Lig sluier oor ondersoek na Bartlett

*******

Lig sluier oor ondersoek na Bartlett | Netwerk24

Deur Chris Jones

27 Januarie 2021

Die geheimsinnigheid oor die verhoor van dr. André Bartlett, voorsitter van die NG Sinode Hoëveld in Gauteng, oor sekere van sy uitlatings wat die negende gebod sou oortree en gevolglik in die openbare domein aanstoot sou gegee het, is nie in die openbare belang nie, skryf Chris Jones.

Ek wil steeds weet – en daar is ander mense wat ook so voel – waarom die ondersoek teen dr. André Bartlett in “uiterste geheimhouding” plaasvind.

Vertroulikheid werk met ’n kontinuum wat loop van uiterste geheimhouding tot waar elkeen min of meer alles oor ’n spesifieke saak weet.

Uiterste geheimhouding word normaalweg gekies vanweë die een of ander vrees. Dit word ook dikwels ten alle koste verdedig en in stand gehou, ter wille van die oënskynlike beheer van die proses.

In gevalle van uiterste geheimhouding kan daar selfs van partye verwag word om onder eed te verklaar – selfs ’n dokument te onderteken – dat niks oor ’n spesifieke ondersoek of verhoor na buite bekend gemaak mag word nie. Hierdie soort vereistes kan baie onredelik en onregverdig wees.

Uiteraard saai hierdie soort geheimhouding suspisie, agterdog en wantroue, veral as dit oor ’n saak van openbare belang gaan.

Sonder genoegsame en akkurate inligting, raak belangstellendes krities en afkerend, want hulle word onnodig in die duister gehou.

Vertroulikheid is ’n belangrike etiese beginsel wat die basis van goeie, effektiewe verhoudings tussen partye wil verseker met die oog op die welstand van die betrokke partye.

Hierdie beginsel is egter nie absoluut nie. Hoewel inligting deur partye tydens ’n spesifieke vergadering of verhoor vertroulik hanteer mag word, omdat dit deur ’n stel relevante reëls (kerkorde) vereis of aanbeveel word, beteken dit nié dat die hele proses vertroulik hoef te wees nie.

Wanneer ’n saak van openbare belang is, soos blyk in die geval van die klag teen Bartlett, mag sekere inligting bekend gemaak word – soos dit ook al voorheen in die NG kerk gedoen is.

So byvoorbeeld is die volledige klagtes en uitkoms van die sake teen Jurie le Roux, Dirk Human en Julian Muller destyds op die NG kerk se webtuiste geplaas. Ook was inligting oor ondersoeke van leer dwaling teen sommige ander NG kerk-teoloë en -predikante in die openbaar bekend.

Daar word gewoonlik tydens so ’n verhoor, veral as dit billik en regverdig is, gemene grond gevind wat met die toestemming van al die partye ná die tyd openbaar gemaak kan word.

My versoek is dat iemand in die kerk – dalk van die ondersoekliggaam – sal opstaan en hierdie ondersoek sal skuif van uiterste geheimhouding na ’n meer ewewigtige benadering.

Maak dus asseblief die klagstaat en ná die verhoor die ooreengekome uitkoms bekend, asook die verweer van die aangeklaagde.

Ek dink belangstellende lidmate, die breër publiek asook Bartlett en sy familie is op hierdie soort deursigtigheid geregtig.

• Dr. Jones is verbonde aan die eenheid vir morele leierskap in die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui