Hou liewer by Paulus se raad aan Timotheus

********

Hou liewer by Paulus se raad aan Timotheus | Netwerk24

Deur Arie Van Der Bijl, Bloemfontein

24 Augustus 2021 05:08

Jan Louw se brief “Gelowiges beskou die taalgebruik as verwerplik”, wat ek heelhartig onderskryf, oor ds. Jan Lubbe se Woord en PerspektiefHoe lees ons die verhale so swak?” (17.08), het betrekking. My indruk is dat dr. S.J. Naudé as raadsvoorsitter van die destydse Universiteit van die Oranje Vrystaat hom vir die vestiging van ’n eie teologiese skool hier beywer het omdat die teologie van die twee bestaande teologiese skole van die NG Kerk onder verdenking was.

Ek dink hy draai in sy graf om as hy kennis sou neem van die “moderne” aanslag van die UV se fakulteit teologie, soos dit deurskemer op die rubriekbladsy uit die bydraes van ds. Lubbe, ds. Elmarie Dercksen, prof. Hermie­ van Zyl en andere.

Die teoloë wat nou na God as vroulik verwys om die genderfaksie ter wille te wees, meet hul inskiklikheid ongelukkig nie aan die Woord nie. Toe Jesus sy dissipels gewys het hoe om te bid, het hy hulle geleer: “Onse Vader wat in die hemel is.” Nie onse moeder of mamma nie.

Dit sal die saak van die Evangelie veel beter dien as sommige teoloë sou ophou om hul mantel in die rigting van die populêre mening van die dag te draai en só verdeeldheid saai. Hulle moet liewer by die raad van Paulus aan Timotheus hou – bly by wat jy geleer het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui