Namibië se ultimatum aan die NG Kerk

Die Sinode van Namibië het tydens hulle sinodesitting van 17-19 Maart 2022 die volgende ultimatum gestel (kyk Bylaag A hieronder):

“Indien die pad van tug en dissipline nie binne die volgende ses maande uitloop op ’n vaste voorneme om bepaalde besluite van die Algemene Sinode te herroep nie, sal die Namibiese Sinode haar band met die Algemene Sinode losmaak.”

Dit is onseker aan wie hierdie ultimatum gestel is. Die problematiese besluite waarna verwys word kan net by die Algemene Sinode (AS) omgedraai word. Die volgende AS vind egter eers einde volgende jaar (2023) plaas, dus is ’n spesiale of buitengewone AS die enigste manier om die besluite binne ses maande om te draai. Verder, sal dit nie so maklik wees nie. Daar sal eers kennis gegee moet word van revisie en indien dit slaag kan die AS die besluite heroorweeg.

Dit is egter nie wat die ultimatum vra nie. Dit vra slegs vir ’n “vaste voorneme”. Die enigste liggaam wat hierdie “vaste voorneme” kan maak is die Algemene Sinode Moderamen (ASM) wat gesien kan word as die topbestuur van die NG Kerk. Die Kairos Netwerk het egter reeds op 19 November 2020 en 22-23 Februarie 2021 met die ASM dagbestuur (ASMD) vergader, maar het ’n doodloopstraat bereik: kort na die 22-23 Februarie ontmoeting het die hele ASM vergader en besluit om nie die Kairos Netwerk se versoeke toe te staan nie. Vir meer hieroor, kyk die volgende skakels:

Indien die ASM nou ’n voorneme maak om die besluite om te draai, sal ’n mens baie skepties daaroor staan. Trouens, niemand sal hulle ernstig opneem nie. Die vraag is, veronderstel hulle gee wel die voorneme dat hulle byvoorbeeld kennis van revisie sal ondersteun, sal Sinode van Namibië dit genoeg ag om die Artikel 37-besluit op ys te plaas? Verder kan die ASM streng gesproke nie baie doen om die besluite om te draai nie, want dit is die AS, met sy ongeveer 400 lede, wat hierdie besluite moet omdraai.

Dit is ook vreemd dat die Sinode van Namibië nog verwys na die Matteus 18-pad. Dit is baie duidelik dat die Matteus 18-pad reeds lankal sy volle gang geloop het (kyk Lys van pleitskrifte aan NG Kerk leierskap).

Oor Nelis Janse van Rensburg se reaksie

Volgens die berig sê die moderator, Nelis Janse van Rensburg:

Die AS het almal genooi om hul klagtes oor teologiese opleiding met die kerk se kuratorium te bespreek. “In dié proses sal ons waarskynlik die klagtes van die Namibiese sinode kan ontvang en bespreek. “Ons het tot nou toe nog net gehoor van mense wat daaroor brom en algemene besware.”

Om dit sagkens te stel: Nelis bluf! (Ek sou dit meer kras wou stel, maar kom ons los dit daarby.)

Die Kairos Netwerk het hulle besware reeds amptelik aan die ASMD voorgelê sonder enige sukses. Baie onlangs het die volgende gebeur by die teologiese fakulteite:

Volg die skakels binne die artikels hierbo genoem vir meer voorbeelde.

Verder, tydens die die KN se ontmoeting met ASM verteenwoordigers op 22-23 Feb 2021 is Henrietta Klaasing se memorandum Memorandum oor NG Kerk teologiese fakulteite aan die ASM verteenwoordigers gegee, maar vir een of ander rede wou die ASM verteenwoordigers dit nie na die volle ASM deurgee nie (kyk Kairos Netwerk Nuusbrief – 1 Apr 2021). Hierdie gesprekke het dus op niks uitgeloop nie.

Nelis weet dat geen gesprek sal help nie.

‘n Eerliker reaksie van Nelis sou gewees het:

“Dit is hartseer dat ons op hierdie punt in die NG Kerk gekom het, maar die afgelope paar jaar het gewys dat dit onvermydelik is dat paaie sal moet skei. Die verdeeldheid in die NG Kerk is te groot.”

‘n Mens kry die idee dat beide partye (die behoudendes en die verligtes) besef dat paaie moet skei, maar nie een van die partye wil dit openlik sê nie, want wie waag om dit eerste te sê, gaan vir altyd gebrandmerk wees as die skeurders van die NG Kerk.

Kyk ook Oor Namibië se ‘ultimatum’ (23 Mrt 2022) waarin Henrietta Klaasing op Nelis se reaksie reageer.

*******

Namibië se ultimatum aan die NG Kerk | Netwerk24

Rapport 20 Maart 2022

Jeanne-Marié Versluis

Die Namibiese sinode van die NG Kerk gaan hom losmaak van die kerk se algemene sinode (AS) as dié nie binne die volgende ses maande onderneem om sekere van sy besluite te herroep nie.

Die Namibiese sinode met sy 45 gemeentes, die enigste buitelandse streeksinode van die NG Kerk, het gister in ’n verklaring gesê dis veral die AS se besluite oor selfdegeslag-verhoudings en die bestuur van teologiese opleiding aan universiteitsfakulteite wat die kerk toenemend vervreem.

Hy is voornemens om kragtens art. 37 van die kerkorde sy band met die AS te verbreek as daar nie aan sy versoeke voldoen word nie. Art. 37, wat in 1962 neergelê is, bepaal ’n streeksinode kan uit die kerkverband tree met behoud van sy bates, naam, regte en voorregte.

Dit word in die algemeen as ’n ingrypende stap beskou.

Luidens die verklaring meen die Namibiese sinode dat die AS “nie die breë kerk met kerklike leierskap gedien het nie”.

“Ons vertrou die AS sal tot inkeer kom.”

[Kommentaar: Hierdie aanhaling kom uit die persverklaring. Daar is egter geen gronde om hierop te hoop nie.]

Hy wil die pad van kerklike tug en dissipline met die AS stap soos dit uitgespel word in Jesus se woorde in Mattheus 18:15-17.

“Indien die pad van tug en dissipline nie binne die volgende ses maande uitloop op ’n vaste voorneme om bepaalde besluite van die algemene sinode te herroep nie, sal die Namibiese sinode haar band met die algemene sinode losmaak.”

Dié streeksinode sal sy gemeentes in die volgende maande inlig oor die prosesse wat gaan volg. “Namibië vertrou dat die algemene sinode begrip sal toon en tot inkeer sal kom.”

Die AS het in 2019 besluit NG gemeentes kan self besluit of hulle ten gunste van selfdegeslag-verhoudings is en of hulle gay predikante wil beroep.

Dolerende gemeentes van die NG Kerk meen dit was die verkeerde besluit. Hulle meen ook die teologiese opleiding van predikante is te liberaal.

Die Namibiese sinode sê in sy besluit hy is teleurgesteld in die AS se 2019-besluit oor selfdegeslag-verhoudings en “die onvoldoende kerklike opsig en tug” van die AS vir die teologiese opleiding aan geakkrediteerde opleidingsinstellings van die NG Kerk.

Namibië sê ook sy besluit word van krag wanneer hy voor einde November klarigheid kry oor onder meer regskwessies met art. 37; ’n kerkordelike herindeling van gemeentes van die NG Kerk; toekomstige teologiese opleiding; en finansiële vergoeding van die AS.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, het gister aan Rapport gesê die 2019-besluit oor selfdegeslag-verhoudings was nie op die Namibiese sinode van toepassing nie, want die Namibiese regering het sulke verhoudings in daardie land onwettig verklaar.

Hy meen die Namibiese sinode se besluit is “hartseer”. Dié streeksinode het ’n groot rol in die kerkverband gespeel.

Mattheus 18 lui juis: “As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.

Die Namibiese streeksinode het die saak nog nie met die AS bespreek nie. “Die AS sal baie graag in terme van Mattheus 18 ’n pad met die Namibiese sinode wil loop.”

[Kommentaar: Let wel dat dit slegs tydens die AS kan gebeur wat eers einde 2023 plaasvind.]

Janse van Rensburg het gesê uittrede uit die AS is die sterkste manier waarop ’n sinode protes kan aanteken.

Die AS het almal genooi om hul klagtes oor teologiese opleiding met die kerk se kuratorium te bespreek. “In dié proses sal ons waarskynlik die klagtes van die Namibiese sinode kan ontvang en bespreek.

“Ons het tot nou toe nog net gehoor van mense wat daaroor brom en algemene besware.”

Die AS kan geen besluit opskort of wysig wat hy in 2019 geneem het nie.

Hy kan eers op die volgende sitting in 2023 (sittings vind elke vier jaar plaas) daarna kyk wanneer die onderwerpe weer op die tafel is. ’n Spesiale algemene sinodesitting is te duur.

“Ons sal in liefde met hulle (Namibië) saam reis op die pad vorentoe,” het Janse van Rensburg gesê.

Bylaag A: Persverklaring

Namibiese sinode Persverklaring insake Artikel 37 voorneme:

19 Maart 2022

Die Namibiese sinode is van voorneme om die pad van kerklike tug en dissipline met die Algemene Sinode te stap soos uitgespel in Jesus se woorde in Matteus 18:15-17. Die Namibiese sinode oordeel dat die Algemene Sinode nie die breë kerk met kerklike leierskap gedien het nie. Indien die pad van tug en dissipline nie binne die volgende ses maande uitloop op ‘n vaste voorneme om bepaalde besluite van die Algemene Sinode te herroep nie, sal die Namibiese Sinode haar band met die Algemene Sinode losmaak. In kerkorde taal word daarna verwys as die Artikel 37-proses[1].

Die Namibiese Sinode wys veral op die besluite oor selfdegeslagverhoudings en die bestuur van teologiese opleiding aan die fakulteite wat die kerk toenemend vervreem. Die Namibiese Sinode sal in die komende maande hulle NG gemeentes betrek en toelig in die verskillende prosesse wat hierdie ingrypende optrede tot gevolg het. Namibië vertrou dat die Algemene Sinode begrip sal toon en tot inkeer sal kom. Die Namibiese Sinode nooi ook ander streeksinodes uit om deel te neem aan hierdie proses en ontmoeting met verteenwoordigers van die Algemene Sinode.

Voetnota[1] Dit staan die samestellende kerke [sinodes] vry om met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts, uit die algemene sinodale verband te tree wanneer hulle so ’n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.

1 thought on “Namibië se ultimatum aan die NG Kerk”

  1. Baie dankie vir hierdie deeglike perspektiefstelling. Dit is belangrik dat dit vasgele word sodat almal vir nou en in die toekoms dit reg kan verstaan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui