Kairos Netwerk Nuusbrief – 27 Nov 2020

Die volgende nuusbrief berig oor die gesprek tussen die Kairos Netwerk Werksgroep (leierskap) en die ASM dagbestuur op 19 November 2020.

Neem in ag dat “Moreleta Kairos Netwerk” se naam vroeg in 2021 verander het na “Kairos Netwerk” (kyk Kairos Netwerk Nuusbrief – 12 Feb 2021).

******

Beste vriend(in),

INHOUD

1. GESPREK MET ASM SE DAGBESTUUR, 19 November 2020

1.1 Wie is MKN, hoekom het dit ontstaan en wie verteenwoordig ons?
1.2 Skrifgesag en Skrifinterpretasie
1.3 Kerkordelike prosesse
1.4 Teologiese opleiding
1.5 Pad vorentoe
1.6 Opsommend

2. WEBTUISTE EN SOSIALE MEDIA
3. MOBILISERING EN DOLERING
4. FINANSIES EN DONASIES
5. GEDAGTE VAN DIE DAG

Stuur asb. hierdie nuusbrief aan al jou vriende, familie en kennisse!

1. GESPREK MET ASM SE DAGBESTUUR, 19 November 2020

Sedert die opsommende skrywe oor die gesprek tussen die ASM Dagbestuurslede (ASMD) en MKN verskyn het, is daar verstaanbaar nog baie vrae. Die partye betrokke erken die sensitiwiteit van die gesprek asook die broosheid van verhoudings. Ons wil daarom niks doen wat hierdie brose verhouding tot nadeel kan wees nie. Aan die ander kant sien die MKN Sentrale Werkgroep ook die nodigheid van deursigtigheid oor besprekingspunte.

Die belangrikste kwessies wat ons met die ASMD bespreek het, is die volgende (let wel dat almal deeglik bewus was dat die 2019 besluite al hierdie punte op die spits gedryf het. Die 2019 besluite van die Algemene Sinode vorm dus die agtergrond waarteen elkeen van hierdie punte gelees moet word):

1.1 Wie is die MKN, hoekom het dit ontstaan en wie verteenwoordig ons?

  • Eerstens was verduidelik wie die MKN is en waarom daar groeiende getalle gemeentes is wat doleer. Volgens die ASMD verteenwoordig hulle die NG Kerk. MKN voel egter dat die ASMD hoogstens die Dagbestuur van die ASM en/of die ASM verteenwoordig. Die ASM is nie die NG Kerk nie, en die Algemene Sinode is ook nie die NG Kerk nie. So ook nie die ATR of ATLAS nie. MKN is hier want die NG Kerk bestaan uit die plaaslike gemeentes en die MKN verteenwoordig ’n groot groep plaaslike gemeentes. MKN het dus namens ‘n groeiende groep gemeentes van die NG Kerk gepraat;
  • Die ASMD erken dat dit nie goed gaan met die NG Kerk nie en dat hulle bekommerd is oor wat op grondvlak gebeur;
  • Daar was verwys na ‘n publikasie op die MKN webwerf wat beweer dat die NG Kerk “liberale teologie” verkondig. Die ASMD het ten sterkste beswaar gemaak dat ons praat van liberale teologie. Op ‘n spesifieke vraag of ons dan liewers die Bybel se taal moet gebruik nl. dwaalleer, was hul antwoord dat ons dan maar liewer van dwaalleer moet praat as van liberale teologie.  Volgens die ASMD is die NG Kerk nie ‘n liberale kerk nie maar ‘n gereformeerde kerk. Die MKN voel egter dat daar wel liberale strominge/dwaalleer bestaan en dat dit ‘n groter houvas op die NG Kerk begin kry.

1.2 Skrifgesag en Skrifinterpretasie

  • Daar word op konkrete en praktiese wyse verduidelik hoe die Sinode asook kerkleiers se eensydige en onsensitiewe optrede rondom Skrifhantering talle lede in ‘n groot persoonlike krisis gedompel het.  Daar word gewys op Sinodale leiers se ydel beloftes en dowe ore om na die werklike probleem te luister;
  • Die fokus val ook op valse Skrifhantering en selfs ook die gebrek aan Skrifhantering by die Algemene Sinode. Dikwels speel die Bybel geen rol in belangrike kerklike besluite nie;
  • Twee teenstrydige Skrifinterpretasies kan nie in een kerk geduld word nie;
  • Daar word verduidelik wat in ‘n gemeente gebeur waar vier leraars die Algemene Sinode se besluite ondersteun en wil implementeer en hoe ‘n groot getal groeiende lidmate formeel begin doleer het – die gevolge van versteurde verhoudings en die pad wat met die kerkraad geloop word; en
  • Daar word ook gevra waarom die getuienisse van eks-gays in die hele gesprek oor SGV steeds deur al die kerkstrukture geïgnoreer word?

1.3 Kerkordelike prosesse

  • Nie die AS, die ATR of ASM respekteer die ooreengekome bepalings in die Kerkorde nie;
  • Daar word gewys op verskeie redes waarom die 2019 AS besluite ongeldig is en deur die hof ongeldig verklaar sal word;
  • Daar word ook gewys op verskeie kerkregtelike ongerymdhede, insluitend die feit dat die Sinode in 2019 basies dieselfde besluite geneem het as in 2015 maar sonder om eers een van die 600 gravamen daarteen te beoordeel;
  • Daar word ook gevra waarom, ten spyte van verskeie versoeke, tot hede nog geen Skrifbewyse gegee kon word as basis vir die 2019 AS besluite nie;
  • Daar word verder gewys op die ASM en ATR se verontagsaming van hul eie Kerkorde;
  • Daar word gewys op die wyse waarop die hofsaak deur sekere van die respondente gekaap was tot nadeel van die kerk asook die optrede van sekere persone wat die ganse NG kerk in die steek gelaat het deur te weier om die kerk se amptelike Kerkorde in die hof te verdedig;
  • Daar is ook gewys op sekere respondente se onregmatige inmenging wat veroorsaak het dat dieselfde advokate span wat eers die reg tot appèl uitstekend verdedig het skielik besluit het om dit nie meer te verdedig nie;
  • Daar word ook gevra hoe die ATR Kerkorde artikels wat die Algemene Sinode goedgekeur het kan verander sodat die bewoording ingrypend verskil van die bewoording wat die AS goedgekeur het.

Die ASMD het slegs op enkele van die genoemde probleme reageer. Beperkte tyd was moontlik een van die redes.

1.4 Teologiese opleiding

Die ASMD neem kennis van ons ernstige besware teen huidige opleiding by die fakulteite vir teologiese opleiding. Daar is nie meer vrymoedigheid om ons studente na een van die fakulteite te stuur vir opleiding nie. Daar word na enkele voorbeelde van probleme en onaanvaarbare situasies verwys. Daar was ongelukkig nie tyd om hieraan aandag te gee nie en staan oor vir die opvolg gesprek.

1.5 Pad vorentoe

Verskeie kort gedagtes word gewissel oor die pad vorentoe.

  • Die NG Kerk is reeds geskeur. Die 2019 SGV besluite van die AS was die finale rede. Die AS self het dit erken deur te verwys na “vasgelopendheid” rondom teologiese kwessies;
  • Kerkorde bepaal dat die AS se besluite slegs bindend is indien dit nie in stryd is met die Woord nie. Hier is meer as 50 gemeentes wat alreeds ‘n geskil met AS verklaar het omdat die AS se besluite van 2019  teenstrydig is met die Bybel;
  • MKN aanvaar dus nie die geldigheid van die 2019 SGV besluite totdat die geskil deur die AS aangespreek is en ons vanuit die Skrif oortuig word dat die besluite Skriftuurlik korrek is;
  • Omdat die geskil met die AS is kan niemand (nie die ASM, ATR, AKLAS of die voorsitter van die ASM) die geskil namens die AS oplos nie. Slegs die AS, want die geskil is met die AS;
  • Die probleem moet dringend aangespreek word want die skeuring word elke dag groter en is vinnig besig om te ontwikkel tot ‘n onoorbrugbare kloof;
  • Dit is onmoontlik om dit uit te stel tot die volgende gewone Algemene Sinode van 2023;
  • Slegs die ASM kan ‘n buitengewone sinode byeenroep. Daarom word die dringende versoek aan die ASM gerig.  Die ASMD is nie by magte om namens die ASM te antwoord nie en daarom word daar tyd gegee vir die ASM om op hierdie dringende versoek te reageer;
  • Wat kan die buitengewone sinode doen om die groeiende skeuring te keer? Twee opsies is moontlik:
    • Die AS herroep sy besluite van 2019 en keer terug na die Woord; of
    • Die AS ontbind as oorkoepelende sinode en word vervang met ‘n federale sinode waar selfstandige kerke self besluit tot watter mate hulle met mekaar wil assosieer.
  • As daar ander oplossings is moet die ASM dit op die tafel sit;
  • Die ASMD erken dat die drie punte naamlik die skrifgesag en skrifinterpretasie, kerkordelike prosesse en teologiese opleiding die sake is wat die skeuring veroorsaak en dat dit dringend aangespreek moet word; en
  • Vir MKN is dit ononderhandelbaar om met hierdie dwaalleringe saam een kerk te wees.

1.6 Opsommend

Die NG-kerk staan voor ’n groot krisis. Die NG-kerk het by ’n kairos uur gekom. Die vraag is egter: Besef die verteenwoordigers van ASMD wat hier teenwoordig was werklik die erns van die probleem? Wat onlangs nog soos ’n moontlike skeuring gelyk het is vinnig besig om in ’n moontlike onoorbrugbare te ontwikkel, tensy die ASM dringend die AS byeenroep om hierdie geskil te hanteer.

Daar word bevestig dat die ASMD tyd nodig het. Daar is nou ’n baie lang skoolvakansie op hande. Die ASMD sal terugkom na MKN. Agv. die dringendheid en erns van die saak is einde Januarie 2021 voorgestel maar kon nog nie vasgemaak word nie.

Almal stem saam dat die gesprek voortgesit moet word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui