Sinode wil wegbreek van NG Kerk

Sinode wil wegbreek van NG Kerk | Die Burger

2007-05-03

Neels Jackson

JOHANNESBURG. – Die NG Kerk van Noord-Kaapland gaan aanstaande week op ’n buitengewone sinodesitting besin oor onder meer die moontlikheid dat hy sy bande met die NG Kerk se algemene sinode verbreek.

Dié gedagte spruit voort uit kommer in die Noord-Kaapse sinodale gebied dat die algemene sinode al hoe meer mag sentraliseer en daardeur die Bybelse beginsels vir kerkregering in gedrang bring.

Die sinodale kerkordekommissie (SKOK), wat die buitengewone sinode aangevra het, het sy kommer hieroor in ’n skrywe aan die Noord-Kaapse gemeentes uiteengesit en om kommentaar gevra.

Die reaksie was uiteenlopend.

Die kerkraad van Mafikeng versoek die Noord-Kaapse sinode byvoorbeeld om nie oorhaastig te wees met ’n besluit om uit die verband te tree nie, maar ander maniere te soek om sake te hanteer wat kommer wek.

Om uit die verband van die algemene sinode te tree, sal volgens Mafikeng die indruk wek van kerkskeuring.

Hierteenoor stel die kerkraad van die gemeente Kimberley voor dat die Noord-Kaapse sinode “met groot hartseer” uit die algemene sinodale verband tree en ’n federale verband tussen Gereformeerde kerke probeer vestig.

Een van die kwessies waaroor SKOK bekommerd is, is dat die algemene sinode ’n moderator en ander ampsdraers verkies wat tussen sinodes soos ’n uitvoerende komitee optree.

SKOK meen sinodale ampsdraers vervul slegs ’n funksie tydens die sitting van ’n sinode. Dit verval as die sinodesitting afsluit. Hulle is nie leiers nie, maar dienaars.

Daarby sien SKOK ’n voorgestelde A-Z- handleiding vir predikante as ’n manier waarop funksies wat by kerkrade hoort, soos om ’n predikant te orden, weggeneem word na ’n gesentraliseerde sinodale instelling.

Dieselfde gebeur met ’n voorgestelde stelsel van tribunale wat klagtes teen predikante moet hanteer. Pleks dat ouderlinge en predikante van ’n plaaslike ring dit hanteer, word dit dan deur ’n sinodale tribunaal gedoen.

Die kommissie voer aan dat Christus self sy kerk deur sy Woord regeer. Dis die enigste gesag wat geld in vergaderings van kerkrade, ringe en sinodes.

Instellings soos tribunale herinner aan hiërargiese stelsels waar biskoppe of die pous gesag dra. Hieroor sê SKOK dat die Bybel nie so ’n hiërargiese model van kerkregering ken nie.

Hoewel SKOK voorstel dat die A-Z- handleiding en die gedagte van kerklike tribunale verwerp word, stel die kommissie nie self voor dat die Noord-Kaapse sinode sy bande met die algemene sinode opsê nie. Die Noord-Kaapse sinode vergader van Maandag tot Woensdag in Kimberley.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui