Wat dan van die ander ses punte?

Wat dan van die ander ses punte? | Netwerk24

Deur Dr. Henrietta Klaasing, Randfontein

19 Julie 2021, Die Burger

’n Brief aan die NG-gemeente Die Strand” (17.07) het betrekking. Waarom interne teologiese debatte terwyl die land brand? Want wat in God se kerk gebeur, is net so belangrik as wat in die land gebeur.

Dr. Christo Benadé, ringvoorsitter van Somerset-Wes, wil ’n paar perspektiewe gee na aanleiding van die berig in Die Burger oor die dolering van die NG gemeente Die Strand (12.07).

Sewe punte word deur die kerkraad van Die Strand genoem as redes vir hul dolering, maar Benadé kies om op net een van hulle (Jesus se opstanding) te reageer deur aan te haal uit die agenda van die 2019 algemene sinode.

Uit daardie aanhaling is dit ook nie baie duidelik hoedanig die opstanding is wat bedoel word nie: letterlik fisieke opstanding, of soos prof. Julian Müller se “Jesus staan op in ons harte”? Müller se standpunt is nooit gerepudieer nie.

Waarom word die ander standpunte nie ook behandel nie? Of kan Die Strand se ander ses standpunte nie weerlê word nie?

Benadé skryf: “Die NG Kerk se oortuiging word weerspieël deur die besluite van sinodes en nie van individuele teoloë nie.”

Die kerk se oortuigings word wel weerspieël wanneer dwaalleraars in interne tugsake loskom of waar hulle nie aangespreek word nie, soos in dr. Ben du Toit se geval. Stilbly is ook ’n antwoord. Wat Die Strand noem, is wesenlike kernsake oor die waarhede vervat in God se Woord en wat die hart van die gereformeerde belydenis van die NG Kerk raak.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui