Het jy al vir jouself duidelikheid gekry oor evolusie?

OORSIG

Ek wil hierdie artikel beskryf as ’n getuienis. Dit is ’n getuienis van die pad wat die Here met my geloop het aangaande die evolusieleer en die Bybel. Ek vertel van my soeke na die waarheid aangaande dit wat die Bybel ons leer oor die oorsprong van die wêreld en die teenstrydige weergawe daarvan deur die sg wetenskap. Ek vertel ook van medegelowiges wat ek langs die pad ontmoet het se pogings om die Bybel met die evolusieleer te versoen. Ek wil vertel hoe ek tot die oortuiging gekom het dat die evolusieleer niks anders as ’n leuen is wat onder die denkmantel van die wetenskap vir die mensdom opgedis word nie.

’n Vriend van my het die volgende woorde aan my geskrywe:

“Ek glo die evolusieleer is een van die grootste suksesverhale van die duiwel. Daardeur het eens Christen volke oor die afgelope eeu net eenvoudig hulle geloof verloor.[1] En tog is dit ’n teorie wat nie vyf minute van intelligente aandag werd is nie.”

Hierdie woorde meen ek is ’n goeie samevatting van wat ek in hierdie dokument probeer weergee.

A. MY JEUGJARE

Ek het vir die eerste keer met die evolusieleer in aanraking gekom toe ek nog op skool was. Ek onthou dat ek gelees het dat ’n perd aanvanklik so groot soos ’n hond was. Oor miljoene jare het sy skelet glo verander en uiteindelik het die hond se vyf tone verander in ’n hoef.[2] Later het niggies my vertel dat hulle in die geskiedenisklas geleer het, dat alle mense eers jagters soos die Boesmans was en dat mense afstammelinge van die ape was.[3] Dit was in die 1960’s toe ek vir die eerste keer hiervan gehoor het.

Ek het nie geweet wat om hiervan te dink nie. In die kerk het ons kinders uit die Heidelbergse Kategismus (HK) onderrig ontvang. Daar het ons geleer van “die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva in die paradys” (HK Vraag 7). Die “wetenskap” waarmee ek almeer gekonfronteer is het ’n ander prentjie geskilder as wat ons in die kerk en in die Bybel geleer het, maar ek het nog nie mooi die implikasies van dit alles verstaan nie. Ek was geïnteresserd in die wetenskap en het wetenskap en biologie as matriekvakke geneem.

alt

Mettertyd het ek tot die oortuiging gekom dat die Here my roep om ’n predikant te word. Die Universiteit op Bloemfontein was vir my ’n nuwe wêreld van kennis en geleerdheid. Ek was bevoorreg dat daar professore was wat ons in die klas geleer het dat geloof en wetenskap nie van mekaar geskei kan word nie.[4] Dit was ’n versterking van my geloof, maar dit het nogtans nie vir my ’n antwoord gebied op die oënskynlike botsing wat daar bestaan het tussen geloof en wetenskap as dit by die evolusieteorie gekom het nie. Sommige mense het gesê: Onthou dis net ’n teorie, maar die leer oor die ontstaan van mens en dier is nogtans so gesaghebbend aangebied dat dit nie sommer net geïgnoreer kon word nie. Daar moes ’n oplossing wees, maar dit was duidelik dat die Bybel en die wetenskap verskillende weergawes gee van waar ons vandaan kom.[5] So het ek met onbeantwoorde vrae oor my geloof in die Bybel die toekoms ingegaan.

B. TEOLOGIESE STUDIE

Nadat ek my BA graad by die Universiteit Bloemfontein behaal het is ek na die Universiteit Pretoria toe waar ek teologie gaan studeer het. Ek het vooruitgesien daarna dat ek in my teologiese studies antwoorde sou kry op my vrae rondom evolusie en die Bybel. Die bekende prof JA Heyns was ons professor in dogmatiek. Hy het ’n diktaat oor evolusie geskryf en dit aan sy studente voorgeskryf. In die diktaat van omtrent 40 bladsye het prof Heyns vir ons die ontwikkeling van die evolusieleer en die verskillende sieninge van geleerdes beskryf, maar tot my teleurstelling het dit my nie gehelp om antwoorde te kry op my vrae nie.

Na vier jaar van teologiese studie het ek uiteindelik aan die einde van my studietyd gekom. Ons klas van omtrent 30 studente het volgens die gebruik voor ’n paneel van leraars verskyn. Hulle was geleerde en gerespekteerde teoloë van die NG Kerk en hulle taak was om ons te ondervra om sodoende vas te stel of ons geskik was om as leraars in die Kerk te dien. Ek onthou die situasie baie goed. My beurt het gekom! Een van die geleerde kerklike verteenwoordigers het na my gekyk en my op my naam genoem:

“Mnr Louw!”

Toe kom die vraag aan my:

“Was Adam ’n historiese persoon?”

Daar sit ek toe. Dit was juis die vraag waarop ek na ’n antwoord in my teologiese studies gesoek het, maar waaroor ek nie duidelikheid kon kry nie. Die vraag is waar het Adam en Eva ingepas in al die miljoene jare van evolusionêre oorgange en ontwikkelinge van die mens uit die diereryk uit?

Op daardie oomblik het ek geoordeel dat die veiligste vir my sou wees was om net te antwoord: “Ja!”

Ek is gelukkig nie gevra om uit te brei op my antwoord nie. Uit die hoek van my oog het ek gesien dat sommige van my klasmaats verbaas was oor my antwoord. Daar was van my klasmaats wat waarskynlik sterker oortuigings as ek oor die onderwerp gehad het en oortuig was dat mens nie uit die Bybel kon aflei dat Adam ’n werklike, of ’n historiese persoon was nie. Dit sou interessant wees om te weet wat die leraar wat die vraag aan my gestel het, se persoonlike siening oor die onderwerp was.

So is ek dan die toekoms in as leraar van die NG Kerk.

C. EERSTE GEMEENTE

Die eerste gemeente waar ek gedien het was in ’n myndorp met die naam Shabani in die hedendaagse Zimbabwe. My naaste kollega was in ’n buurdorp 110 km van ons af. Ons het maandeliks by mekaar gekuier. By een so ’n geleentheid in 1976 het my vriend en sy vrou ’n boekie as ’n verjaarsdag geskenk vir my in die hand gegee.

alt

Die geskenkie was net ’n gebaar van vriendskap. Die boekie se naam was: EVIDENCE AGAINST EVOLUTION geskryf deur Duane T Gish (Ph.D) en uitgegee deur Tyndale House Publishers. Op die voorblad was ’n prent van ’n oermens met ’n stok in sy een hand en iets soos ’n klip in die ander hand.

My vriend het onwetend die belangrikste geskenk wat ek ooit in my lewe ontvang het vir my in die hand gegee. Daardie eenvoudige boekie van 64 bladsye het my lewe onherroeplik verander. Ek het die antwoorde gekry op die vrae waarna ek so lank gesoek het!

Laat ek meer hiervan vertel:

  1. Gish het in die boekie vertel dat evolusie oral in wetenskaplike kringe as ’n feit voorgehou word. Hy het egter die name van dosyne gerespekteerde natuurwetenskaplikes voorgehou wat die evolusie teorie op wetenskaplike gronde verwerp.[6] Hy het vertel van die Creation Research Society wat op daardie stadium uit 300 lede bestaan het, wat almal gevorderde grade in een of ander rigting van die wetenskap beklee.

Dit was vir my nuus! Ek het altyd gedink dat natuurwetenskaplikes almal op wetenskaplike gronde die evolusieleer as ’n feit aanvaar en dat ek maar moet aanvaar dat daar aanpassings gemaak moet word in die weergawe van die Bybel.

  1. Gish vra die vraag hoe dit moontlik is dat so ’n groot persentasie wetenskaplikes ’n teorie aanhang wat nie waar waar is nie. Sy antwoord daarop was dat die evolusieleer in werklikheid ‘n dogma in die wetenskaplike wêreld geword het. Min wetenskaplikes wil dit waag om buite die aanvaarde dogma van die wetenskap te beweeg. Dit beteken onder meer dat die meeste groot universiteite in die VSA nie ’n dosent in die natuurwetenskappe sal aanstel as so ’n persoon nie die heersende evolusie sieninge ondersteun nie. ’n Student sal ook nie aanvaar word vir gevorderde studie in die natuurwetenskap as hy of sy die evolusie uitgangspunt bevraagteken nie. Hy het die situasie vergelyk met die destydse Rusland wat die kommunistiese leer voorgestaan het. Studente in die ekonomie in Rusland was eenvoudig nie in die posisie om die kommunistiese ideologie te bevraagteken nie.

Ek het intussen uit verskeie oorde bevestiging gekry dat hierdie soort sensuur in wetenskaplike kringe wel bestaan. Ben Stein ’n invloedryke Joodse regsgeleerde, professor, kommentator en toespraakskrywer van presidente in die VSA het ’n film gemaak met die titel: Expelled: No Intelligence Allowed. Daarin gee hy voorbeelde van dosente aan universiteite wie so loopbane, óf beïndig, óf ernstig benadeel is, doodgewoon omdat hulle nie voorstanders van die evolusieleer was nie.

Prof Jan Boeyens eertydse dekaan by Wits se Fakulteit Wetenskap het in 2012 ’n soortgelyke uitspraak in ’n radio onderhoud gemaak. Hy het gesê daar was nooit ’n Oerknal nie en het voorgegaan: “Dit is baie gevaarlik vir ’n wetenskaplike om dit te sê. Kyk, ek is afgetree – ek kan dit sê, maar mense wat nog aangewese is om hulle navorsing befonds te kry moet versigtig wees wat hulle sê. Ek dink ek moet jou net een voorbeeld noem van ’n wêreldberoemde astrofisikus en astronoom met die naam van Halton Arp in Munchen in Duitsland. Hy was so bekend dat selfs een van die sterrestelsels na hom vernoem is en sedert hy homself uitgelaat het teen die oerknalteorie, is hy alle toegang tot alle teleskope dwars oor die wêreld ontsê.” Kyk “Oerknalteorie is aprilgek grap”, sê Prof Jan Boeyens.[7]

  1. Gish het daarop gewys dat mutasies by seldeling in 99.9% gevalle skadelik vir die organisme is. Mutasies word nogtans in die evolusieleer voorgehou as een van die vernaamste oorsake vir die onstaan van nuwe spesies.[8]
  2. Oor die verskynsel van fossiele het Gish gesê dat daar biljoene en biljoene fossiele in die aarde se rotslae voorkom, maar dit is alles van erkende diere en plante.[9] Daar is geen bevestiging van ’n evolusionêre ontwikkeling in die voorkoms van fossiele nie. Die wêreldwye sondvloed verskaf ’n baie beter verklaring vir die baie fossiele in die aarde.
  3. Daar hang ook groot vraagtekens oor die datering metodes van van die geologiese tydperke. Dit berus op sekere twyfelagtige aannames.
  4. Gish kom ook uit by die werklikhede waaroor ek al die tyd vrae gehad het. Hy sê: “Die aanvaarding van die teorie van evolusie … veroorsaak ’n radikale verandering in ons siening van die Skrif. As ons die teorie van evolusie aanvaar moet ons tot die gevolgtrekking kom dat die Bybel mites en legendes bevat.”
  5. Die volgende stelling van Gish (vrylik weergegee) het my veral aangespreek:

“Ek is absoluut oortuig dat die rede waarom die evolusie teorie vandag so diep in die wetenskaplike denke gevestig is, nie is omdat die bewyse so oortuigend is nie. Die rede vir die teorie moet gesoek word by die materialistiese ongelowige mensdom, wat buite God, om ’n verklaring soek vir die oorsprong en diversiteit van lewe op aarde. ’n Mens wat God eenmaal as Skepper aanvaar, bring so ’n persoon by die logiese konsekwensie, dat Hy ons Here en Meester is wat ons bestemming in sy hande hou. Dit is ’n werklikheid waarmee die materialistiese mensdom hom nie kan versoen nie, hoe beskaafd of geleerd hy ookal mag voorkom”.

Vir die eerste keer in my lewe was daar iemand wat reguit vir my gesê het dat die evolusieleer ’n twyfelagtige teorie is wat gladnie water hou op wetenskaplike gronde nie. Hy kon dit vir my met oortuigende argumente bevestig.

Daardie tyd in die 1970’s was daar nog nie ’n Internet waar mens inligting vrylik kon bekom soos vandag nie. Dit was dus’n groot gebeurtenis in my lewe. Ek het in my hande ’n klein boekie vasgehou wat ’n paradigmaskuif van my denke gevra het. Ek wou soos Archimedes “Eureka” uitroep maar met wie kon ek daaroor praat? Ek was op ’n klein myndorpie êrens in Afrika. Selfs my predikante kollegas het skouer opgetrek oor my nuutgevonde insig!

alt

Die Here was my egter verder genadig deur nog ’n boek onder my aandag te bring!

Daar was ’n kafeetjie op Shabani. Deel van die kafee se meublement was een van daardie boekrakkies wat kon roteer. Tussen die rakkies was daar poskaarte en ’n paar slapband boeke – meestal Cowboy stories en ’n paar liefdesverhale. Om een of ander rede het ek op ’n dag toe ek gaan brood koop het na die boekrakkie gestap en dit in die rondte begin draai. Ek haal toe ’n boek daar uit wat anders was as die ander. Die titel was: “Science and Creation”! Die swart en wit voorblad het ’n foto op gehad wat van die maan af geneem is met die aarde in die verte. Dit was uitgegee deur die Creation-Science Research Centre. Toe ek na die inhoudsopgawe kyk het ek dadelik gevoel of die Here die boek vir my daar geplaas het en ek het dit gekoop.

Die boek het meer as 200 bladsye gehad en het die onderwerp waaroor ek so opgewonde geraak het, op ’n heelwat meer omvangryke manier aangespreek. Daar was ’n foto van ’n menslike skoenspoor in die Kambriumrotslae wat veronderstel was om baie miljoene jare oud te wees. Die skrywers het verskillende argumente aangevoer om te bewys dat die aarde nie so oud kan wees as wat die “wetenskap” wil voorgee nie. Die volgende argumente het my aangespreek:

  1. Daar is voortdurend ’n titaniese wrywing in die son se atmosfeer aan die werk omdat dele van die son se atmosfeer vinniger roteer as ander dele. Hierdie kragte is so geweldig dat dit nie vir biljoene jare kan voortduur nie.[10]
  2. Komete wat van tyd tot tyd by die aarde verbygaan verloor konstant van hulle massa soos hulle deur die ruimte klief. Van die komete wat gereeld by die aarde verbygaan kan nie langer as 10 000 jaar leef nie.[11]
  3. Die bevolkingsgroei van mense op die aarde korrelleer met ’n tydperk van ’n paar duisend jaar, maar nie met honderd duisende of selfs met ’n miljoen jaar nie.[12]
  4. So het die skrywers ook gewys op die hoeveelheid uraansoute wat voordurend in die see akkumuleer, die hoeveelheid helium wat toeneem in die aarde se atmosfeer en die hoeveelheid sediment wat deur die riviere na die oseane vervoer word. As die prosesse vir miljoene en miljarde jare konstant teen die huidige tempo plaasgevind het sou die aarde en die atmosfeer anders gelyk het as vandag.[13]
  5. Die skrywers het ook daarop gewys dat die evolusieleer voortdurend vir meer tyd vra. In die jare 1900 was die aanvaarde ouderdom van die aarde onder geoloë 50 miljoen jaar. Teen 1960 het dit geklim na 5 biljoen jaar.

Met die twee boeke wat ek in 1976 gekry het, het ek op wonderbaarlike wyse bevestiging gekry dat die evolusieleer niks meer as ’n twyfelagtige en aanvegbare teorie is wat nie vyf minute se intelligente aandag verdien nie. Dit is nie vir ’n Christen nodig om die Bybel daarvolgens aan te pas nie. Die skrywers van die boeke wat oor my pad gekom het, het my gesonde verstand aangespreek en ek het na meer en meer inligting gesoek. Daar het ’n nuwe waardering vir die Bybel by my posgevat. Eindelose nuwe perspektiewe het voor my begin oopgaan om die werklikheid waarin ons lewe te verstaan. Ek kan die Here nie genoeg dankie sê vir dit wat Hy in my lewe gedoen het nie!

D. DIE SONDVLOED

Een van die belangrikste ontdekkings wat ek gemaak het is die werklikheid van die sondvloed, waarvan ons in die Bybel lees. Dit is duidelik uit die geskiedenis soos dit vir ons in die Bybel opgeteken is dat die sondvloed nie sommer ’n plaaslike oorstroming was nie, maar dat dit ’n globale gebeurtenis was, wat alles op aarde geraak het. Die apostels het dit ook so gesien. Petrus onderskei in 2 Pet 3:6-7 tussen die wêreld van “daardie tyd” wat deur water oorstroom is en die hemel en die aarde “van vandag” wat deur vuur verteer sal word.[14]

Hoe meer ek deur hierdie bril na die werklikheid begin kyk het, hoe meer het ek die spore van die sondvloed om my begin raaksien. Die sondvloed verklaar omtrent alles wat die “wetenskap” met miljoene jare wil verklaar.

Steenkool, olie en aardgas is goeie voorbeelde van die nalatenskap van die sondvloed. Dit word as “fossielbrandstof” geklassifiseer en is die belangrikste bronne van energie vir die wêreld vandag. Dit kom onder uit die aarde uit, maar hoe het dit daar gekom? Waar kom dit vandaan?

alt

Die algemene wetenskaplike verklaring van bv steenkool is dat daar in ’n vorige tydperk, miljoene jare gelede groot woude was. Die bome van die woude het doodgegaan en oor nog baie miljoene jare is die woude met grond bedek. So kry ons dan vandag steenkool sowat ’n 100 meter of wat onder die aardkors.

Steenkool kom reg rondom die aarde in omtrent alle lande voor en dít in enorme hoeveelhede. altEk kom van Secunda af waar steenkool gemyn en verwerk word in vloeibare brandstof en ander neweprodukte. Dit word aan my vertel dat die hoeveelheid steenkool wat elke jaar by die Sasol aanleg in Secunda verwerk word, gelykstaande is aan die hoeveelheid steenkool wat ’n trein kan vervoer wat so lank is dat dit reg om die ewenaar van die aarde strek. Dit is die hoeveelheid steenkool wat die afgelope dekades elke jaar by Secunda onder die grond uitgehaal en verwerk is en die projeksies is dat dit nog so sal voortgaan vir die dekades wat voortlê. Dit gee ’n idee van die hoeveelheid steenkool wat in een aanleg in een land in die wêreld verwerk word.

Die tradisionele geologiese verklaring dat al daardie organiese materiaal deur gewone natuurlike prosesse onder die grond beland het en so vir ons bewaar gebly het is nie aanvaarbaar nie. Ons ervaring vandag is dat elke lewende organisme wat sterf deur natuurlike prosesse vernietig word. Goed wat doodgaan in die natuur word deur bakterië verrot, deur wurms verteer of deur vuur verbrand.

Alles dui daarop dat daar ’n ingrypende globale katastrofe op aarde was, wat veroorsaak het dat onberekenbare hoeveelheid hout onder die grond toegegooi en gepreserveer is sodat ons dit vandag as brandstof kan gebruik.[15]

alt

Dieselfde geld vir olie. Olie is ook die reste van lewende organismes van ’n vorige era. ’n Goeie manier om ’n idee te kry van die hoeveelheid olie wat nodig is om ons beskaafde wêreld te laat funksioneer is om vanuit ’n vliegtuig te kyk na die netwerke van paaie onder op die grond. Daar is duisende voertuie wat soos miere op die grond krioel . Elkeen van daardie voertuie het ’n brandstoftenk wat gevul is met “fossielbrandstof”. Daar is ’n skynbaar nimmereindigende bron van hierdie wonderlike vloeistof wat ons olie noem. Dit word onder uit die grond en onder uit die see ontgin.

Hoe het hierdie kosbare brandstof daar gekom? Dit behoort elke mens in diepe verwondering te laat. Dit is ’n gawe van God aan die mensdom. Die beste verklaring vir my vir die ontstaan van olie is dat die massas plankton van die see op ’n manier opgedam is en deur ’n magsdaad van God. Hy het gesorg dat die plankton onder in die dieptes van die aarde vir ons bewaar is, sodat dit as brandstof beskikbaar kan wees vir die 7 000 miljoen mense op aarde vandag (2014). Daarsonder sou ons nie kon vuur maak en kos maak om van te lewe nie.

alt

Oor aardgas kan dieselfde gesê word. Dit is ook ’n fossielbrandstof. Hierdie genadegawes van God kan nie verklaar word uit natuurlike prosesse in die verlede nie. Wie hieroor wil nadink vind baie beter antwoorde vir hierdie verskynsels in die sondvloed waarvan die Bybel ons leer as deur die heersende wetenskaplike spekulasies waar mense nie met God en die Bybel wil rekening hou nie.

alt

Dit bring ons by fossiele. Fossiele kom in ontelbare getalle in die aardkors voor. Fossiele word dikwels net met dinousorusse verbind, maar die feit is dat daar van omtrent elke lewende organisme wat vandag nog op aarde leef fossiele gekry word – plante sowel as van diere.[9] Die vraag is weereens: Hoe het hulle daar gekom? Waarom is selfs Christene so onwillig om ag te gee op die ingrypende implikasies van die sondvloed soos dit vir ons in Genesis opgeteken is?

Gen 7: (21)Al wat op die aarde geleef het, het omgekom: diere wat kruip, voëls, mak diere, wilde diere, ja, alles wat op aarde wemel, ook al die mense; (22)alles wat die lewensasem in die neus gehad het, alles wat op land geleef het, is dood. (23)So het God alles wat op die aarde geleef het, uitgewis: mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, hulle almal is weggevee van die aarde af. Net Noag en dié by hom in die ark is gespaar. (24)Die water het die aarde honderd en vyftig dae lank oorstroom.

E. DIE KERK SE POGINGS OM DIE EVOLUSIELEER TE AKKOMODEER

1. Jy kan die Bybel nie “so” gebruik nie!

altDie meeste Christene met wie ek oor die onderwerp gesels het, het op ’n stadium vir hulleself ’n antwoord gekry waarmee hulle op ’n manier die Bybel en die wetenskap met mekaar versoen het. Dr Louw Alberts was so ’n persoon. Hy was ’n baie gerespekteerde evangeliese Christen en lidmaat van die NG Kerk en terselfdertyd ook ’n gerespekteerde natuurwetenskaplike. Dr Alberts is dikwels uitgenooi om gehore toe te spreek oor evolusie en die Bybel. Hy het probeer om die evolusieleer en die Bybel met mekaar te versoen.

Ek het die voorreg gehad om per geleentheid persoonlik met dr Alberts oor die evolusieleer en spesifiek oor fossiele te gesels. Ons weet almal dat fossiele die oorblyfsels van diere en plante is wat op ’n unieke wyse gesterf en versteen of gefossileer het. So het hulle vir ons behoue gebly. Dit het volgens die evolusieleer miljoene jare gelede plaasgevind. Ek het dr. Alberts daarop gewys dat die wetenskaplike verklaring van fossiele ons in botsing met die Bybel bring. Hy het my gevra: “Waarom sê jy so?”

Ek het hom toe daarop gewys dat God die aarde aan die begin goed gemaak het. Daar was nie dood aan die begin in die Paradys nie. Dood op aarde is ’n gevolg van die sondeval toe Adam en Eva van die verbode vrug in die Paradys geëet het. God het toe gesê: “Stof is jy en jy sal weer stof word.” (Gen 3:10)

As ons die evolusieleer wil akkommodeer beteken dit dat ons moet aanvaar dat die dinosourusse miljoene jare voor die verskyning van die eerste mense op die aarde reeds geleef en ook uitgesterf het. Dit impliseer dat daar alreeds dood op die aarde was toe Adam en Eva op die toneel verskyn het. Hoe versoen ons dit met die Bybel? Dit was my vraag aan dr Alberts.[16]

Dr Alberts se antwoord aan my klink tot vandag toe nog helder in my ore: “Jy kan die Bybel nie so gebruik nie”. Hy kon my nie ’n antwoord gee op my vraag oor dood voor die sondeval nie. Al wat hy kon sê was dat mens die Bybel nie so kan gebruik nie!

My ervaring het my geleer dat baie toegewyde Christene verskillende proppe probeer sit op die bottel waarbinne “geloof en wetenskap” aan die gis is. Ek het gehoor dat mense sê geloof en wetenskap is verskillende “tale”. Ons moet hulle nie probeer vermeng nie. Daarmee wil hulle die integriteit van hulle geloof handhaaf. Dr Louw Alberts het te kenne gegee dat jy die Bybel nie kan gebruik om antwoorde te gee op geloofsvrae wat bots met wetenskaplike sieninge nie. Dit is die prop waarmee hy die intellektuele gisting in sy gemoed wou stopsit.

So ’n benadering bring natuurlik weer nuwe vrae na vore. Jesus het immers gesê die belangrikste van al die gebooie is dat jy die Here jou God met hart siel en verstand moet liefhê. Die wetenskap is juis die area van ’n mens se lewe waar jy jou verstand moet gebruik. Dit is mos nie moontlik om my verstand af te sluit vir ’n werklikheid dat die Bybel iets anders as die “wetenskap” leer nie!

2. Ons moet die Bybel juis “so” gebruik.

Die skrywers van die Heidelbergse Kategismus (HK) het in 1563 reeds ’n aanduiding gegee van hoe Christene die Bybel gebruik. In Vraag 19 van die HK hoor ons van “die heilige evangelie, wat God self aanvanklik in die paradys bekend gemaak het. Daarna het Hy dit deur die heilige aartsvaders en profete laat verkondig en deur offerandes en seremonies van die wet laat uitbeeld. Uiteindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul”. As die HK sê dat God sy evangelie in die paradys reeds bekend gemaak het verwys dit na Gen 3:15 waar daar staan dat die slang se kop vermorsel sal word. God het vir ons die Bybel gegee om dit te gebruik van die begin tot die einde, van Genesis tot Openbaring.

Ons wêreldbeeld, ons verstaan van die werklikheid moet op die Bybel gebou word en nie op die tydsgees nie.

Dit is wat die apostel Paulus ons wil leer in sy briewe. Paulus vertel hoe hy oorlog maak teen die tydsgees of die konsensus van die samelewing volgens bv 2 Kor 10:4-5:

Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

In hierdie paar woorde kry ons ’n samevatting van die intellektuele aanslag waarmee die kerk te doene het. Ons is in ’n verbete geveg gewikkel teen filosofiese konsepte in die wêreld wat in werklikheid afgodsdiens is. Dit het gebeur in die heidense samelewing waarin die apostel destyds geleef het, maar die Satan is vandag nog besig met dieselfde strategie. As Paulus praat van elke “gedagte” wat gevange geneem moet word, gebruik hy die Griekse woord noêma. In 2 Kor 2:11 gebruik hy dieselfde woord as hy sê: Die Satan moet nie die oorhand oor ons kry nie. Ons ken sy “planne” maar alte goed. Die Satan is besig met intellektuele sluheid. Hy probeer die mensdom op intellektuele gebied mislei en verlei. Dit is waarteen Paulus waarsku en waarmee ons moet rekening hou. In Ef 6:12 praat hy oor dieselfde onderwerp as hy daar sê: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar .. teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld.”

Dit is dus baie verkeerd om tot die konklusie te kom dat daar sekere gebiede van die werklikheid is waarvoor ons die Bybel, die Woord van God nie kan gebruik nie. Wie dit doen speel presies in die hand van die duiwel. Christus word so van sy heerskappy oor die denke van sy kinders beroof en die kerk word van die waarheid af weg gelei.

3. Ons moet Genesis definitief “so” gebruik

Die eerste hoofstukke van die Bybel is veral baie belangrik omdat ons daar lees van skepping en sondeval. Dit is die overture, die inleiding, die fondamente vir alles wat verder in die Bybel opgeteken is.

Hieroor ’n paar gedagtes:

  1. Die Bybel begin met die woorde: “In die begin ..”. (Die woord Genesis beteken terloops: In die begin). Genesis wil dus vir ons sê hoe alles begin het. Ons lees van die begin van die hemel en die aarde, die begin van die lewe, die begin van die mens en die begin van die sonde. Alles in die res van die Bybel staan op die “begin” soos dit vir ons in Genesis 1-3 beskryf is en bou daarop voort. Genesis 1-3 is deel van die ’n openbaring van God aan ons, sodat ons kan weet waar ons vandaan kom. Dit is die fondamente van ons Bybelse wêreldbeeld.[17]
  2. As daar ’n ander begin was, of as die begin anders was, is die vraag op grond waarvan sê ons dit? Is dit wat vir ons in die Bybel oorgelewer is onbetroubaar, of het die skrywers ’n ander doel gehad as om ons van die begin te vertel? Wil ons regtig vir ons aanmatig om voor te gee dat ons van beter weet? God berispe vir Job in Job 38:4: Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het.
  3. As ons Gen 1-3 nie op sigwaarde kan gebruik nie, ontstaan die vraag, wat was God se doel dan daarmee dat Hy beskik het dat daardie gedeeltes vir ons in die Bybel opgeteken is? Het God sonder om dit vir ons te sê die mites van ander volke in sy Bybel laat opteken om sy uitverkorenes daarmee te verwar? (Mites is stories aangaande gode en mense, soos ons dit bv. by die ou Babiloniërs, die Grieke en die Romeine kry. Hulle het min of geen historiese waarde nie).
  4. As Gen 1-3 dan op ’n unieke manier verstaan moet word ontstaan die vraag, waar kan ons die Bybel dan “normaal” begin lees? In Gen 5 kry ons ’n gedetaileerde geslagsregister van Adam se nageslag. Gee daardie geslagregister betroubare inligting of was dit ’n versinsel van die skrywers? In Gen 6-9 lees ons van die sondvloed, waarin God Noag gebruik het om die mensdom en die lewende wesens van uitwissing te red. Is dit deel van die Bybelgeskiedenis, of was Noag maar ’n soort mitologiese figuur? Later in Gen 12 kom ons by Abraham en die aartsvaders. Was Abraham, Isak en Jakob uiteindelik werklike mense of was hulle ook maar net deel van die Bybelse mitologie (soos dit soms in die teologie voorgehou word[18])?

So kan ons voortgaan om vrae te vra oor Moses en uiteindelik kom by Jesus die Seun van God. In sommige kringe in die kerk word selfs Jesus voorgehou as ’n figuur van wie ons eintlik baie min weet omdat sy pre-moderne volgelinge baie dinge aan Hom sou toegedig het, wat nie meer vir die moderne “wetenskaplike” mens geloofwaardig is nie?[19]

  1. Met sulke wankelrige geloofsfondamente het Christene naderhand niks meer om op te staan nie. Wat is per slot van rekening regtig waarheid? Daar is mense wat sê dat God en godsdiens bloot ’n verskynsel is, wat met die tyd in die mens se evolusionêre ontwikkeling na vore gekom het[20]. Is hulle nie dalk reg nie? Is die “wetenskaplikes” nie tog maar die mense wat met die harde feite werk en uiteindelik in staat is om geloofswaarhede te beoordeel nie? So kom staan die “gelowige” naderhand nederig voor die “wetenskap” te staan met sy Bybel in die een hand en sy hoed in die ander hand. Hy verbeel hom dat hy hulle hoor sê: “Siestog!” Hy besef nie dit is presies waar die duiwel die kinders van God wil hê nie – onseker en gestroop van sy getuienis.

Dit is die soort onsekerhede wat ontstaan as mens eers eenmaal sover gekom het om die Bybel te begin aanpas in ’n poging om met die heersende denke van die tyd tot ’n vergelyk te kom. Ek sien hierdie tendense oral rondom my in my vriendekringe en tragies ook op baie fronte in die kerk. Die evolusieleer het eenvoudig ’n bron van geweldige onsekerheid en afvalligheid geword.

F. JOU BESLUIT OOR DIE EVOLUSIELEER?

Dankie dat jy die moeite gedoen het om my getuienis tot hiertoe te lees. In die lig van alles wat ek gesê het glo ek dit is vir elke Christen belangrik om ter wille van jou geloof tot ’n besluit te kom oor die evolusieleer. Dit is nie altyd maklik nie. Ek het vir lang tye ervaar dat ek alleen gestaan het met my ontdekking oor die evolusieleer. Die meeste van my medegelowiges het bedenkinge gehad as ek met hulle oor die onderwerp gepraat het. Ek het dikwels die indruk gekry dat ek as ’n verleentheid ervaar word. Dit was nie lekker nie.

Daar het egter ’n tyd in my lewe gekom dat ek vir die Here gesê het: “Here, as ek dan as ’n dwaas deur die mense beskou word, omdat ek die evolusieleer verwerp dan ís ek ter wille van U voortaan ’n dwaas. Ek kan egter nie langer op twee gedagtes hink nie”.

Vandag is ek baie dankbaar dat ek ’n keuse gemaak het. Dit het by my bevryding gebring. Ek is ook dankbaar om te kan getuig dat ek nie meer voel dat ek alleen staan nie. Daar is baie webwerwe op die Internet oor die onderwerp. Daar is vandag baie meer boeke oor die onderwerp beskikbaar as destyds in die 1970’s. Daar is talle videos en daar is organisasies van mense wat saampraat en navorsing doen.

Jy het as ’n Christen ’n verantwoordelikheid om soos Nikodemus in Johannes 3 opreg te soek na die waarheid. Waarmee het ons hier te doen? Ná ’n leeftyd van nadenke oor die onderwerp kan ek nie anders as om die volgende gevolgtrekkings te maak nie:

1. Die evolusieleer is ’n afgod!

altEk was jare gelede saam met mense van die buiteland op ’n staptog in die Kruger Wildtuin. Ons het die hele tyd met die gids gesels oor die wonders van die diere- en die planteryk rondom ons. Dit blyk toe dat van die mense in die groep agnosties van geloof is. Ek vra toe een van hulle: “Hoe glo jy waar kom die wonderlike natuur vandaan?” Hy trek toe sy skouers op en antwoord my kort en kragtig in Engels: “Evolution!”[21]

Evolusie is die afgod van die hedendaagse heidendom. Mense maak hulleself wys dat evolusie ’n antwoord bied op al hulle lewensvrae.

Dit is niks nuuts nie. Luister hoe waarsku Jesaja teen die afgode van sy tyd:

Jes 44:18 Sulke mense weet nie wat hulle doen nie, hulle het nie insig nie, hulle oë is toegepleister, hulle sien nie, niks dring tot hulle verstand deur nie. 19 Hulle kom nie tot besinning nie, hulle het te min kennis en verstand om te sê: “’n Gedeelte van die hout het ek verbrand, ek het op die kole kos gaar gemaak, ek het vleis gebraai en geëet, en moet ek nou van wat oor is ’n afskuwelike afgod maak, moet ek voor ’n stuk hout buig?” 20 Iemand wat hom met as besig hou, laat hom mislei deur sy eie verdraaide opvattings. Hy kan homself nie red nie, hy vra homself nie af: “Is dit nie ’n leuen waarmee ek my besig hou nie?”

Dit is die vraag waarop jy aan jouself ’n antwoord verskuldig is: “Is dit nie ’n leuen waarmee ek my besig hou nie?”

2. Die evolusieleer is ’n leuen!

Jy sal dalk jou besluit wil ontwyk deur te vra of dit moontlik is dat die hele “wetenskaplike konsensus” van ons tyd verkeerd kan wees? Mense soos prof Jan Boeyens en ’n wêreldberoemde astrofisikus en astronoom (oorlede) Halton Arp van Munchen in Duitsland en baie ander, is mense wat doodgewoon op wetenskaplike gronde ’n rooivlag opgesteek het teen hierdie sg wetenskaplike konsensus van ons tyd.

Dit is nie ’n vergesogde gedagte dat die hele wêreld in die greep van misleiding vasgevang kan word nie – nie as ons rekening hou met die duiwel nie. Jesus het voor dieselfde onbegryplike situasie te staan gekom toe Hy na sy eie mense toe gekom het en sy eie mense het Hom, die Weg, die Waarheid en die Lewe nie aanvaar nie. Jesus verklaar die verskynsel self as volg:

Joh 8: (43)Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? …. (44)Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. … En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.

As dit die wyse is waarop Jesus sy eie volk beoordeel, hoeveel makliker kan dit nie met ’n ongelowige materialistiese wêreld gebeur nie? Dit moet dus nie vir ons vreemd wees as die wêreld mislei word en deur ’n leuen meegevoer word nie. Ons moet dit eintlik verwag.[7]

3. Die evolusieleer is in stryd met gesonde verstand en ware wetenskap.

Die meeste Christene (en die meeste mense oor die algemeen) dink ek weet inherent dat dit logies ondenkbaar is dat iets spontaan uit niks kan ontstaan nie. Dit is nogtans wat die oerknal, die fondament van die evolusieleer, impliseer: In ’n fraksie van ’n breukdeel van ’n sekonde het daar sogenaamd uit ’n oneindige klein “niksheid” ’n ontploffing plaasgevind waardeur die heelal oombliklik met onberekenbare massas materie gevul is. Dit sou glo sowat 14 000 miljoen jaar gelede plaasgevind het. Ons gesonde verstand sê mos vir ons dat so iets nie spontaan op grond van inherente wetmatighede van die natuur kan plaasvind nie. Sulke gedagtes is eenvoudig nie wetenskap nie. Dit is niks anders as breingimnastiek nie.

alt

Die spontane ontstaan van lewe is op dieselfde wyse in stryd met ons logiese verstand. As ’n kind se hondjie in die straat deur ’n motorkar doodgery word is dit nutteloos om die diertjie na die veearts te neem. Al is al die organe nog daar bymekaar kan ’n veearts nie die lewe in die hondjie terugsit nie. As daar lewe is, is daar hoop, maar as die lewe weg is, is daar geen hoop dat dit sal terugkeer nie. Dit is ’n realiteit van die lewe.

Ten spyte van hierdie alledaagse ervaring van die werklikheid is die uitgangspunt van die evolusieleer steeds dat daar ’n dag was toe daar spontaan uit dooie materie lewe voortgekom het. So ’n aanname is in stryd met alle wetmatighede, dis ongehoord, dis wensdenkery en ’n dwaasheid. Dit maak nie saak hoeveel miljoen jaar die gebeurtenis in die verlede terug verplaas word, hoe wetenskaplik of hoe pragtig grafies en kleurvol dit voorgehou word nie, dit bly wensdenkery. Die res van die evolusie konstruksie nl. dat die eerste lewende organisme begin verdeel het, manlik en vroulik geword het, plant en dier geword het en spontaan die aarde begin vul het met ’n wonder van kleur, geur, klank en verskeidenheid is doodgewoon Godonterend en niks anders as ’n doelbewuste leuen nie. Die feit dat hierdie gedagtes met dodelike erns deur die mensdom in universiteite, op TV en deur boeke gepropageer word, is alles bevestiging dat ons hier te doen het met ’n vreemde verskynsel. As mens dit mooi in die lig hou, sal jy sy waarmerk sien – die afbeelding van hom na wie Jesus verwys het as die “vader van die leuen”!

Waarom is dit dan so dat die kinders van die Here so graag vir die evolusieleer wil verskoning maak en daarvoor plek wil maak in die Bybel? Die standaard antwoorde wat mens in die kerk kry is:

  1. “God kon evolusie gebruik het om die wêreld te skep.”
  2. “Dit is nie vir my belangrik hoe die wêreld tot stand gekom het nie. Dit beïnvloed nie my geloof nie.”
  3. “Die wetenskap het evolusie onteenseglik bewys. Ek kan die Bybel met die evolusieleer versoen.”
  4. “Die Bybel is nie ’n wetenskaplike handboek nie.”

Ek gaan nie verder op al hierdie redenasies in nie, maar ek wil sê, dat ek daarvan oortuig is, dat God niks te doene wil hê met iets wat in hierdie wêreld funksioneer as ’n afgod en ’n leuen onder die mense nie. Ek is oortuig dat die Here nie wil hê dat sy kinders Hóm by sulke redenasies moet betrek en so verder in dwaasheid verval nie.

4. Die evolusieleer bring elke Christen voor ’n keuse te staan.

Die volgende waarskuwing van Jesus is hier ter sake:

Mark 8: (38)Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”

Ons is gekonfronteer met die tragiese werklikheid dat die kinders van die Here wat in die geskiedenis bereid was om op brandstapels te sterf vir hulle geloof, vandag nie meer oor die innerlike oortuiging beskik om hulleself teen die tydsgees te handhaaf nie. Die kerk skaam hom vir die basiese elemente van ons geloof voor die “ontroue en sondige geslag” waarvan Jesus praat. Dit is waarmee ons hier te doene het!

Kom ons sê openlik saam met die apostel Paulus in Rom 1: (16)Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.

Die “evangelie” waarvan Paulus hier praat begin nie eers in die Nuwe Testament nie, maar wel op die eerste bladsy van die Bybel!

Voetnotas

[1] Kyk bv Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed.

[2] Vir ’n weerlegging van hierdie gedagte, kyk bv The evolution of the horse.

[3] Kyk Anthropology and Apemen Questions and Answers.

[4] Kyk Om geloof en wetenskap te skei.

[5] Kyk Die Bybel oor skepping vs evolusie, Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed? en Aanhalings – Is Evolusie en die Bybel versoenbaar?

[6] Kyk Creation scientists and other specialists of interest.

[7] Kyk ook Hoekom is daar soveel wetenskaplikes wat aan evolusie glo? en Discrimination against creation scientists (and ID advocates).

[8] Kyk ook Hoe evolusie werk en hoekom dit nie werk nie, Mutations Questions and Answers en Mutations: evolution’s engine becomes evolution’s end!

[9] Kyk Lewende fossiele.

[10] Kyk The young faint Sun paradox and the age of the solar system.

[11] Kyk Comets—portents of doom or indicators of youth?

[12] Kyk Waar is al die mense?

[13] Kyk ‘Young’ age of the Earth & Universe Q&A en Evidence for a Young World.

[14] Kyk Was die sondvloed ’n globale vloed of slegs ’n lokale vloed?

[15] Kyk Coal: memorial to the Flood.

[16] Kyk Aanhalings – Is Evolusie en die Bybel versoenbaar?, Die Bybel oor skepping vs evolusie/Sondeval en dood en Death and Suffering Questions and Answers.

[17] Kyk Aanhalings – Moet Genesis letterlik gelees word?

[18] Kyk Kommentaar op Jurie le Roux se studienotas oor Abraham.

[19] Kyk Kommentaar op Jurie le Roux se artikel “Andries van Aarde se vaderlose Jesus”.

[20] Kyk Skepping en ewolusie van Cornel du Toit.

[21] Dit herinner ook aan wat Richard Branson aan Piers Morgan gesê het in ’n onderhoud (kyk Asked about belief in God, Richard Branson says he believes in evolution.)

1 thought on “Het jy al vir jouself duidelikheid gekry oor evolusie?”

  1. Hierdie is werklik ’n baie inspirerende getuienis deur ds Jan Louw. Vroeer het die NGK die 6-dag skepping as as basis van hul geloof aanvaar en die makro-evolusieleer teengestaan. Dit was veral die geval toe dr Koot Vorster nog moderator was. Tragies dat die professore aan die kweekskole so die knie gebuig het vir die evolusie-afgod!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui