NG gemeente weerhou geld oor kerk se gay-beleid

Die volgende artikel is aanvanklik gepubliseer onder die titel “NG gemeente in Wes-Kaap doleer omdat sinode ‘dwaal’“, maar die titel is later verander na “NG gemeente weerhou geld oor kerk se gay-beleid”.

Kyk ook die oorspronklike kerkraadsbesluit van Die Strand gemeente by Strandgemeente doleer (9 Jun 2021).

Dit is interessant dat die media so ’n groot ophef daarvan maak dat Die Strand hulle sinodale bydrae terughou, want Die Strand is maar die 76ste NG gemeente wat doleer waarvan 48 gemeentes hulle sinodale bydraes weerhou (kyk Lys van NG gemeentes wat doleer).

Kyk ook Henriëtta Klaasing se reaksie hierop onderaan die artikel.

*********

NG gemeente weerhou geld oor kerk se gay-beleid | Netwerk24

Deur Jackie Kruger

14 Julie 2021

’n Wes-Kaapse NG gemeente het aangedui dat hy hom nie met sekere besluite van die algemene sinode (AS) kan vereenselwig nie en geld van die plaaslike sinode en die AS gaan weerhou.

Die NG gemeente Die Strand sê in ’n brief aan gemeentelede dat die kerkraad op 9 Junie besluit het dat die gemeente doleer (verklaar dat hulle baie hartseer en bekommerd is) en nie met die besluite van 2019, asook ander besluite van die AS saamstem nie.

Die kerkraad het ook besluit dat geen verdere gelde aan die plaaslike sinode of AS oorbetaal sal word nie.

Volgens die webwerf www.gemeentegeskiedenis.co.za is die NG gemeente Die Strand die moedergemeente van die NG Kerk se gemeentes in dié kusdorp.

In ’n brief aan gemeentelede is sewe kern-geloofsake gelys waarin die AS “dwaal”. Dit is dat:

  • God maar net ’n afbeelding sou wees van dit wat mense wil glo en dat alles deur evolusie tot stand gekom het;
  • die satan net bestaan as jy in hom wil glo en dat die sondeval en erfsonde nie deel van jou bestaan hoef te wees nie;
  • jy nie hoef te glo in die maagdelike geboorte van Jesus en sy fisieke opstanding nie, omdat dit nie wetenskaplik moontlik is of bewys kan word nie;
  • mense nie die alleenreg op redding het nie en dat almal in die hemel kan uitkom deur hul eie gode te dien of godsdienstige reëls na te kom;
  • die Bybel mense se woorde oor God is en dele daarvan as mites verstaan moet word – dat dit dus nie nodig is om die Bybel te glo nie.
  • die AS oor die huwelik – wat deur God ingestel is as tussen een man en een vrou – die klem op diversiteit en die verskil van menings plaas en etlike Bybeltekste aanhaal om aan te toon dat daar verdraagsaamheid en aanvaarding van meningsverskille in die vroegste Kerk was; en
  • elke mens self sy geslag kan bepaal en kan verander na gelang van omstandighede.

Luidens die brief word ook erken dat daar lidmate in die gemeente is wat anders voel oor die sake en dat daar hiervoor begrip en respek is.

Die gemeente is om kommentaar genader en Netwerk24 is meegedeel dat die leraar tans met verlof is. Sodra kommentaar ontvang word, sal dit bygewerk word.

Ds. Nelis Jansen van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die sinode van Wes-Kaapland, het by navraag oor dié geval en op vrae soos oor hoeveel gemeentes in die Wes-Kaap tans doleer, gesê dat die moderamen nie enige kommunikasie tussen die sinode en individuele gemeentes in die openbaar bespreek of besonderhede daaroor gee nie.

Sodra die skoolvakansie verby is, sal hulle egter kontak maak met die gemeente om die saak te bespreek.

Kommentaar

Henrietta Klaasing

Woensdag, 2021/07/14

Aan: Die Burger koerant

Geagte redakteur, die Burger-briewekolom:

Die berig “NG gemeente in Wes-Kaap doleer omdat sinode ‘dwaal’ “ (DB, 14 deser) het betrekking.

Dit is hoogs verblydend om te lees van die dapper stap wat deur hierdie Wes-Kaapse gemeente geneem is. Dat dit ‘n “moeder”-gemeente van die NG kerk is wat doleer, is soveel te meer betekenisvol. Sodoende voeg hulle hul by die steedsgroeiende getal dolerende gemeentes dwarsoor die land en in Namibië.

Die Algemene Sinode (AS) is horende doof en siende blind. Huidige kerkleiers weet baie goed dat daar uit verskillende oorde oor ‘n paar dekades al, kore van luide protes was en steeds is, oor liberale besluite soos in Strand moedergemeente se brief genoem word. Onder andere is meer as 600 bladsye opgehoopte pleitskrifte en gravamina oor al hierdie sake tydens AS se sitting in 2019 blatant geïgnoreer. ‘n Mens wonder hoeveel meer daar intussen bygekom het, na die skokkende 2019 besluit aangaande selfdegeslagverbintenisse. Hiertydens is onder andere besluit dat ‘n on-Bybelse “formulier” ontwikkel moet word vir verbintenisse van mense van dieselfde geslag.

Verder raak dit algaande duidelik dat daar magte in die NG kerk is wat die vaste fondamente (wat gebou is op die gereformeerde leer en belydenisskrifte van die kerk) wil aftakel. Wat is die bedoeling daaragter, wonder ‘n mens.

Mag meer en meer gemeentes kennis neem van hierdie leerdwalings en Die Strand se voorbeeld volg.

Dr Henrietta Klaasing, Randfontein

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui