Leraars kloof hare oor dié wat nie gays wil trou

*********

Leraars kloof hare oor dié wat nie gays wil trou | Netwerk24

Deur Johan Eybers

09 Augustus 2020

Die twis in die NG Kerk oor gayhuwelike het opnuut opgevlam nadat die algemene sinode goedkeuring by die departement van binnelandse sake gekry het vir predikante om selfdegeslagverbintenisse te voltrek.

’n Groep behoudendes wat na hulself as die “opvolg-paneel van die 2020 Spesiale Beraad Moreletapark” verwys, beweer deur sy aansoek het die algemene sinode predikante wat nie selfdegeslagverbintenisse wil bevestig nie doelbewus gekompromitteer.

“Die algemene sinode het op ’n baie oneerbare wyse opgetree om namens die NG Kerk as geheel aansoek by binnelandse sake te doen vir die aanstelling van predikante as bevestigers van burgerlike verbintenisse,” sê ds. Theo Danzfuss, ’n leidende figuur onder die behoudendes. Danzfuss is die voormalige aktuarius van die Hoëveld-sinode en deel van die sogenaamde opvolg-paneel.

“Ons glo dit het ernstige implikasies vir alle predikante van die kerk, selfs vir diegene wat sodanige verbintenisse op Bybels-teologiese gronde sterk afkeur. Daar is verskillende opinies hieroor, maar ons glo predikante kan in ’n verleentheid geplaas word as hulle nie selfdegeslagpaartjies wil trou nie. Die implikasie van die algemene sinode se optrede is dat ’n predikant nie net kan sê hy het nie die bevoegdheid om dit te doen nie.”

Die opvolg-paneel het die algemene sinode die afgelope week in ’n verklaring daarvan beskuldig dat hy buite sy mandaat opgetree het deur namens die NG Kerk as denominasie aansoek te doen. Dit volg nadat dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, op 30 Julie in ’n brief aan predikante gesê het die minister van binnelandse sake het aan predikante magtiging gegee om selfdegeslagverbintenisse te voltrek. Die betrokke predikante moet aan spesifieke vereistes voldoen.

Die magtiging is van 27 Junie van krag.

Die eerste groep predikante wat selfdegeslagverbintennisse wil bevestig, moet hul aansoeke hiervoor teen 19 Augustus by die kantoor van die algemene sinode indien.

Die opvolg-paneel sê daar is dalk verskuilde motiewe. “Druk is vermoedelik met ander motiewe en wederregtelik op die kantoor van die algemene sinode uitgeoefen om namens die NG Kerk en nie namens leraars wat selfdegeslagverbintenisse wil bevestig nie, daarvoor aansoek te doen. Dit is gedoen om die NG Kerk in al haar vergaderinge en alle legitimeerders van die NG Kerk, ook diegene wat sodanige verbintenisse op Bybels-teologiese gronde sterk veroordeel, daarmee te kompromitteer.”

Hulle sê predikante kan direk by binnelandse sake aansoek doen om aanstelling as ’n bevestiger van burgerlike verbintenisse. Hulle vind dit onaanvaarbaar dat die kantoor van die algemene sinode dit gedoen het. “ ’n Amptenaar in diens van die algemene sinode het geen opdrag of bevoegdheid om aansoek te doen om die aanstelling van bevestigers van burgerlike verbintenisse nie.”

’n Kerkleier wat verkies om anoniem te bly, sê dié groep wil onmin in die kerk saai en mense intimideer. “Hul stellings dat predikante nou gekompromitteer word wat nie selfdegeslagverbintenisse wil bevestig nie is bloot verdagmakery. Hulle weet dit is onwaar.”

Claassen sê nie alle predikante sal nou selfdegeslagverbintenisse moet of kan voltrek nie.

Predikante wat die opsie wil uitoefen, moet daarvoor aansoek doen en ’n bykomende eksamen aflê om huwelike ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te kan bevestig. Die minister van binnelandse sake se besluit om predikante magtiging te gee, is slegs van toepassing op predikante wat daarvoor aansoek doen en die bykomende eksamens afgelê het.”

Claassen ontken dat die algemene sinode onopreg in sy aansoek opgetree het. “Daar was ’n baie duidelike besluit by die sitting in 2019 geneem dat die algemene sinode ingevolge binnelandse sake se voorskrifte as ’n denominasie hiervoor aansoek sal doen.”

Hy sê binnelandse sake vereis dat predikante se aansoeke deur die algemene sinode se kantoor aan hulle deurgegee word. Die aangewese departement kommunikeer deur die kantoor waar predikante eksamens moet aflê, sê hy.

“Dit is nie iets wat deur die kerk voorgeskryf is nie. Ons volg die voorskrifte van binnelandse sake.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui