Johan van der Merwe: Liefde wen … is dit nog so?

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Johan van der Merwe: Liefde wen … is dit nog so? – Kerkbode

19 April 2023

Liefde wen het in die afgelope aantal jare die slagspreuk geword waarmee die NG Kerk uitgedaag is om besluite van kerkvergaderings aan die Bybel maar veral ook menswaardigheid te toets.

Met hierdie slagspreuk op T-hemde het die ondersteuners van selfdegeslagverhoudings byvoorbeeld in sinodesale gesit om dit duidelik te maak dat alles in die eerste plek oor die liefde gaan. Tydens die Algemene Sinode van 2015, die Buitengewone Algemene Sinode van 2016 en die Algemene Sinode van 2019 was een van die belangrike maatstawwe waaraan elke besluit gemeet moes word: Laat die besluit liefde wen?

Baie water het sedertdien in die see geloop. Gemeentes wat hulle nie met die besluite van die Algemene Sinode kon vereenselwig nie, het begin doleer. Streeksinodes het voorstelle goedgekeur om gemeentes te help om hulleself los te maak van die Algemene Sinode. Die Sinode van Namibië het selfs so ver gegaan as om die Algemene Sinode voor ’n ultimatum te stel en die Kairosnetwerk is gestig. Alhoewel liefde gewen het, het dit tot groot onmin in die ruim huis van die NG Kerk gelei, tot so ’n mate dat die woord vasgelooptheid al meer gehoor word.

In Oktober vergader die Algemene Sinode weer. Die vraag is of liefde steeds gaan wen? Binne enkele dae gaan die gemeentes wat deel vorm van die Kairosnetwerk konstitueer as die Koinoniasinode en dan versoek om as ’n elfde streeksinode tot die Algemene Sinode toe te tree. In die Sinode van die Vrystaat is daar ’n unieke plan op die tafel en in die Oostelike Sinode word gesoek na ’n nuwe pad. Beide hierdie sinodes gaan bepaalde voorstelle op die tafel van die Algemene Sinode plaas. Die vraag is hoe die Algemene Sinode op hierdie voorstelle gaan reageer? Een oplossing is om doodeenvoudig na die Kerkorde te verwys en dan te sê dat die voorstelle in die lig van die Kerkorde nie uitvoerbaar is nie. Dit gaan egter min help om die spreekwoordelike perde wat aan die hardloop is weer op stal te kry. Daar sal ernstig na ’n ander pad gesoek moet word.

In die soeke na die pad gaan die Kerkorde waarskynlik tweede viool moet speel. Indien die NG Kerk eerlik is daaroor om ’n tuiste vir almal te wees sal liefde ook in hierdie gevalle moet wen. Liefde kan immers nie net een kant toe wen nie! Die groot vraag is of die liefde wat in die afgelope jare gewen het, sterk genoeg is om ook in 2023 weer te wen.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode.

Kommentaar

Daniel Louw

Liefde is liefde simbool. Manlike homoseksuele paartjie, heteroseksuele paartjie, lesbiese paartjie. In die reenboog kleure.Ek dink Johan van der Merwe verwar “liefde wen” (Love wins) van Rob Bell met die “Liefde is liefde” slagspreuk van die LGBT gemeenskap.

Hoe dit ookal sê, ‘n mens is nie heeltemal seker wat Johan met hierdie skrywe bedoel nie. Ware liefde sou ook insluit om behoudendes toe te laat om die NG Kerk te verlaat en hulle nie leë hande weg te stuur nie.

Alhoewel die Kairos Netwerk baie duidelik sê dat hulle hulself nie beywer vir skeuring nie, maar om die NG Kerk van binne te hervorm, dink ek besef die meeste mense dat skeuring onvermydelik is. Die vraag is of die NG Kerk gemeentes wat wil skeur met leë hande weg sal stuur?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui