Persverklaring: Moreletapark beraad oor voltrekking van selfdegeslagverbintenisse

Die Moreletapark beraad het die volgende persverklaring uitgereik na aanleiding van die feit dat predikante van die NG Kerk nou by die Departement Binnelandse Sake aansoek kan doen om selfdegeslagverbintenisse te bevestig.

Die indruk wat die persverklaring skep is dat die NG Kerk namens alle predikante in die NG Kerk aansoek gedoen het om selfdegeslagverbintenisse te bevestig. Dit blyk egter nie heeltemal akkuraat te wees nie. In Gustav Claassen se aanvanklike kommunikasie, word die volgende gesê:

…om predikante van die NG Kerk, wat sou aansoek doen en aan die bepaalde vereistes voldoen, magtiging te gee om selfdegeslagverbintenisse te voltrek binne die Republiek van SA.

en

‘n Gelegitimeerde predikant, wat die opsie wil uitoefen om selfdegeslagverbintenisse te bevestig…

‘n Mens moet egter rekening hou met die feit dat die staat reeds verklaar het dat geen regeringsamptenaar mag weier om ’n selfdegeslagverbintenis te bevestig nie. Dus is die vraag: vir hoe lank sal predikante van die NG Kerk nog daardie keuse gegun word?

‘n Eenvoudige oplossing vir hierdie probleem is egter dat predikante hulle reg as huweliksbevestiger opgee. In so geval trou hy slegs paartjies kerklik en moet die paartjie apart in die hof trou om aan die wetlike aspekte te voldoen.

Kyk ook Opsomming: NGK oor formulier vir selfdegeslagverbintenisse.

*********

PERSVERKLARING

6 AUGUSTUS 2020

Insake: Binnelandse Sake se goedkeuring aan die NGK vir die voltrekking van selfdegeslagverbintenisse

Die Opvolgpaneel van die 2020 Spesiale Beraad Moreletapark, het met skok en ontsteltenis kennis geneem van media berigte dat die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) nou deur die Algemene Sinodale Kantoor amptelik by die Minister van Binnelandse Sake aansoek gedoen het om as godsdienstige organisasie aangewys te word, wat selfdegeslagverbintenisse ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse (Wet 17 van 2006) bevestig. Verskeie navrae is van leraars en lidmate ontvang, wat ontsteld is oor die ontydige en ongemagtigde optrede van die Algemene Sinodale Kantoor. Sinodes, ringe, kerkrade, leraars en lidmate word versoek om hulle ten sterkste uit te spreek teen hierdie optrede en om hulle amptelik daarvan te distansieer, en wel om die volgende redes:

1. Daar is nie by die Algemene Sinode van 2019 besluit om by die Departement van Binnelandse Sake namens die NG Kerk as denominasie aansoek te doen vir die aanstelling van gelegitimeerdes van die NG Kerk om bevestigers van burgerlike verbintenisse te wees nie.

2. Die Algemene Sinode van 2019 het besluit dat daar net vir leraars wat selfdegeslagverbintenisse wil bevestig, aansoek gedoen sal word vir registrasie by die Minister van Binnelandse Sake.

3. Daar is nie by die Algemene Sinode van 2019 besluit dat aansoeke vir aanstelling as bevestiger van burgerlike verbintenisse, deur die Kantoor van die Algemene Sinode gedoen mag word nie.

4. Aansoeke by die Departement van Binnelandse Sake vir gelegitimeerdes van die NG Kerk om as huweliksbevestigers aangestel te word ingevolge die Huwelikswet (Wet 25 van 1961), geskied deur die sinodale kantore (vgl. Reglement vir Beroeping, Bevestiging, Demissie en Emeritaat van Predikante, 10.9.1) en daarom behoort enige aanverwante aangeleenthede op die terrein van die streeksinodes.

5. ’n Amptenaar in diens van die Algemene Sinode het geen opdrag of bevoegdheid van die Algemene Sinode ontvang om ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse aansoek te doen vir die aanstelling van bevestigers van burgerlike verbintenisse nie.

6. Die Handelinge van die Algemene Sinode 2019 is nog nie gepubliseer nie, met die gevolg dat besluite van die Algemene Sinode geneem in 2019 nog nie in werking getree het nie.

7. Terwyl die NG Kerk skerp verdeeld is oor die aangeleentheid van selfdegeslagverbintenisse, en sinodes, ringe en kerkrade die reg het om hulle eie besluite daaroor te neem, word hiermee nou ’n besluit van die Algemene Sinode op alle ander kerkvergaderinge in die NG Kerk afgedwing.

8. Die Wet op Burgerlike Verbintenisse maak dit moontlik vir gelegitimeerdes van die NG Kerk om direk by die Minister van Binnelandse Sake aansoek te doen om as bevestigers van burgerlike verbintenisse aangestel te word.

9. ’n Aantal gelegitimeerdes van die NG Kerk het reeds op eie inisiatief sodanige aanstelling bekom, hetsy onder eie naam of in naam van ’n godsdienstige organisasie anders as die NG Kerk, en voltrek reeds vir jare burgerlike verbintenisse, ongeag die besluite van die NG Kerk.

10. Druk is vermoedelik met ander motiewe en wederegtelik op die Kantoor van die Algemene Sinode uitgeoefen om namens die NG Kerk, en nie slegs namens leraars wat selfdegeslagverbintenisse wil bevestig nie, daarvoor aansoek te doen.

11. Dit is gedoen om die NG Kerk in al haar vergaderinge en alle gelegitimeerdes van die NG Kerk, ook diegene wat sodanige verbintenisse op Bybels-teologiese gronde sterk afkeur, daarmee te kompromitteer.

12. Die wyse waarop die openbare media die goedkeuring van die NG Kerk se aansoek gekommunikeer het, deur nie die onderskeid tussen huwelike en burgerlike verbintenisse,soos deur die twee afsonderlike wette én die besluite van die Algemene Sinode 2019, te handhaaf nie, het reeds tot groot skade binne en buite die NG Kerk gelei.

13. Weens die feit dat die besluite van die Algemene Sinode 2019 as onbybels en onkerkordelik geag word, en weens die feit dat ’n aantal kerkvergaderinge reeds ’n formele geskil daaroor teenoor die Algemene Sinode verklaar het, kan nóg die Algemene Sinodale Kantoor nóg streeksinodes se gevolmagtigde(s) nóg gelegitimeerdes van die NG Kerk in hierdie aangeleentheid handel, alvorens die Skrifgefundeerdheid, wettigheid en regsgeldigheid van die besluite bepaal is, en die geskille wat bestaan, behoorlik uit die weg geruim is.

Gelegitimeerdes van die NG Kerk wat oor ’n aanstelling as huweliksbevestiger ingevolge die Huwelikswet beskik, word versoek om as vrywaring ’n skrywe aan hul sinodale kantoor te rig met die versoek dat die Minister van Binnelandse Sake skriftelik in kennis gestel word dat die huweliksbevestiger op grond van gewete, godsdiens en geloofsoortuiging, beswaar het teen die bevestiging van burgerlike verbintenisse. In hierdie skrywe moet die volle besonderhede van die huweliksbevestiger verstrek word (naam, van, adres, kerkverband en aanstellingsnommer).

Kerkvergaderings, ampsdraers en lidmate wat hierdie verklaring ondersteun of in die lig daarvan ook nou wil doleer of ’n geskil met die Algemene Sinode wil verklaar, word uitgenooi om die opstellers te kontak by beraad@moreleta.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui