Kerkgroep wil nou eie sinode stig

Kerkgroep wil nou eie sinode stig | Netwerk24

Deur Arisa Janse van Rensburg

28 Julie 2021

Behoudende lidmate van die NG Kerk, wat onder die Kairos Netwerk (KN) groepeer, vra nou vir ’n afsonderlike sinode in die kerkverband.

Pieter Breytenbach en ds. Norma Rossouw, albei lede van die KN, sê hulle wil die gesprekke rondom die proses teen die einde van die jaar afgehandel hê en beoog om teen volgende jaar ’n werkbare nuwe sinode op die been te bring.

Volgens Rossouw sal die sinode sy “eie beleid en kerkorde” hê, en die “reformasie” om dit te weeg te bring is tans aan die gang.

Dr. Dewyk Ungerer, aktuarius van die algemene sinode van die NG Kerk, sê kerkregtelik is dit vir die groep moontlik om ’n afsonderlike sinode te stig, maar geen aansoek of versoek is nog ontvang nie.

“Gesprekke is wel aan die gang,” sê Ungerer.

Die KN het ontstaan ná ’n beraad verlede jaar waarop behoudende lidmate byeengekom het om die “pad vorentoe” in die NG Kerk te bespreek.

Hulle is hoofsaaklik ontevrede oor die Kerk se besluit in 2019 om ruimte vir selfdegeslaghuwelike te skep.

Volgens Rossouw is dit egter meer as ’n debat oor gays en meen die groep die algemene sinode is nie meer getrou aan die beloftes wat ’n predikant maak wanneer hy of sy gelegitimeer word nie.

“Dit voel of die NG Kerk twee evangelies verkondig en dit maak die lidmate deurmekaar. Ons lees die Bybel en verstaan dit ons hele lewe lank al so. En nou verander dinge net,” sê Rossouw en voeg by hulle wil “terugkeer na hoe die kerk eers was”.

Ds. Theo Danzfuss, ook ’n lid van die KN, het op ’n vraag oor waarom hulle steeds aan die NG Kerk wil behoort, geantwoord dat die “inbreker moet loop uit die kerk uit en nie die inwoner nie”.

Danzfuss meen dit is eerder die meer liberale groepering in die NG Kerk “met hul liberale of vrysinnige hantering van die Bybel” wat as die inbrekers beskou word.

Hy benadruk dat die algemene sinode “ruimte laat vir dwaalleringe en nie noodwendig die dwaalleringe self verkondig nie”.

Prof. Nelus Niemandt, rektor van die Hugenote Kollege in Wellington en voormalige moderator van die NG Kerk, sê die ruimte is juis ’n goeie ding.

“Die NG Kerk het ’n ruim huis. Daar is baie menings en diversiteit. Ek dink nie om ’n ander sinode te stig sal help nie, maar wel ’n struktuur waardeur die mense kan voel daar word na hulle geluister. Dit is eintlik maar wat Kairos nou is,” sê hy.

Volgens Niemandt is die NG Kerk nou midde in verandering “en dit is natuurlik dat daar baie stemme gaan wees”. Dit was ook so in die tyd van die oorspronklike reformasie toe die Protestante meer as 500 jaar gelede van die Rooms-Katolieke Kerk weggebreek het.

Niemandt benadruk egter dat ’n groter krisis nou ophande is, naamlik die effek van Covid-19.

“Trauma is in die hart van die Kerk en die Kerk moet troos bring. Baie lidmate deel die sentiment en wil hulle nie nou met harde gesprekke oor reformasie besig hou nie,” sê Niemandt.

Nelis Janse van Rensburg, moderator van die AS, sê die Kerk se regskomitee hanteer tans die gesprekke met Kairos.

Hy wou nie kommentaar lewer oor ander bewerings teen die algemene sinode nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui