Teoloë se kerswense 2012

Hieronder volg Nelus Niemandt en Abel Pienaar se kerswense vir 2012.

Abel Pienaar: Glo saam in ’n droom van vrede

  • Dit is opvallend dat Jesus heeltemal uitgelaat is in sy kerswense. Dit gaan alles net oor vrede.

Nelus Niemandt: Kersfees ’n fees van die lewe

 

 

Artikels

Glo saam in ’n droom van vrede

(Van Beeld gekopieer.)

2012-12-23 21:39

Dr. Abel Pienaar

Kers-Fees!

Wie weet nie van die “Ek het ’n droom”-toespraak van die Amerikaanse burgerregteleier Martin Luther King nie? Daardie toespraak wat ’n generasie se drome gemotiveer en geïnspireer het?

Hy het gedroom van vrede. Hy het gedroom dat mense weer sal besef dat hulle één groot familie is, ongeag geslag, ras, klas, taal, seksualiteit, ouderdom of geloofsoortuigings.

’n Wêreld wat vrede, liefde en harmonie ken. Dieselfde droom wat ons hier in Afrika ken as Ubuntu (ek is omdat jy is).

Is dit ’n onrealistiese of naïewe droom? Baie sal sê ja, maar is dit nie juis die onmoontlike drome wat deur die eeue die mensdom se verbeelding aangegryp en geïnspireer het tot groot onselfsugtige dade nie?

Is dit nie die dromers wat mense gehelp het om verby hul beperkte idees en vrese te beweeg nie? Is dit nie die droom wat aan die hart van menslike grootsheid lê nie?

Is dit regtig so onmoontlik dat ons as mense in vrede kan saamleef? Dat ons mekaar en ander lewe op dié een planeet met respek kan hanteer … is dit idealisties?

Hoekom voel dit dan nie laf nie? Dit is vir seker ’n groot droom – eintlik dié groot droom!

Kom ons hou aan droom oor vrede en verdryf met dié droom alle haat, selfsug en wanhoop wat ons in ons dra. Kom ons word die dromers wat die droom weer lewend maak in ’n tyd waar dit so nodig geword het.

Steek ’n kers aan as teken dat die droom in jou hart leef. ’n Simbool van lig wat binne ons aangaan.

Dalk is dit vir nou net een kersie, maar soos ons tog weet, een kers se vlammetjie kan ’n ander kers aansteek en ’n ander en ’n ander.

En voor ons oë word die donker verdryf en die wêreld verlig.

Is dit nie die eintlike betekenis van dié tyd nie? ’n Feestyd waar ons die koms van vrede vir almal vier nie? ’n Verligtingsfees. ’n Liefdesfees. ’’n Vredesfees.

Kersfees ’n fees van die lewe

(Van Beeld gekopieer.)

2012-12-23 21:38

Nelus Niemandt

Ons dink aan Jesus Christus wat mens geword het en die lewe in volheid moontlik maak. 

Johannes skryf van die Woord wat mens geword en onder ons kom woon het. In sy nadenke oor die dinge wat hy gesien het, sê Johannes dat daar lewe in Jesus van Nasaret is en dié lewe is die lig vir mense. 

Dit is ook een van die belangrikste dinge wat ons oor Kersfees kan sê – ons vier ’n fees van lewe. 

Dié lewe is uiteraard ’n lewe in liefde. Die rede hoekom God sy Seun gestuur het, is die liefde van God. 

Op Kersdag gaan daar op baie plekke met oorgawe gesing word: “God is liefde, juig ons harte, en bedink wat liefde doen, dat Hy ons sy Seun gestuur het …”

Kersfees is om te leef en te beweeg in die liefde wat vloei uit die Drie-enige God. 

’n Mens kan nie Jesus se geboorte losmaak van God se liefde en die lewe wat dit bring nie.

Die toets vir Jesus se volgelinge is nie hoe goed ons allerhande leerstellings verdedig nie, maar hoe goed ons “mekaar lief het”. 

In Jesus se boek is die waarheid te vinde in ons verhoudings. 

Dit is ook die essensie van menswees – nie ons vrye wil of ons redelikheid nie – maar ons vermoë om in verhoudings te staan. 

Om heilig te wees is nie om al die antwoorde te ken nie en ook nie om al die reëls te bemeester nie.

Dit is maar net om in ’n lewegewende verhouding – eintlik lewe-ontvangende verhouding – met God te wees. 

Die fliek Searching for Sugar Man het baie mense nogal diep geraak. Dit handel oor Rodriguez, ’n Amerikaanse sanger wat in die 1970’s baie gewild in Suid-Afrika was. 

Die ironie is dat Rodriguez self niks geweet het van die kultusstatus wat hy hier gehad het nie. In die VSA was sy sangloopbaan ’n mislukking en hy het spoedig teruggekeer na sy harde werk in die boubedryf. 

Jare later het twee Suid-Afrikaners probeer vasstel of Rodriguez nog leef en ’n soektog na hom begin.

Die fliek vertel dan die verhaal van ’n brandarm konstruksiewerker wat nie eens bewus was van die roem wat hy in Suid-Afrika het nie. 

Die sluier word kort-kort gelig oor die besondere mens Rodriguez: sy passie om van stede ’n beter plek te maak, sy liefde en omgee vir onbelangrike mense, sy klem op vryheid. 

In een roerende toneel vertel ’n medekonstruksiewerker dat Rodriguez sy kollegas en vriende se lewe almal diep aangeraak het. 

“Hy is soos iemand wat alledaagse dinge kan vat en sy daaruit kan spin. Hy is iemand wat ’n mens laat dink aan die goddelike. Hy is iemand besonders.” 

Op ’n manier is die verhaal van Rodriguez vir my ’n Kersverhaal. Die storie van iemand nederig en onbelangrik, maar iemand wat die alledaagse kan verander in iets besonders. Iemand wat lewe bring …

Dit laat my dink aan hoe ons dalk “sy-spinners” kan wees – mense wat die alledaagse gebruik en lewe bring. 

Mense wat sy spin uit hul werkomstandighede, uit die swaarkry van die lewe, uit die sleurgang van ’n alledaagse huishouding en iets goddeliks maak omdat dit lewe en liefde bring. 

Mag die lewe wat die Drie-enige God met soveel liefde uitdeel, die hele skepping en ons almal in stand hou en krag gee. 

Mag die oorvloedige lewe wat Jesus bring, deur ons vloei. Mag ons onderskei waar God die lewe laat vloei, sodat elkeen deel kan wees van die fontein van liefde wat vanuit die lewende Here stroom. 

Mag ons sy-spinners wees.

Geseënde, lewegewende Kersfees. 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui