Daniel Louw se getuienis

Kyk ook:

Daniel Louw: Outeur van webwerf Glo die Bybel (3 Aug 2021)

My pa het ons nog altyd geleer dat evolusie en miljoene jare nie feite is nie en dat die Bybel korrek is in Genesis (kyk Het jy al vir jouself duidelikheid gekry oor evolusie?). Dus het ek altyd die waarheid geweet en nogal sterk gevoel oor die saak. Toe ek ongeveer in standerd 4 was het ons in geskiedenis geleer dat alle mense eers veeboere was en soos hulle tegnologies gevorder het, het hulle landbouers geword. Ek vra toe die onderwyseres maar wat van Kain, Adam en Eva se seun, wat ’n landbouer was. Sy het vir ’n oomblik geaarsel en nie geweet wat om te antwoord nie en toe antwoord sy: “Ons praat nou nie van die Bybel nie.” En toe gaan sy aan met haar les.

Op hoërskool het ek ook die aardrykskunde onderwyser, mnr Hardus du Plessis, ongemaklike vrae gevra oor die aarde se ouderdom. Johan Wels, ’n vriend van my, het later vertel dat as ek eers oor die ouderdom van die aarde vra, dan kon hy maar sy boeke wegsit, want dan sou daar nie meer voortgegaan word met die les nie. Hy het egter darem oordryf – ek dink nie dit was so erg nie. 🙂 Wat ek wel kan onthou is dat ek die onderwyser ’n tweede keer laat dink het oor hierdie ding (of so hoop ek).

In standerd 9 of 10 (graad 11 of 12) moes ons eenkeer in Afrikaans ’n praatjie doen en ons kon self die tema kies. Ek het oor evolusie gepraat.

Ek onthou ook toe ek in 1995 ’n eerstejaar student by Tukkies was, het ek ’n artikel uit die tydskriffie (Deus Dixit) vir ons fisika dosent, die bekende Lötz Strauss, in sy kantoor geneem om sy opinie te kry, want hy was in ’n baie beter posisie as ek om hieroor kommentaar te lewer. Dit het daaroor gegaan dat die aarde in die middel van die heelal is (ek kan nie die artikel se titel onthou nie, maar kyk bv my artikel Ons is in die middel! en Our galaxy is the centre of the universe, ‘quantized’ redshifts show, deur D. Russell Humphreys). Toe hy egter agterkom waaroor dit gaan (skeppingsleer/kreasionisme) wou hy nie eers verder lees nie. Hy het aan my voorgestel om met ’n predikant te gaan praat wat my kon verduidelik hoe ’n mens die goed met die Bybel kon versoen. Hy het ook gesê dat die sondvloed lokaal was (kyk egter Was die sondvloed ’n globale vloed of slegs ’n lokale vloed?). Toe ek hom sê dat my pa ’n predikant is, het hy Murray Janson voorgestel (hy het toe nog geleef). Ek het hom natuurlik nooit gaan besoek nie.

Ek het egter op ’n stadium ná universiteit bietjie belangstelling verloor in die onderwerp, maar ek het nogsteeds dieselfde gevoel – dat daar nie evolusie was/is nie en dat die aarde slegs ongeveer 6000 jaar oud is.

In 2007 was die kwessie van homoseksualiteit in die NG Kerk nogal in die nuus. Ons top teoloë en kerkleiers het glad nie standpunt ingeneem nie. Verder het van my vriende, Frikkie Botha en Henning Viljoen my ook vertel van Ferdie Mulder wat teologie gestudeer het by Tukkies en sommige dosente uitgedaag het omdat hulle nie wou bely dat Jesus werklik opgestaan het nie. Ferdie het lyk my die situasie miskien bietjie verkeerd of aggressief hanteer en het voor ’n paneel predikante verskyn oor sy optrede. Hulle het besluit om Ferdie te belet om sy studies voort te sit by die fakulteit. Geen haan het egter gekraai oor die dosente (Julian Müller en Jurie le Roux) wat nie werklik aan Jesus geglo het nie. Ek was baie ontsteld oor hierdie gebeure en het besluit dat die beste wat ek kan doen is om briewe te skryf waar ek kan. Frikkie het egter besluit om die NG Kerk te verlaat, want hy wou nie geld bydra aan ’n kerk wat nie glo dat Jesus letterlik opgestaan het nie. My eerste briewe wat ek geskryf het was aan die Kerkbode oor die kwessie of Jesus werklik opgestaan het. Kort daarna het ek ook ’n brief of twee geskryf oor die homoseksuele kwessie.

In hierdie tyd het Frikkie vir my sewe DVDs van Kent Hovind gewys. Hovind se argumente was vir my uitstekend! Ek was oortuig dat sommige mense oor Jesus se opstanding en homoseksualiteit begin twyfel omdat hulle nie meer die hele Bybel geglo het nie – evolusie het mos die Bybel kwansuis verkeerd bewys. As Genesis 1 nie letterlik waar is nie, dan maak dit die deur oop om jou eie interpretasies te hê ook oor homoseksualiteit, saamwoon en oor Jesus se opstanding. Kyk bv al die voorbeelde van mense wie se geloof beïnvloed is net deur evolusie alleen: Hoe evolusie mense se geloof beïnvloed

Ons het al sewe DVDs van Kent Hovind tydens ons bybelstudies gekyk. Ek dink egter nie ek het besef wat die gevolge sou wees nie. Ek was so gemotiveerd vir hierdie onderwerp, dit was nie snaaks nie. Ek het met baie mense begin praat en hulle vrae en argumente geantwoord. Omdat daar nie kopiereg was op Kent se DVDs nie, het ek ongeveer sewe kopieë daarvan gemaak en agter in ons kerk beskikbaar gestel vir mense om dit te leen. Dit het ook gelei tot my eerste volwaardige e-pos debat met iemand. Ek wou hom nie oorstroom met inligting nie en het vir hom gesê dat ek stuk-stuk vir hom meer inligting oor hierdie onderwerp sal stuur omdat daar so baie inligting oor hierdie onderwerp is. Omdat ek moeite gedoen het met my e-posse aan hom, het ek dit toe sommer vir ander mense ook begin stuur en so het dit gebeur dat ek elke 2-3 weke ’n e-pos aan ’n hele verspreidingslys begin stuur het (kyk Daniel se e-posse). Sommige mense het aangedui dat hulle meer oor die onderwerp wou weet en ander het ek sommer net op die verspreidingslys gesit. Sommige het aan evolusie geglo en ander het geglo dat Genesis geskiedkundig korrek is en ander was nie heeltemal seker nie. Ek moes baie keer vir myself afvra of ek nie van myself ’n oorlas maak nie. Tien teen een was ek ’n oorlas vir sekere mense, maar hulle moes maar my e-posse net uitvee as hulle geïrriteerd was met my of my net vra om hulle van my verspreidingslys af te haal. God het nooit aan my verskyn in ’n droom nie, maar ek het gevoel dat dit ’n soort van ’n roeping/bediening is wat God vir my gegee het. Later het ek begin aanbiedings doen oor die onderwerp. Die eerste aanbieding was aan ons kerk se belydenisklas en daarna aan die graad 10’s en ook aan ’n plaaslike laerskool se onderwysers.

In Julie 2010 het hierdie webblad ontstaan, te danke aan my swaer Burger Vivier wat my aangemoedig het om dit te doen. Baie dankie ook aan hom wat hierdie web gratis huisves.

Intussen fokus hierdie webblad nie meer slegs op skepping vs evolusie nie, maar ook op liberalisme en dwaling in die kerk. Hierdie webblad het ook baie handig te pas gekom met die skryf van die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui