Die Bybel oor “’n oog vir ’n oog” en “’n tand vir ’n tand”

Wanneer ons die woorde “’n oog vir ‘n oog” hoor, dan dink ons dadelik daaraan dat Jesus dit gesê het in Matteus 5:38-42:

(38)“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ (39)Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. (40)As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. (41)As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. (42)Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”

Dieselfde boodskap kom ook voor in ander dele in die Ou Testament:

Spreuke 20: (22)Moenie sê: “Ek wil my wreek oor die kwaad wat my aangedoen is” nie; vertrou op die Here, en Hy sal jou help.

Spreuke 24: (29)Moenie sê: “Soos hy aan my gedoen het, sal ek aan hom doen, ek sal hom terugbetaal vir wat hy gedoen het” nie.

Klaagliedere 3: (30)laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.

Hierdie dele blyk teenstrydig te wees met die volgende dele in die Pentateug:

Eksodus 21: (23)As sy blywend beseer is, is die straf: ’n lewe vir ’n lewe, (24)’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand, ’n hand vir ’n hand, ’n voet vir ’n voet, (25)’n brandwond vir ’n brandwond, ’n wond vir ’n wond en ’n kneusplek vir ’n kneusplek.

Levitikus 24: (19)“As iemand ’n medemens beseer, moet aan hom presies dieselfde gedoen word: (20)as hy iemand se been gebreek het, moet sý been ook gebreek word; as hy iemand se oog beskadig het, moet sý oog ook beskadig word; as hy iemand se tand uitgeslaan het, moet sý tand ook uitgeslaan word. Daar moet aan hom gedoen word wat hy aan sy medemens gedoen het.

Deuteronomium 19: (21)Jy mag so ’n persoon nie genade betoon nie: ’n lewe vir ’n lewe, ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand, ’n hand vir ’n hand en ’n voet vir ’n voet.”

Omdat dit skynbaar teenstrydig is met wat Jesus gesê het, dink mense dat Jesus hierdie dele kom verander het, soos die besnydenis, onderhouding van die Sabbat, die eet van onrein kos en ander Joodse gebruike. Sommiges gebruik Matteus 5 selfs as argument teen die doodstraf.

Dit is egter nie ‘n regte redenasie nie. God is ‘n God van regverdigheid. Kyk byvoorbeeld: Eks 23:7, Lev 19:15, Deut 1:16; 25:15; 32:4, Esra 9:15, Neh 9:33, Psa 7:9-10; 9:9; 11:5-7; 25:8, ens.

Die woord “regverdig” kom in 83 verse in die 1983 vertaling voor en as “regverdige” en “regverdiges” ook in ag geneem word, kom dit in 231 verse in die Bybel voor.

Die straf moet by die oortreding pas.

Die oog-vir-‘n-oog en tand-vir-‘n-tand-beginsel in Eksodus, Levitikus en Deuteronomium dui op regverdigheid. Hierdie beginsels word vandag nog in howe gebruik. Jy gee tog nie vir iemand wat ‘n lekkertjie uit ‘n kafee gesteel het, 20 jaar tronkstraf nie en jy gee ook nie iemand wat moord gepleeg het ‘n R500 boete nie. Die straf moet by die oortreding pas.

Hoe moet ons dan Jesus se woorde in Matteus 5 verstaan?

Volgens Prediker 7:16 kan ‘n mens te regverdig wil wees: “Moet jou nie te regverdig wil hou nie…

Salomo verwys waarskynlik hier na mense wat regverdig is om raakgesien te word (kyk Matteus 23:5).

Jesus se boodskap in Matteus 5 is waarskynlik dieselfde as die boodskap van Spreuke 20:22 en 24:29 – Om nie alewig wraak te probeer neem nie. ‘n Eenvoudige voorbeeld is miskien die volgende: as iemand by jou kom kuier en hulle breek ‘n glas, is dit net regverdig dat hulle die glas sal vervang. Ons verwag dit egter nie van ons gaste nie, omdat ons weet dat die persoon nie die glas opsetlik gebreek het nie en ons wil daardeur wys dat ons hulle vergewe. Dit beteken egter nie dat indien iemand jou kind vermoor, moet die hof hom vry laat omdat jy hom vergewe het nie. In groter kwessies is dit uiters noodsaaklik dat die reg steeds moet geskied.

Kyk ook

 

1 thought on “Die Bybel oor “’n oog vir ’n oog” en “’n tand vir ’n tand””

  1. Die gedeelte het my regtig aangeraak.
    Ek verstaan ’n oog vir ’n oog en tand vir ’n tand maar dit moet tog nie deur die mens self gedoen word nie maar deur God?
    Wanneer iemand emosioneel uitgetart, beskinder word deur leuens vir ander vertel en ander te manipuleer om in opstand te kom net om iemand in ’n slegte lig te stel vir geen rede behalwe jaloesie nie. Wat moet die persoon doen. Draai ek ook net die ander wang en bly glo dat God die werk sal doen terug aan wat hy glo hul verdien? Want in die 1 vers sê God ’n oog vir ’n oog ens, maar die ander sê hy draai die ander wang. Wat is die regte manier om op te tree volgens God se wil? Soos ek voel wil ek wat 24uur uitgetart word (nie deur vlees nie maar deur gees) net niks sê nie maar dan hou dit ook nie op nie. Sê iets dan is dit petrol op die vuur en daar is nie net een nie (watookal mens dit noem). Ek voel dis ’n demoniese manier wat Satan aan mens gee om ander uit te tart en die slegste uit mens te lok op ’n geestelike manier dat dit in jou gemoed en emosies sleg gaan. Hoe bly ek weg en het genoeg selfbeheersing om dit te weerstaan. Vertrou ek net dat God sit sal uitsorteer of wat kan ek nog doen? Dit gaan al vir die laaste 12 jaar so aan. In my geestes lewe het God my nog net heeltyd gehelp waarvoor ek dankbaar is. Ek is so geseend met n goeie familie ’n gelukkige huwelik en ’n dogtertjie. Ek is dankbaar vir alles in my lewe. Maar die getart en gekla en rusie en haat en woede wat ek elke dag hoor in my van ander se jaloesie, negatiwityd hou net nie op nie. Ek weet die Here is naby en hy help daagliks en ek weet Hy het ’n plan. Maak ek vrede met die belaglike kommentaar of is daar iets wat hul vir altyd sal stop. Hul sê die vreeslikste goed van God en maak ’n bespotting van als en almal wat na Hom toe draai. Als gaan oor “hulleself”. Hulle het geen beheer nie, sien geen groter krag buite hul eie nie en voel absoluut niks vir mens, kind, huwelik of medemens nie. Asb gee my raad.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui