Alles verander voortdurend, twiste gaan verby

Ek gaan nie kommentaar lewer oor die stellings in hierdie brief nie, maar agter elke skakel skuil daar ’n weerlegging.

Kyk ook Briefskrywer bly verward (29 Apr 2022), waarin Bernhard Ficker hierop reageer.

*******

Alles verander voortdurend, twiste gaan verby | Netwerk24

Jan Venter, Bloemfontein

21 April 2022

Alles verander voortdurend. Ons moet dus so gou as moontlik aanpas by nuwe ontdekkings of ons word agtergelaat.

Ons leef in die jaar 2022, in voorspoed wat op elke denkbare vlak verbind en afhanklik is van die wetenskap.

Wie op dees aarde sou uit vrye keuse nog wou lewe in die donkertes van die voorwetenskaplike tyd?

En tog is daar diegene onder ons wat vasklou aan die reëls en wette van vervloë eeue en dit steeds onveranderd wil toepas.

Maar laat ons mekaar se verskille rustig en met wedersydse begrip hanteer. Die aanpassing is vir menige moeilik en sal nie oornag gebeur nie.

Dog, laat ons leer uit die geskiedenis.

Dink maar terug aan die reaksies toe Aristoteles 2 360 jaar gelede begin verkondig het dat die aarde dalk rond is, Kopernikus in 1514 dat die aarde om die son wentel en toe Galileo Galilei 100 jaar later die “heelal” laat “uitplof” het met die ontdekking dat daar benewens ons eie Melkweg, ook ander sterrestelsels is.

Ons het wel geleidelik begin besef dat die mens en die aarde maar net ’n nietige stoffie in die heelal is; dat alles nie “om” óns draai nie.

Toe kom Charles Darwin­ in 1859 met sy evolusieteorie en keer die skeppingsverhale op hul kop.

En nou wil Christene doleer of afstig omdat sommige nie wil aanvaar dat homoseksualiteit nie ’n vrye keuse is nie, dat gay mense reeds in die moederskoot gevorm is en net soos ons na liefde en erkenning smag nie.

Gelukkig sal die huidige twis, soos dié in die verlede, ook verbygaan en sal aanbidding oorleef by gelowiges – moontlik met kleiner byeenkomste ná die verlies van ons pragtige groot kerke weens die versplintering van gemeentes.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui