Gays ‘nog meer onveilig’ in kerk

Die volgende artikel het waarskynlik die volgende dinge in gedagte wat die afgelope tyd gebeur het:

*********

Gays ‘nog meer onveilig’ in kerk | Netwerk24

Deur Johan Eybers

22 Augustus 2021 00:23

Gay lidmate en leraars voel die NG Kerk het ’n baie onveiliger plek vir hulle geword sedert die hof twee jaar gelede beslis het sy standpunte oor selfdegeslagverhoudings is onwettig.

“Die groot lawaai wat die afgelope tyd gemaak word oor die saak laat LGBTQI-mense onveilig voel,” sê prop. Laurie Gaum, ’n gay predikant, wat al jare vir die regte van gays in die kerk veg.

Gaum en dr. Chris Jones, hoof van die eenheid vir morele leierskap in die teologiefakulteit aan die Universiteit Stellenbosch (US), het pas die boek #liefdeisliefde uitgegee.

Hulle is van die 12 lidmate wat die hooggeregshof in Pretoria genader het oor die twis oor selfdegeslagverhoudings in die kerk.

Die boek is ’n samestelling van kerk- en hofdokumente wat gelei het tot die geskiedkundige hofbeslissing dat sy standpunte hieroor onwettig is.

Die regters het nie net op prosedurele gronde die NG Kerk se besluit in 2016 tersyde gestel waarmee ’n vorige besluit in 2015 ten gunste van gay huwelike herroep is nie; die hof het ook bevind dit is onregmatig om gay lidmate die huwelik te ontneem.

“Die terugslag oor die saak binne die kerk is tragies. Ons saak was baie eenvoudig. Dit het gegaan oor mense se menswaardigheid. Jy sou dink die kerk het meer hieroor geleer in dié saak.”

Hy sê dit is duidelik die saak het onsekerheid gebring onder ’n groep wat nou uit vrees reageer.

“Daar is nou ’n soeke na harde grense. Ongelukkig sluit dit meer mense uit.”

Gaum sê dit is vir hom teleurstellend hoe “vuil” daar nou ba­klei word oor die saak.

“ ’n Emmer vol smerigheid word saamgegooi en as ammunisie gebruik,” sê Gaum met verwysing na uitsprake deur sogenaamde behoudendes in die kerk.

Die Kairos Netwerk, wat gemeentes verteenwoordig wat doleer (treur) oor die kerk se besluit oor selfdegeslagverhoudings, het gesê die “hoogtepunte van afvalligheid” was die algemene sinode se “skokkende besluite van 2015 en 2019 rondom selfdegeslagverhoudings”.

Die verklaring lui “Satan gebruik dwaalleringe” om “die kerk van binne af te vervals” en “die dodelike kanker het geleidelik in veral die sinodale kringe van die NG Kerk sigbaar geword”.

“Ek bevraagteken hul motiewe,” sê Gaum.

Hy sê hy en die ander 11 lidmate wat die hof destyds genader het om regsekerheid oor die saak te kry, word steeds tot vervelens toe deur hierdie groep gekritiseer dat hulle na ’n ‘wêreldse hof’ toe gegaan het met hul saak.

“Wel, die kerk is in die wêreld en die wêreld se howe het oor jare heen die kerk gelei, veral oor geregtigheidskwessies. In post-apartheid Suid-Afrika het die kerk ook maar agterna gekom om haar van apartheid te distansieer.

“ ’n Nuwe generasie van haar lidmate het ander kwessies begin opneem wat gekoppel is aan die regte wat ons progressiewe Grondwet vir hulle moontlik gemaak het. Ons kon in dié saak op die skouers van ons Grondwet staan om geregtigheid en menswaardigheid te verseker.”

Gaum sê hy beskou die hof en die kerk glad nie as teenstellend met mekaar nie.

“In dié geval het die hof juis die Kerk gehelp om regsekerheid te kry oor die prosedurele deurmekaarspul wat geheers het.”

Die boek is vir hom en Jones ’n afsluiting van ’n hoofstuk, se hy.

“Dit is vir my en Chris wonderlik om hierdie dokumente vir mense in die hand te sit. Om al die dokumente so saamgebundel te sien is bemoedigend. Dit is ’n harde werklikheid van wat alles ingegaan het in die saak.”

Gaum sê hy kan nie namens al 12 praat nie, maar hy is seker “dit is ook vir hulle bemoedigend”.

“Almal het tot op die einde sterk gevoel oor die saak en geweet hoe belangrik dit is. Ons is almal gekruisig. Die laaste strooi was ons besluit om die kerk hof toe te vat. Dit was omtrent hei­ligskennis. Ons doel was nie om die kerk teë te staan nie, maar wel om sy eie besluite te verdedig en te versterk.”

Gaum sê die NG Kerk kry nie genoeg krediet daarvoor dat hy vir ’n lang tyd oor selfdegeslagverhoudings geworstel het terwyl ander kerke glad nie daaroor praat nie. “Daar is wonderlike gemeentes wat baie progressief is terwyl ander gemeentes geensins inklusief is nie.”

Hy sê hul grootste probleem is hoe die kerk se leiers die saak hanteer het. “Daar was nooit ’n omhelsing van die kerk se merkwaardige besluit in 2015 ten gunste van selfdegeslagverhoudings nie, maar eerder ’n terugkrabbeling. Ons het uitgewys dit was nie aanvaarbaar of reg nie. Hulle was nie bereid om vas te byt oor hul besluit ten gunste van selfdegeslagverhoudings nie en dit het uiteindelik vir hulle heelwat skade veroorsaak.”

Hy sê tot vandag toe is daar nie vir hulle om verskoning gevra nie en word prosedures steeds gebruik om mense uit te sluit en “om politieke agendas te dien wat hoogs problematies is”.

“Daar is gemeentes waar LGBTQI-mense floreer, maar die feit dat daar nou soveel lawaai gemaak word teen die saak laat mense nie baie welkom voel nie. ’n Geleentheid is verspeel om die identiteit van die kerk te verander van ’n uitsluitende kerk na ’n insluitende kerk.”

Hy sê daar moet meer gesê word om LGBTQI-mense welkom te laat voel binne die kerk. Volgens hom sukkel predikante om selfdegeslaghuwelike te voltrek omdat daar nie ’n proses bestaan om dit aktief te bevorder nie.

“Ons het voorgestel dat daar ’n proses van herstellingsgeregtigheid moet wees om die wonde te heel, maar ons sien min daarvan. Dit is nie goed nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui