toe sê die Here: “My Gees sal nie meer so lank in die mens bly nie, want hy is sterflik. Sy lewensduur sal nou honderd en twintig jaar wees.”

Dus kon God dit bonatuurlik veroorsaak het, maar dit kon ook op ’n natuurlike manier gebeur het en God het dit slegs gesê omdat Hy geweet het wat gaan gebeur. Daar is twee moontlikhede:

(1) Ouderdomme kon afgeneem het agv eksterne faktore wat verander het na die sondvloed, maar daar is min bewyse daarvan – indien eksterne faktore ’n groot rol gespeel het, kon ’n mens redeneer dat Noag nie nog 350 jaar na die vloed sou geleef het nie.

(2) Die mees waarskynlike rede is dat daar ’n magdom genetiese inligting verlore geraak het met die sondvloed omdat alle mense op aarde dood is behalwe agt mense. Dit het moontlik die mutasietempo in mense versnel. Sommige van hierdie mutasies kon veroorsaak het dat mense met korter telomere gebore word. (Kyk ook Mutations: evolution’s engine becomes evolution’s end!)

Hoekom styg ouderdomme vandag?

Dit is vandag algemene kennis dat mense se (gemiddelde) ouderdomme of lewensverwagting vandag styg (kyk bv Maximum life span, Life expectancy, Cencus Offers Statistics on Older Americans, Increase of Life-Span in Sweden, 1861-1999). Jeanne Calment is bv so onlangs soos 1997 oorlede op ’n rype ouderdom van 122 jaar en 164 dae. Is hierdie nie heeltemal teenstrydig met die Bybelse ouderdomme wat afgeneem het nie?

Nee: Dit is belangrik om te besef dat “lewensverwagting” ’n gemiddeld is – dit is die som van die ouderdom van alle mense gedeel deur die aantal mense en dit word beïnvloed deur faktore soos oorloë, siektes en lewensstyl (‘n persoon wat goeie voeding kry sal bv langer leef as iemand wat net van brood oorleef). Die vooruitgang van die mediese wetenskappe is baie verantwoordelik vir die verhoogde lewensverwagting vandag: baie minder mense gaan vandag op vroeë ouderdom dood aan onsterflike siektes as 200 jaar gelede. Kyk bv watter tipiese faktore ’n rol speel in jou lewensverwagting: How long will I live? (Life Expectancy Calculator).

Mense soos Jeanne Calment is duidelik uitskieters en nie ’n aanduiding dat mense langer leef nie.

As jy vandag ’n babatjie 3000 jaar terug in tyd kan neem met ’n tydmasjien, sal die babatjie nie langer leef as die mense van daardie tyd nie. Inteendeel, die kans is baie goed dat hy eerder korter sal leef as daardie mense.

Vir meer hieroor, kyk Word ons beter?.

Kyk ook

Is die skepping-evolusie kwessie belangrik?

Lori H getuig die volgende in CMI se nuusbrief, Update, van November 2011:

I walked away from the church because no one could answer my questions regarding science. God used Creation magazine over 14 years ago to open my eyes to the truth in His Word and bring me back to Him. This is an awesome ministry from helping to remove the veil. We don’t try to trick anyone or distort the word of God (2 Kor 4:2). We tell the truth before God, and all who are honest know this.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui