4 Kaapse gemeentes nooi gays binne

Kyk ook:

***********

4 Kaapse gemeentes nooi gays binne

Deur Marelize Barnard 20 November 2016 20:32

Die NG gemeente Kaapstad (Groote Kerk) het gay mense genooi om in dié kerk hul selfdegeslag-verbintenisse te bevestig en ook hier as “leraar, ouderling, diaken of in enige ander amp of rol” te dien.

“God het nie kieskeurig lief soos wat ons dikwels liefhet nie,” is die woorde van die Groote Kerk-gemeente, wat soos drie ander Wes-Kaapse NG gemeentes hom uitgespreek het teen die NG Kerk se jongste besluit om gay verbintenisse af te keur.

Verdeeldheid in die NG Kerk oor die aanvaarding van gay verbintenisse het die naweek verder opgevlam, met gemeentes wat vir of teen die ommeswaai van die buitengewone algemene sinode standpunt inneem.

Op dié buitengewone sinode is besluit om gay verbintenisse af te keur, in teenstelling met die 2015-sinode se besluit daarvoor.

Die vier Kaapse NG gemeentes wat sedertdien hul steun aan gay verbintenisse in ’n verklaring uitgespreek het, is die Groote Kerk, Stellenbosch Moederkerk, Stellenbosch Welgelegen en Pinelands.

Groote Kerk:

“Ons as leraars en kerkraad van die NG Kerk Kaapstad/Groote Kerk wil ons hartseer uitspreek teenoor die besluit van die Buitengewone Algemene Sinode van 2016 wat liefde wil beperk, beheer en reguleer. Ons wil onsself ten sterkste distansieer van hierdie besluit.”

Volgens ’n verklaring van die Groote Kerk wil dié gemeente die verbintenis van liefde tussen twee persone van dieselfde geslag, wat deur God geseën word, ook liturgies seën en vier “deur ons leraars en gebruik van ons kerkgebou”.

Verder nooi die gemeente mense wat deur God geroep en toegerus is en binne ’n liefdevolle verbintenis met ’n persoon van dieselfde geslag leef, om hierdie roeping van liefde en diens “in ons midde te kom leef hetsy as leraar, ouderling, diaken of in enige ander amp of rol”.

Moedergemeente Stellenbosch:

Die kerkraad van die Moedergemeente Stellenbosch volstaan met sy instemming met die besluit van die 2015 algemene sinode.

“Ons Kerkraad herbevestig dat almal in die geloofsgemeenskap van die Moedergemeente welkom is.

“Ons is baie bewus daarvan dat ons as gelowiges verskillende oortuigings en emosies ten opsigte van hierdie besluite kan hê, en dat dit nie beteken dat sommige van ons nie die Here dien of uit sy liefde leef nie.”

Die kerkraad sê dit is so dat lidmate baie vrae kan hê oor hoe die Bybel dan gelees moet word indien gelowiges uit hul bestudering van dieselfde Bybel tot verskillende gevolgtrekkings kan kom.

“Ons onderneem in hierdie verband om te verseker dat daar in ons gemeente veilige ruimtes sal wees waar ons mekaar sal vashou en met geduld en leerbaarheid na mekaar sal luister,” lui dié kerkraad se verklaring.

Stellenbosch Welgelegen:

Dié kerkraad aanvaar dat die seksuele oriëntasie van mense ’n gawe van God is en reken dat dit – hetsy homoseksueel of heteroseksueel – aan dieselfde etiese norme van “liefde en trou” onderwerp moet word.

Verder sê die kerkraad dit is die kerk se taak om mense te help om hul Godgegewe seksualiteit binne die kontoere van liefde en trou uit te leef.

Daarom ondersteun die kerkraad “die Algemene Sinode se besluit van 2015 wat die gelykwaardigheid en menswaardigheid van mense met verskillende seksuele

oriëntasies volledig erken en verwelkom”, maar distansieer hom van die 2016-besluit se ongelyke hantering daarvan.

Die kerkraad se reaksie is dat die Welgelegen-gemeente sedert 2001 se kerkraadsbesluit amptelik ’n gay-vriendelike gemeente is.

Pinelands-gemeente:

Volgens ’n verklaring is álmal by dié gemeente ewe welkom om as gelowiges die roeping wat hulle van God ontvang het, heelhartig uit te leef – “of dit nou is om as lidmaat, kerkraadslid, predikant of in enige ander leidinggewende rol die gemeente en die gemeenskap tot diens te wees”.

Die Pinelands-gemeente sê voorts “gays is nie mense, maar (ongelukkig) gay nie”.

“Hulle is mense, en besonderse mense, unieke mense, mense wat ons leer dat liefde ook anders kan lyk, veelsoortig en veelkleurig kan wees, as wat ons gedink het wat die norm is,” volgens die gemeente se verklaring.

Die Pinelands-gemeente het gesê hy is “jammer oor die diepe seer wat die NG Kerk met hierdie besluite mense aandoen – nie net gays nie, maar ook hul ouers, hul broers en susters, hul kinders en hul breër familie- en vriendekring”.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui