Kairos Netwerk Nuusbrief – 26 Feb 2021

******

Beste vriend(in)

HOOFBERIG: Gesprek met ASM verteenwoordigers

  1. GEBED EN VAS
  2. ADMIN REELINGS

Stuur asb. hierdie nuusbrief aan al jou vriende, familie en kennisse!

1. HOOFBERIG: Gesprek met ASM verteenwoordigers
Soos u reeds weet het ‘n opvolggesprek op 22 en 23 Februarie plaasgevind tussen die lede van ‘n afvaardiging van die ASM en die sentrale werkgroep van die Kairos Netwerk (KN).

Die ontmoeting het begin deur oop en eerlike gesprek te voer oor sommige van die probleme en verskille wat veral op drie gebiede naamlik teologiese opleiding, Skrifbeskouing en –interpretasie, en kerkordelike prosesse ondervind word. Beide die partye het tot die besef gekom dat daar diepgaande verskille is ten opsigte van die drie punte. Albei partye het erken dat indien daar nie baie vinnig bevredigende oplossings vir die genoemde verskille gevind word nie dit kan lei tot verdere onenigheid en kerkskeuring.

Die ASM se afvaardiging doen eersdaags verslag aan die volle ASM waar die volgende gesamentlike ooreenkomste voorgelê word vir besluitneming en waar verdere mandate en prosesse om uitvoering te gee aan die voorstelle bepaal sal word:

  • Aangesien meeste van die probleme onder bespreking slegs deur die Algemene Sinode effektief aangespreek kan word, het die ASM afvaardiging onderneem om die KN se versoek vir ’n buitengewone vergadering van die Algemene Sinode aan die volle ASM voor te lê vir oorweging;
  • Dat beide partye saam gaan werk om so gou moontlik kreatiewe en relevante oplossings te vind om die verskille effektief aan te spreek. Dit sluit in die ontwikkeling van nuwe kerklike netwerke/strukture/modelle waarbinne daar vryheid bestaan om nie onderhewig te wees aan alle beleidsbesluite nie;
  • As deel van die verslag is daar ooreengekom dat KN die tersaaklike verslae wat meer besonderhede van die verskille en probleme bevat, beskikbaar sal stel ter motivering van die voorstelle.

Op die teologiese opleidingsfront is daar ooreengekom dat die Algemene Kuratorium genader sal word om die KN te betrek by die soeke na oplossings om die probleme wat die KN met die huidige teologiese opleiding ondervind, intussen te probeer aanspreek.

Die Kairos Netwerk afvaardiging sal ook eers met die res van die lede en asook die dolerende gemeentes gesprek voer oor die moontlikhede en die grense van die KN afvaardiging se mandaat. Die erns van die huidige krisis in die kerk en die dringendheid om nuwe moontlikhede te ondersoek word deur beide partye gedeel.

Die wyse waarop die Here die deelnemers aan die gesprek gelei het, was ‘n inspirasie. Die twee partye sien uit om die nuwe moontlikhede wat die Here tydens ons gesprek ontsluit het, verder te ondersoek.

Daar is wel gepoog om ‘n gesamentlike verklaring vry te stel maar weens tydsdruk en ander verpligtinge van sleutel mense kon dit nie gefinaliseer word nie.

Daar word ook gewerk aan ‘n ‘Weergawe van KN se belewenisse’ wat iets probeer weergee van wat voor, tydens en na Gesprek 2 gebeur het. Daar word beplan om dit in ‘n volgende Nuusbrief te plaas. Die verwagting is dat dit belanghebbers by die saak ‘n beter aanvoeling sal gee van waar ons tans in die proses is en hoe die Here ons gelei het tydens die Gesprek met die ASM.

2. GEBED EN VAS

Ons opregte dank en waardering gaan aan so baie voorbidders se volgehoue betrokkenheid by die saak. Die Gesprek was gedra deur voorbidders wat deurentyd ingetree het vir die mense betrokke asook vir die proses. Onderstaande gebede is steeds en miskien nou meer so belangrik. Gaan dus asb. voort om vir die volgende te bid:

  • Dat die werksaamhede van die KN die Here se naam sal eer;
  • Dat die Here wysheid en insig sal gee oor elke proses en besluit;
  • Dat in die voortgesette interaksie en gesprekke met die ASM, die Heilige Gees ons sal lei in die regte rigting;
  • Dat die getuienis van die kerk in en deur die proses nie skade sal lei nie maar dat dit eerder mense sal trek na God toe;
  • Dat die deurbraak vordering wat daar gemaak is volhoubaar sal wees.

3. ADMIN REELINGS:

  • Neem asb. kennis dat saam met die naamsverandering die domain asook skakel na die webwerf gaan verander.  Daar sal tydig kennis gegee word van die implementeringsdatum.  Intussen gaan alles voort soos gewoonlik.
  • Op soek na inligting maar kry dit nie?  Stuur jou navraag na info@moreletakairos.net
  • Sien jy foute wat reggestel moet word? Stuur asb. jou voorstel na info@moreletakairos.net
  • Indien jy hierdie nuusbrief “2e-hands” van iemand anders gekry het, skryf in en kry dit “1e-hands” deur hier te kliek en jou besonderhede in die vorm heel onder aan die bladsy in te vul en dan die “submit” knoppie te kliek.
  • Het ons al jou telefoonnommer?  Kliek dan asb. op die “Hersien profiel” skakel heel onder aan hierdie nuusbrief.  Dit sal jou neem na jou profiel-bladsy op ons databasis. Voeg asb daar jou telefoon-nommer by, kliek dan op die blokkie heel onder aan daardie bladsy waar daar staan “I am not a robot” en kliek dan op die “submit” knoppie.

Seëngroete,
KN Redaksie
KN sentrale werkgroep

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui