Kairos wil reformeer, maar waarheen?

Vir agtergrond oor hierdie artikel, kyk Opsomming: Queering the prophet conference, Stellenbosch 2022.

******

Kairos wil reformeer, maar waarheen? | Netwerk24

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

18 Februarie 2022

Die berig “Beswaardes in NG Kerk stig eie groepering” (11.02) gee vele teologiese stof tot nadenke. Ja, ’n oordrewe menseregtekultuur oorheers nie net die staat en samelewing nie, maar het selfs die kerk deursuur ten koste van God self.

Kairos het ten doel om die NG Kerk van “binnekant te reformeer”, aldus dr. Anton Knoetze, voorsitter. Wat word daarmee bedoel? Dat gewone lidmate weer in die letterlike bestaan van die duiwel begin glo? Dat saamwoon voor die huwelik veroordeel word? Dat tug weer toegepas word? Dat gay en queer praktiserende dominees se legitimering teruggetrek word? Dat die tien gebooie weer in die erediens gelees word?

Lyk my die teoloë van die NG Kerk is op ’n dolle eenrigtingvaart van dwaalleer-bevordering, soos blyk uit die propaganda van die Stellenbosse Kweekskool se konferensie getiteld “Queering the Prophet”, soos aangebied deur die Gender-eenheid van Teologiese Fakulteit (16 tot 18 Maart 2022).

Hier is die arme profeet Jona die teiken, soos een referaat getiteld “Queering the Straight Jonah” dit uitbeeld. Selfs die god (of afgod?) Vishnu word ingespan om hom te “her-gender” of “her-queer”. Lyk my nie daar is enige kans meer om die professore en teoloë te reformeer nie. Nou wonder ek of die gewone NGK-lidmate nog enigsins belang stel om terug na die Bybel te reformeer, soos wat Kairos voorstel?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui