SGV: ‘Gevaarlike miskenning van sonde’

SGV: ‘Gevaarlike miskenning van sonde’ | Kerkbode

30 Augustus 2020

Dr Bennie Marais van die NG Kerk Charl Cilliers skryf:

Daar is geen twyfel onder gemeentelede en die kerkraad van die NG gemeente Charl Cilliers (dolerend) nie dat die Algemene Sino­dale Moderamen (ASM) behoudende lidmate en gemeentes uitverkoop het in hulle onlangse aansoek by die Departement van Binnelandse Sake om goedkeuring namens die NG Kerk te bekom vir leraars wat selfdegeslagverbintenisse wil voltrek.

Hierdie optrede het ongelukkig die AS midde in die arena geplaas wat duidelik aantoon dat paragraaf 3 van die goedgekeurde notule (Beskrywings­punt B.12) tydens die AS 2019, wat lui “Die sinode is verbind tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings, Skrifhantering en hermeneutiek” bloot lippetaal is en geensins deur die AS of ASM toegepas sal word nie.

Daar is duidelik ’n voorkeur ten guns­te van die sogenaamde pro-gay proponente van die gesprek by die ASM.

Ons gemeente is ook, na ’n versoek tot ’n buitengewone Hoëveld Sinode, per brief gedateer 13 Desember 2019 deur die SDK van die Hoëveld Sinode in kennis gestel: “Die SDK het ook besluit om in oorleg met die Taakspan wat die ASM in ooreenstemming met punt 9 van die genoemde besluit van die Algemene Sinode, saamgestel het, met die kerkraad oor die besluite in gesprek te tree”. Geen sodanige gesprek is tot op datum (bykans agt maande later) geïnisieer nie en dit blyk dat hier­die slegs ’n vertragingstaktiek van die SDK was met geen eerlike voorneme om in sodanige gesprek te tree nie.

Ons as gemeente se slagspreuk is reeds vir baie jare “Siele wen vir Christus” en daarom kan ons nie stilbly en so meewerk dat persone mislei word deur dwaalleraars en so ontneem word van die heerlikheid van die Ewige Lewe nie.

Die miskenning van die AS en Hoë­veld Sinode van selfdegeslagverhou­dings as sonde is gevaarlik en kan lei tot die veroordeling van onskuldige mense tot die ewige hel.

Die dolerende gemeente van Charl Cilliers distansieer hulle in die sterkste moontlike vorm van die 2019 AS-be­sluit aangaande selfdegeslagverhou­dings. Ons as gemeente glo in 2 Timoteus 3:16: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer”. Ons onderskryf ook die verskeie gedeeltes waarin die Bybel hom uitspreek teen homoseksualiteit (en enige ander sonde) as sondig en dat dit as sonde bely moet word alvorens die genade van Jesus Christus se kruisdood tot verlossing van enige sondaar kan lei.

Die kerkraad het reeds hulle besluit van onttrekking van alle sinodale en ringsbydraes en van alle aktiwiteite van die Hoëveld Sinode geïmplementeer en moedig ander gemeentes aan om ook hierdie drastiese stappe te neem ten einde die AS te dwing om tot die Bybel terug te keer.

Brief verkort – Red.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui