Johann Ernst: Reaksie op verhoor

***********

Johann Ernst: Reaksie op verhoor | Kerkbode

30 Junie 2021

Dr Johann H Ernst skryf op 27 Junie 2021:

Dr André Bartlett is skuldig bevind aan die oortreding van die 9de gebod, naamlik “jy mag geen valse getuienis teen jou naaste gee nie”. Al vyf die aanklagte het om dieselfde beweerde oortreding gehandel en daarom is die aantal aanklagte wat ingedien is van geen belang vir die uitkoms van hierdie ondersoek nie. Dat dr Bartlett nie aan die ander aanklagte skuldig bevind is nie, maak hom nie minder skuldig aan die oortreding van die 9de gebod nie. ’n Skuldigbevinding op een van die aanklagte is daarom ook genoeg om nie verdere aksie teen die bevindinge van die tugliggaam te neem nie. Dit kon goedskiks die enigste aanklag wees wat ingedien is, en dan was die uitslag presies dieselfde: skuldig aan die gee van valse getuienis teen die naaste.

In veral die openbare pers word hard probeer om die erns van hierdie oortreding in dié verband te onderspeel. Tog ís dr Bartlett skuldig aan die oortreding van die 9de gebod, ís hy daaroor getug en wórd daar regstellende optrede van hom vereis.

Dr Bartlett is nie tereggewys nie, maar hy is ’n amptelike tugmaatreël opgelê, naamlik bestraffing. Dit is hartseer dat ’n lid van die Algemene Sinodale Moderamen, moderator van ’n sinode, kerklike dosent by ’n universiteit en predikant van ’n gemeente deur ’n tugliggaam vir die oortreding van die 9de gebod bestraf word en dít oor wat hy ’n persoon wat ’n soortgelyke posisie beklee het met opset in die openbaar aangedoen het. Ongelukkig bly die toepassing van die tugmaatreël nou teenoor sy naam staan en word sy kerkraad, ring, sinode se regskommissie en die Algemene Taakspan Predikantesake daarvan in kennis gestel.

Dit is van belang om te weet wat die aanklag behels waaraan dr Bartlett skuldig bevind is. Dié aanklag lees: Dat die aangeklaagde hom in die openbaar en op ergerlike wyse skuldig gemaak het aan die oortreding van die negende gebod deur op 23 September 2018 in die Sondagkoerant Rapport tot oneer, belastering en veroordeling van dr Chris van Wyk te sê:

  • dat dr Van Wyk met guerrilla-oorlogvoering op sosiale media besig is;
  • dat dr Van Wyk niks amptelik doen nie, maar verdeeldheid saai met inskrywings op sy persoonlike Facebook-blad;
  • dat dr Van Wyk vir ds Janse van Rensburg en die res van die kerk se leierskap, waarvan dr Van Wyk self deel is, ondermyn;
  • dat dr Van Wyk se standpunt oor gay-wees en pedofilie neerkom op haatspraak;
  • dat dr Van Wyk met handskoene hanteer word en dat die kerk versuim om haar van sulke uitsprake te distansieer; en
  • dat iemand dr Van Wyk behoort aan te gee daaroor, maar dat dit lyk of niemand die moed het om teen hom op te staan nie.

Die tugliggaam het uitspraak ten opsigte van elk van hierdie valse uitlatings van dr Bartlett gegee en hom op elkeen (al 6) afsonderlik skuldig bevind en afsonderlik getug.

Dr Bartlett is tot die einde van 2021 gegee om die skade wat hy dr Chris van Wyk se goeie naam (fama) aangedoen het, te herstel. Daaroor moet ook terugvoering aan die Ring van Johannesburg gegee word. Uiteraard kan daar ’n verdere aanklag dien en ’n opvolgende tugmaatreël toegepas word as berou, bekering en herstel uitbly.

Daar sal tevredenheid wees as die verhouding met en die goeie naam van dr Chris van Wyk in kerklike geledere én in die openbaar deur dr Bartlett in ere herstel is. Dank aan die lede van die tugliggaam vir die moeisame hantering van die saak.

1 thought on “Johann Ernst: Reaksie op verhoor”

  1. Jer 5:30  “An appalling and horrible thing has happened in the land. 
    Jer 5:31  “The prophets prophesy falsely, the priests rule by their own authority, and my people love it this way. But what will you do in the end? 
    Jer 6:16  This is what the LORD says: “Stand beside the roads and watch. Ask for the ancient paths, where the good way is. Walk in it and find rest for yourselves. But they said, ‘We won’t walk in it!’ 
    Jer 6:17  I appointed watchmen over you. Listen for the sound of the trumpet. But they said, ‘We won’t listen!’ 
    Jer 6:18  Therefore, hear, nations, and know, congregation, what will happen to them. 
    Jer 6:19  Listen, earth! I’m about to bring calamity on this people, on the fruit of their plans, because they didn’t listen to my words and they rejected my instruction. Jer 7:23  but I did give them this command: Obey me and I’ll be your God, and you will be my people. Walk in all the ways that I command you so it will go well for you. 
    Jer 7:24  But they didn’t listen, nor did they pay attention. They pursued their own plans, stubbornly following their own evil desires. They went backward and not forward. 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui