Demone – gevaarlik of onskadelik?

Kyk ook:

Die volgende artikel van Gerda de Villiers het oorspronklik op die webblad teo.co.za verskyn.

Dit is duidelik dat sy twyfel wil saai oor die idee dat die duiwel ’n persoon is. Sy probeer die leser oortuig dat ons beeld van die duiwel of Satan baie onseker is en daarom moet daar seker ruimte gemaak word vir mense wat nie aan die duiwel as ’n persoon glo nie.

************

Demone – gevaarlik of onskadelik?

Deur Gerda de Villiers, gepubliseer op 10 Februarie 2011

Inleiding

Bestaan daar iets soos demone? Waar kom hulle vandaan? Waar woon hulle? Wat doen hulle? Kan hulle gesien word? Moet hulle gevrees word? En, hoe kan daar van hulle ontslae geraak word? Teo ondersoek die saak.

Die woord

Die woord demoon word afgelei van die Grieks daimôn en sy adjektief, daimonion. Die oorspronklike klassieke betekenis van die woord, in Homeros se tyd, het op die goddelike betrekking gehad, om die waarheid te sê, Homeros het theoi en daimones min of meer as sinonieme gebruik. Miskien kon daar ’n onderskeid gemaak word tussen die hoër gode op Olympus, en die klas gode net onder hulle: laasgenoemde was die daimones, die tussengangers tussen die gode en mense en het bemiddelend opgetree tussen die goddelike en menslike sfere. Plato, in sy Symposium, vertel hoedat die priesteres Diotima vir Socrates leer dat liefde nie ’n god is nie, maar ’n groot daemon. Sy verduidelik dat daemones tussen die goddelike en die menslike optree. Daemones interpreteer en vervoer menslike aangeleenthede na die gode en goddelike aangeleenthede na die mense, dit wil sê, versoeke en offers van benede, en verordeninge en vergelding van omhoog. In Plato se Apologie van Socrates, beweer Socrates dat hy ’n daemon het, ’n soort innerlike stem wat hom waarsku teen moontlike foute wat hy kan begaan, maar nooit voorskryf wat hy moet doen nie. Hierdie daemon van Plato se Socrates is egter nie ’n god nie, maar eerder ’n onpersoonlike ‘iets’ of ‘teken’.

Die latere Hellenistiese Grieke sou wel onderskei tussen daimones wat vir menslike geluk en voorspoed verantwoordelik was, en ander wat ongeluk en ramp oor jou pad gebring het. Eersgenoemde was die eudaimonia, en laasgenoemde die kakodaimonia. Alhoewel die een positief en die ander negatief was, was albei deel van die lewe, en albei se bestaan teologies legitiem.

Die Ou Nabye Ooste

Die wêreldbeeld en die kulture van die Ou Nabye Ooste was monisties van aard, dit wil sê, die heelal is gesien as ’n samehangende sisteem waarin alles – god en mens, goed en kwaad – ’n vasgestelde plek en funksie gehad het. Daar was goeie en slegte magte, maar die twee het nie teenoor mekaar gestaan nie. Daar was nie ’n kosmiese stryd tussen goed en boos nie, en daar was ook nie twee stelle gode wat tot in der ewigheid met mekaar baklei het nie. Nadat Marduk vir Tiamat verslaan het, het hy die hemel en aarde uit haar liggaam gevorm, en die mens uit Kingu se bloed gemaak. Daarmee is die chaos-magte onder bedwang gebring. Ramp en teenspoed het nie opgehou nie, maar dit was nie ’n stryd tussen opponerende magte nie. Veel eerder kan dit gekoppel word aan die mens se individuele stryd om voortbestaan en oorlewing.

Destruktiewe geeste was veral aktief tydens gevaarlike situasies en gevaarlike tye: in die nag, wanneer ’n mens slaap, in windstorms, sonsverduistering, in die hitte van die middag, en veral tydents swangerskap en kindergeboorte. So byvoorbeeld vertel ’n Mesopotamiese mite van Pashittu, die ‘baba-steler’. Hy gryp klein babatjies en voer hulle voortydig weg na die Onderwêreld. Maar in werklikheid is hy deur die groot gode self geskape met die doel om die menslike getalle te beheer en ’n bevolkingsontploffing teen te werk. Sy vroulike eweknie is Lamashtu, ’n vreesaanjaende gees wat vroue tydens swangerskap en geboorte laat sterf, en klein babatjies wat soog, van hul moeders se bors kom wegruk. (In die latere Joodse volksmond, is Lamashtu Lilith genoem.)

Hulle het in gevaarlike plekke gebly, in die woestyn, onherbergsame streke, verlate ompaaie. Pazuzu, die Babiloniese god van die woestynwinde, was lief om onverwags toe te slaan en die mensdom te teister met teenspoed en siekte. Erra was die pesgod, Adad was die stormgod. Hierdie geeste was doodgewoon personifikasies van al die aaklige en droewige dinge wat die brose bestaan van die Ou Nabye Oosterse mens bedreig het: die noodlot, peste en plae, maar veral die dood.

Alle mense het gesterf, slegs die gode kon vir ewig bly lewe. Na die dood was daar ook geen beloning of straf nie: die mens is hier en nou, op die aarde terwyl hy lewe, vir sy dade beloon of gestraf. As hy sterf, gaan hy, ongeag wat hy gedoen het, slegs na een plek toe – die Onderwêreld. Hier kraai Ereshkigal koningin, en nee, sy is nie boos nie. Die Onderwêreld is haar terrein waar sy die septer swaai. Toegegee, sy is nie ’n aangename figuur nie, met haar lang naels krap sy haarself stukkend en ruk haar hare uit haar kop asof dit preie is – maar sy is nogtans nie die bose nie, veel eerder die verpersoonliking van ’n gefolterde gees. Die Onderwêreld is ’n skemerdonker plek onder die aarde waar geeste rondskuifel, klere dra wat van voëlvere gemaak is, en ritsel-geluide maak as hulle beweeg. Dit help ’n bietjie as iemand in die land van die lewendes jou onthou en gereelde offerandes bring, anders is jy gedoem om rond te aas vir ’n stukkie of brokkie wat iemand anders dalk per abuis laat val het. Hier is almal gelyk: dit maak nie saak of jy nou in ’n huis, paleis, pondok of varkhok gebly het nie, die dood ken geen klas nie. Daar was tog enkele uitsonderings: soldate wat in ’n oorlog as held gesneuwel het, kry voorkeur behandeling, en klein babatjies wat voortydig van hul moeder se bors geruk is, word gevoed met verhelderde botter en heuning.

Die gevaarlike geeste is geeste van diegene wat nie ’n behoorlike begrafnis gekry nie. Dit is die geeste van mense wat op onbekende terrein gesterf het, of nog erger, mense wat verbrand het. Hierdie geeste ken geen rus nie. Geen rites en geskenke het hulle na die Onderwêreld vergesel nie. Hulle is woedend, en soek ’n liggaam – nie net om te teister nie, maar veral ’n liggaam om in te woon. Toestande soos epilepsie, kranksinnigheid, liggaamlike gebreke is toegeskryf aan die inwoning van rustelose geeste. Jy kon jouself teen hierdie geeste beskerm deur gebed, deur besweringsformules en magie. En wanneer ’n gees van jou of van een van jou naasbestaandes besit geneem het, kon jy die hulp van ’n spesialis inroep. Hy of sy diagnoseer die probleem, spreek die gepaste besweringsformules uit, en hopelik gee die gees pad. Meestal het die eksorsis een van die hoër gode aangeroep en die gees beveel om in ’n substituut in te vaar – soms was dit ’n dier wat toevallig naby rondgedwaal het, of soms in ’n beeld of ’n riet wat net so groot soos die menslike slagoffer was. Eksorsisme het meestal gepaard gegaan met towermiddels en rituele handelinge.

Ou Israel

Ou Israel handhaaf die monistiese wêreldbeeld van die Ou Nabye Ooste met een belangrike verskil: die goeie en kwade word nie as gode of godinne personifieer nie, want daar is net een God en dit is Jahwe. Die name van die gode bly, maar in Hebreeus is dit nie persoonlike eiename nie, maar bloot selfstandige naamwoorde. Yam is nie ’n seegod nie, yam is die Hebreeuse woord vir ‘see’. Mot is nie ’n god van dood nie, mot is die Hebreeuse woord vir ‘dood’. In Genesis 4:7 lees ons van die sonde wat vir Kain daarbuite lê en wag – letterlik, bekruip. Die Bekruiper – rabiṣ – was ’n god wat Israel se Kanaänietiese bure gevrees het, want hy het jou dinge laat doen wat jy normaalweg nie sou doen nie.

Ou Israel deel die vrees van sy bure vir siekte en pes wat op die hitte van die middaguur of in die donkerte van die nag toeslaan. Psalm 91 verwoord aangrypend: die skrik van die nag, die pes wat in die donker wandel, en die siekte wat op die middag verwoes (verse 3-6). Maar die Psalm stel gerus, jy hoef nie te vrees nie, want Jahwe is in beheer, en Hy sal jou beskerm. Siekte, pes en dood is egter nie Jahwe se teenstanders nie. Om die waarheid te sê, hierdie angswekkende toestande is kenmerkend van die magtige verskyning van die Here: Voor Hom uit loop die pes, en ’n koorsgloed trek uit agter Hom aan (Habakuk 3:5, Ou Vertaling).

Onherbergsame gebiede was ook vir Israel plekke van onheil. Aäron moet die sondes van die hele volk op die kop van ’n bok oordra, en dan moet iemand wat beskikbaar is, die bok injaag na ’n onherbergsame streek, die woestyn in, na Asasel toe (Lev 16:21-25). Jesaja vertel van ’se’îrîm wat in die verwoeste stad Babel sal rondspring (13:21), en na mekaar sal roep nadat Edom uitgeroei is (34:14). Die Ou Vertaling noem hulle veldduiwels, en volgens die NAV is hulle veldgode, maar hierdie gedaantes, volgens die Hebreeuse woordeboek is eintlik harige bokgode. Hulle kan ook verband gebring word met ’n kultus van afgode wat eksplisiet in Levitikus 17:7 verbied word, maar wat Jerobeam weer laat herleef het (2 Kron 11:15).

Negatiewe, selfs destruktiewe magte tree op op Jahwe se bevel. Nadat sy gees van Saul wyk, stuur Hy ’n bose gees wat die koning voortdurend ontstel (1 Sam 16:14). Tydens koning Agab se regering word die gees van die Here ’n leuengees in die mond van die profete aan die hof (1 Kon 22:22-23). Eksorsisme, soos wat dit elders in die Ou Nabye Ooste beoefen is, is egter nie in Ou Israel bekend nie.

Onder heerskappy van die Perse

Na die ballingskap, onder Persiese heerskappy, sou die monistiese wêreldbeeld van die Ou Nabye Ooste, Israel s’n inkluis, verander. Die Persiese godsdiens het die leer van Zoroaster nagevolg wat ’n dualistiese beeld van die wêreld gehandhaaf het. Volgens Zoroaster se leer is daar twee magte in die wêreld wat in ’n voortdurende stryd met mekaar verkeer – die mag van die goeie en die mag van die bose. Hierdie twee magte is persoonlik van aard. Die hoof van die goeie magte is Ahura Mazda. Hy is die skeppergod van hemel en aarde en uit hom kom alles wat goed is. Onder hom is ’n leërskare van aartsengele wat in bepaalde rangordes ingedeel is, en wat sy opdragte getrou uitvoer. Ahura Mazda het egter ’n teestaander, die bose Ariman. Ariman het sy eie leërskare van aartsduiwels en tesame is hulle verantwoordelik vir alles wat sleg en destruktief is. Ahura Mazda en Ariman is in ’n kosmiese stryd gewikkel wat uiteindelik tot ’n einde sal kom as Ahura Mazda die finale oorwinning behaal.

Ahura Mazda en Ariman se stryd is egter nie beperk tot die onsigbare wêreld nie. Ook op aarde het elk sy volgelinge. Dit is nie altyd duidelik wie is wie nie, maar aan die einde van die tyd sal Ahura Mazda se getroues beloon word deur uit die dood op te staan en vir ewig saam met hom in die hemel te leef. Ariman se volgelinge daarenteen, kry die straf van ’n ewige pynlike hel, net soos hul leier.

Hierdie denke sou eers tydens die aggressiewe Hellenistiese bewind ten volle in die Joodse tussen-testamentêre lektuur en Qumran-geskrifte ontplooi word. Maar die eerste saad vir apokaliptiek, goed en kwaad, hemel en hel, ’n hiernamaals en ’n opstanding uit dood, is gedurende hierdie tydperk gesaai.

Die Nuwe Testament

Wanneer die tyd van die Nuwe Testament aanbreek, is Joodse dualisme reeds gevestig. Die vier evangelies ken duiwels. Soms word hulle bose of onrein geeste genoem, en soms word hulle met die Griekse daimones aangedui. Soos die aggressiewe dwaalgeeste van die Ou Nabye Ooste kan hulle van ’n mens besit neem en in hom woon (vgl Luk 11:24-26). Een mens se liggaam kon selfs meer as een bose gees huisves, soos byvoorbeeld die besetene van Gerasa (Mark 5) en Maria Magdalena van wie vertel word dat sy sewe duiwels gehad het (Luk 8:2). Die effek wat die inwonende duiwels op mense gehad het, was enorme fisiese en psigiese lyding. Die Gerasener (Mark 5) het op ’n verlate plek tussen die grafte en in die berge gebly en homself met klippe stukkend gekap. Duiwels is ook verder verantwoordelik gehou vir allerlei vorms van gestremdheid en siektes byvoorbeeld in Markus 1:32; Matteus 4:24; vir stomheid – Matteus 9:32; vir blindheid – Matteus 12:22; vir epilepsie (om maansiek te wees) – Matteus 17-14-18. Maar een van die belangrikste manifestasies van duiwels was kranksinnigheid. Wanneer die duiwels uit die Gerasener padgee, word daar gesê dat hy by sy volle verstand is (Mark 5:15). En, as iemand van ’n ander verskil het, was dit algemeen om te sê dat hy van die duiwel besete is. Dit is van Johannes die Doper gesê (Luk 4:39), en ook van Jesus (Joh 8:48; 10:20-21).

Jesus het die gesag om duiwels uit te dryf, ’n gesag wat Hy ook op sy dissipels oordra. Maar die punt wat die evangelies wil beklemtoon as daar vertel word hoe Jesus die duiwels uitdryf, is nie slegs om die lyding van die slagoffer te verlig nie, maar om ook te illustreer dat die koninkryk van die bose die wyk neem as die koninkryk van God kom. Hier is dan duidelik sprake van twee botsende koninkryke waar die oorwinning van die een alreeds sigbaar word in Jesus se bediening.

Vir Paulus is die twee botsende koninkryke eerder ’n stryd tussen twee kosmiese magte en godsdienstige lojaliteite. Vir Paulus egter is demone tot ’n groot mate die gode uit die wêreld van die Grieke en die heidene (vgl 1 Kor 10:20-21), en die aanvanklike neutrale betekenis van die woord daimôn kry nou ’n onmiskenbare negatiewe konnotasie: Paulus demoniseer die ou Griekse gode heel letterlik. Maar wie of wat die daemones ookal mag wees, Paulus maak dit baie duidelik dat God alle bose magte deur Christus ontwapen het (Kol 2:15), en dat die gelowige van hul mag bevry is.

Slot

Dit is dus duidelik dat ‘duiwel’ of ‘demoon’ deur die loop van ongeveer tien eeue heen se geskiedenis nie dieselfde gebly het nie. Verskillende gemeenskappe het verskillende voorstellings van die kosmos en die geesteswêreld wat nie staties bly nie, maar voortdurend verander namate sosio-kulturele omstandighede ook verander. Dit sluit in die interpretasie van goed en kwaad.

Ek sluit af deur enkele verse uit Van Wyk Louw se Ballade van die Bose aan te haal:

Ken jy my nou?
Het jy die spieël gesien
en ken jy jou?

Ek is jou wese
se ondergrond
en ek trap in jou spoor
soos ’n goeie hond.

O waar sal jy gaan
en met watter skip?
die aarde is branding
en oral is klip,
of as jy wil vlug
uit die stad wat brand,
dan vlug ek saam
soos ’n vrou aan jou hand.
Ken jy my nou?
Het jy die spieël gesien,
en ken jy jou?

Bronne

  • Berlejung, A 2006. ‘Dämon.’ Paginae 127-128 in Berlejung, A & Frevel C, Handbuch theologischer Grundbegriffe zum Alten und Neuen Testament. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.
  • Jacobsen, T 1976. Treasures of Darkness: A History of Mesopotamian Religion. London: Yale University Press.
  • Krüger, JS, Lubbe, GJA & Steyn, HC 2009. The human search for meaning. Pretoria: Van Schaik.
  • Riley, GJ 1999. ‘Demon.’ Paginae 235-240 in Van der Toorn, K, Becking, B & Van der Horst, PW, Dictionary of Deities and Demons in the Bible. Leiden: Brill.
  • Van Wyk Louw, NP 1975. ‘Ballade van die Bose.’ Paginae 142-144 in Opperman, DJ, Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

Reaksies op “Demone – gevaarlik of onskadelik?”

prof. Johan van Rensburg Evaluering:
se kommentaar op 10 Feb 2011 9:38:39 PM PST

Goed nagevors. Interressant geskryf. Waardering dat die bestaan van demone nie sonder meer afgeskryf word nie (as ek reg verstaan). Egter uiters jammer dat twee sleutelgedeeltes nie eers ter sprake gebring word nie, nl. Judas en Ef.6. Ook Petrus waarsku teen die Satan wat soos ’n brullende leeu rondloop, al is hy deur Christus verslind.

gerhard Evaluering:
se kommentaar op 11 Feb 2011 12:33:59 AM PST

Uitstekende bydrae, Gerda.

Dr Enrico Casaleggio Evaluering:
se kommentaar op 11 Feb 2011 12:45:38 AM PST

Deeglik as jy die beknopte aard daarvan in aanmerking neem. Relevant. Aktueel. CS Lewis het gese: “Daar is twee ewe groot maar teenoorgerstelde foute wat die mens kan maak oor duiwels: 1) om hulle bestaan te ontken, 2) te glo dat hulle bestaan en daarby ’n oordrewe belangstelling in hulle te he. Die duiwel is ewe tevrede met albei hierdie foute en bejeen ’n materialis of ’n towenaar met ewe veel behae”. Ek meen die skrywer slaag Lewis se toets.

Sakkie Spangenberg Evaluering:
se kommentaar op 11 Feb 2011 1:33:55 AM PST

Wat my van die gepratery oor demone, geeste en spoke pla, is dat daar predikante was wat hul beroep en lewens op die spel geplaas het om Europa van die soort denke te bevry, maar nou in die 21ste eeu kom vertel oningeligte predikante ons dat die goed wél bestaan. Die Duits-Nederlandse predikant, Balthasar Bekker (1634-1698), het met sy boek “Die betoverde wereld” afgereken met hierdie idees en Europa help bevry van hekseverbranding wat met hierdie soort denke en wêreldbeeld verband hou. Klaus Scholder skryf soos volg oor hom in sy boek “The Birth of Modern Critical Theology”: “His ‘The Bewitched World’ not only made a decisive contribution to depriving the witch-hunting of the time of its theological and ideological foundations, but also belongs in the first rank of those works with which modern biblical criticism begins” (Scholder 1990:128-129).

cobus Evaluering:
se kommentaar op 11 Feb 2011 11:44:42 AM PST

Sakkie, jy verwys na “oningeligte predikante”. Jy is dikwels geneig om die baba met die badwater uit te gooi, soos om nou na die heksverbrandings van ’n valse kerk te verwys. Jy verwys graag na makabere insidente in die geskiedenis (waar sogenaamde Christene of kerkmense duidelik van Jesus se leer weggeval het) om jou naturalistiese teologie te probeer staaf. Hoe beoordeel jy “oningelig”? Daar is baie leraars in die bediening (my pa inkluis) wat al duisende mense gehelp het om uit die duistere okkultiese wereld te kom. Al hoe meer skoolkinders raak by satanisme betrokke. Dus, hierdie mense is goed ingelig. Miskien moet jy bietjie uit jou akademiese “bubble” uitbreek en die sendingveld aandurf, waar nuwe bekeerlinge vanuit die afgodediens soms ook bevryding moet deurmaak.

Stefan Nel Evaluering:
se kommentaar op 14 Feb 2011 12:37:20 AM PST

Die sogenaamde okkultiese wêreld is pure bog. DFie feit dat daar mense is wat hulle met die goed besig hou beteken hoegenaamd nie dat dit bestaan nie. Waar kom jy daaraan dat al hoe meer skoolkinders by satanisme betrokke raak? Gee asseblief vir ons betroubare en vergelykende statistiek hieroor. Miskien is jy die een wat uit jou antieke “bubble” moet uitbreek en tot die besef kom ons leef nie meer in die primitiewe tye van destyds nie. Is dit nie snaaks hoe daar altyd net duiwels en bose geeste teenwoordig is by diegene wat daaraan glo nie.

Rudolph Evaluering:
se kommentaar op 14 Feb 2011 7:54:53 AM PST

Ek stem volledig saam. Om te redeneer dat iets moet bestaan bloot omdat mense dit aanhang is geen waarborg dat dit bestaan nie. Net soos ek van geen Christene hoor wat se ons moet passop vir Allah want kyk hoeveel Moslems aanbid hom nie. Die manier waarop sommige Christene aangaan oor die “Satan” laat n mens voel dat hy gesien word as n tipe god waarvan die bestaan erken word, maar net nie aanbid word nie.

Stefan Coetzer Evaluering:
se kommentaar op 14 Feb 2011 7:34:40 AM PST

Cobus Dit klink asof jy vooraf besluit het NIKS sal jou kan oortuig dat “demone” nie bestaan nie. Dalk omdat jy emosioneel betrokke voel as gevolg van jou pa wat “duisende” (sjoe!) gehelp het om van “die duistere okkultiese wêreld” los te kom? Wat presies is “naturalistiese teologie”? Waarom sê jy Sakkie is in ’n “akademiese ‘bubble'”? Is dit nie eerder jy en jou denkgenote wat met die hulp van die lig van die moderniteit moet probeer ontsnap uit die duisternis van bonatuurlike “bubbles”, bevolk met “demone” vanuit die Donker Middeleeue nie? Uiteindelik is die bestaan van demone wat “uitgedryf” moet word deur biddende “leraars (sic) in die sendingveld” veral ’n ernstige aanklag teen die beweerde goedheid en almag van die Christengod wat hulle daar gaan verkondig. Is die demone dan buite beheer? Het God van hulle vergeet tot en met die oomblik toe die gebede begin het? Is die uitdryf van hierdie “bose duiwels” dus afhanklik van mense wat iewers ver waar niemand kan sien nie God se aandag daarop vestig? Waarom laat dit my voel demone is vir die demóónuitdrywer belangrik, omdat dit aansien aan hóm en sy “uitsonderlike, godgegewe gawes” verleen, eerder as aan die God self? Hoe ook al; ek wil jou aanmoedig om jou denke vreesloos oop te stel. Geloof wat berus op ’n krampagtige vasklou aan dreiging, onheil en allerhande donker hoekies is bestem om te sneuwel. Begin dink en lees wyd. Dis nie ’n skande om van opinie te verander nie – glo my. Groete Stefan Coetzer

Thomas Dreyer Evaluering:
se kommentaar op 01 Mar 2011 10:14:30 PM PST

Stefan, dis so jammer dat jy ad hominem argumente gebruik, eerder as om die saak teologies te beredeneer. Wil jy nie asb die werk van Neil T Anderson, THE BONDAGE BREAKER en andere werke van hom bekyk en dan vir ons jou teologiese kommentaar daarop lewer nie? Baie dankie.

harry Evaluering:
se kommentaar op 15 Feb 2011 12:16:13 PM PST

cobus is bewus van wat werklik om ons aangaan,satan en gevalle engelle word ook soms genoem ,,prins van die lug,, dws soos in radio seine,dank die Vader…Jesus is die lig die teendeel van duister.

cobus Evaluering:
se kommentaar op 11 Feb 2011 11:32:23 AM PST

“Dit sluit in die interpretasie van goed en kwaad.” Ek sou graag groter klarigheid hieroor wil kry. Ek glo daar is universele waardes van “goed en kwaad” wat sedert die begin van die mensdom in ons ingeprogrammeer is en onveranderd bly. Gestel die wereld het oor 1000 jaar ’n radikale anders werelbeeld as nou: sou dit dalk volgens ’n alternatiewe interpretasie van goed en kwaad aanvaarbaar word om te kul, te lieg, te haat; of dalk selfs om jou buurman te eet (soos wat steeds nog gebeur in sommige kulture)? Samelewings se tegnologiese vooruitgang is ook geen versekering teen boosheid nie (soos wat die 20ste eeu reeds bewys het).

Ralph Barnard Evaluering:
se kommentaar op 12 Feb 2011 11:53:27 AM PST

Skitterend, Gerda!

Sakkie Spangenberg Evaluering:
se kommentaar op 14 Feb 2011 9:25:59 AM PST

Cobus, noem my een internasionaal erkende universiteit waar ’n mens kan inskryf vir ’n kursus in demonologie. Noem my een internasionaal erkende sielkunde departement waar ernstige navorsing oor demone en demoonbesetting gedoen word. Noem my een internasionaal erkende teologiese fakulteit of teologiese seminarium waar duiweluitdrywing in praktiese teologie geleer en beoefen word. Noem my die praktiese teoloe wat eweknie-beoordeelde artikels in erkende teologiese vaktydskrifte publiseer oor die verskynsel van demone, geeste en spoke. Groete, Sakkie.

Stefan Nel Evaluering:
se kommentaar op 16 Feb 2011 12:00:01 AM PST

Ek het ’n soortgelyke vraag aan Cobus gestel maar jy formuleer dit baie beter. Ek wag in spanning op Cobus se reaksie.

gerhard Evaluering:
se kommentaar op 16 Feb 2011 7:15:33 AM PST

Dankie, Sakkie. Ek’s bly jy sê “internasionaal erkende”, want daar’s te veel kwasi-kundiges wat goedgelowige mense op dwaalweë laat beland.

elaine Evaluering:
se kommentaar op 16 Feb 2011 7:45:01 AM PST

Cobus ek stem met jou saam. Sakkie jy het nie ’n graad nodig om duiwels uit te dryf nie. Efes 6 vers 12 en 13. Dit is op ons almal van toepassing. Jy gaan tog nie op die slagveld draf om oorlog te gaan voer as jy nie ’n opdrag kry nie. m.a.w. enige persoon in opdrag van God sal kan duiwels uitdryf. Ek stem ook saam met ds. Pieter Fourie. Wens daar is meer wat wil opstaan en uit die Bybel ons enigste “manual” die waarheid verkondig. Stefan jy hoef nie wyer as die Bybel te lees nie. Groete Gewone huisvrou Elaine

Sakkie Spangenberg Evaluering:
se kommentaar op 17 Feb 2011 3:32:54 AM PST

Geen graad nodig om as medikus te praktiseer nie; geen graad nodig om as psigiater te praktiseer nie; geen graad nodig om ’n dominee en pastor te wees nie; geen graad of diploma nodig om onderwys te gee nie … en die uiteinde? Sakkie

Stefan Coetzer Evaluering:
se kommentaar op 17 Feb 2011 6:53:54 AM PST

Die uiteinde is dat almal uiteindelik weer glo die plat aarde staan stewig “gegrondves” op pilare, kompleet met doderyk “onder” en ’n hemelse koninkryk “bo”.

Peet Evaluering:
se kommentaar op 18 Feb 2011 2:52:16 AM PST

Dankie Gerda, uitstekend! Wat my verstand te bowe gaan is dat dominees hierdie goed weet. Ek meen die teologiese opleiding is oral min of meer dieselfde, en ten spyte hiervan dat hulle steeds aanhou om mense bang te maak met ’n hel, duiwels, bose geeste, ens. Interresant, die oomblik wanneer jy ’n dominee hieroor konfronteer, ’n soort stomheid hulle tref. Ek het dit telke male ervaar.

Christo Barnard Evaluering:
se kommentaar op 28 Feb 2011 4:10:19 AM PST

Baie dankie vir die insiggewende artikel; net wat ek gesoek het. Ek stem saam met Stefan Nel; so sien ons generasie nie meer spoke nie omdat ons nie daarin glo nie. Ek het wragtig ’n kollega wat glo ’n “wind-chime” kan demone by jou inlaat omdat ’n duiweluitdrywende dominee dit verkondig. Netso bestaan die tokkelossie regtig, dis blykbaar ’n seksdemoon.

Louis Bezuidenhout Evaluering:
se kommentaar op 01 Mar 2011 8:56:34 AM PST

Dankie, Gerda, ’n goeie en stimulerende artikel – soos mens kan sien in die reaksie. Maar die ding gaan nog verder…

Stephan Evaluering:
se kommentaar op 01 Mar 2011 10:40:20 AM PST

Gerda slaag uitstekend daarin om die duiwel van bygeloof wat ons mense verstrik, uit te dryf! Baie dankie vir ’n puik samevatting van inligting wat bevry.

Sam Pienaar Evaluering:
se kommentaar op 01 Mar 2011 12:23:57 PM PST

Baie goeie artikel > Goed geformuleer. Ai dat ’n mens ’n professor moet word om gedurig te poog om die werklikheid te ontsnap en dan nog regtig ook geesgenote inspireer om ook in sy eie wêreldbeeld vasgevang te word. Ek voel amper om vir Sakkie in liefde te vra…wat is dan die Waarheid? SAM SAM.

Alex Evaluering:
se kommentaar op 01 Mar 2011 12:30:42 PM PST

Wow, wat n interessante artikel! n Mens wonder eintlik hoe dit moontlik is dat civilised mense i.d. 21e eeu nog steeds aan demone glo… Carl Sagan se uitstekende boek “The Demon-haunted World: Science as a Candle in the Dark” behoort compulsive reading vir enigiemand te wees wat nog so bygelowig is … (En ja, in Europa is demoon-geloof seker so skaars soos hoendertande… hoekom is ons – en party Amerikaners??? – so ver agter??)

Alex Evaluering:
se kommentaar op 01 Mar 2011 12:38:53 PM PST

Alhoewel die artikel baie goed nagevors is, huiwer die skrywer egter om n definitiewe antwoord te gee of demone wel bestaan! Dit sou n nog meer sinvolle artikel gewees het, as sy n opinie oor die saak gelig het! – En hoe raak n mens v hulle ontslae (provided dat jy aan hulle glo, natuurlik!) Word daar nog demoon uitdrywery aan ENIGE Universiteit geleer?? Soos mnr Spannenberg tereg opmerk is daar geen leerstoel meer vir dit nie, anders as in die Middeleeue, toe dit n hele rukkie DIE wetenskap was!! – Hoe “tackle” teoloe deesdae die tema met hulle studente? Of moet elke student maar sy eie mind opmaak of hy in demone glo of nie???

Thomas Dreyer Evaluering:
se kommentaar op 01 Mar 2011 10:04:07 PM PST

Gerda, baie dankie vir die waagmoed wat jy aan die dag gelê het om oor so ’n saak te skryf. Die intense konflik in die reaksies dui duidelik daarop dat dit ’n baie sensitiewe saak is. Ek sou net graag wil hê (of dalk gehad het) dat jy miskien een van die boeke van Neil T Anderson in jou studie inkorporeer. Op my boekrak sit ek met The Bondage Breaker van die skrywer (gekoop by CUM). Dit lyk vir my dat vir Neil demone ’n realiteit is wat mense se lewens kom “be-duiwel”. Hy bied dan ook verskeie oplossing aan. Wat hy sê, het ek ook al by mense beleef wat wetend of onwetend by die okkulte betrokke geraak het. Ek sal jou kommentaar hierop waardeer.

Gideon Aggenbag Evaluering:
se kommentaar op 02 Mar 2011 1:50:16 AM PST

Hieroor verwag ek menige snedige opmerking, maar ek gee die feite so bondig moontlik: Ged. 2007 op Pearston word ek om 03h15 (Saterdag) opgeklop om te kom help. ’n Skraal jongman (17) het sedert 20h30 die vorige aand stuiptrekkings gekry, rondgekruip, rondgespring met skuim om die mond, 2 grootgeboude manne (sy pa inkluis) van die grond af opgelig. Uiteindelik is hy op ’n bed op sy maag vasgepen met sy pa wat op hom lê met sy arms in ’n greep, en ’n vriend op sy bene. Hy stoei hewig, selfs ná 8 ure. Nog helpers staan by. Swaar sweetreuk. Nog nooit so ’n geval ondervind nie. Ek sit my hand op sy skouer en beveel Satan om hom te laat los “in die Naam van Jesus” – ’n paar maal herhaal. Skielik lê hy doodstil, sy een been gee dan nog ’n geweldige ruk. Asems jaag en die sweet stroom. Pa en vriend los hom. Ek noem sy naam en vra of hy my hoor. “Ja”. Ek vra: “Hoe voel jy nou?” en hy antwoord: “Baie moeg”. Buite die kamer vra ek almal om te verstaan dat dit nie ek is wat dit wat hulle sien gebeur het, gedoen het nie, maar God self. Ek was net ’n instrument. Ong. 04h00 neem ek afskeid van almal op die stoep – die jongman inkluis, toe normaal. Sien asb. my verdere kort opmerkings hieronder.

Gideon Aggenbag Evaluering:
se kommentaar op 02 Mar 2011 1:52:26 AM PST

Later die dag in gesprek met die bg. jong man blyk dit hy het saam met vriende ’n ruk vantevore (kan nie onthou of dit ’n paar dae was nie) “glasie-glasie” en Oeja-bord (?) gespeel. Hierteen het ek hom gewaarsku. Net vir duidelikheid: Ek het nie gedroom nie, het alles hierbo fisies ondervind, niks bygelas nie en deur verskillende gesprekke die voorafgaande gebeure vasgestel. Ek het die waarheid en die feite hierbo so getrou moontlik weergee. Ek het niks aangedik of gelieg nie. Sou prof. Gerda, Sakkie e.a. miskien enige kommentaar, verklaring of verduideliking van die bostaande gebeure kon gee? Ek sien baie vooruit daarna.

Henning van der Westhuizen Evaluering:
se kommentaar op 02 Mar 2011 7:07:08 AM PST

Aan Sakkie, Stefan, Alex ens. Ek wonder wie is die ware volsruise hier – kop in die modernistiese sand en salig onbewus dat die res van die akademiese gemeenskap aanbeweeg. Ons het verby modernisme beweeg en is veronderstel om in ’n era van post-moderne multidissiplinere kruisbestuiwing te leef, en dit geld die teologie ook – en moenie sê julle benadering is post-modernisties nie, as die teendeel bewys word deur julle enkelvoudige aanstaar van die saak van demone hier ter sprake. Ja dis waar, geen universiteit sal ’n kursus in demoniese bevryding aanbied nie, net so min as wat hulle kursusse in “Hoe-om-die-koppelaar-te-trap-en-die-ratte-te-verwissel” aanbied. Beteken dit karre bestaan nie? Dit is ’n onderafdeling van ’n veel groter en meer uitgebreide veld van studie. Is dit nou julle nuut-geskepte maatstaf in eksistensialisme – om te kyk of ’n universiteit ’n kursus aanbied in iets sodat jy kan weet of dit bestaan? Julle antwoord en my vraag is hieronder.

Henning van der Westhuizen Evaluering:
se kommentaar op 02 Mar 2011 7:12:21 AM PST

@ Sakkie ens. vervolg. Waarom ignoreer julle moedswillig navorsing in ander dissiplines wat dit lankal as ’n gegewe beskou dat daar meer is as net dit voor die hand liggende? Van die sielkunde (Jung, Konstantins Raudive – houer van ’n leerstoel aan die Universiteit van Uppsala – of tel Swede nie as een van julle “Internasionaal erkende” universiteite nie?) tot Fisika en Geografie (Die Universiteit van New Hampshire se “Institute for the Study of Earth, Oceans and Space” publiseer materiaal waarin lewe in die buitenste ruim as ’n gegewe aanvaar word – en word jaarliks deur o.a. NASA geborg vir R262 miljoen. Van die mediese wetenskap, NGO’s tot individuele akademiese navorsers bestudeer lewe buite die bekende. ’n Demoon, hoe ook al gedefinieerd, val binne die kader van sulke studie. Die oomblik as julle die verbintenis kan maak tussen ’n groter omgewing van lewe (tyd-ruimtelik en multi-dimensioneel), sal julle ook die moontlikheid moet kan voorsien dat demoniese entiteite bestaan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui