Fokus op Algemene Sinode | Oor verslae, afgevaardigdes, misverstande en vreugde

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

Fokus op Algemene Sinode | Oor verslae, afgevaardigdes, misverstande en vreugde | Kerkbode

Deur Le Roux Schoeman

28 September 2023

Ds Maartje van der Westhuizen is ’n predikant by NG Elarduspark (Oostelike Sinode) en lid van die Algemene Sinode Moderamen (ASM). In aanloop tot die 18de sitting van die NG Kerk se Algemene Sinode het Kerkbode haar gevra …

Kerkbode (KB): Is dit moontlik om ’n sinodesitting bietjie te demistifiseer en in eenvoudige terme te sê: Wat is die groot uitkomste waarop lesers wat dit van elders in die land via Kerkbode en ander media volg, moet let?

Maartje van der Westhuizen (MvdW): ’n Sinode is net gewone dominees en kerkraadslede wat bymekaarkom uit al die dele van Suid-Afrika en Namibië wat praat oor alles wat in die NG Kerk gebeur en oor belangrike kwessies van die dag.

Die oorhoofse tema van hierdie jaar se vergadering is: “Gaan voor ons uit, Here.” Ons begin Sondagaand deur saam te lees uit Eksodus 33:12-23 en gaan elke dag by verskillende aspekte van die teks stilstaan afhangende van ons dagtema.

Die dagtemas lyk soos volg: Maandag gesels ons oor wie God is, Dinsdag kyk ons na hoe die konteks van ons land lyk, Woensdag praat ons oor die kerk, Donderdag praat ons oor hoop en Vrydag sluit ons af met die tema: “Laat ander u teenwoordigheid by ons sien, Here.”

Ander sake waaroor ons praat is dinge soos hoe bedien ons ons jeug, hoe vertel ons vir ander mense van Jesus, hoe lei ons predikante op, hoe lyk ons verhoudings met ander kerke en wat sê die navorsing.

Ek hoop dat iets van die onderskeidingsproses van elke dag oor elke tema sal deursyfer tot by elke leser regoor die land.

In die video hierbo bied die dagbestuur van die Algemene Sinode agtergrondinligting tot die 18de sitting van dié vergadering wat van 15 tot 20 Oktober in Boksburg plaasvind. Hou Kerkbode dop vir beriggewing oor dié sinode by www.kerkbode.co.za of via die Kerkbode-toepassing by https://play.google.com/store/apps/details?id=za.co.christians.kerkbode | Video: Tegniese vervaardiging: Bybel-Media.

(KB) Is dit redelik om te sê daar is ’n doelbewuste (in terme van beplanning) skuif weg van debat-styl-sinodes wat oorheers word deur individuele, sterk bydraes, na ’n gespreksmatige benadering waar daar keer op keer in kleingroepverband oor goed gesels word en dan prosesmatig hoop om daardie inligting na die oppervlak te bring? Indien nie, hoe sou ’n mens beter kon beskryf hoe die vyf dae ontwerp / ingerig word?

MvdW: In 2004, in Hartenbos was die vergadering van die Algemene Sinode die eerste keer so ingerig dat mense om tafels gesit het, anders as in lang rye wat na die verhoog toe kyk. Hierdie nuwe inrigting van die lokaal het meer gesprek tussen die sinodegangers gestimuleer.

Van daar af is die vergadering nog altyd so ingerig en in ons beplanning word daar baie tyd ingerig vir sinodegangers om saam om die tafels te gesels oor die verskillende agendepunte, maar ook om saam Bybel te lees en te bid. Dit maak dat die vergadering nie net deur ’n paar individue op die vloer gevoer word nie, maar daar is meer mense wat deelneem.

Dit is baie intimiderend om in so ’n vergadering by ’n mikrofoon te gaan praat en jou opinie te gee. Die meeste mense in die vergadering sien nie daarvoor kans nie. Met die tafelgesprekke kry almal ’n kans om te gesels en saam te onderskei oor verskillende sake op die agenda. Hierdie jaar is daar ook meer prosesse in plek gesit om die terugvoer van die tafels af na die groter vergadering toe te bring.

KB: Is daar aspekte van hierdie soort byeenkoms wat jy dink soms misverstaan word? Hoe sou jy wou konteks gee of, in verbruikerstaal, verwagtinge bestuur?

MvdW: ’n Mens moet in gedagte hou dat dit ’n baie groot vergadering is wat bestaan uit 370 afgevaardigdes vanuit die hele Suid-Afrika en Namibië. Hierdie mense kom uit verskillende kontekste en het verskillende verwagtinge van die vergadering afhangende van hulle eie raamwerk. Net die helfte is predikante en dan is daar nog verskille in geslag en ouderdom. Met so ’n klomp mense loop ’n mens altyd die risiko dat daar misverstande kan wees.

Die agenda en die Kerkorde word die riglyn van hoe die vergadering bestuur word. Ek weet baie streeksinodes doen ook baie moeite om hulle afgevaardigdes voor die sinode deur die agenda te vat en vrae te beantwoord soos nodig.

KB: Die NG Kerk is kennelik gepolariseerd rondom selfdegeslagverbintenisse en die 2019-besluit. Jy was in gesprekke met verteenwoordigers van, byvoorbeeld, dolerende gemeentes. Aan hoeveel sulke gesprekke het jy deelgeneem en wat het jy geleer in die proses?

MvdW: Ek het met streeksinodes, ringe, gemeentes en ander groepe gesprekke gevoer, maar uit my verskillende hoedanighede as moderatuurslid, sinodale diensraadslid en as ringsvoorsitter en daarom is dit moeilik om ’n presiese getal van gesprekke daaraan te koppel.

Uit al die gesprekke op verskillende vlakke het ek ongelooflik baie geleer. Ek wil egter die twee belangrikste lesse noem:

  1. Dit is belangrik om te onthou dat die mense met wie jy in ’n gesprek is, maak nie saak aan watter kant hulle van watter debat is nie, ook mense is. Hulle is mense wat lief is vir die Here en wat ernstig is oor hulle geloof in God. In baie van die gesprekke het ek beleef dat mense mekaar reduseer tot hulle standpunte oor die selfdegeslagdebat en dan vergeet dat die ander persoon ’n medegelowige is. Tog was daar ook soveel mooi oomblikke waar mense mekaar kon vind, saam bid, Bybel lees en waar verhoudings sterker geword het.
  2. Almal van ons wat aan hierdie moeilike gesprekke deelneem moet aanhou vashou aan die vrug van die Gees, waaroor Galasiërs 5:22-23 praat. Dát ons verskil is nie noodwendig die grootste uitdaging nie. Hoe ons met mekaar verskil kan ons grootste getuienis word.

KB: Gemeet in terme van stories waarop lesers by Kerkbode se webwerf kliek – ongeag hoeveel verskillende stories ons skryf en op die web laai – sien ’n mens oorweldigende belangstelling in die debat rondom die 2019-besluit. Hoe beïnvloed daardie groot belangstelling vanuit die breër kerk en samelewing die vergadering?

MvdW: Dit is ’n feit dat almal bewus is van die geweldige kompleksiteite en sensitiwiteit rondom hierdie totale gesprek. Dit was ook reeds so in 2019 en kom al ’n lang pad saam met die Algemene Sinodesittings. Ek is seker afgevaardiges is deeglik bewus hiervan en daarom is daar altyd ’n groot verantwoordelikheid om met wysheid en afhanklikheid aan enige gesprek deel te neem. Dit bly egter belangrik dat ons nie vergeet van al die ander belangrike sake wat op die Algemene Sinode se tafel is nie. Dit vertel die stories van wat in gemeentes aan die gang is, hoe die Here in en deur ons kerk werk – en ook wat die nood en behoefte in ons onderskeie lande is. Ek glo dat die pragtige stories wat Kerkbode tans gereeld publiseer oor lidmate en gemeentes se werk net soveel aandag kan trek.

KB: Daar sal by wyse van stemming ’n nuwe moderator verkies word, ná die twee termyne van ds Nelis Janse van Rensburg. Is dit tyd dat ’n vrou hierdie rol speel of in watter terme dink jy wanneer jy oor daardie rol dink?

MvdW: Wanneer dit kom by die verkiesing van nuwe leierskap is geslag en ouderdom nie so belangrik as die tipe leiers wat moet pas by wat die kerk nodig het nie. Dit is dus nodig om te onderskei waarheen die kerk op pad is en dan leiers te kies wat ons daarmee kan help.

Dit is dus die vergadering se verantwoordelikheid om met groot onderskeiding nuwe leierskap te kies.

KB: Daar is uiteenlopende verslae wat behandel sal word – amper meer vir kennisname. Maar waar in die agenda lê die kernbesluitnemingspunte, wanneer afgevaardigdes gaan moet inleun in die kompleksiteit van ’n verslag, na jou mening?

MvdW: Ek wil begin deur net te noem hoe die agenda van die Algemene Sinode saamgestel word. Die vorming van die agenda geskied vanuit die samestellende sinodes, die ASM en die permanente taakspanne van die Algemene Sinode. Elke vergadering word voorafgegaan deur ’n konsultasieproses met die streeksinodes om voorstelle en insette vir die vergadering te kry. Die ASM stel dan die agenda in ’n geloofsonderskeidende proses saam, na aanleiding van al hierdie insette en binne die raamwerk van Artikel 43.

In hierdie jaar se agenda en addendum wat saam meer as 800 bladsye is, word al die verslae saamgevat. Party verslae is vir besluitneming en ander net vir kennisname. Die vergadering bepaal egter hoe vinnig daar deur verslae gewerk word en waar daar stilgestaan word vir debat.

KB: Watter aspek van jou eie deelname op hierdie vlak van leierskap in die NG Kerk daag jou uit en gee jou vreugde, onderskeidelik?

MvdW: Die ding wat my die meeste uitgedaag het, is die vals nuus wat versprei word deur individue, groepe en ook deur sosiale media. Baie lidmate en in baie gevalle dominees, glo alles wat hulle hoor en op sosiale media lees, sonder om die werklike besluite na te gaan of hulle feite te toets. Ongelukkig is hierdie vals nuus nie iets waaroor ’n mens beheer het nie. ’n Klomp van ons gesprekke was eintlik net om die feite op die tafel te kry.

Die vreugde is gelukkig by verre meer as die uitdagings. Dit is lekker om te sien hoe taakspanne saamwerk om ’n verskil te maak in die breë kerk. Netwerke word gevorm, verhoudings word gebou en daar is in verskillende ruimtes saam onderskei wat God se roeping vir ons kerk is. Een van die lekkerste goed is om te sien hoe gemeentes, ringe en sinodes hande vat om mekaar te help.

Kommentaar

JOHN M MURRAY

29 September 2023 AT 07:52

Dis jammer om te hoor van die vals nuus. Hopelike sal dit deel van die sinode se agenda wees om daarop in te gaan. Sodoende kan die bron van die valsheid vir eens en vir altyd vasgestel word om dit dan uit die Kerk uit te suiwer.

1 thought on “Fokus op Algemene Sinode | Oor verslae, afgevaardigdes, misverstande en vreugde”

  1. Moontlik kan daar ‘n gedetaileerde analitiese oorsig gedoen word om die “Getuienis van Syfers en Tabelle” aan die VSA se Withuis en ANC en EFF in Suid- Afrika en die Demokratiese Party in die VSA te gee, wat dán soortgelyke “Getuienis van Syfers en Tabelle”, aan die “United Nations” kan gee as “Blue Print Example”, en wat dan ‘ n soortgelyke “Getuienis van Syfers en Tabelle” kan vra van die nasies se afgevaardigdes, om ‘n “🌍🌏🌎 analitiese oorsig prentjie” te kan bepaal? Mens kan dit dan stuur vir Dr. PHIL van die VSA en Oprah Winfrey, en ook hul mening vra?

    Ouditeure en rekenmeesters is bekend met hierdie oorsigte, en kan hul leraars help daarmee, waarna mens dan ‘n ‘Streek-Sinode prentjie” bepaal, en daarna ‘n Provinsiale en Nasionale prentjie, en dan ‘n “🌎🌏🌍 prentjie?

    Met onder andere die volgende metings, maar nie beperk hiertoe:
    1. Salaris van Leraar: Bruto Pakket in Rand/Dollar/Euro?
    2. 10de en Offergawe van leraar elke maand in Rand/Dollar/ Euro?
    3. Hoeveel huisbesoeke doen elke leraar en ouderling en diaken per maand?
    4. Hoeveel “tyd” 👁👁 en 👂👂 die gemiddelde lidmaat die leraar per maand, en verdeel tussen “preektyd” en “ander tyd”?
    5. Hoeveel ure spandeer die kerk aan gebed elke maand korporatief of in groepe? En stratifiseer tussen ” Fisiese Groepe” en “Tegnologiese Groepe”. Herinner Leraar daaraan, dat GOD se GEES HAAT leuens, en ⚰ is die gevolg daarvan. soos Handelinge 5 van spreek, en niê GELIEG mag word deur enige persoon wat méén, hul gee tyd en geld aan God se Werk, maar dan is daar’n totale oordrywing wat aan menige Hollywood Draaiboekskrywer, ‘n “Script” sal gee wat 🌎🌏🌍-gehore sal trek met ‘n lokettreffer.
    6. Wat is die gemiddelde Bruto Verdienste per lidmaat, en die gemiddelde bydrae en offergawe per lidmaat?
    7. Ouderdomme stratifikasie van al die metingsnorme?
    8. Leraar se –
    A. Persoonlike gemiddelde tydspandering aan Preekvoorbereiding?
    B. Gemiddelde preekduur?
    C. Hospitaal – Outehuis – Weeshuis besoeke per maand in terme van tyd?
    D. Kilometers gereis per maand na :
    I. Lidmate – besoeke.
    Ii. Kerk aktiwiteite.
    9. GROEI in Gemeente?
    10. Hoeveel Duiweluitdrywings en Wondergenesings elke maand?
    11. Hoeveel BEKERINGS (wedergebore) elke maand?
    12. Hoeveel gedoop elke maand?
    13. Hoeveel tyd spandeer die Leraar afsonderlik, en ook elke ouderling en diaken elke maand aan TV…Sport…Werk…Bybel lees…Bid…?
    14. Bepaal elke leier se Randwaarde wat aan die Kerk gegee word, of aan liefdadigheidsaktiwiteite daarbuite?
    15. Besoeke aan tronke en weduwees en wese elke maand deur die gemeente, en stratifiseer.

    MENS kan dan die koste per uur bepaal waarteen ‘n leraar “handel dryf” met God se woorde en opdragte, En kyk hoe die leraars se “Spiritual Balance Score Card” méét teenoor die Bybelstandaarde.

    “Mensekind, profeteer teen die herders van Israel; profeteer en sê vir hulle, die herders: So spreek die Here Here: Wee die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf! Moet die herders nie die skape laat wei nie? Julle eet die vet en beklee julle met die wol; julle slag die vettes, maar die skape laat julle nie wei nie; julle versterk die swakkes nie en maak die siekes nie gesond nie en die wat gewond is, verbind julle nie en wat weggedryf is, bring julle nie terug nie en wat verlore is, soek julle nie; maar met strengheid heers julle oor hulle en met hardheid. My skape dwaal rond op al die berge en op al die hoë heuwels; ja, oor die hele oppervlakte van die aarde is my skape verstrooi, sonder dat iemand na hulle vra of hulle soek. So waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, omdat my skape ‘n prooi geword het en my skape as voedsel gedien het van al die wilde diere van die veld, omdat daar geen herder was nie, en my herders na my skape nie vra nie; en die herders aan hulleself weiding verskaf, maar my skape nie laat wei nie — So sê die Here Here: Kyk, Ek het dit teen die herders! En Ek sal my skape van hulle hand eis en maak dat hulle geen skape meer oppas nie, sodat die herders aan hulleself nie meer weiding sal verskaf nie; en Ek sal my skape uit hulle mond uitruk, sodat dit hulle nie as voedsel sal dien nie.’
    ESÉGIËL 34:2‭-‬4‭, ‬6‭, ‬8‭, ‬10 AFR53
    https://bible.com/af/bible/5/ezk.34.2-10.AFR53

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui