Vier pilare van Skrifbeskouing

Kyk ook:

In hierdie tyd gaan ons paaie in die NG Kerk uitmekaar oor verskille in Skrifbeskouing.

Daar is vier aspekte van die Skrif wat ononderhandelbaar is. Oordink dit en toets alles wat jy geleer word hieraan dan sal dit baie makliker gaan om die kaf van die koring te skei.

1. Genesis 1-11

Genesis 1-11 moet saam met die ander historiese gedeeltes van die Bybel gelees word as werklike, betroubare en dateerbare geskiedenis. Die skrywers van die Bybel en die Heilige Gees het dit so bedoel en moet as sulks gerespekteer word. Genesis 1-11 lê die fondamente vir die Christelike verlossingsboodskap en ’n Bybelse wêreldbeeld. Dit het groot implikasies vir die geloof van die kerk as die begin van die Bybel as ondateerbaar en mities vertolk word.

2. Die profete

Die profete het onder die leiding van die Heilige Gees geprofeteer aangaande die Christus wat sou kom en aangaande die eindtye. Hulle het self nie die volle implikasies van hulle profesieë verstaan nie, maar hulle was getrou aan wat die Gees vir hulle ingegee het om te verkondig (1 Pet 1:10-12). Hierdie uitkyk is die sleutel vir die verstaan van en prediking uit die Psalms en die Profete (Luk 24:44-45).

3. Die wetgewing

Die wetgewing in die Ou Testament (OT) moet verstaan word as ’n voorbereiding vir die komende Versoening van Christus. Die wetgewing aangaande die offerandes in die OT help ons om die offer van Christus beter te verstaan. Die morele wette moet verstaan word as ’n uitdrukking van God se wil aangaande ’n heilige lewe en het betekenis ook vir die Nuwe Testament (Mat 5:17,18).

4. Die “leer van die apostels”

Die “leer van die apostels” (Hand 2:42) soos vir ons nagelaat in die Briewe is hermeneuties vir ons net so geldig soos vir die eerste gemeentes aan wie dit gerig is. Ons moet die apostels steeds respekteer as “pilare” (Gal 2:9) deur God gegee om ons in die nuwe bedeling in te lei. Die kerk word vergelyk met ’n gebou van God, waarvan die apostels en die profete die fondament uitmaak en Jesus Christus die hoeksteen is (Ef 2:20).

*********

Hierdie vier punte is pilare van ons Skrifbeskouing en dit is juis hierdie pilare wat afvallige leraars probeer omstoot. Ons moet dit nie toelaat nie.

1 thought on “Vier pilare van Skrifbeskouing”

  1. Dankie, Jan. Bly jy hou nog vas aan die Heilige Skrif as God se eie Selfopenbaring, sodat die mens Hom kan ken. Anders het ons nou nog Dagon vereer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui