‘Vrou is ook metafoor vir God’

Vir agtergrond op hierdie artikel, kyk Opsomming: God is vrou, “Heilige prisma” tydens legitimasiediens op 29 Maart 2021.

***********

‘Vrou is ook metafoor vir God’ | Netwerk24

Deur Johan Eybers

18 April 2021

’n Vrouepredikant se verwysing na God drie-enig as “haar of hom of hoe ook al jy dit sien” en nog ’n vrouepredikant se verwysing na God as ’n “heilige prisma”, het ’n twis oor afgodery, verdagmakery en seksisme in die NG Kerk ontketen.

Nou is die duiwel behoorlik los onder dominees oor of ds. Melanie Thirion, ’n leraar van die NG kerk Kenridge in Kaapstad ’n “gender-afgod” en dr. Jana van den Munck­hof, ’n leraar van die Toringkerk in die Paarl, ’n “prisma-afgod” verkondig.

Albei dié predikante word van afgodery beskuldig nadat hulle twee weke gelede by ’n legitimasie-geleentheid van NG Kerk-studente in Stellenbosch nie na God as manlik verwys het nie.

Thirion het by die geleentheid oor Jesus se Bergpredikasie gepreek en het verwys na Mattheus 5:13 waar Jesus gesê het diegene wat hom volg, is die sout van die aarde.

“Hoor vanaand opnuut julle is die sout,” het Thirion gesê. “Hoor ook dan vanaand dat God drie-enig haar verbond bevestig, of hom – hoe ook al jy dit sien.

Van den Munckhof het by dieselfde geleentheid in haar gebed ’n gedig deur Rosa Smit aangehaal waarin sy na God as heilige prisma verwys het.

Hul uitsprake is in ’n video op sosiale media rondgestuur en het ’n herrie onder predikante ontketen.

Ds. Stefaan de Jager, oudleraar van die NG kerk Humansdorp-Oos, het op Facebook hieroor te velde getrek.

“God is nie ’n ‘haar’ nie, maar ’n ‘Hy’,” het hy oor Thirion se stelling gesê. “Ons bely immers saam met die kerk deur die eeue heen, ‘ek glo in God die Vader, die Almagtige’ en nie in God die moeder nie.”

“Ds. Thirion is – hopelik onbewus – besig om ’n gender-afgod te verkondig en nie die God en Vader van ons Here Jesus Christus nie.”

Hy het Van den Munckhof gekritiseer dat sy na ’n “afwykende gebed” deur Smit verwys het “wat waarskynlik sy wortels in die Hindoeïsme het”.

“Dr. Van den Munckhof is – hopelik onbewus – besig om die nuwe leraars aan ’n prisma-afgod op te dra.”

Talle mense het gesê hulle stem saam met De Jager.

Ds. Rheinier Nel van die NG kerk in Barkly-Oos in die Oos-Kaap het op sy Facebook-blad gesê hy het die legitimasie bygewoon. Hy sê die geleentheid is deur Thirion en Van den Munck­hof verdof wat “gewraakte woorde” gebruik en “ ’n vreemde ‘heilige prismagod’ aangeroep het”.

“Dit is duidelik hulle het die geleentheid gekaap vir hul feministies-ideologiese agenda.”

Verskeie kollegas onder wie dr. Frederick Marais, skriba van die NG Kerk se kuratorium (wat oor studente se opleiding toesig hou), het egter vir die vroue in die bresse getree.

Ds. Riaan de Villiers, leraar van die NG gemeente Groote Kerk in Kaapstad, het op die Facebook-blad Predikante Kollegas gesê diegene wat die predikantsvroue kritiseer, “dink God is ’n man maar eintlik dink hulle die man is god”.

“In die konteks van geslagsgeweld, onderdrukking en mishandeling van vroue moet hierdie spannetjie nou mooi en duidelik hoor en weet . . . die patriargie se tyd is verby.”

De Jager het sy kritiek op die vrouepredikante Vrydag verwyder op aandrang van die kuratorium, sinode van Wes-Kaapland. Dit was ’n week op Facebook.

Die sinode het De Jager in ’n skerp bewoorde verklaring daarvan beskuldig dat sy inskrywing getuig van liefdeloosheid en selfs grens aan haatspraak, verdagmaking en valse getuienis. “Ds. De Jager beskuldig die twee leraars wat in die diens opgetree het herhaaldelik van ‘afgodery’. So ’n beskuldiging is van die ergste aanklagte wat leraars of lidmate teenoor mekaar kan maak.

“Die dagbestuur betreur dit dat ’n leraar van die kerk ’n beskuldiging van hierdie aard publiek maak sonder om enige poging aan te wend om die konteks of bedoeling agter woorde en stellings te verstaan. Dit is ’n duidelike afwyking van die goedgekeurde gedragskode van die kerk,” lui die verklaring.

“Voorts word die beskuldiging van ‘afgodery’ gemaak omdat daar in die preek gesê is God kan ‘manlik of vroulik’ wees en in ’n gebed die metafoor van ’n prisma gebruik is in ’n verwysing na God.

“Ds. De Jager koppel die metafoor van die prisma aan Hindoeïsme. Die Bybel praat oor God in ’n manlike én ’n vroulike vorm. Dit is ook bekend dat deur die geskiedenis van die kerk dikwels na God verwys word met vroulike of manlike eienskappe.

“Dit is verder so dat ons nie oor God kan praat sonder om metafore te gebruik nie en dat die kerk nog altyd ook met behulp van eietydse metafore die Bybelse verhaal van God beskryf het. Die dagbestuur is van oordeel dat die beskuldigings van ds. De Jager ongegrond, kwaadwillig en verdagmakend is.”

De Jager sê hy besef dat hy die saak anders kon hanteer. Hy sê sy bedoeling was nie om Thirion en Van den Munckhof verdag te maak of hulle te verneder nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui