Frits Gaum: Hier is my siening van Jesus

In die skrywe hieronder reageer Frits Gaum op Henrietta Klaasing se vraag aan hom oor wat hy oor Jesus glo. Na baie woorde gee hy uiteindelik sy opinie:

En die dermiljoene mense wat nie só glo nie? Is hulle almal reguit op pad hel toe? Ek glo nié ons moet – of mag – ewigheidsuitsprake oor ander mense maak nie. Dit gaan uiteindelik oor óns en wat ons met die Here Jesus Christus maak.

Dus wil hy ruimte daarvoor maak dat God wel nie-Christene sal red. Dit is niks anders as universalisme nie. Om van universalisme te probeer ontsnap, doen hy dieselde as wat mense soos Jan Lubbe doen en verklaar dat hy wel persóónlik glo dat Jesus sy verlosser is. Dit help egter nie. In sy legitimasie-eed het hy verklaar:

Ek belowe om die voorgenome leer [Drie Formuliere van Eenheid] ywerig en volhardend te leer en in my wandel getrou te handhaaf, sonder om iets teen die leer, hetsy regstreeks of onregstreeks, te leer of te skrywe.

Deur hierdie opinie hieronder is hy onregstreeks besig om Nederlandse geloofsbelydenis, artikel 26 en Heidelbergse kategismus, Sondag 5 en 6 (vraag 11 tot vraag 19), wat deel is van die Drie Formuliere van Eenheid, te bevraagteken.

Hy sê egter dat hy glo dat daar iets soos ’n finale oordeel gaan wees, maar dit sal gekenmerk word deur God se liefde en geregtigheid.

Die vraag is dan: watter maatstaf gaan God gebruik tydens hierdie oordeel? As Hy nie geloof in Jesus gebruik nie is al maatstaf wat oor is, jou “goeie” werke. Paulus is egter baie baie duidelik daaroor dat ons NIE deur werke geoordeel sal word nie (Romeine 3).

Skaakmat!

*******

Frits Gaum: Hier is my siening van Jesus | Netwerk24

Deur Frits Gaum

30 Junie 2022, Die Burger

In reaksie op my artikel “Dit is waarom ek nog in God glo” sê dr. Henriëtta Klaasing in ’n brief sy sou graag wou weet wat my siening oor Jesus waarlik is (24.06).

“Ek het ’n baie goeie antwoord by hom gekry (Desmond Tutu) . . . hy het gesê dis nie die enigste pad nie, maar dis ’n unieke pad na God.” ~ Frits Gaum

Sy meen ek het by Desmond Tutu “geleer” dat Jesus se pad ’n “unieke” pad is, maar nie die enigste pad na God nie. Volgens Klaasing was Tutu ’n “universalis” – met ander woorde, alle mense sal salig word, wat hulle godsdiens ook al is.

Klaasing roer ’n belangrike saak aan. Deesdae is daar by baie mense die idee dat Jesus wel ’n navolgenswaardige persoon was, maar nie veel meer nie: ’n Nelson Mandela of Mahatma Gandhi of so iemand.

Bewonderenswaardig, maar nou is hulle dood en hulle kan niks meer aan die huidige stand van sake doen nie. En Jesus is, volgens dié siening, ook dood.

Mense wat hulle hoop op Hom vestig as “die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6), bedrieg hulleself dus.

Boonop is dit tog onmoontlik dat Jesus die enigste pad na God toe kan wees. Skaars ’n derde van die wêreldbevolking is nomineel “Christene” (en baie minder is toegewyde gelowiges).

Wil dit nou sê dat minstens twee derdes van die wêreld se mense op ’n pad is wat nié by God uitkom nie?

Geskape na God se beeld

Prof. Anton van Niekerk, Stellenbosse filosoof, vra op sy beurt waarom God net een weg na God daarstel as ons almal (God inkluis) weet dat die implikasie daarvan eenvoudig is dat miljoene mense vanweë histories toevallige omstandighede bedroë daarvan sou afkom.

“Dit klop mos op geen manier met die idee van ’n liefdevolle God waarmee ons almal leef nie . . . God . . . is sekerlik nie gebonde aan ’n enkele openbaringsvorm wat die implikasie inhou dat Hy . . . die grootste deel van die wêreldbevolking verbykyk in sy selfopenbaring nie.” Dié uittreksel verskyn in die boek God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles.

Christina Landman, Unisa-teoloog, meen Jesus is nie die pad na God toe nie. Jesus is God se pad na ons toe.

“Ons is na God se beeld geskape. Maar ons het toe nogals ’n gemors daarvan gemaak. Gevolglik is God na ons beeld gebore, in Jesus, sodat ons kon sien hoe ’n mens jou werklik moet gedra as jy God se beeld dra. Dan, soos Jesus was, gee jy om vir ander mense, en dan gaan jy vir iets soos liefde eerder as vir mag,” skryf Landman in dieselfde boek.

En die vorige dekaan van die Universiteit van Pretoria se teologiese fakulteit, Johan Buitendag, beklemtoon 1 Korintiërs 8:6 as hy die vraag beantwoord of Jesus die enigste weg na God toe is.

“Daar staan: ‘Vir ons is daar net één Here, Jesus Christus.’ ‘Vir ons!’ ” Buitendag sê binne sy “subjektiewe wêreld” kan hy onomwonde sê dat daar vir hom, as deel van Paulus se “ons”, geen alternatiewe roete na God is as Jesus Christus nie. “Ek kan nie met ander middelaars flankeer nie. Christus is my lewe.”

Net een Here, Jesus Christus

Vra Klaasing, of wie ook al, vir my wie Jesus Christus vir my is, antwoord ek graag: “Vir my is daar net een Here, Jesus Christus.”

Vir my is Hy die Godmens wat die brug span tussen God en mens. Ek glo Hy het as mens op die stofpaaie van Palestina geloop, ek glo Hy is doodgemaak, ek glo Hy het uit die dood uit opgestaan.

En die dermiljoene mense wat nie só glo nie? Is hulle almal reguit op pad hel toe?

Ek glo nié ons moet – of mag – ewigheidsuitsprake oor ander mense maak nie. Dit gaan uiteindelik oor óns en wat ons met die Here Jesus Christus maak. En daarvan wil ons vir ander mense vertel: dat Christus sin aan ons lewe gee en dat dit die moeite werd is om Hom te volg.

’n Finale oordeel

En laat ons ook onthou: God se beoordeling van die miljarde mense wat deur die eeue tot geloof in Christus gekom het (ja, ek glo daar gaan iets soos ’n finale oordeel wees) sal gekenmerk word deur liefde en geregtigheid, want die God in wie “ons” glo, is ’n God van liefde en is ’n regverdige God.

En God se beoordeling van die miljarde mense wat deur die eeue nié tot geloof in Christus gekom het nie – om watter rede ook al – sal daarom ook gekenmerk word deur liefde en geregtigheid.

Volgens die Bybel staan God se liefde en geregtigheid nie teenoor mekaar nie, maar langs mekaar. Die een veronderstel die ander, die een vloei uit die ander voort (Psalm 36:6-7).

Die God in wie ek glo en van wie ek in die Bybel lees, is nié ’n rigiede, onbuigbare God nie. God is die soepel God.

Daarvan vertel die Ou Testamentiese storie van Jona ons. Jona was waarskynlik nie ’n historiese karakter nie, maar die verhaal oor hom staan onder meer in die Bybel om ons van God se sagte, buigbare kant te vertel.

God het volgens die Jona-verhaal van plan verander. God het besluit om Nineve vanweë die mense se sonde te vernietig. Op die ou end het God dit, tot Jona se ontsteltenis, nie gedoen nie.

God se genade was groter as sy woede oor die bose Nineviete.

Gaan hulle hel toe?

Die joernalis en historikus dr. Leopold Scholtz vertel dat hy in die laat 1950’s vir sy Sondagskoolonderwyser in Johannesburg gevra het of “al die mense wat nog nooit eens van Jesus gehoor het nie, en almal wat voor sy koms geleef het, almal hel toe gaan”.

Die antwoord was onomwonde “Ja”.

Hy vervolg: “Ek het probleme met sy antwoord gehad en die vraag ook aan ons dominee gestel, wat ontwykend geantwoord het: ‘Hulle is in die hande van ’n genadige God.’ ”

Scholtz sê dat hy sy Sondagskoolonderwyser se antwoord nog altyd nie kan aanvaar nie.

Hy meen alle gelowe het dalk – weliswaar in mindere of meerdere mate – iets van die genade van God gekry, “die ‘algemene genade’ waarvan Abraham Kuyper gepraat het. Maar ek weet dit is, soos dié van my destydse dominee, ’n ontwykende antwoord.”

Ek dink nie die dominee se antwoord was “ontwykend” nie.

Ek dink dit is die beste antwoord wat ’n mens kan gee. Enersyds dat daar “vir ons” net een Here, Jesus Christus, is wat sin aan ons lewe gee en van wie ons vir een en almal wil vertel.

En, andersyds, dat die mense van ander gelowe en oortuigings in die hande van ’n genadige God is en dat ons nie oor hulle ewigheidsuitsprake kan maak nie.

Tutu het oor sommige sake dalk ruimer as sommige van ons gedink. Maar Jesus Christus was sy Here. Soos Jesus Christus my Here is.

Gaum is die mederedakteur van God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles (Tafelberg).

1 thought on “Frits Gaum: Hier is my siening van Jesus”

  1. Nadat Jesus gesê het: “Ek is die weg die waarheid en die ewige lewe” vervolg en sê Hy dat niemand na die Vader gaan behalwe deur Hom nie. Ons word gered omdat ons dit glo. So, dit is nie nodig dat ons enige ewigheidsuitsprake hoef te maak nie, want Hy sê dit self. Daarom is daar geen alternatief. Hy is die enigste weg. Vir hulle wie gesterf het voor Christus se koms geld dieselfde wat vir Abraham en almal voor hom tot by Adam gegeld het – dat hulle moes glo dat die Messias sou kom en ons moet glo dat Hy gekom het. Hulle geloof net soos ons geloof sou vir ons en ook vir hulle red.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui