Weet jy dit of glo jy dit?

Die volgende artikel deur Sakkie Spangenberg was deel van ’n debat oor evolusie in Rapport. Kyk my kommentaar onderaan die artikel.

********

Weet jy dit of glo jy dit? | Netwerk24

Deur Sakkie Spangenberg (1179 woorde)

30 Augustus 2020

Die evolusieleer stel groot uitdagings aan gelowiges, skryf Sakkie Spangenberg.

Die gesprek in Rapport die afgelope maand oor kreasionisme, die evolusieteorie en die Christelike godsdiens gaan mank aan detail wat betref die wetenskap sowel as die Christelike godsdiens. Dit het tot gevolg dat lesers deur die bome die bos nie sien nie.

Ek fokus gevolglik slegs op die detail van die Christelike godsdiens en laat die detail wat die evolusionêre biologie betref vir die kundiges op daardie terrein.

Die evolusieteorie ondermyn álles wat Christene tradisioneel geglo het – van die idee dat daar ’n perfekte skepping was tot by die idee van ’n uiteindelike herstel van die “gevalle” skepping. Christene wat lidmate van die hoofstroomkerke is, glo dat húl God (by name die “Drie-eenheid”) alles aan die begin volmaak geskep het. Volgens hul oortuiging staan dit só in Genesis 1. Hierdie volmaakte wêreld is deur Adam en Eva se ongehoorsaamheid tot “onvolmaaktheid” verdoem toe hulle nie die Drie-eenheid se bevel gehoorsaam het nie.

Dít lei Christene weer af uit die tuinverhaal soos vertel in Genesis 2-3. Hierdie “sondeval” het die goeie Skepper se skeppingsdoel ondermyn en lyding, siekte en dood in sy volmaakte skepping ingedra. Maar Jesus word uiteindelik as Verlosser in Bethlehem gebore en hy maak deur sy dood aan ’n Romeinse kruis en sy opwekking uit die dood die sondeval en sy gevolge ongedaan. Christene vind steun vir hierdie oortuiging in Paulus se redenasies in Romeine 5-8. Maar dis nie al nie, Christene glo dat die skepping met Jesus se wederkoms en die eindoordeel herstel sal word. Wanneer Jesus as regter terugkeer, sal alle mense (gelowig en ongelowig) uit die dood opstaan. God die Vader sal sy skepping herstel en Christengelowiges sal die nuwe aarde bewoon. Christene lei dit onder meer af uit Openbaring 21-22.

Die Christelike godsdiens se totale pakket van leerstellings kan in hierdie woorde saamgevat word: sondeval, verlossing en eindoordeel. Volgens Frits Gaum in sy artikel, “Glo soos aan die begin” verlede week, is dít die “kernboodskap” van die Bybel wat selfs kinders kan verstaan. Die kritiese studie van die Bybel die afgelope 400 jaar het onweerlegbaar gewys dat die idee van ’n perfekte aarde, ’n sogenaamde sondeval, Jesus as ’n verlossergod en ’n herstelde hemel en aarde, nié die kernboodskap van die Bybel is nié. Hierdie verlossingsverhaal wat Christene verkondig, berus grootliks op foutiewe interpretasies van sowel die Ou as die Nuwe Testament. Genesis 2-3 is byvoorbeeld nie ’n verhaal van ’n sondeval nie.

Jesus self hou hom ook nie voor as ’n verlossergod wat die sondeval van Genesis 2-3 ongedaan gaan maak nie. Nie één van die drie oudste evangelies (Markus, Mattheus en Lukas) maak melding van ’n sondeval nie – wat nog te sê dat Jesus se kruisdood die gevolge van die sondeval ongedaan gaan maak nie! Jesus meld volgens die eerste drie evangelies wél dat hy aan ’n kruis gaan sterf, maar hy heg géén verlossingsbetekenis daaraan nie.

Vergelyk hiervoor Markus 8:31, 9:30-32, 10:32-34 en die ooreenstemmende dele in Mattheus en Lukas.

Die kritiese studie van die Bybel die afgelope 400 jaar het uitgewys dat die vroeë Christene nie hierdie leerstellings geken en onderskryf het nie. Die Christelike godsdiens soos ons dit tans ken, is die resultaat van eeue en eeue se lees van die Bybel, nadenke, teologiese strydgesprekke en vervolging van Christene wat ander sienings oor Jesus gekoester het.

Wat by kreasioniste en teoloë soos Gaum ontbreek, is ’n goeie historiese bewussyn – en dit beïnvloed nie alleen hul siening van die Christelike geloof nie, maar ook hul verstaan van die evolusieteorie.

’n “Historiese bewussyn” is die wete dat alles oor tyd heen verander. Dit is hierdie bewussyn wat Charles Darwin (1809-1882) in staat gestel het om die evolusieteorie te formuleer. Hy het ingesien dat plant- en dierespesies oor miljoene jare heen kan verander. Hy het hierdie bewussyn sy eie gemaak deurdat hy ook geologie bestudeer het. Die studie van geologie stel mens in staat om iets te snap van die lang geskiedenis van die aarde en lewe op aarde. Evolusie en geologie loop na regte hand aan hand en die een kan nie sonder die ander een verstaan word nie. Wie vandag oor evolusie op aarde wil praat en skryf, moet ook oor die ontstaan en verandering van die aarde praat en skryf.

Wie die Bybel en die Christelike godsdiens met ’n goeie historiese bewussyn bestudeer, weet dat die Christelike godsdiens nie van alle ewigheid af bestaan nie, maar dat dit uit die Judaïsme van die eerste eeu ontwikkel het. Die mensspesie Homo neanderthalensis het nie hierdie godsdiens beoefen nie en niks daarvan geweet nie. Selfs die vroeë ouers van die spesie Homo sapiens het nie van die Drie-eenheid kennis gedra nie – al het hulle godsdienstige rituele beoefen. Die Christelike godsdiens bestaan maar die afgelope 2 000 jaar. Die mensspesie Homo sapiens bestaan al meer as 200 000 jaar! Gaum en die kreasioniste moet hierdie feite in hul redenasies verdiskonteer as hulle oor die Christelike godsdiens en die evolusieteorie skryf. Hulle probeer egter kortpad vat en vertel mense dat God aan die begin alles uit niks geskep het. Vra ’n mens hulle nou van watter God hulle praat, is die veronderstelling altyd die Christelike God, naamlik die Drie-eenheid. Hoe weet hulle dit as ons vandag weet dat die Christelike godsdiens nie ouer as 2 000 jaar is nie en dat die idee van ’n Drie-eenheid maar 1 500 jaar oud is? Hulle weet dit slegs op grond van hul geloof en nie op grond van wetenskaplike bewyse of wetenskaplike oortuigings nie.

Dit is wel so dat daar evolusionêre bioloë en geoloë is wat tegelykertyd goeie wetenskaplikes én toegewyde Christene is. Daar is ook kritiese Bybelwetenskaplikes wat oor die saak van evolusie en die Bybel skryf en eweneens goeie Bybelwetenskaplikes én toegewyde Christene is. Die probleem met sodanige wetenskaplikes is egter dat hulle die probleme wat die moderne natuurwetenskap (biologie, geologie en kosmologie) vir die Christelike godsdiens bied, nie vierkant in die oë kyk nie. Die Christelike godsdienstige leerstellings kom uit voormoderne tye waar mense in ’n drieverdieping-heelal geglo en die aarde en die mensdom as die sentrum van die heelal beskou het.

As daar een Afrikaanse digter is wat iets gesnap het van die probleme wat die moderne kosmologie en die evolusieteorie vir die Christelike godsdiens bied, is dit M.M. Walters (1929-2020). In sy gedig oor Copernicus in sy digbundel Sprekende van God verwoord hy die probleme klinkklaar:

Met Copernicus het die aarde sy waardigheid verloor:
geen middelpunt ooit weer of rusplek vir Sy voet –
net stippeltjie stof in ’n oneindigheid van heelal en planete.
Die hemel is gereduseer tot leë ruim, die mens
tot oomblikke in die geskiedenis van sterre
Onmoontlik is dit om langer te aanvaar
dat die Bedenker, Maker, Mag agter die nuwe opset
na dié stippeltjie sou daal, mens word, ly en sterf
om die sinneloosste van sondes deur niksduidendes.
Ons leef vir altyd in die nachschein van Nikolai Kopernik.

Ons kan vir seker nie meer kinders opvoed en skool deur van hulle kreasioniste te maak of Christene met geen historiese bewussyn wat reken dat alles wat tradisioneel geglo is nog op vaste fondamente rus nie.

* Sakkie Spangenberg is emeritusprofessor in die Ou Testament aan Unisa.

Kommentaar

Sakkie is baie bekend vir sy kontroversiële sieninge en dit is geen verrassing dat hy ’n voorstaander van evolusie is nie. Hy sê baie beslis dat evolusie onversoenbaar is met die Christelike geloof:

Die evolusieteorie ondermyn álles wat Christene tradisioneel geglo het.

Dit het my laat dink aan wat die ateïs en evolusionis, Eugenie Scott gesê het:

I have found that the most effective allies for evolution are people of the faith community. One clergyman with a backward collar is worth two biologists at a school board meeting any day! …What we [such clergy and atheists] have in common is that we want to see evolution taught in the public schools …

Die omgekeerde is ook waar. Hier is Sakkie Spangenberg, ongeag sy verwronge siening oor die Christelike geloof, ’n baie waardevolle bondgenoot in die saak teen teïstiese evolusie. Soos hy, is daar ook ander baie effektiewe bondgenote uit die ateïstiese wêreld – kyk Aanhalings – Is evolusie en die Bybel versoenbaar?.

Sakkie maak nog ’n interessante stelling:

Jesus self hou hom ook nie voor as ’n verlossergod wat die sondeval van Genesis 2-3 ongedaan gaan maak nie. Nie één van die drie oudste evangelies (Markus, Mattheus en Lukas) maak melding van ’n sondeval nie – wat nog te sê dat Jesus se kruisdood die gevolge van die sondeval ongedaan gaan maak nie!

Hierdie is ’n argument uit stilte. ’n Argument uit stilte is nie altyd ’n ongeldige argument nie, maar in hierdie geval is dit baie beslis ’n ongeldige argument. Hoekom sê ek so:

Dit was baie algemeen bekend onder die Jode dat daar ’n verlosser sou kom. Die Jode van vandag wag steeds vir die verlosser om te kom. Die feit dat Jesus nie ’n aardse velosser was wat die Jode van die Romeine bevry het nie, bevestig dat Jesus gekom het as verlosser weens die sondeval (kyk Die Bybel oor skepping vs evolusie/sondeval en dood). Nie net mense ná Jesus nie, maar ook Jesus self was baie duidelik dat hy die Christus was. Die volgende verse in die Bybel bevestig dit:

Jesus was die Christus

Matteus 11: (3)“Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” (4)Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: (6)En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”

Matteus 26: (63)Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder ’n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?” (64)Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel.”

Markus 8: (29)“Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?” Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!” (30)Toe belet Hy hulle om dit vir iemand anders te vertel.

Johannes 11: (25)Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; (26)en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.

Jesus, die verlosser agv die sondeval

Alhoewel Jesus dit nie pertinent self sê nie, is die sondeval die rede vir sy koms na aarde. Dit kan eintlik logies afgelei word: as Hy nie ’n aardse verlosser was nie, in watter opsig was Hy dan ’n verlosser? Dit word baie duidelik gewys in die volgende verse:

Romeine 5: (12)Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. (13)Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ’n wet is nie. (14)Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie. Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, (15)maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk.

1 Korintiërs 15: (21)Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. (22)Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.

Oor Copernicus

Aangaande die gediggie oor Copernicus wat Sakkie noem, kyk Koperniese beginsel en Ons is in die middel!.

Copernicus het baie beslis nie veroorsaak dat die aarde sy waardigheid verloor het nie. Hierdie klein planeetjie waarop ons woon is baie spesiaal. Geen planeet is sy gelyke nie. Kyk Ons unieke planeet aarde.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui