Huweliksformulier (NG Kerk)

Huweliksformulier van die NG Kerk

AB en CD

Instelling van die huwelik Gen 2:18 Die huwelik is deur God ingestel toe Hy aan die begin gesê het: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie; Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.” So het Hy hulle as man en vrou geskep om mekaar as huweliksmaats aan te vul en by te staan. Om so deur die Here verenig te wees is ’n voorreg, ’n vreugde en ’n verantwoordelikheid.
Wese van die huwelik Die huwelik is ’n hegte eenheid waarin daar geen plek vir ’n derde persoon is nie. Hierdie eenheid is die diep geheim van ’n gelukkige lewe, die grondslag van ’n gesonde gesinslewe en die hoeksteen vir ’n stabiele samelewing. Egpare wat in God hul eenheid, geluk en toekoms vind, en wat hul lewe inrig onder heerskappy van sy Woord en Gees, is vir mekaar, vir hul familie, die kerk en die samelewing ’n vreugde, krag en inspirasie. Dit gee aan ’n egpaar die vrymoedigheid om vir sy leiding op hulle huwelik te bid.
Wedersydse verantwoor-delikhede Man en vrou moet uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig wees (Ef 5:21). Respekteer mekaar.
*”jy” kan ook met “u” vervang word AB, as man moet jy* jou vrou liefhê soos Christus die gemeente liefgehad het. Soos Christus die Hoof van die gemeente is en Homself daarvoor oorgegee het, is jy hoof van jou vrou, en moet jy haar in liefde dien, lei en beskerm.

CD, as vrou moet jy weet dat dit God is wat jou aan jou man verbind het, net soos die gemeente aan Christus verbind is. Soos die gemeente die Here liefhet en in gehoorsaamheid volg, so moet jy jou man liefhê en hom volg in alles wat reg en billik is.

Oproep Daarom moet julle albei opkyk na die Here en vir Hom sê: Aan U bly ons altyd gehoorsaam en getrou. Ons sal u Woord lees, dit oordink, ons lewe daarvolgens inrig, saam bid en U saam dien.
Leef uit dit wat Christus aan julle geskenk het. Bou met liefde en in vertroue voort op die mooi dinge wat julle in mekaar gevind het. Vermy selfsug en eiesinnigheid – dit verbreek die gemeenskap tussen mense. Gee julleself aan mekaar op allerlei maniere, met erns en met humor, in gelukkige oomblikke en in moeilike omstandighede. Moenie toelaat dat iets of iemand ooit tussen julle kom nie. Wees daarop voorberei dat die Satan nooit genoeë neem met wat mooi en goed is nie. Soos wat hy die ongeluk en die dood aan die begin in die wêreld ingebring het, so probeer hy deur die eeue om ’n wig in te dryf tussen man en vrou, en tussen egpare en hulle God. Soek altyd jul krag in Christus wat die Bose oorwin het. Deur sy Woord en Gees heilig Hy die gesin as sy kerk in die kleine.
**Hierdie paragraaf hoef nie gelees te word by die huwelik van bejaarde egpare nie. **As die Here aan julle die voorreg gee om kinders te hê, maak hulle groot met die dubbele versekering: Ons is gebore uit die liefdesverbond tussen ons ouers en ons leef as huisgesin uit die genadeverbond wat die hemelse Vader met sy kinders in stand hou.
Huweliksbinding AB en CD, aanvaar julle alles wat die Here vir ons in sy Woord oor die huwelik leer? Is dit julle opregte voorneme om julle huwelikslewe hiervolgens in te rig? En begeer julle om met die seën van die Here in die eg verbind te word?
Antwoord: Ja.
Eerste moontlikheid aan die bruidegom AB, verklaar jy dat sover jy weet daar geen wettige beswaar teen jou voorgenome huwelik met die bruid, CD, is nie? Aanvaar jy almal wat hier teenwoordig is as getuies dat jy haar tot jou wettige vrou neem?
Antwoord: Ja.
Belowe dit dan hardop: “Voor God en sy gemeente/ beloof ek liefde en trou/ vir altyd en in alle omstandighede/ aan my bruid, CD.”
Aan die bruid CD, verklaar jy dat sover jy weet daar geen wettige beswaar teen jou voorgenome huwelik met die bruidegom, AB, is nie? Aanvaar jy almal wat hier teenwoordig is as getuies dat jy hom tot jou wettige man neem?
Antwoord: Ja.
Belowe dit dan hardop: “Voor God en sy gemeente/ beloof ek liefde en trou/ vir altyd en in alle omstandighede/ aan my bruidegom, AB.”
Tweede moontlikheid aan die bruidegom AB, verklaar jy dat sover jy weet daar geen wettige beswaar teen jou voorgenome huwelik met die bruid, CD, is nie? Aanvaar jy almal wat hier teenwoordig is as getuies dat jy haar tot jou wettige vrou neem?

Beloof jy dat jy haar nooit sal verlaat nie, dat jy haar in liefde sal lei en beskerm soos ’n godvresende man aan sy vrou verskuldig is?

Antwoord: Ja.
Aan die bruid CD, verklaar jy dat sover jy weet daar geen wettige beswaar teen jou voorgenome huwelik met die bruidegom, AB, is nie? Aanvaar jy almal wat hier teenwoordig is as getuies dat jy hom tot jou wettige man neem?

Beloof jy dat jy hom nooit sal verlaat nie, dat jy hom in liefde sal eerbiedig en help, soos ’n godvresende vrou aan haar man verskuldig is?

Antwoord: Ja.
Gee aan mekaar die regterhand.

Hiermee verklaar ek dat AB en CD wettig getroud is. Gee aan mekaar die ring(e) as teken van julle liefde en eenheid as man en vrou.

Seënbede Mag die Vader julle beskerm en lei; mag die Here Jesus in sy liefde en genade in julle leef; mag die Heilige Gees julle inspireer tot diens aan God, aan mekaar en aan julle medemens.
Gebed

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui