Meer eenders as anders

Kyk ook:

In die artikel hieronder spreek Jurie van den Heever en Chris Jones hulleself uit oor homoseksualiteit.

Beide van hulle het al hulle menig gegee oor hedendaagse kwessies as deel van die “drie wyses”. Kyk bv Drie wyses: Waar is die hel? en Drie wyses dink tesame oor… evolusie.

Chris is hoof van die Universiteit Stellenbosch se kantoor vir Moraliteit en Morele Leierskap vir die NG Kerk. Dit wys maar net weer dat die teologiese fakulteite waarskynlik die grootste vyand van die NG Kerk is…

Jurie is ’n paleontoloog en ateïs. ’n Mens sou gedink het dat Jurie, wat homself as ’n wetenskaplike sien, meer ag gegee het op wat die wetenskap werklik bevind het oor homoseksualiteit (kyk Nuutste wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit).

**********

Meer eenders as anders | Rapport

Deur Jurie van den Heever en Chris Jones

20 November 2016

Gelowiges en teoloë wat die Bybel probeer gebruik as handboek oor seksualiteit sit die pot lelik mis, sê Jurie van den Heever en Chris Jones. [Dit laat ’n mens wonder of die Bybel vir enigiets gebruik kan word.]

Kennis en blootstelling bemagtig en bevry. Ons het dit in die laaste jare veral gesien wat homoseksualiteit betref. Meer mense tree in verhouding met gay mense. En meer vriende of familie erken openlik hulle is gay.

Ook begin mense meer logies hieroor dink. Hulle besef sekere tradisionele argumente hou nie steek nie. Daar is ook nuwe morele argumente. ’n Groterwordende groep heteroseksuele mense respekteer die liefde en verbintenis wat hulle by gay mense sien en gun hulle gevolglik dieselfde huwelik- en gesinsvoordele as heteroseksuele mense.

Dan is daar ook die godsdienstige, politieke en juridiese oorwegings op grond waarvan die gemeenskap gay mense se lewe met die waarheid help steun, natuurlik alles teen die agtergrond van ’n Grondwet wat homoseksuele persone se regte beskerm en daarop aandring dat daar op geen vlak teen hulle gediskrimineer word nie.

Maar ons hoor by al hoe meer mense, veral ook by gelowiges, dat hulle op ’n biologies feitelike vlak méér gehelp wil word, juis om hul geloof betekenisvoller met die wetenskap te integreer.

Die moderne wetenskap betree toenemend gebiede van die mens se ervaringswêreld wat voorheen as die eksklusiewe domein van die geloof voorgehou is en waar veral die evolusionêre biologie as verklaringsmodel onbevoeg beskou is. Die jongste navorsing oor die bou en werking van die menslike brein wys daarop en onderstreep die feit dat die brein, net soos die longe of die hart, een van die organe van die liggaam is en nie een of ander onsienlike entiteit soos ’n siel of gees huisves nie.

Ons is ons fisieke liggame en ervaar die wêreld in al sy fasette deur middel van die liggaamlike. Wanneer ons dus van moraliteit en spiritualiteit praat, praat ons van die wisselwerking tussen die liggaam van die mens en die omgewing (fisies, metafisies en kultureel). Godsdiens kan immers nie sonder die liggaam bedryf word nie. Die evolusionêre biologie lewer dus ingeligte en relevante bydraes op alle vlakke van menswees.

Tans weet ons dat die mens se geslagstelsel, sowel inwendig as uitwendig, aanvanklik in die embrio as ’n enkele, gemeenskaplike stelsel aangelê word. Dit beteken dat die tipies manlike en vroulike organe soos die penis en die klitoris uit dieselfde, aanvanklik geslaglose weefsel ontwikkel en daarom homoloog is.

’n Embrio kan dus óf in ’n seuntjie óf in ’n dogtertjie ontwikkel en elkeen van ons dra nog die tekens van ons gemeenskaplike oorsprong. Een of selfs meer pare onfunksionele tepels, waarskynlik die nutteloosste strukture aan ’n man se liggaam, is stille getuies van hierdie proses. [Kyk Is the human male nipple vestigial? en Male nipples prove evolution?.] Seksualiteit, in watter vorm ook al, word prenataal bepaal en is gevolglik iets waaroor die individu geen beheer het nie.

Een van die aansprake van die godsdiens is juis dat dit sekerheid wil bied in ’n onseker wêreld. Met betrekking tot geslag verskraal sekere gelowiges dan so maklik die spektrum van menslike seksualiteit tot uitgesproke heteroseksuele vroue en mans aan die een kant, teenoor die “ander” wat deurgaans, verkeerdelik, as ’n homogene groep geïdentifiseer en op verskillende vlakke verwerp word.

Ter versagting kan ’n mens aanvoer dat ons as mense nie van onsekerhede hou nie. Duidelike keuses, gewoonlik verskraal tot een van twee moontlikhede, verskaf aan baie mense betroubare riglyne. Ons en hulle, wit en swart, verkramp en verlig, goed en kwaad en bowenal: manlik en vroulik.

Die werklikheid is egter veel anders. Daar bestaan in der waarheid nie net twee geslagte nie. Sekere navorsers praat reeds van vyf identifiseerbare geslagte. Tabelle wat die groot verskeidenheid diagnostiese anatomiese en fisiologiese seksuele kenmerke inkorporeer, toon ’n kontinuum van tot 15 oorgangstadia tussen ’n heteroseksuele man en ’n heteroseksuele vrou. [Dit is baie interessant dat die invloed van sielkunde totaal geïgnoreer word. Alle eks-homoseksuele mense getuig van een of ander verwerping wat hulle ervaar het. Dit is dus ’n baie sterk sielkundige verskynsel.]

Menslike seksualiteit is wel oorwegend heteroseksueel, maar strek in der waarheid oor ’n veel breër, geskakeerde kontinuum. Mense fouteer dus wanneer die kwessie van menslike seksualiteit bloot deur middel van heteroseksueel en homoseksueel benader word.

Predikante wat dus beweer dat hulle ’n konstitutiewe gay persoon deur middel van gebed na heteroseksualiteit gelei het, toon weinig begrip van hierdie spektrum van menslike seksualiteit.

Danksy die jongste insette van die navorsingsveld bekend as die epigenetika, weet navorsers nou ook dat die ontwikkeling van die embrio se seksualiteit bepalend beïnvloed kan word deur die balans tussen verskillende hormone in die moeder se liggaam, die omgewing in die baarmoeder, die geboortevolgorde van biologies verwante broers en les bes, die samestelling van die gene. Dit bring verskillende fisiologiese, anatomiese en genetiese kombinasies in die spel.

Die biologie as vakrigting en spesifiek die biologie van die mens is so kompleks dat uitsprake oor die aard en wese van die mens lank reeds nie meer slegs op Bybelse uitsprake geskoei kan word nie.

Mense wat dit wil doen, laat uit die oog dat die biologie van die Bybel voorwetenskaplik is en meestal gegrond is op naïewe waarnemings wat nie verband hou met die werklikheid nie.

In so ’n wêreld is vlermuise voëls, volstruise baie slegte ouers en kan die velkleur van ongebore vee beïnvloed word deur takkies waarvan die bas gedeeltelik verwyder is, by drinkplekke neer te sit. [Jurie hou lyk my baie van hierdie argument. Kyk Kommentaar op Jurie van den Heever se stellings op RSG en spesifiek Genesis 30:37-40.]

Feit van die saak is dat die mense wat die Bybel geskryf het niks van die embriologiese, anatomiese, fisiologiese of genetiese inligting wat vandag selfs vir laerskoolkinders algemene kennis is, geweet het nie. [Ek weet nie wat dit met die prys van eiers te doen het nie. Dit is duidelik dat Jurie en Chris nie glo dat God op bonatuurlike wyse die wette in Levitikus aan Moses geopenbaar het nie.]

Bybelskrywers was duidelik nie bewus van die volle spektrum van menslike seksualiteit nie en hul insigte kan dus vandag nie as riglyn dien nie. Om besluite tot nadeel van gay lidmate te maak op grond van (onder meer) enkele geïsoleerde teksverse en dan te verklaar dat die Here by die besluit teenwoordig was, skreeu teen die Godsbegrip van rasionele lidmate en maak die Bybel bespotlik.

As gelowiges en spesifiek sekere besluitnemers binne die NG Kerk werklik erns het met die belangrike Bybelse opdrag dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself, is daar eintlik nie meer wegkomkans nie. Belangrike biologiese bevindings kan nie meer, soos in die apartheidsjare, bloot geïgnoreer word nie.

As die NG Kerk egter voortgaan om teen die prikkels te skop sal hy, na alle waarskynlikheid, as ’n institusionele kerk in die doolgange van die tyd verdwyn. [Ervaring wys dat dit presies die teenoorgestelde is wat gebeur. Kyk How to Shrink Your Church in One Easy Step. Vir twee wetenskaplikes is hulle maar bra onwetenskaplik. Dit is duidelik dat persoonlike opinies hier hoogty vier.] Die biologie lewer onmisbare insette oor die aard en wese van die mens wat die kerk dikwels tot sy nadeel ignoreer.

Een hiervan is die komplekse verskeidenheid faktore, sommige waarvan reeds in moederskoot vasgelê word, wat menslike seksualiteit beïnvloed.

In die lig van die jongste bevindings behoort die NG Kerk rondborstig te erken dat sy onlangse uitspraak dat gays nie in vaste, liefdevolle burgerlike verbintenisse kan staan nie, in stryd is met belangrike biologiese bevindings, nie uit die Bybel geregverdig kan word nie en dat dit ’n smet op die menswaardigheid van gay lidmate is, al die mooi woorde ten spyt.

Mense dwarsoor die seksuele spektrum heen is mekaar se naaste en moet daarom volledig en onvoorwaardelik as mens aanvaar word!

Dr. Jurie van den Heever is ’n paleontoloog en dr. Chris Jones ’n teoloog.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui