NG Kerk op ‘dun ys’ ná besluit oor gay huwelike

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NG Kerk op ‘dun ys’ ná besluit oor gay huwelike | Netwerk24

Johan Eybers

Sondag, 25 September 2022

Die NG Kerk se besluit om nie ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag nie, getuig van ruggraatloosheid, pligsversuim, ondermyning en oneerlikheid deur die leierskorps.

So sê kerkleiers aan albei kante van die debat oor selfdegeslagverhoudings (SGV) in die NG Kerk nadat die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) verklaar het dat hy nie die algemene sinode se besluit gaan deurvoer om so ’n formulier te ontwikkel nie.

Die ASM is die NG Kerk se hoogste besluitnemingsliggaam tussen byeenkomste van die algemene sinode (AS).

Die algemene sinode het in sy sinodesitting in 2019 die taakspan vir leer en aktuele sake gevra om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.

Die ASM voer nou aan die algemene sinode het nie ’n “prinsipiële besluit” ten gunste van selfdegeslagverbintenisse geneem nie, maar ’n “proses-besluit” en dat so ’n formulier daarom nie geskryf kan word nie.

Hennie Pienaar, ’n gay proponent in die NG Kerk en een van 12 litigante wat die kerk hof toe gesleep het weens die kerk se diskriminasie teen gay lidmate, sê dit lyk asof die kerk se leierskorps vergeet het dat die hooggeregshof hom in 2019 tereg gewys het oor sy hantering van die kwessie.

“Hulle maak nou dieselfde fout om nie by hul eie reëls te hou nie. Dit is oneerlik.”

Pienaar sê die jongste besluit betuig van die ASM se “ruggraatloosheid”. “Dit is vir die leierskorps belangriker om skynheilige eenheid te behou as om op te staan vir die randfigure in die kerk. Hulle dink as hulle eenheid behou gaan hulle groter punte by Jesus kry. Dit is in der waarheid onchristelik en nie wat Jesus sou doen nie.”

Dr. Frits Gaum, voormalige skriba van die NG Kerk se algemene sinode, sê die ASM se jongste besluit wys daar word heeltemal te veel aandag aan die behoudendes se kritiek oor selfde­geslagverbintenisse gegee sonder om met die ander kant te praat en herstellende geregtigheid vir hulle te verseker.

Hy sê die algemene sinode het ’n duidelike besluit in 2019 geneem oor die formulier, maar vir drie jaar is daar niks gedoen om die formulier te ontwikkel nie.

“Die ASM het ’n wonderlike nuwe onderskeiding uitgedink om van ’n besluit ontslae te raak wat vir sommige lastig is.”

Hulle “loop op baie dun ys” wanneer hulle só probeer onderskei tussen soorte besluite en die nie-uitvoering van duidelike opdragte. Hy sê dit herinner aan die ASM se besluit oor selfdegeslagverbintenisse van 2015 wat deur die ASM op ys geplaas is en wat op die ou end “ ’n hofsaak gekos het om dit uit die yskas te kry”.

Theo Danzfuss, voormalige aktuarius van die Hoëveld sinode en lid van die Kairos-netwerk vir dolerende gemeentes, het die ASM ook verlede week in ’n brief in die Kerkbode gekritiseer. Hy skryf dit is “oneerbaar om op so ’n wyse van die AS se lastige besluit ontslae te raak”.

“Die AS se notule lewer geen bewys van die bewering dat ons die SGV-besluite slegs as prosesbesluite moet verstaan nie.”

Nelis Janse van Rensburg, moderator van die algemene sinode, sê die 2019-besluit dat die formulier ontwikkel moet word, is ’n voorbeeld waar goed by ’n besluit bygevoeg word wat nie uitgevoer kan word nie.

“Die ASM het agterna gesien die algemene sinode se besluit oor ’n formulier weerspreek die eerste gedeelte van sy besluit waarin daar erken word dat daar vasgelooptheid binne die kerk is en daar ruimte vir almal geskep moet word.”

Hy sê in ag genome die besluit dat gemeentes self moet besluit oor die hantering van selfdegeslagverbintenisse kan die gedeelte oor die ontwikkeling van die formulier nie uitgevoer word nie.

“Die ASM het daarom besluit dat daar riglyne vir selfdegeslagverbintenisse opgestel moet word om leiding aan gemeentes te gee wat wel besluit om burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te bevestig.”

Hy sê die kritiek is ongegrond dat die kerk se besluite net ter wille van eenheid geneem word. “Ons werk nie ter wille van eenheid nie, maar ons werk vanuit die eenheid van die kerk.”

Kommentaar

Daniel Louw

Let op Nelis se verskoning om nie die formulier op te stel nie:

…die 2019-besluit dat die formulier ontwikkel moet word, is ’n voorbeeld waar goed by ’n besluit bygevoeg word wat nie uitgevoer kan word nie.

“Die ASM het agterna gesien die algemene sinode se besluit oor ’n formulier weerspreek die eerste gedeelte van sy besluit waarin daar erken word dat daar vasgelooptheid binne die kerk is en daar ruimte vir almal geskep moet word.”

… in ag genome die besluit dat gemeentes self moet besluit oor die hantering van selfdegeslagverbintenisse kan die gedeelte oor die ontwikkeling van die formulier nie uitgevoer word nie.

Dit is ’n vreemde verduideliking. ’n Formulier kan mos steeds ontwikkel word en gemeentes kan dan besluit of hulle dit wil gebruik of nie.

Miskien moet die ASM vir Frits Gaum inspan om te help om so ’n formulier op te stel.

 

7 thoughts on “NG Kerk op ‘dun ys’ ná besluit oor gay huwelike”

  1. Ons as gesin is terug van n land wat eens n “Christen Land” was waarvan Christene nou minder as 2% van bevolking uitmaak.
    My eerste gedagte nadat ek berig lees oor die formulier is die arrogansie waarmee die NG Kerk omgaan met die Christen geloof, die Christus Liefde. Ek verwonder my oor die NGK se selfvoldane aanstelling as oppergesag oor Jesus se liefde en besluit wie dit mag ontvang en wie nie. Wanneer gaan die besef kom dat ons self die Christendom vernietig, die osoonlaag van ons kerk so groot oop forseer dat niks goeds oorbly nie. Na watter “kerk” sal ons dan emigreer? Wanneer sal ons besef dat n geveg om “oorlewing” nie in die toekoms is nie maar in elke oomblik se liefde uitleef. N Jesus liefde.

  2. Kom ons vergeet eers van Jesus se wonderlike liefde…

    Wie het al ’n doktorale tesis uit God’s Woord gedoen oor hoe Bybel gay huwelike/verhoudings goedkeur?

    Laat kry my asb die tesis sodat ek ook kan verstaan.

  3. Gay huwelike:N.G Kerk
    Ek het myself 30 jaar gelede gedisassosieer van die N.G Kerk.Reeds toe ek in God se woord gesien dat die N.G kerk n uiters minderwaardige geestelike organisasie is in vergeleke met Jehova se Getuies.

    Die uiters vulgêre dinge waaroor N.G kerk lede in die openbaar debateer,doen God se naam oneer aan in teenstelling met Jesus se versoek dat God se naam geheilig word.
    Hierdie dinge word nie eers bespreek in God se ware gemeente nie,want die perverse praktydte is onwettig in God se organisasie op aarde.
    Geen homoseksuele lid van die Suid Afrikaanse samelewing sal dit waag om in God se organisasie te trou nie,want hy of sy sal in die eerste plek nie toegelaat word om gedoop te word nie.
    Omdat God se ware organisasie se beheerliggaam tot die kleinste gemeente lid gehoorsamig is,sukkel God se organisasie nie met dieselfde perverse openbare debatte as die N.G.Kerk nie.Dat God geen belang het in die N.G kerk nie.kan gesien word in die gebrek aan eenheid in n.g.kerk asook die besluiteloosheid om die maklikste van skriftuurlike besluite te maak.Duidelik vrees die N.G kerk die mens.En dit is n sonde.Die gevolg is dat die lafhartigheid van die N.G kerk nou die deur oophou vir gays.n Deur wat lankal toegemaak moes gewees het

  4. Drie Enige God leerstelling
    Psalm 90:2 maak duidelik dat God Almagtig geen begin het nie.Hy is n ongeskepte wese.

    1 Kolossense 1:15;16
    Maar Jesus is n geskepte wese.Hy het n begin as n geestelike wese gehad voor die skepping van engele en aarde

    Miskien sukkel en sal die N.G kerk nou gestraf word vir hulle vals leerstellings.

    Beide Johannes die Doper en Jesus het volwassenes gedoop wat die intellektuele vermoë gehad het om geloof te vorm.

    Die N.G kerk doop babas op n slinkse onchristelike wyse om ledemate te bekom.
    Dit het nie gewerk nie.Die kerk is ten gronde.

  5. Ek nooi alle getraumatiseerde N.K kerk lede uit na iets beter,heilig en waaragtig en skoon.

    Nader die enigste ware God,Jehova God in die naam van sy Seun ,Jesus Christus in gebed en rig smeekbede vir geestelike verligting.
    Oorhandig n skrywe aan jou dominee waarin jy hom/haar verwittig dat jy voortaan niks met vals godsdiens te doen gaan hê nie,ooit weer nie.
    TREK NADER AAN JEHOVA GOD EN HY SAL NADER TREK AAN JOU

  6. Wat sê Die Bybel oor gay huwelike? Dis nie n mens se besluit nie maar God/Jesus se wette. Toe Jesus n vrou vergewe, het Hy duidelik gesê ‘gaan en sondig nie meer nie’

  7. Al hierdie sake maak my bitter hartseer. Was ons dan ons lewe lank mislei. Ek lees my Bybel gereeld en doen bybelstudie in klein groepies. Ek wil op my eenvoudige manier net glo wat God vir my probeer sê deur sy woord en ek wil my vereenselwig met eenvoudige, gelowiges soos wat God dit verwag. God verwag ook dat ek sy woord moet bestudeer, maar ek kan nie meer aanvaar dit moet deur die kerk wees, waarvan ek al lewenslank ‘n lid is nie. Waarheen moet ek nou gaan? Na kerke wat net oor geld preek en ander “vreemde” dinge doen. Ek voel verlate in die woestyn wat my kerk en baie ander kerke geskep het. Ons dien alreeds lankal die wêreld en nie God nie. Ek wil nie meer kerk toe gaan nie (enige kerk) , want ek het net nie meer vertroue nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui