Queer-teologie by Maties “’n krisis vir die kerk’”

Vir agtergrond oor hierdie artikel en ander relevante artikels, kyk Opsomming: Queering the prophet conference, Stellenbosch 2022.

*******

Queer-teologie by Maties “’n krisis vir die kerk’” | Netwerk24

Johan Eybers

20 Februarie 2022

Die Kairos Netwerk (KN) wat ’n klomp behoudende gemeentes in die NG Kerk verteenwoordig, beskou ’n konferensie oor selfdegeslagverhoudings by die teologiese fakulteit van Stellenbosch as ’n “baie diep krisis, selfs ’n oorlewingskrisis van die NG Kerk”.

“Die feit dat die fakulteit teologie by Stellenbosch, waar ook NGK-studente opgelei word, nie gehuiwer het om die konferensie ‘Queering the Prophet (Jonah)’ in Maart aan te bied nie, wek baie groot kommer,” sê KN in ’n verklaring. “Die tema van hierdie konferensie staan naamlik duidelik in die teken van eensydige teologisering waar kwessies soos kritiese rasseteorie en (wit) mags-diskoerse aan die orde van die dag is.

“Sulke diskoerse dui dikwels op ’n moontlike onderskrywing van Marxisties ideologiese denke. Die lens waardeur hierdie konferensie na die Bybel wil kyk en wat selfs ook in die teologiese fakulteit gedoseer word, is onomwonde ’n eensydige queer-lens.”

KN voer aan dit is “uiters gevaarlik” om “met gelade queer- hermeneutiek (verstaanswyse)” na die Bybelse teks te kom. KN beskryf “queer-teologie” as ’n “uitsiglose doodloopstraat”, “niks anders as ’n modegier” en ’n “manipulasie van die teks”.

KN sê die kerk se leierskorps is in “ ’n baie diep krisis gedompel”.

Volgens KN moet daar ernstige vrae aan die fakulteit gerig word oor “hoe hierdie eensydige ideologiese gelade tema hoegenaamd toegelaat kon word”, lui die verklaring.

“Akademiese vryheid versus akademiese verantwoordelikheid is hoegenaamd nie ’n verskoning om dit te verduidelik nie. Vervolgens sal baie ernstige vrae aan die kuratorium (toesigliggaam) van die teologiese fakulteit en hul voorsitter dr. Frederick Marais gerig moet word oor die waarskynlike seën wat hulle oor die konferensie uitgespreek het.”

KN meen die moderamen van die Wes-Kaapse sinode sal ook vrae moet beantwoord omdat hulle “die konferensie skynbaar aanvanklik met vrymoedigheid op hul webwerf geadverteer en gepropageer het, maar ook toe kort daarna as moontlike skade-beheer van hul webwerf verwyder het”.

Volgens KN is prof. Louis Jonker, ’n senior professor in Ou Testament by die fakulteit, se distansiëring van die konferensie “uiters betekenisvol en merkwaardig”.

“Hy meen tereg dat hierdie konferensie ’n a-historiese benadering tot Bybelinterpretasie verteenwoordig. Hy meen dat die eie konteks (van gender-eensydiges) Bybelinterpretasie inkleur, iets wat ons ook in apartheids­teo­logie gesien het.”

KN glo die kerk moet verantwoordelikheid daarvoor aanvaar dat hulle die LGBTIQ-debat vroeg en laat gestimuleer het.

“Nou pluk hulle die wrange vrugte van hierdie eensydige tipe teologie met die stilswyende aanvaarding van ’n bedenklike teologiese konferensie. Eintlik sal die leierskap van die NGK nie uit hierdie krisis kan kom as hulle nie besluit om langs die weg van skuldbelydenis teenoor die kerk in al sy geledinge asook alle lidmate te kom oor al die eensydighede wat gedurende die afgelope dekades in die NGK ingesluip het,” lui die verklaring

“Indien die NGK-leierskap en al sy geledinge nie tot hierdie punt van skuldbelydenis en hartgrondige reformasie kom nie, sal dit moontlik nie ongegrond wees om te wonder of die NGK finaal in die rigting van ’n valse kerk beweeg nie. Nou is die vraag maar net of die NGK en sy leierskap enersyds hierdie baie diep krisis gaan aanspreek, en of die leierskap andersyds deur sy eie toedoen die NGK onherroeplik in twee gaan skeur.”

Dr. Chris Jones, hoof van die eenheid vir morele leierskap in die teologiefakulteit aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê in reaksie hy het respek vir die aanbieders by die konferensie.

“Hulle is kenners op hul onderskeie studieterreine. ? Universiteit is nie net daar om aan studente vaardighede te leer nie, maar soos die Duitsers sê, ook ‘Bildung’, met ander woorde onderrig in die denkende lewe.

“Om volwaardige intellektuele te ontwikkel – wat historiese gebeure in ? ontwikkelende konteks moet kan plaas en evalueer, wat die vermoë moet ontwikkel om eensydige beskouings bloot te lê, wat vrae moet vra na die aard van die skepping en geheel waarin ons onsself bevind en wat ? volgehoue probleembewussyn behoort na te streef – kan net vermag word deur selfontdekking wat kom deur blootstelling aan grondige, uiteenlopende vraagstelling en bespreking.”

2 thoughts on “Queer-teologie by Maties “’n krisis vir die kerk’””

  1. Hoekom sluit hierdie Kairos Netwerk mense nie maar net aan by die Katolieke kerk nie? ’n Tyd gelede het Prof. Christina Landman op RSG genoem dat die Katolieke kerk nou die vinnigste groeiende kerk in Suid-Afrika is. Sy het dit toegeskryf aan die katolieke kerk se fokus op liefdadigheid/”charity”. Maar liefdadigheid & charity was nog altyd ’n sleutelelement van die Katolieke kerk. Maw, haar teorie is duidelik verkeerd. Die groei is veel eerder te make met die Katolieke kerk se onwrikbare standpunt (sonder veroordeling) dat die huwelik tussen een man en een vrou is. En dat aborsie en kunsmatige kontrasepsie teen God se beste wil en plan is, ens. Die “smoke of satan” is ook hard besig in die Katolieke kerk om van hierdie geloofstandpunte af te sien. So kom gooi die gewig in aan hierdie kant en sluit aan by like-minded mense.

    1. Werner, die kans is uiters skraal dat Kairos Netwerk by die Katolieke Kerk sal aansluit.
      MAAR dit wil voorkom of alle denominasies sukkel met dwaalleer. Daar is nou ’n geleentheid dat behoudendes wat uit hulle denominasies wegbreek saam kan groepeer. Kyk Alliance of Reformed Churches (ARC). Lyk of daar behoudendes van alle denominasies bande wil smee met die ARC.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui