NG Kerk Vrystaat: ‘Ons tree in gesprek met Algemene Sinode’ – Jan Lubbe

*******

NG Kerk Vrystaat: ‘Ons tree in gesprek met Algemene Sinode’ – Jan Lubbe – Kerkbode

18 April 2023

Leiers en lidmate in die Vrystaat het Dinsdag 18 April tydens ’n buitengewone sinodesitting in Bloemfontein met ’n meerderheid gestem om in verband met die Algemene Sinode (AS) te bly.

Afgevaardigdes het ook die Vrystaatse moderamen opdrag gegee om in Oktober vanjaar by die sitting van die Algemene Sinode verskille ten opsigte van die Skrifgebruik, huwelik en teologiese opleiding deur te gee, soos vervat in bylaag 19 van die agenda. 

Ander stem-opsies by die eendag-sitting, waaronder om ’n 11de sinode te stig, asook ’n opsie om dadelik “uit verband te tree” met die AS, kon nie meerderheidsteun kry nie.

Stemming het gevolg ná ’n oggend van omvattende gesprek in ringsverband asook bydraes vanaf die vloer in die ruim Geloofsentrum van Universitas.

Die gewilde besluit, wat 62% van stemme deur afgevaardigdes van die hele streeksinode, gekry het, heet “Opsie E” en bepaal dat: Die NG Kerk Vrystaat besluit om nie kragtens Artikel 37 van die Kerkorde uit algemene sinodale verband te tree nie, maar wel met die Algemene Sinode van Oktober 2023 in gesprek moet tree en haar standpunt ten opsigte van die Skrif en belydenisgrondslag en sake soos die huwelik, selfdegeslagverbintenisse, menslike seksualiteit, teologiese opleiding en ander sake moet stel. Lees die volledige besluit HIER.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui