SGV: Bevestigings mag nou voortgaan

Kyk ook Opsomming: NGK oor formulier vir selfdegeslagverbintenisse.

*************

SGV: Bevestigings mag nou voortgaan | Kerkbode

7 Augustus 2020

Leraars mag nou amptelik selfdegeslagverbintenisse in die NG Kerk voltrek.

“Die minister van Binnelandse Sake het ingevolge Artikel 5(2) van die Civil Union Act, 2006 (Wet nr 17 van 2006) besluit om predikante van die NG Kerk, wat sou aansoek doen en aan die bepaalde vereistes voldoen, magtiging te gee om selfdegeslagverbintenisse te voltrek binne die Republiek van Suid-Afrika,” het dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, op 30 Julie in ’n verklaring gesê.

Dit is van toepassing op gelegitimeerde predikante wat die opsie sou wou uitoefen en die predikant tree in daardie funksie as geakkrediteerde van die staat op, het ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode, by navraag verduidelik.

Die besluite wat rondom selfdegeslagverbintenisse by die 2019 Algemene Sinode gemaak is, maak ruimte hiervoor en dit is individuele dominees se reg om dit te doen, volgens Janse van Rensburg.

“Ek kan nie wag om uiteindelik die voorreg te hê om paartjies in selfdegeslagverbintenisse te trou nie,” het Johan Conradie, predikant by NG gemeente Sonstraal, aan Kerkbode gesê. “Hulle wat só lojaal al die jare in die NG Kerk gebly het omdat hulle gewag het … Nou kan ons uiteindelik saam feesvier,” meen Conradie.

Ander was beswaard oor hierdie verwikkeling, wat volg ná jare se debat in die NG Kerk oor homoseksualiteit. “Ons het nou twee NG Kerke, of dit erken word of nie, dit is ’n feit,” het Kerkbode-leser Cois Pretorius onderaan ’n berig hieroor op kerkbode.co.za geskryf. “Ek sal nie tuis voel in ’n gemeente waar die leraar bereid is om selfdegeslaghuwelike te bevestig nie.”

’n Prominente drukgroep wat verlede jaar vanuit die Moreletapark-gemeente ontwikkel het, het die proses en uitkoms skerp gekritiseer. “Daar is nie by die Algemene Sinode van 2019 besluit dat aansoeke vir aanstelling as bevestiger van burgerlike verbintenisse, deur die Kantoor van die Algemene Sinode gedoen mag word nie,” luidens ’n 13-punt-verklaring wat deur Pieter Breytenbach, die makrogemeente se bedryfshoof, op 6 Augustus uitgereik is. “Aansoeke by die Departement van Binnelandse Sake vir gelegitimeerdes van die NG Kerk om as huweliksbevestigers aangestel te word ingevolge die Huwelikswet (Wet 25 van 1961), geskied deur die sinodale kantore (vgl Reglement vir Beroeping, Bevestiging, Demissie en Emeritaat van Predikante, 10.9.1) en daarom behoort enige aanverwante aangeleenthede op die terrein van die streeksinodes.” Nog ’n kritiek vanuit die geledere van Moreletapark se Spesiale Beraad-leierskap handel oor die kerk se beeld. “Die wyse waarop die openbare media die goedkeuring van die NG Kerk se aansoek gekommunikeer het, deur nie die onderskeid tussen huwelike en burgerlike verbintenisse, soos deur die twee afsonderlike wette én die besluite van die Algemene Sinode 2019 gemaak is, te handhaaf nie, het reeds tot groot skade binne en buite die NG Kerk gelei.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui