NG Kerk in Namibië híéroor besorgd

NG Kerk in Namibië híéroor besorgd | Kerkbode

15 Oktober 2019

VERKLARING: MODERATUUR NG KERK IN NAMIBIË
INSAKE SELFDEGESLAG VERHOUDINGE

15 Oktober 2019

Dit is met diep besorgdheid dat die moderatuur bewus geraak het van spanning en ongelukkigheid by baie lidmate en ook leraars in ons land, oor bogenoemde besluit, wat by die onlangse Algemene Sinode in Benoni hieroor geneem is.

Ons vra dringend dat elkeen wat hiermee worstel sal besef dat die besluit wat die NG Kerk in Namibië in 2016 hieroor geneem het, vir ons die geldende besluit bly. In daardie besluit word slegs die verbintenis van een man en een vrou voor die Here geag as ’n huwelik. Verder word Selfdegeslag verbintenisse nie daarin erken nie.

Dit is die sake wat tot die meeste onsteltenis gelei het.

Die NG Kerk in Namibie is ’n selfstandige kerk, volgens art 32 – 37 van die Kerkorde. As sodanig kan die NG Kerk in Namibië dus eie besluite oor sake soos hierdie neem en handhaaf.

Die Algemene Sinode het hom uitgespreek ter ondersteuëning van eie besluite tot op die vlak van plaaslike gemeentes oor die hantering van die saak.

Die NGK in Namibië het dus reeds in 2016 by wyse van haar besluit standpunt ingeneem oor die saak en is onomwonde duidelik daaroor in daardie besluit. Dit stel dit duidelik dat die huwelik slegs geag word as die verbintenis tussen een man en een vrou voor die Here. Selfdegeslag verbintenisse word nie daarin erken nie.

In die lig van bogenoemde doen ons ’n ernstige beroep op elke lid van die kerk om te onthou dat hierdie land in die wurggreep is van die ergste droogte nog, wat maak dat mense letterlik veg vir oorlewing.

Hulle het ons pastorale ondersteuning in die eerste plek nodig, nie verdere spanning en verwarring nie.

Vermy ongekontroleerde kommunikasie op sosiale media, dit het al soveel skade berokken, en mense mislei.

Kom ons bly kalm en hanteer alle sake waar die geleenthede geskep sal word. Die moderatuur sal persoonlike ontmoetings reël om beswaardes en besorgdes aan te hoor en in gesprek te tree, rondom misverstande en verskille.

Die Algemene Sinode wys ’n taakspan aan om almal in sinodes te ontmoet om vrae aan daardie liggaam te beantwoord.

Tree te alle tye waardig Christus teenoor mekaar op. Hy verwag van ons liefdevolle optrede. Kom ons hou aan mekaar vas, bly een in Christus, soos Johannes 17 vra, sodat die wêreld sal glo.

Moderatuur: NG Kerk in Namibië

Dr AR Olivier Moderator
Ds JHG Maritz Assessor
Ds MJN van der Merwe Aktuarius en Algemene Sekretaris
Ds E Coetzee
Me AC Louw


Die besluite wat deur die Algemene Sinode geneem is lui soos volg:

Besluit 2015: Selfdegeslagverhoudings

Besluit: om die 2015-besluit van die Sinode op grond van prosedurele redes ter syde te stel;

Besluit: SELFDEGESLAGVERHOUDINGS

  1. Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.
  2. Die Algemene Sinode bely egter dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ʼn eenheid met Christus en die belydenisgrondslag, en dat hierdie eenheid nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg ten opsigte van hierdie saak verskil word nie, maar verryk en verdiep word.
  3. Die Algemene Sinode is verbind tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings, Skrifhantering en hermeneutiek.
  4. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat:

4.1 hierdie ruimtes inklusief en divers bly;

4.2 nie oor ánder te praat nie, maar eerlik en broos vanuit die eie posisie, en

4.3 daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.

  1. Die Algemene Sinode respekteer kerkrade se reg om geloofsonderskeidende gesprekke in hulle eie kontekste te voer en moedig kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem.
  2. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van persone in die ampte, lidmate se:

6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,

6.2 toegang tot die sakramente,

6.3 integriteit van verhoudings, en

6.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem

6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.

  1. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente se:

7.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,

7.2 toegang tot die sakramente,

7.3 integriteit van verhoudings, en

7.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem word, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.

  1. Die Algemene Sinode erken dat daar:

8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie,

8.2 ook kerkrade en predikante is wat wel hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.

  1. Die Algemene Sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig. Die Algemene Sinode besluit ook dat daar ʼn span saamgestel word wat elke streeksinode sal besoek om hierdie saak duidelik en deeglik deur te werk. Dit kan ons help om ‘n ingeligte besluit neem.
  2. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ‘n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.
  3. Die Algemene Sinode

11.1 betreur dat die verloop van die debat en die besluite in die kerk die afgelope jare lidmate verwar en seergemaak het;

11.2 vra gay-lidmate en hulle families wie se menswaardigheid wetend en onwetend misken is, uitdruklik om verskoning vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het;

11.3 verbind hom daartoe om in die gees van hierdie besluit ruimtes te skep vir gesprek waarin almal se menswaardigheid gerespekteer word.

11.4 Die Algemene Sinode bedank gay-lidmate wat volgehou het met waagmoedige en konstruktiewe gesprekke in die kerk.

  1. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om voort te gaan met studie oor die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op terugvoer aan die volgende sinode.

GELDENDE BESLUITE OOR DIE HUWELIK, PROMISKUïTEIT EN SELFDEGESLAG VERHOUDINGS

Die volgende is steeds geldend uit die besluite van 2007 wat herstel is met die tersyde stelling van die 2015 besluit oor Selfdegeslag verbindtenisse.

Die AS 2007 het die volgende besluite bevestig:

  1. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ʼn huwelik beskou kan word.
  2. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
  3. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ʼn alternatief vir die huwelik aanvaar kan word (uit Handelinge AS 2007, pp 204-205, pte 12.2 en 12.3)

Die volgende AANVULLENDE BESLUITE is aanvaar:

Die Algemene Sinode

  1. Bevestig dat vorige besluite insake homoseksualiteit, selfdegeslag verbintenisse en huwelike gewysig en/of vervang is met nuwe besluite
  2. Bevestig dat vorige besluite oor die huwelik en promiskuïteit steeds die geldende besluite is
  3. Versoek dat hierdie besluite volledig in die Kerkordeboek opgeneem word
  4. Neem kennis dat besluite oor SGV vir gemeentes buite die RSA onderworpe is aan daardie land se wetgewing.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui