Openbare regstelling soos vereis deur ondersoekliggaam van die Ring van Johannesburg

Let daarop dat hy skuldig bevind is aan oortreding van die negende gebod: jy mag nie valse getuienis lewer nie (kyk André Bartlett-verhoor: Regstellende optrede geëis). Niks daarvan kom egter hieruit na vore nie.

*********

Openbare regstelling soos vereis deur ondersoekliggaam van die Ring van Johannesburg | Kerkbode

30 Junie 2021

André Bartlett skryf:

Op 23 September 2018 het ek in die Sondagkoerant Rapport kritiese kommentaar gelewer op bepaalde uitsprake van dr Chris van Wyk wat op daardie stadium ’n moderatuurslid van die Algemene Sinode van die NG Kerk was. My kommentaar was gerig op die volgende:

  • die kwetsende verband wat dr Van Wyk in genoemde koerantberig na my oordeel tussen homoseksualiteit, pedofilie en bestialiteit gelê het, en
  • die wyse waarop ds Nelis Janse van Rensburg deur dr Van Wyk beskuldig is dat sy standpunt oor selfdegeslagverbintenisse die Skrif en belydenisskrifte in gedrang bring.

Hierdie uitsprake het my ontstel omdat dit na my mening kwetsend van aard was en bydra tot die belewing van gay mense dat hulle menswaardigheid nie in ag geneem word wanneer daar oor hulle gepraat word nie.

Ek het onder andere gesê dat sy uitsprake oor gay-wees en pedofilie neerkom op haatspraak, dat hy besig is met guerrilla-oorlogvoering op sosiale media en dat hy die posisie van ds Janse van Rensburg en die res van die kerkleiding ondermyn. Ek het ook die mening uitgespreek dat daar teen hom opgetree behoort te word.

Ek is onder andere oor hierdie uitsprake van my in die betrokke koerantberig aangekla en die saak is hanteer deur ’n ondersoekliggaam wat namens die Ring van Johannesburg opgetree het.

Alhoewel my kommentaar saaklik bedoel was, het die ondersoekliggaam wat die klagtes teen my hanteer het, bevind dat dit gesien kan word as gerig teen die persoon en tot benadeling van dr Chris van Wyk.

Ek respekteer die bevinding van die ondersoekliggaam en vra in die lig daarvan verskoning vir enige pyn en benadeling wat dr Van Wyk en sy gesin as gevolg hiervan gely het. Ek wil hom verseker van my bedoeling om op saaklike en respekvolle wyse met hom in gesprek te wees en om my te weerhou van enige taalgebruik wat die indruk wek dat ek sy persoon en waardigheid wil aantas.

Waarvoor ek nie verskoning vra nie, is dat ek my uitgespreek het en ook steeds uitspreek teen enige woorde en dade wat die waardigheid van mense aantas of hulle op een of ander wyse krenk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui