Wat doen jy met die Here se waarheid?

Die volgende gedagte deur Stephan Joubert het in die Rapport verskyn op 27 Maart 2022.

Kyk my kommentaar onderaan.

*********

Wat doen jy met die Here se waarheid? | Rapport

Deur Stephan Joubert

27 Maart 2022

Dalk onthou jy daardie ouer Amerikaanse komediereeks The King of Queens. In een episode word Doug en sy vrou na sy ouers genooi om sy hond, Rocky, se 28ste verjaardag to vier. Doug vra dan sy ma hoe het Rocky so oud geword.

Hierop erken sy dat Rocky al ’n paar keer vervang is met ’n hond wat soos die eerste een lyk. Hulle trek eintlik nou al by Rocky IV. Dan voeg sy ma by: “But we don’t talk about such unpleasant or uncomfortable things.”

Geskok vra Doug se vrou: “What do you do with the truth, then?” Toe antwoord sy: “We sweep it under the rug, where it belongs!” Net daar besluit almal daar’s net een Rocky en by is 28 jaar oud.

Dikwels word die waarheid onder die mat ingevee. Mense glo die Bybel en praat oor die Here totdat dit bots met hul leefstyl. Dan word die Bybel gerieflikheidshalwe geïgnoreer. Mense hou nie van “ongemaklike waarhede” nie, veral nie wanneer dit bots met hul eie idees oor geldbesteding, seksualiteit, naasteliefde of loopbaanbeplanning nie.

Die evangelie moet inval by hulle lewe, nie andersom nie. Hulle gee graag hul harte aan die Here, maar hou die res van hul lyf en die res van hul lewe vir hulself.

Terloops, wat doen jy met die Here se waarheid wat soms teen jou eie grein skuur? Het jy ook ’n mat waaronder jy dit invee? Of is jy bereid om jou gedrag en jou norme altyd by Hom aan to pas?

Kommentaar

Hierdie is uitstekend gesê. Dit is presies wat in ’n postmoderne wêreld gebeur.

Dit is egter uiters vreemd dat hierdie uit Stephan Joubert se pen kom. In hierdie skrywe lys hy spesifiek seksualiteit as een van die “ongemaklike waarhede”.

Op 30 Mei 2015 het Stephan Joubert egter vir Nelus Niemandt geloof as een van die profete van vandag oor sy standpunt oor die Belharbelydenis, maar toe Nelus ’n maand later vra dat die NGK die deure vir homoseksualiteit moet oopgooi, was Stephan stil.

In ’n Facebookplasing op 9 Januarie 2021 het Chris Visser vir Stephan gevra wat sy standpunt oor homoseksualiteit was, maar Stephan wou hom nie antwoord nie (kyk Stephan Joubert sit steeds op die draad).

Hoe verstaan ’n mens dit? Is Stephan dalk nie gekant teen homoseksualiteit nie, maar slegs gekant teen ander vorme van seksualiteit soos biseksualiteit, transgender, queer, interseks, ens? Indien wel, hoe regverdig hy so ’n standpunt uit die Bybel?

1 thought on “Wat doen jy met die Here se waarheid?”

  1. Jy is heeltemal reg. Dit lyk asof Stephan Joubert nie altyd konsekwent is nie. Die uitdaging vir hom is om sy karakter te verbeter sodat hy niemand sal verwar nie. Hy is beslis radikaal teen LGBTQ sonde maar sal gewoonlik indirek daaroor praat. Vir karakater en duidelike kommunikasie doeleindes is dit altyd beter om direk daaroor uit die Skrif te praat.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui