Gemeente besluit om struktureel een te word met VGK

Dit bly interessant dat daar mense is wat so ’n beheptheid met kerkeenheid het. Verder wonder ’n mens hoe kerkordelike wettig so ’n skuif is. Mag ’n gemeente van die NG Kerk struktureel een word met ’n gemeente van ’n ander denominasie wat ’n ander belydenis het?

*******

Gemeente besluit om struktureel een te word met VGK | Kerkbode

Kerkbode

28 Januarie 2020

Ds Johann Theron van Kraaifontein skryf: Die NG Gemeente Kraaifontein Noord het op 25 November 2019 so besluit: In getrouheid aan die Woord – Christus en ons belydenis besluit die kerkraad om struktureel een te word met die Verenigende Gereformeerde Kerk.

Hiermee word gepoog om ’n bykans 160-jarige sonde wat die hart van die NG Kerk en ons land siek maak, te genees. By die Sinode van 1857 het die NG kerk besluit dat ten spyte van die Skriftuurlikheid dat bekeerlinge in die NG Kerk se gemeentes opgeneem word daar, “ten gevolge van die zwakheid van sommigen” gekleurdes in ’n afsonderlike gebou kerk sou kon hou. Enkele jare later is die NG Sendingkerk vir hierdie lidmate van die NG kerk gestig wat tans in die vorm van die Verenigende Gereformeerde Kerk bestaan. Slegs op grond van ras is ’n tweede struktuur deur die NG Kerk gestig. Ons was een – nou is ons apart. Hierdeur het die NG kerk sy hart en daarmee die liggaam van Christus in twee geskeur en die kerk en die land bloei steeds. Met die belydenis van Belhar in 1986 het die NG Sendingkerk gesê dat ons eintlik een moet wees volgens die Woord. Die Wes-Kaap Sinode het ten spyte van die driedubbele onderskrywing van die Skriftuurlikheid van Belhar nog nie hierdie sondige struktuur verander nie. Die rede hiervoor is dat die mense (en ander Sinodes) nie wil nie – dieselfde rede wat in 1857 gegeld het. Die NG Kerk het ons eie verbondsvrou uit die huis gestamp soos die Leviet sy byvrou in Rigters 19, want hy is bang vir sy eie verbondsbroeders wat aan die deur hamer. So hou ons steeds fees in die NG kerk – terwyl ons eie vrou buite verrinneweer word. Kraaifontein-Noord gemeente het besluit om die deur oop te maak.

  • Hierdie brief se opskrif is ná publikasie ter wille van duidelikheid aangepas. – Red. 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui