Geluk aan NGK in Strand oor dolering besluit

Die brief hieronder is deur Bernhard Ficker geskryf en het in Die Burger verskyn.

Let wel, die sewe punte in die doleringsbrief waarna Bernhard Ficker verwys, is nie almal amptelike besluite van die Algemene Sinode nie. Die doleringsbrief sê:

Bogenoemde sake is van die punte wat al by verskeie meerdere vergaderings van die NG Kerk uitgelig is, waaroor daar gedebateer is,…

Daar is egter goeie voorbeelde van teoloë en predikante in die NG Kerk wat hierdie kernwaarhede openlik bevraagteken en wat nooit voor stok gekry word nie. Kyk byvoorbeeld:

*********

Geluk aan NGK in Strand oor dolering besluit | Netwerk24

Deur Dr. Bernhard Ficker, SOMERSET-WES

16 Julie 2021

Veels geluk aan die Strand NG gemeente wat besluit het om te doleer, dit wil sê om in ’n staat van rou en hartseer te gaan oor die dwaalleer wat die Algemene Sinode (AS) aanvaar het.

Dit is ’n brawe stap en beteken dat hulle ongeveer die tagtigste gemeente is wat in ’n staat van dolering gegaan het.

Hulle sirkulêre brief aan gemeentelede, wat ook op Whatsapp versprei is, lys sewe kern-geloofsake waar die AS [Algemene Sinode] dwaal. Eerstens om die evolusieleer te aanvaar en nie meer te glo dat God die Skepper van alles is nie. Tweedens om te aanvaar dat die satan net bestaan as jy in hom wil glo. Derdens dat jy nie hoef te glo in die maagdelike geboorte van Jesus en sy fisieke opstanding nie.

Vierdens dat elkeen deur hul eie gode te dien gered kan word. Vyfdens dat die hele Woord nie deur God geïnspireer is nie, maar dat die Bybel die mens se woorde oor God is en dat dele daarvan as mites beskou moet word en dus nie nodig is om te glo nie. Sesde, dat die huwelik nie slegs tussen een man en een vrou is nie, maar ook tussen mense van dieselfde geslag. En laastens, dat elke mens self sy eie geslag kan bepaal en kan verander na gelang van omstandighede.

Die besluit dui verder aan dat die tipe leiding wat van die AS deurgegee word, spreek van ’n algehele verbrokkeling van die fondasie waarop Christus Sy kerk hier op aarde gegrondves het. Die kerk sanksioneer nou sondige Jewenspraktyke en het tot gevolg dat die kerk sy reg tot tug en sy stem in die samelewing verloor het, omdat die kerk nou uit twee monde mag praat.

Die gemeente is nou in ’n amptelike staat van dolering en het derhalwe besluit om geen verdere geld aan die plaaslike sinode of AS oor te betaal nie.

Gemeentes wat opstaan vir die waarheid en teenstand teen die vlaag van dwaalleer bied, moet ondersteun word.

9 thoughts on “Geluk aan NGK in Strand oor dolering besluit”

  1. Die Groot Susters kerke se oorsprong was maar nog altyd uit Vrymesselary. Met soveel druk kon dit nooit anders as om te swig voor die wereld se siening van belangrik beginsels soos seksualiteut, ens. Met soveel verlies aan lidmate begin hulle preek wat mense van jou.

    1. Hannetjie, dit is algemeen dat baie predikers preek wat mense van hou, veral omdat hulle nie ’n verbondsverhouding met die Skepper-God het nie. Ek het lank ’n pad met baie van hulle gestap deur die Gereformeerde en Charismatiese kerke. Wanneer hulle deur die waarheid konfronteer is, het hulle verkies om die leuen voor te hou, ten einde nie hul pensioen te verloor nie. In stede daarvan om hulle af te kraak, bid eerder vir hul werklike redding. Daar is gereeld predikers wat hul hele gemeente omswaai om Vader-God se Feeste en Shabbat te onderhou, soos Yeshua dit alreeds vervul het.

    2. Net so Hannetjie !! – en die vrymesselaars en die dwaal leraars se agenda en motiewe was en is nie om God die vader en sy seun Yeshuah respekvol vrees en te dien nie – die wortels van die boom was sleg daarom beleef ons tans die vrot vrugte wat gelewer word
      (1Ti 4:1)
      Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang
      (2Ti 4:3)
      want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
      en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

  2. Hierdie is ’n baie gesonde gebeurtenis. Min NG Kerk-lidmate – ook leraars – ken die Gereformeerde Kerkreg of die Gereformeerde Kerkbeskouing. Hopelik sal baie lidmate nou daaroor begin navraag doen.
    1. Die 16de eeuse hervormers het gebreek met die Roomse kerk-idee van een menslik-georganiseerde globale kerk. Enige menslike organisasie (ook ’n kerk) moet een of ander menslike topstruktuur hê met ’n hoofkantoor iewers van waar die “leier” of “leiers” leiding neem met wat ook al besluit of gedoen moet word. Die plaaslike vergestalting van hierdie organisasie is dan net plaaslike takke wat onderhorig is aan die hoofkantoor. So was en is die Roomse kerk. So is ’n protestantse kerk nie.
    2. Die kerk – óók in sy geörganiseerde gestalte – is die Here se Kerk. Hy is die enigste Hoof. Daar waar Hy is, is die enigste “hoofkantoor” en die enigste punt van eenheid. Op die aarde is kerke geskei in terme van tyd (verlede, hede en toekoms), plek (taal en kultuur ingesluit) en suiwerheid (dink aan Jesus se gelykenis van die onkruid in die koringland).
    Die eenheid wat daar ten spyte van die skeiding in tyd, plek en suiwerheid tussen Christene bestaan, is ’n eenheid in geloof. Dit is ’n eenheid wat nie van mense of menslike organisasie afhanklik is nie. Dit kan ook nie menslik geörkestreer of geörganiseer word nie: dit is ’n gegewe van die Heilige Gees.
    3. Die hervormers het die kerkreg só probeer opstel dat die miswasse wat in die Roomse kerk ontstaan het, nie in protestantse kerke sou ontstaan nie. Daarom was die klem daarop dat die kerk dáár is waar die Woord en Sakramente suiwer bedien word onder leiding van ’n kerkraad (let wel, nie ’n “gemeenteraad” soos dit nou allerweë genoem word nie) en waar gelowiges hulle geloof in opregtheid uitleef.
    4. ’n “Sinode” is volgens hierdie definisie nie ’n kerk nie. Dus is ’n kerkverband (soos verteenwoordig deur ’n Sinode) ook nie ’n kerk nie. Die uitdrukking “die NG kerk” maak dus nie sin nie: gereformeerd gesproke kan daar nie so iets wees nie. Slegs ’n plaaslike kerk wat onder leiding van ’n kerkraad gereëld byeenkomste hou waar die Woord en Sakramente suiwer bedien word, is ’n kerk.
    5. ’n “Sinode” is dus afhanklik van die vrywillige toetrede en deelname van verskillende nabygeleë kerke. En wanneer daar by ’n “Sinode” besluite geneem word wat volgens ’n deelnemende kerk strydig is met die Woord van God, staan dit daardie deelnemende kerk vry om sy sitting by daardie sinode op te skort.
    6. Om soos Nelis Janse van Rensburg te huil oor die verbreking van die kerkverband en om met ’n meerderwaardige houding “op gepaste wyse en met liefde met die kerkraad van Strandgemeente
    in gesprek tree” is Rooms, dis skynheilig, dis ongereformeerd.
    7. Vir my, wat as lidmaat in 1967 beloof het om alle leringe te verwerp wat met die ware, suiwer leer van die evangelie wat ek destyds aanvaar het (en mettertyd deur my studie van die Bybel soos o.a. verwoord in die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Dordtse Leerreëls, die Heidelbergse Kategismus, en die Dordtse Kerkorde van 1618/19, geverifieer het), is die leringe en praktyk van “gemeentes”binne die huidige NG Kerk-verband ’n morele krisis. As ek my lidmaatsbelofte wil nakom, moet ek my vereenselwig met dit wat nou by die Strand Moederkerk plaasgevind het. Julle help my om my lidmaatsbelofte na te kom.

    1. Ek ondersteun en stem volkome saam dat die wat nou in die ‘kerk’ aangaan onvanpas en verkeerd is.
      Asseblief, moenie my nou, in my hoë ouderdom ontnugter met hierdie onheiligheid nie! Dit is absoluut verkeerd. Dit is reguit vanuit satan se mond en die werking van Sy handlangers? Hoe is dit moontlik???
      Stuur asb vir my ’n opvolg-bydrae indien moontlik.

  3. My dierbare geesgenoot het die koerantberiggie wat in Die Burger verskyn het aangestuur en na ’n kort soektog het ek op hierdie webblad afgekom. Dit is inderdaad wonderlik om te verneem dat sommige mense in die “kerk” besig is om wakker te word vanuit hul “leuen”-stoele!
    Ek was vir meer as twintig jaar kerkorrelis in verskeie gemeentes in Gauteng en later in Simondium. Kort na my terugkeer in ballingskap na Gauteng, het Vader my oë oopgemaak vir die leuens wat die kerk verkondig, iets wat die hervormers goed begin het, maar nooit volledig aangespreek het nie. Vader het my bewus gemaak dat Sy werklike Shabbat alreeds tydens Skepping aan die mens (nie aan die Jode nie) gegee is en nog steeds die sewende (volledige) dag van die week is vir elke ware gelowige; dat Sy feeste (Levitikus 23) vir elke persoon, volk, taal en nasie gegee is volgens vers 2 (hierdie is MY vasgestelde tye) en dat Yeshua (Jesus) juis die Torah volledig kom vervul het – kyk gerus in Mattheus 5:17-19.
    Die feit dat hierdie leraar en kerkraad hierdie besluit geneem het, saam met verskeie ander gemeentes, is baie verblydend en weereens ’n bewys dat Vader-God besig is om verskeie mense wakker te skud uit hul waan van foefies soos sakramente en songodaanbidding.
    Ons bede is dan ook dat hierdie die begin is waar mense werklik die aangesig van Vader sal soek en gehoor gee aan Sy oproep om deel te word van die geestelike Israel. Sodoende sal die woorde vervul word wat ons lees in 1 Timothéos 6:12: ​Veg in die goeie geveg van vertroue en gryp na die ewige lewe; die dinge waartoe jy ook geroep is en ’n goeie erkenning wat jy erken het voor baie getuies.

    Seënwense en sterkte!

  4. Net so broer Hein – prys ons Skepper Lewende God vir Hein se oe wat geopen is – ek het ook uitgekom onder al die absolute leuens wat al die jare verkondig word – Prys YeHoVah Skepper Lewende God. en dankie opgestane Yeshua geliefde seun van God ek buig voor u.
    1`Pet 4:16-17 As een egter as ’n volgeling van dié Gesalfde Een ly, moet hy hom nie skaam nie, maar laat hom God daardeur loof in hierdie Karakter en Outoriteit (Naam),
    17 want dit is tyd dat die oordeel moet begin by die huis van God. As dit egter by ons begin, wat sal die gevolg wees vir dié wat nie oortuig is van die goeie boodskap van God nie?
    18 As die onskuldige skaars kan lewe, Spr 11:31 waar sal die bose en sondaar gevind word?

    2`Pet 2:1-3 ……… net soos daar onder julle vals leraars sal wees; hulle wat dwaalleringe tot vernietiging bring en die Meester wat hulle gekoop het, ontken terwyl hulle ’n vinnige vernietiging oor hulleself bring.
    2 Baie sal hulle afskuwelikhede navolg en as gevolg van hulle sal van die pad van die waarheid kwaad gepraat word;
    3 deur gierigheid en opgemaakte stories sal hulle uit julle ’n wins maak; dié wie se oordeel van die begin af nie passief is nie en wie se vernietiging nie slaap nie,

    1. Onthou mense verander. Ps 146 v 3 Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.. God is steeds daar. Hy is gister vandag en more dieselfde tot in ewigheid. Jy het nie die NG KERK nodig om God te dien nie. Leer die Woord ken en dien Hom in Gees en waarheid. Jy sal die waarheid ken en die waarheid sal jou vrymaak joh 16 v13 joh 8 v 32

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui