André Bartlett, doen selfondersoek

Ek voeg my stem by Hoffie Hofmeyr. In Openbare regstelling soos vereis deur ondersoekliggaam van die Ring van Johannesburg maak André Bartlett sogenaamd verskoning, maar ten spyte van die feit dat hy skuldig bevind is aan leuens, kom niks daarvan na vore in sy verskoning nie.

‘n Mens het meer verwag…

********

André Bartlett, doen selfondersoek | Netwerk24

Deur Prof. Hoffie Hofmeyr, Emeritus, Universiteit Van Pretoria

30 Junie 2021

André, hoewel ons nie naby-vriende is nie, ken ek jou in verskillende verbande en veral jou skoonfamilie taamlik goed, selfs uit die 1960’s. Ek ken ook die meeste van die rolspelers in die onlangse kerklike ondersoeke na jou uitsprake en rol gedurende die laaste jare taamlik goed.

Ek gaan nie hier standpunt inneem oor die gay-kwessie of met jou in ’n twisgesprek betrokke raak nie, maar bloot in groot opregtheid by jou as my broer in Christus vir die volgende pleit:

Hoewel jy aan slegs een van die vyf klagte in ’n hopelik liefdevolle kerklike ondersoek (want dit is wat ’n korrekte benadering tot kerklike ondersoeke behoort te wees) skuldig bevind is, aanvaar dat dit wel op die ernstigste van die klagte is, naamlik dat jy valse getuienis oftewel ’n leuen versprei het. Jy is op hierdie ernstigste klag ook aan al die subklagte skuldig bevind.

Probeer om nie hierdie skuldigbevinding te onderskat soos wat jy in die pas verskene Rapport-onderhoud probeer doen het nie. Aanvaar dat in hierdie waarskynlik baie deeglike ondersoek vanweë die sensitiwiteit daarvan, die klagte bo alle twyfel bewys is.

Jy is, soos dit hoort, in die kerklike ondersoek-vergadering en ook deur die toesigliggaam oor jou, naamlik jou ring, in liefde oor jou woorde en dade aangespreek.

Aanvaar dat jy skade berokken het aan baie sake: aan die Koninkryk, aan die kerk van Christus, aan die NG Kerk en veral die Hoëveld-Sinode, waarvan jy voorsitter is. Selfs ook aan die gay-saak, waarvoor jy jou beywer, en les bes aan die fakulteit teologie van die Universiteit van Pretoria waar jy as predikant verantwoordelik vir bedieningsontwikkeling betrokke is.

Eintlik hoef ek die volgende nie vir jou uit te stippel nie, maar ek herinner jou maar net aan die praktiese implikasies:

  • Dat jy, as jy dit nog nie vroeër gedoen het nie, tot ernstige selfondersoek sal kom;
  • Dat jy om vergifnis sal pleit by veral dr. Chris van Wyk, aan wie se person, maar ook as kerkleier en moderator in die Oos-Kaap en as lid van die algemene sinode se moderamen, jy baie groot skade berokken het met baie bewerings, ook dat hy met haatspraak besig is;
  • Dat jy met hom tot versoening sal kom; ) Dat jy sal toesien dat die klag wat by die Menseregtekommissie moontlik deur jou toedoen aanhangig gemaak is, teruggetrek sal word; en
  • Dat jy en jou geesgenote die pad van ernstige regstelling sal loop deur miskien met minder voortvarendheid jul roeping te vervul.

My hoop en gebed is dat hierdie tragiese verhaal en pynlike lesse uit die onlangse geskiedenis van die NGK deur jou, deur die kerkleiding en deur die breë kerk met baie groot erns bejeën sal word, maar ook ná opregte en selfs openbare versoening spoedig begrawe sal word. En dat die Koninkryk wat baie seergekry het, opnuut gedien sal word.

2 thoughts on “André Bartlett, doen selfondersoek”

  1. Hoffie Hofmeyer maak die aanname, reg aan die begin, dat hy nie naastenby n vriend is van Andre Bartlett nie, maar tog noem hy hom, “my broer in Christus”. Dit is hierdie vreemde diskrepansie in aanspreekvorm tussen veronderstelde gelowiges, wat n vraag na vore roep of die Nuwe Testament in sy versoenende Christus-liefde, werklik vriendskap uitsluit by n omvattende agape-liefde? ‘Filos'(vriendskap)-liefde, sonder agape-liefde, is bloot wêreldse liefde. Maar onderlike broederlike liefde is tog vervleg in die liefde van n Vader-seun-broederverhouding. Verbondsliefde sluit tog vriendskap in.

    Is Andre Bartlett as LGBTQ+-voorstander werklik n vriend en broeder in Christus vir dolerende lidmate wat homoseksualiteit as in stryd beskou met die bybel? Kan ons dwalendes en valses opneem in die kerk se koinonia en hulle broeders noem? Van hulle moet ons juis wegbly en nie deel aan hulle kry nie. (Rom. 16:17,18; Efes. 5:6,7) Maar hoe spreek ons hulle aan?

    1. Pieter, ek stem 100% saam met jou. Indien jy besig is om ‘n Matteus 18-pad met iemand te stap, kan jy dalk nog van “broer” praat, maar Bartlett het reeds sy besluit oor LGBTQIA gemaak. Dan is hy nie meer jou “broer” nie.

      Soms dink ek dat ons as Christene die beginsel om “in liefde tereg te wys” te ver neem. Jesus self het gereeld op ‘n punt gekom waar Hy nie meer “in liefde” tereg gewys het nie. Kyk Jesus se “liefdelose” uitsprake en dade.

      In ‘n ander brief noem Hoffie vir Julian Müller oor broer. Kyk Broer Julian moet dalk maar soos Flip maak.

      Hoffie is ‘n saggeaarde mens. Ek dink dit is vir hom moeilik om streng op te tree.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui