Archaeoraptor: National Geographic dryf ’n evolusionêre agenda

Een van die groot probleme van evolusie is steeds die sogenaamde vermiste skakel (“missing link”). As evolusie waar was, sou die fossielrekord oortrek wees met tussenskakels. Darwin het hierdie probleem toegeskryf aan die onvolledigheid van die fossielrekord, maar intussen is ’n magdom fossiele gevind en is die fossielrekord vandag eintlik baie volledig [1]. Dit is daarom dat evolusioniste tussenskakels met ope arms verwelkom. In 1999 het National Geographic ’n fossiel as ’n tussenskakel gepropageer met die wete dat dit ’n vals fossiel was:

In Sjina is ’n beweerde skakel tussen ’n dinosourus en ’n voël gevind. Dit is Archaeoraptor gedoop. Met nadere ondersoek is gevind dat dit nie ’n tussenskakel was nie, maar ’n samestelling van verskillende fossiele met die doel om te mislei. Die volgende diagram wys hoe die Archaeoraptor-fossiel ’n kombinasie van verskillende fossiele is om ’n tussenskakel te fabriseer:

alt

  • Figuur A verteenwoordig die oorspronklike monster voordat ander stukke bygesit is.
  • Figuur B toon die invoeging van die “linker” femur.
  • Figuur C toon die invoeging van die “regter” en “linker” tibia / fibula. Die “regter” en “linker” tibia/fibula lyk of dit dele van ’n plaat [2] en teenoorstaande plaat van ’n enkele element te wees.
  • Figuur D toon die invoeging van die “regter” voet/enkel, wat ook die plaat en teenoorstaande plaat van ’n enkele voet verteenwoordig.
  • Figuur E toon die invoeging van die stukkies van die stert. Die stert behoort eintlik aan ’n ander fossiel wat ’n ander spesie, dromaeosaur, verteenwoordig.
  • Figuur F toon die plasing van dele wat strukturele steun bied, om die blad meer geskik te maak vir verkoop.

National Geographic was deeglik bewus hiervan en hulle was ook deeglik bewus daarvan dat volgens Sjinese wet, dit onwettig was vir hierdie fossiel om die land te verlaat, en dat fossielsmokkel as ’n ernstige misdaad verklaar is en soms selfs strafbaar was met die dood.

alt

National Geographic het ’n perskonferensie gehou om die egtheid van die fossiel te bespreek en ten spyte van bogenoemde inligting het National Geographic die fossiel ontvang en ná die perskonferensie voortgegaan om dit as ’n oorgangskakel te propageer onder die titel “Feathers for T. Rex?” (kyk prentjie regs).

Dr Timothy Rowe, ’n evolusionis, wat gevra is om as konsultant op te tree om die egtheid van die fossiel te ondersoek, het die volgende te sê gehad oor die voorval [3]:

“Ons het die data en interpretasie daarvan voorsien aan die verteenwoordigers van National Geographic. Die wetenskaplike in beheer, se laaste kommentaar aan my, soos hy uit die gebou geloop het, was: ‘Al hierdie Sjinese goed is mee gepeuter’. Omdat die fossiel bevraagtekenbaar was, het hulle ons as konsultante ingebring – wat ons gedoen het. Die data en interpretasie is aan al die partye aangebied. Dit was ’n totale skok toe hulle ná die nuuskonferensie aankondig dat dit wel ’n geldige fossiel is.”

Die skrywer van die National Geographic artikel, Christopher P. Sloan, het so sterk geglo in sy interpretasie dat hy die volgende geskryf het: “Met dieselfde selfvertroue as wat ons kan sê dat die mens soogdiere is, kan ons nou sê dat voëls theropods is.”

Wat ook opvallend is, is dat Archaeoraptor met vere voorgestel is ten spyte daarvan dat dit nie uit die fossiel afgelei kon word nie. Inteendeel, daar is tot vandag toe geen dinosourus met vere gevind nie, dus is evolusioniste steeds op soek na die tussenskakels tussen dinosourus en voël (kyk Dinosourusse met vere).

alt

Kort na die voorval het National Geographic hierdie artikel onttrek, maar soos dit met die media werk, is dit nie in naastenby dieselfde fanfare gedoen as die oorspronklike artikel nie (kyk Archaeoraptor hoax update—National Geographic recants! (2 Maart 2000) en National Geographic backs down—sort of! (11 April 2000)).

Hierdie insident word vandag vergelyk met die Piltdown Man misleiding. Wat in kort daar gebeur het is dat ’n skedeldak van ’n mens gevind is waarby ’n kakebeen van ’n oerang-oetang bygevoeg is waarvan die voorste deel afgebreek is om die aapafkoms te kamoefleer. Die tande is afgevyl om dit meer menslik te laat lyk en die bene en tande is chemies behandel om dit oud te laat voorkom. Al die bene het van verskillende plekke gekom. Eers na 41 jaar en na baie artikels oor die Piltdown Man het iemand die bedrog ontbloot. Die volgende prentjies wys wat gevind is en hoe dit saamgevoeg is:

alt alt

Kyk ook The Piltdown Man Fraud.

Ander evolusie-misleidings sluit die volgende in:

Ter opsomming:

’n Mens moet versigtig wees om te veel te maak van die oneerlikheid van sommige evolusioniste – dit beteken nie dat alle evolusioniste oneerlik is nie. Daar was ook al skeppingsleerders wat oneerlik opgetree het bv, Ron Wyatt wat onder andere beweer dat wawiele in die Rooisee gevind is wat bewys dat die Egiptenare daar verdrink het soos beskryf in Eksodus.

Dit is egter veelseggend dat ’n groot erkende tydskrif soos National Geographic lesers so blatant mislei het. Dit is ook jammer dat daar vandag nog misleiding plaasvind, soos bv die voorstelling van Lucy in die St Louis dieretuin in Missouri en die feit dat Haeckel se embrio’s soms in aborsieklinieke gebruik word om aborsies te versag en soms nogsteeds in skoolhandboeke voorkom. Dit wys tot watter uiterstes mense sal gaan om evolusie te bevorder. Die twee belangrikste redes om die evolusie-agenda te dryf is:

  1. Finansieel: Evolusie word befonds omdat dit as wetenskap gesien word. Skeppingsleer word as geloof gesien (kyk egter Operasionele vs historiese wetenskap).
  2. Wêreldbeskouing: As evolusie nie waar is nie, val ateïste se geloof totaal plat. Richard Dawkins het bv gesê dat Darwin dit vir hom moontlik gemaak het om ’n intellektuele vervulde ateïs te wees – kyk Aanhalings – Evolusie vernietig geloof en Aanhalings – Evolusie ’n geloof/Wetenskap nie objektief.

Kyk ook Hoekom is daar soveel wetenskaplikes wat aan evolusie glo?.

Hierdie insident en ander misleidings sê ook baie oor die tekort aan fossieltussenskakels. Vandag is daar miljoene fossiele wat feitlik alle diere vandag verteenwoordig. Hulle vind selfs fossiele van moderne diere saam met dinosourusfossiele (kyk Lewende fossiele). As evolusie waar was, sou ons duisende/miljoene fossiele gevind het van oorgangskakels. Dan sou professor Stephen Jay Gould (’n evolusionis), nie die volgende gesê het nie: “Die uiterste seldsaamheid van oorgangsvorme in die fossielrekord bly die handelsgeheim van die paleontologie. Die evolusionêre bome wat ons handboeke versier het slegs data op die punte en nodes van hul takke, die res is ’n inferensie; hoe redelik ookal, nie die getuienis van fossiele nie.”

Dit is daarom baie belangrik om baie krities na elke sogenaamde oorgangskakel te kyk. Dit laat ’n mens dink aan die geval in 1983 toe ’n dolfynrib foutiewelik as ’n menslike sleutelbeen gesien is. Dr Tim White, ’n evolusionêre antropoloog, het die volgende daaroor gesê: “Die probleem met baie van die antropoloë is dat hulle so graag ’n hominied wil vind dat enige stukkie been ’n hominied-been word.” [4]

Die tekort aan oorgangskakels bly steeds ’n reuse probleem vir evolusie.

Voetnotas:

[1] Prof N Heribert Nilsson (’n Sweedse evolusionis) het bv die volgende gesê: “Vir meer as 40 jaar het my pogings om evolusie te demonstreer deur ’n eksperiment uit te voer heeltemal misluk…. Die fossielmateriaal is nou so volledig dat dit moontlik is om nuwe klasse op te rig, en die gebrek van die oorgangreeks kan nie verklaar word te danke aan die skaarsheid van materiaal nie. Die tekorte is werklik, hulle sal nooit gevul word nie.”
Michael Denton het ook daarop gewys dat 97.7% van lewende ordes van gewerwelde landdiere verteenwoordig word as fossiele en 79.1% van die lewende families van gewerwelde landdiere – 87.8% as voëls is uitgesluit, aangesien hulle minder geneig om te fossileer.

Kyk ook Aanhalings – Vermiste skakels. (Terug)

[2] Fossiele word soms “ontgin” deur rots in plate te sny. Dus word fossiele middeldeur gesny en kry jy ’n gedeelte van die fossiel in die een plaat en ’n ander deel in die ander plaat. (Terug)

[3] Vry vertaal uit die DVD, Evolution: The Grand Experiment, Episode 1, The Quest for an Answer (Terug)

[4] Soos aangehaal deur Ian Anderson in “Hominoid collarbone exposed as dolphin’s rib”, in New Scientist, 28 April 1983, p. 199. (Terug)

Bronne en verdere leeswerk

Is die skepping-evolusie kwessie belangrik?

Chris W getuig in CMI se Prayer News van Januarie tot Maart 2013 die volgende: “My acceptance of the theory of evolution and its incompatibility with Genesis kept me from Jesus for most of my adult life. I fear there are many more like me out there. CMI’s battle against these Darwinian lies is to be commended. I salute you.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui