Liefdesboodskap klink oral, ook in Murray-werk

Die volgende artikel is geskryf in reaksie op Henrietta Klaasing se Van die Murray-toekennings val vreemd op (21 Apr 2022).

Kyk onderaan die artikel vir kommentaar.

*******

Liefdesboodskap klink oral, ook in Murray-werk | Netwerk24

Hennie Pieterse, Brooklyn

23 April 2022

Die kritiek op die Andrew Murray­-Tutu-prys wat aan Andries­ van Aarde toegeken is, is volgens my ongehoord.

Andries is ’n jare lange kollega van my en ek ken hom as ’n diepgelowige, reformatoriese mens. Ek het sy twee volumes Jesus, Paul and Matthew grondig deurgewerk.

Dit is ’n diepgaande studie wat bykans alle literatuur op die veld van ondersoek geraadpleeg het. Telkens, as Van Aarde­ ander se sienings gestel het, stel hy sy eie siening wat in ooreenstemming is met my reformatoriese uitgangspunt. As iemand die moeite wil doen om die boek te lees, sal sy of hy onmiddellik op die buiteblad van die eerste volume die kern van sy bevindings lees: Hoewel Paulus se briewe in ’n totaal ander konteks geskryf is en ongeveer 50 jaar later, het Jesus se kernboodskap van liefde tot God en die medemens behoue gebly.

Dieselfde geld vir Mattheus, wat eers ná 70 n.C. in ’n totaal ander konteks geskryf is en weer die kernboodskap van Jesus se liefdesgebod bevat. En by die Konsilie van Nicea in 325 n.C. in ’n ander konteks, drie eeue ná Jesus se optrede, het ’n teoloog uit Afrika, die biskop van Alexandrië, gesorg dat hierdie liefdesgebod van Jesus in die hoofstroomkerke beland het.

Ek ken Andrew Murray se werk (’n student van my het ’n verhandeling oor hom geskryf) en ook Desmond Tutu se prediking deur ’n boek wat ek oor hom geskryf het – en deurgaans klink die grootste gebod wat Jesus ons kom leer het, deur hul werk. Andries van Aarde het met hierdie twee volumes ons ’n groot guns bewys.

Kommentaar

(Hierdie kommentaar is aan Netwerk24 gestuur, maar dit is nie geplaas nie.)

In Andries van Aarde se boek Fatherless in Galilee, skep hy onsekerhede oor heelwat Bybelwaarhede: Hy bevraagteken Jesus se Godheid, sy wonderwerke en wie sy ma was. Hy laat ruimte vir die moontlikheid dat Jesus ‘n buite-egtelike kind was, wat beteken dat Jesus nie maagdelik verwek was nie. Hy spekuleer dat Jesus se biologiese pa sy ma gelos het tydens haar swangerskap en dat Jesus moontlik gekruisig is weens sy konfrontasie met die owerhede. Van Aarde was ook betrokke by die Jesus Seminaar, wat al bogenoemde dinge bevraagteken of selfs verwerp.

Hennie Pieterse sê dat Andries van Aarde ’n diep gelowige is (23.4). Van Aarde mag dalk gelowig wees, maar in watter god glo hy? Paulus praat in 2 Korintiërs 11:4 van mense wat hulleself Christene noem, maar “ ’n ander Jesus” verkondig. As jy die Bybelse openbaring oor God en Jesus verwerp, dan aanbid jy ’n “ander Jesus”. Die implikasie is dat jy ’n god, wat jyself geskep het (‘n afgod), aanbid.

Hennie beweer ook dat “liefde tot God en die medemens” Jesus se kernboodskap was. ’n Mens kan waarskynlik debateer of Jesus slegs een boodskap gehad het, maar een van die belangrikste boodskappe van Jesus gee Hy in Johannes 14:6-7:

(6)“Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. (7)As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

Dit is iets wat Van Aarde bevraagteken.

Daarom voeg ek ook my stem by Henrietta Klaasing (21.4) wat voel dat onder andere Van Aarde nie ’n Andrew Murrayprys behoort te kry nie, want sy teologie bots lynreg met dit waarvoor Andrew Murray homself beywer het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui