Sosiale geregtigheid ’n probleem in die kerk?

*******

Sosiale geregtigheid ’n probleem in die kerk? | Kerkbode

Kerkbode

10 Oktober 2022

Dawie de Wet van Willowmore skryf: Albin Bowler, jy het vir my drie vrae gevra. Voor ek jou vraag oor “Sosiale geregtigheid” (SG) in die kerk antwoord, moet ek kortliks verduidelik wat die term SG vir my beteken:

Dit is die ideologie dat sosiale probleme opgelos word deur die “onderdrukkers” en die “slagoffers” in elke probleem aan te dui. Die bevolking moet (selfs met geweld!) oorreed word om met die “slagoffers” te identifiseer en die “onderdrukkers” reg te sien. Alle “slagoffers” is uiteraard onskuldig. “Black Lives Matter“ se vereiste knielery by sport is ’n ekstreme voorbeeld daarvan.

Toe die Algemene Sinode (AS) besluit het dat gemeentes selfdegeslagverbintenisse (SGV) kerklik mag bevestig, was daar teenstand. Prof Anton van Niekerk het dit in Die Burger ((11.10.2019) behandel: Hy glo dat almal die Bybel met “vooroordele en vooringenomenhede” lees. Dít is “… wat die konserwatiewes nie verstaan nie …” Hulle moet die huidige “… wêreldbeeld wat menseregte en menslike vryheid erken …” aanvaar. Hierdie “wêreldbeeld” verduidelik SG vir my in ’n neutedop.

Dít is die basis van verskeie besluite van die AS, soos oor Skrifgesag (2002); saamwoon (2011); die bestaan van die duiwel (2013) en SGV (in 2007, 2015, 2017 en 2019). Al hierdie besluite bewys dat die AS die Bybel verwater en die ideologie van SG klakkeloos omarm het.

LEES OOK: Formulier gestop: Was dit kerkregtelik in orde?

Jou tweede vraag, Albin, is waarom ek die belydenis voor die Bybel noem. Is dit belangriker as die Bybel? Geensins, maar dít is die ooreenkoms wat ons as gereformeerdes met mekaar en met die kerk het. Elke gelegitimeerde predikant het ’n eed afgelê dat hy/sy by die Bybel en die belydenis sal bly, dit sal leer, nie sal teenspreek nie en sal verdedig. En dit lyk my baie dominees vergeet dit. Soos die AS bewys, word die Bybel eerder vanuit die ideologie van SG verstaan as volgens die belydenisskrifte.

Het jy Calvyn reg verstaan? Hy leer dat elke geslag opnuut moet teruggaan na die Bybel om die probleme van die tyd vanuit die Bybel aan te spreek – en nie om die Bybel te verdraai om by die mense aan te pas nie.

Jou derde vraag is oor dissipelskap: Die Here het volgens Matteus die opdrag gegee om van die mense dissipels van Hom te maak, hulle te doop en dan te leer – álles wat Hy hulle beveel het. Dit gebeur in Handelinge. Die kerk groei in Jerusalem, word vervolg en gelowiges vlug. Sover hulle gaan, getuig die vervolgdes (slagoffers?) dat Jesus verlos. Lidmate in Antiogië begin die evangelie ook aan nie-Jode verkondig (Hand 11:20). Hulle hoor en glo die evangelie van verlossing! Skielik bars die kerk daar uit sy nate. Selfs tydens ernstige vervolging groei die kerk sterk!

Die kerk groei tot vandag toe sterk waar gelowiges getuig en dissipels maak. Die NG kerk het met Apartheid ’n ideologie bokant die Woord gestel wat sy getuienistaak belemmer het. Nou loop ons dieselfde pad met die ideologie van SG! Dit verhoed die wesenseienskap van ’n dissipel in lidmate: Dissipline is buite die denkwêreld van SG. Né, Albin?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui