Stephan Joubert: Moenie uitsterf ter wille van waarheid nie

In die kort artikeltjie hieronder reken die welbekende Prof Stephan Joubert dat dit belangriker is dat ’n kerk relevant is eerder as om uit te sterf ter wille van die waarheid.

Per implikasie beteken dit dus dat jy die waarheid kan ontken of verdraai ter wille van die Evangelie.

Volgens die Bybel is die waarheid egter uiters belangrik:

  • Eksodus 20: (16)Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
  • Spreuke 6: (16)Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ’n afsku het: (17) … ’n tong wat lieg, … (19)’n getuie wat lieg …
  • Spreuke 17: (20)’n Vals mens sal nie voorspoed hê nie; wie die waarheid verdraai, sal ondergaan.
  • Johannes 8: (32) … die waarheid sal julle vrymaak.
  • Johannes 14: (6)Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.

In Matteus 10 sê Jesus dat hy nie gekom het om vrede te bring nie, maar die swaard. Dit gaan tog sekerlik ook hier oor die waarheid.

Moet vervolgde Christene redeneer dat hulle lewend baie meer vir God kan beteken en hulle geloof verloën eerder as om te sterf vir die waarheid? Was Petrus verniet spyt daaroor dat hy Jesus verloën het (Mat 26:75)?

Indien ’n mens die waarheid kan verdraai ter wille van die Evangelie, watter ander dinge sou ’n mens nog kon doen? Sou ’n mens ’n bank kon beroof as jou kerk in finansiële knyp is? Of sou jy gesteelde skape by die basaar kon verkoop?

Die feit dat Stephan Joubert ’n baie ervare skrywer is, maak hierdie net nog meer skokkend! Hierdie is beslis een van die grootste flaters wat hy nog begaan het.

*******

Stephan Joubert: Moenie uitsterf ter wille van waarheid nie | Netwerk24

Stephan Joubert

26 November 2022

“Dit sal vir my ’n eer wees om die kerk se ligte vir oulaas af te skakel. Ek sal dit met graagte doen as ons ons kerkdeure moet sluit wanneer ons geen lidmate meer oor het nie.”

Iemand het dít eenkeer in ’n gesprek oor kerkwees kwytgeraak. “Dit klink of jy beplan om uit te sterf ter wille van die waarheid,” het iemand anders geantwoord.

Ons sal nooit kompromitteer oor die waarheid nie, al moet ons ons kerk toemaak,” was sy enigste reaksie.

Gedoriewaar, ons mag nooit so diep in ons eie godsdienstige loopgrawe ingehok wees dat ons regstaan om daarvoor uit te sterf nie. Ons is geroep om ons geloof op tydbepaalde en magnetiese maniere te beoefen. Nee, ons skik nooit vir minder oor die Here se goeie nuus nie, maar ons skik ook nie vir minder oor ’n relevante uitleef daarvan nie. Paulus skryf juis in 1 Korintiërs 9 hy het self vir die Jode ’n Jood geword en vir die Grieke ’n Griek. Met ander woorde hy het mense en kontekste goed gelees. Paulus was aanpasbaar. Nee, hy was nie ’n pragmatis of ’n verkleurmannetjie nie. Hy het geweet dis sy roeping om almal te laat deel in die Here se redding. Maar dit het vereis dat hy weet hoe dink Grieke en Jode sodat hy in hul eie taal en styl kon kommunikeer.

Paulus het die Here se waarheid kontekstueel uitgeleef en gepreek. By hom moet ons leer hoe om relevant te leef ter wille van die evangelie, nie hoe om daarvoor uit te sterf nie.

3 thoughts on “Stephan Joubert: Moenie uitsterf ter wille van waarheid nie”

  1. Geagte dr. Johann Ernst, ek is bevrees oor Stephan Joubert se toepassing van die teks waarna hy verwys. Sendelinge het deur die eeue dit goed verstaan wanneer hulle die taal en kultuur van volke aangeleer het om uiteindelik die waarheid van die evangelie aan hulle oor te dra. Die teks waarna Joubert verwys het niks te make met die konteks van die NG kerk se dwaalleer nie, maar wel met taal, gebruike en gewoontes van kulture. Hiervoor sien Skrifbehoudendes kan wanneer hulle daagliks saam met ander kulture werk en deur middel van gemeentes uitreik na ander volke en nasies wat nie vir Jesus ken nie. Die voorbeeld wat Joubert gebruik verstaan nie die aard en dinamika van dwaalleer en valse Christenskap in die NG kerk nie.

  2. Moenie uitsterf ter wille van waarheid nie.
    Tipes van intellektuele Fariseërs en skrifgeleerdes wat bloot n loopbaan uit dwaalleer wil maak.Hulle is soos Pontius Pilatus:”Wat is waarheid”

    Jesus se woorde skrik hulle nie eers af nie:”Julle wil die wil van julle vader die Duiwel doen.Daardie een het nie vasgestaan in die waarheid nie,want daar is geen waarheid in hom nie.Hy is die vader van die leuen en ook n moordenaar”

    Johannes 4:24
    God is n Gees,en diegene wat hom aanbid moet Hom in gees en waarheid aanbid.
    Bovermelde is Jesus se woorde.Nou wie moet ek glo ,die goeie doktor Joubert of Jesus Christus.
    Hier is die absolute waarheid.Predikante is te skaam om aan hulle gemeente lede te verduidelik wat die woord Halleluja beteken wat in hulle kerke gesing word.Want die woord beteken “prys Jag”.Prys Jehova God.
    Doktor Joubert se vrese is goed gegrond.
    Nie net gaan die vals bruidsklas uitsterf nie,maar ook daardie kerke se gemeente lede.God kan nie lieg nie.Openbaring maak dit duidelik Babylon die Grote vernietig gaan word.
    Ek weet wragtig nie vir watter waarheid die N.G kerk bereid is om deure toe te maak nie,want hulle volgende leerstellings is grof,primitief vals

    Die drie eenheidsleer

    Onsterflikheid van mense siel (Nefasi Hebreeus)
    Hel-Hemel leerstellings

    Baba doop

    Weiering om God Almagtig se naam Jehova te gebruik.

    Die N.G kerk en ander kerke se geskiedenis van geestelike gehoerrery met die konings van die aarde.
    Die N.G kerk en ander kerke se bloedskuld

    Nog nooit het die N.G kerk geestelike onkreukbaarheid en lojaliteit aan God se standaarde vir hulle ledemate gepreek nie

    Die blanke N.G kerk sal moontlik net deur n Kleurling N.G kerk vervang word.Want dit is waaroor dit eintlik gaan.
    Indien die N.G kerk die waarheid reg oor die bewoonde aarde verkondig het soos Jehova se getuies,sou hulle relevant gewees het,maar nou is die N.G kerk nie eers relevant nie.Geestelike relevansie bemoei hom nie met populariteit nie.

    Om geestelik relevant te wees vanuit God se oogpunt en ongekende groei te ervaar ,moet jy waaragtigheid verkondig en dit leer aan mense.

    Joubert wil relevant wees in die wêreld.Jesus het gesê sy dissipels is geen deel van die wêreld nie.

    Jehova se GETUIES fokus op twee basiese dinge

    Waaragtige interpretasie van God se woord

    Gehoorsamigheid aan daardie waaragtigheid.

    Bykans alle kerke is skuldig aan die praktyd waar hulle ,hulle mense intellektuele mense grade gee en sê jy is nou n dominee.
    Gevolglik is die interpretasie van die Skrifte geskaak deur intellektueles.Die presiese groep waarvan Jesus gesê het:”Ek prys u Vader omdat u hierdie dinge verborge gehou het van intellektueles,maar dit goed geag het om dit te openbaar aan babas-jong kinders.

    Dit is God se Heilige Gees wat westelike waaragtigheid verstaanbaar maak aan ongeleerdes en dit is dieselfde gees wat as n remembrance in gelowiges opereer.

    God sal al hierdie intellektuele skakels(hi-jackers)wat die sleutel van God se woord weggeneem het swaar straf.

  3. Met “Relevant eerder as uitsterf ter will van die waarheid” plaas Joubert ‘n spanning tussen twee sake wat saam hoort. Die ware kerk van Christus deur eeue heen was nog altyd relevant en waarheidsgetrou in één asem. Om die twee eienskappe te skei hoort tuis in ‘n vrysinnige omgewing waar jy almal ter wille wil wees – almal behalwe die Here soos wat Hy Hom in sy Woord aan die mens openbaar – Sy Woord in eenvoudige mensetaal. Wie die absolute waarhede van die Woord laat vaar is in elk geval reeds besig om te sterf

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui