Litanie van leuens

Die dokument “Litanie van Leuens” hieronder, deur Johann Ernst het die eerste keer die lig gesien toe dit saam met twee ander dokumente aan verteenwoordigers van die ASM oorhandig is tydens ‘n vergadering op 22-23 Februarie 2021.

Daarna is dit ook ingesluit by die aanvullende agenda van die NG Kerk se algemene sinode in 2023 (kyk www.kerkargief.co.za/acta)

Hier volg die dokument en dekbriewe soos gevind in die agenda:

***********

Dr J H Ernst
Club Crescent 8
Southdowns Estate
IRENE X52
0123
Epos: jhernst@tiscali.co.za
Selfoon: 0835077710

13 Julie 2023

Die Algemene Sekretaris
Algemene Sinode Ned Geref Kerk

Per epos: gustavc@ngkerk.org.za
Afskrif: charl@parke.co.za

INDIENING VAN PROSEDURELE BESWAAR BY ALGEMENE SINODE 2023

1. Hiermee word meer as 3 (maande) voor aanvang van die Algemene Sinode 2023 by u Kantoor formeel ingevolge Kerkorde Artikel 23.4 ingedien: (1) Die Prosedurele Beswaar teen die Besluit van Algemene Sinode 2019 oor Selfdegeslagverbintenisse; (2) Die Aansoek om Kondonasie; en (3) Die Prosedurele Beswaar teen die Besluit van die Gesuiwerde Appèlligaam. Hierdie drie dokumente met begeleidende skrywes is reeds in u besit gestel met die versoek dat dit aan die Algemene Sinode voorgelê word vir oorweging, synde dat dit weens prejudisering waarskynlik nie deur u as Algemene Sekretaris, die Moderamen van die Algemene Sinode en die Algemene Taakspan Regte (ATR) ingevolge Reglement 23 punt 4.5 hanteer kan word nie. Die regsgeldigheid van Reglement 23 punt 4.5 word ook op goeie gronde betwis. In elk geval maak Reglement 23.4.5.5.1 daarvoor voorsiening dat die beswaar sonder nadelige gevolge vir die kerk kon oorstaan na die volgende vergadering van die Algemene Sinode en dat die Algemene Sekretaris in daardie geval moet toesien dat die saak op die agenda van die volgende Algemene Sinode geplaas word. Daar is ook nog geen uitsluitsel oor die besware wat op kerkordelike wyse onder aandag van die Algemene Sinode gebring is nie weens meer as een poging om die besware van die tafel te kry. Ingevolge Artikel 23.2 rus daar ’n kerkordelike verantwoordelikheid op alle ampsdraers en lidmate van die kerk om voortdurend met die Woord van God, die belydenis en die Kerkorde as maatstaf die werk van vergaderings en ampsdraers te beoordeel. Daar rus insgelyks ’n kerkordelike plig op die Algemene Sinode om die werk van sy vergadering en sy lede te ondersoek of te laat ondersoek by die inbring van besware daarteen. Dit het, wat hierdie saak betref, nog nie geskied nie.

2. Die indiening hiervan by u as Algemene Sekretaris vir plasing op die Agenda van die eerskomende Algemene Sinode word genoodsaak deur die volgende:

2.1.1 Die reg om ’n prosedurele beswaar direk aan die Algemene Sinode te rig, is nog by die vorige gewone vergadering van die Algemene Sinode gehandhaaf. Dit is die submissie van die Beswaarde dat die veranderinge wat sedertdien aan die Kerkorde aangebring is, op onkerkordelike, onregmatige en daarom op ongeldige wyse aangebring is. Daarmee word volledig in die Aansoek om Kondonasie gehandel. Sou dit die geval wees, wat slegs na onpartydige ondersoek en behoorlike bevinding vasgestel kan word, bestaan hierdie reg steeds en kan dit deur die Beswaarde uitgeoefen word deur hom in sy aanvanklike Prosedurele Beswaar, ongeag die tydsverloop sedert die vorige vergadering, direk op die Algemene Sinode te beroep. Die ondersoek en bevinding van die Gesuiwerde ATR daarna, was gebrekkig en dit is op rekord dat hierdie aangewese appèlliggaam nie sy regsplig nagekom het deur die beskikbare dokumentasie met die bewyse tot die onkerkordelike en onregmatige ontneming van die reg om ’n prosedurele beswaar direk aan die Algemene Sinode te rig, in behandeling te neem en daaroor tot ’n beslissing te kom. Daarmee word in die Prosedurele Beswaar teen die Besluit van die Gesuiwerde Appèlliggaam behandel.

2.1.2 Daar is reeds by die indiening van die aanvanklike Prosedurele Beswaar op skrif versoek dat die Algemene Sekretaris en die lede van die ATR wat geïmpliseer word en/of reeds op die een of ander wyse by die saak betrek is, hulle by die hantering daarvan moet onttrek. Daar is skriftelik versoek dat die Algemene Sekretaris iemand namens hom aanwys om aan die voorskrifte van Reglement 23 punt 4.5 uitvoering te gee. Daar is skriftelik versoek dat dat by die hantering van die Prosedurele Beswaar teen die Besluit van die Gesuiwerde Appèlliggaam die sekundi-lede van die ATR deur die Algemene Sekretaris se gemagtigde opgeroep word vir die hantering daarvan. Daar is skriftelik versoek dat die Algemene Sinodale Moderamen self ’n appèlliggaam aanwys om uitvoering te gee aan aan die voorskrifte van Reglement 23 punt 4.5. Daar is vooraf skriftelik beswaar gemaak teen die hantering van die Prosedurele Beswaar teen die Besluit van die Gesuiwerde Appèlliggaam deur al die geïmpliseerde lede van die ATR omdat daar nie regter in die eie saak gespeel kan word nie. Al hierdie versoeke en enige verdere beswaar is bloot geïgnoreer en daar is willens en wetens voortgegaan om op onordelike, onredelike en onregmatige wyse met ordelike, redelike en regmatige versoeke en besware te handel.

2.1.3 Die skriba van die ATR het die Beswaarde aan die einde van Mei 2023 skriftelik laat weet dat die ATR tydens sy vergadering, wat kort daarna plaasgevind het, die Prosedurele Beswaar teen die Besluit van die Gesuiwerde Appèlliggaam in behandeling sal neem ten einde uitvoering aan Reglement 23 punt 4.5.3 en 4.5.4 te gee. Daar is onderneem om aan die Beswaarde kennis te gee van die gevolg daarvan. Toe daar by die skriba van die ATR navraag gedoen is oor wat van die Beswaar geword het, het die skriba van die ATR laat weet dat hy met verlof is en eers in Julie-maand terug sal wees om te kan antwoord. Toe die antwoord uiteindelik na meer as 5 (vyf) weke ontvang is, was die verrassing groot om te verneem dat die ATR die beswaar ingevolgepunt 4.5.1 ontvang het, maar nie uitvoering kon gee aan punt 4.5.2 nie, weens die beperkende voorwaardes in korrespondensie deur die Beswaarde gestel. Tensy die Beswaarde die “beperkende voorwaardes” as “belemmering” uit die weg ruim, kan daar nie verder uitvoering aan Reglement 23 punt 4.5 gegee word nie, aldus die ATR. Wat die ATR hier van die Beswaarde verlang, is dat die Beswaarde afsien van sy versoek tot rekusering deur al die lede van die ATR sodat hulle as geïmpliseerdes steeds beskikkingsreg behou oor die verdere verloop van die saak. Daarvan kan ongelukkig nie afgesien word nie, omdat een van die hoofbesware in die verloop van sake tot hier toe juis die onregmatige inmenging, samespanning en onbehoorlike beïnvloeding deur beapaalde individue is, waaronder die voorsitter van die ATR, wat vir hulleself telkens ’n gunstige uitkoms probeer beding en verseker. Wat die ATR nou versuim het om te doen, was om te besluit om die sekundi-lede van die ATR op te roep, of om die ASM te versoek om dit te doen, sodat ’n onbevange en onpartydige ATR aan die uitvoering van Reglement 23 punt 4.5.3 en 4.5.4 die nodige aandag kon gee. Die tyd hiervoor het ongelukkig nou uitgeloop en slegs die Algemene Sinode, waarvan die ASM en ATR slegs gevolmagtigdes is wanneer die Algemene Sinode nie in sitting is nie, kan nou regmatig, volledig en deeglik hiermee handel. By die hantering hiervan by die eerskomende Algemene Sinode sal al die geïmpliseerdes hulle steeds moet rekuseer. Enige verdere poging om die Prosedurele Beswaar van die tafel of onder die mat te vee, sal kerkordelik en self burgerregtelik teengestaan word, omrede die Beswaarde se remedies nou uitgeput sal wees sou die Algemene Sinode dit nie in die finale instansie in behandeling neem nie.

3. Ter wille van deursigtigheid en om te verseker dat die 3 (drie) vermelde stukke hierbo wel op die Agenda van die eerskomende Algemene Sinode geplaas is, word versoek dat die volledige inhoud daarvan vooraf in die gedrukte en elektroniese Agenda vir die vergadering verskyn. Daar is niks vertrouliks of geheim in die stukke nie en gevolglik hoort hierdie stukke in die eerste gewone agenda vir die vergadering wat 6 (ses) weke voor die aanvang van die vergadering elektronies aan die afgevaardigdes beskikbaar gestel word en aan alle dienende predikante van die kerk, sowel as gemeentes, amptenare en belanghebbende instansies, gestuur moet word.

4. Beswaarde is tans met verlof en uitstedig. Hy sal eers nadat die tydperk verstryk het om die Prosedurele Beswaar by die Algemene Sekretaris in te dien, weer tuis wees. Ongelukkig het hy nie die stukke waarna hierbo verwys is, tans in sy besit om dit saam met hierdie skrywe in te dien nie. Daarvoor is die skrywe wat nou eers vanaf die Skriba van die ATR ontvang is, mede verantwoordelik. Maar soos reeds vermeld, is dit tot die Algemene Sekretaris te beskikking en word dit as aangeheg by hierdie skrywe geag. Ontvangserkenning van hierdie skrywe mét al die stukke word voor 15 Julie 2023 verlang.

Met agting

Julle broer in Christus

J H ERNST (DR)

************

Dr J H Ernst
Posbus 9815
CENTURION 0046
Tel: 012 744 7095
Sel: 083 507 7710
e-pos: jhernst@tiscali.co.za

30 Junie 2023

Die Algemene Sekretaris
Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk
Posbus 13528
HATFIELD
0028
Per e-pos: gustavc@ngkerk.org.za

Geagte dr Claassen

INDIENING VAN BESWAARSKRIF OOR LEER-/ETIESE SAKE TEEN DIE BESLUITE VAN DIE ALGEMENE SINODE VAN 2019 OOR SELFDEGESLAGVERBINTENISSE : DR J H ERNST

Ontvang hierby aangeheg my Beswaarskrif teen die Besluite van die Algemene Sinode van 2019 oor Selfdegeslagverbintenisse wat ingevolge Artikels 23.2, 23.4 en 23.5 van die Kerkorde 2019 binne die voorgeskrewe tyd van 3 (drie) maande voor aanvang van die gewone vergadering van die Algemene Sinode, wat gehou sal word vanaf 15 tot 20 Oktober 2023, by u as die Algemene Sekretaris ingedien word.

Afsonderlik hiervan is daar by u ’n Prosedurele Beswaar teen dieselfde besluite ook ingevolge Artikel 23.4 by u ingedien, sáám met ’n Aansoek om Kondonasie én ’n Appèl teen die Gesuiwerde ATR se besluit dat die Prosedurele Beswaar nie ontvanklik sou wees nie. Daar het nou reeds ’n maand verloop sedert die ATR ingevolge 4.5.3 en 4.5.4 van die Reglement, so is ek deur die skriba van die ATR meegedeel, daaroor sou beslis. Géén terugvoering is sedertdien van u of die ATR daaroor ontvang nie. My versoek was dat daar ingevolge 4.5.5.1 van die Reglement gehandel sal word, naamlik dat die saak op die agenda van die eerskomende Algemene Sinode geplaas word. Hiermee gee ek dan ook kennis daarvan en ag die Beswaarskrif, die Aansoek om Kondonasie én die Appèl as betyds gelewer aan u as Algemene Sekretaris vir opname daarvan in die Agenda vir die vergadering. Sou dit nie gebeur nie, sal ek verplig wees om regshulp te kry wat die eerskomende Algemene Sinode sal verplig om die Prosedurele Beswaar aan te hoor en daaroor te beslis.

Dit is ongelukkig my ervaring dat daar ’n doelbewuste poging vanaf u Kantoor, alternatiewelik vanuit die Algemene Sinodale Moderamen, alternatiewelik vanuit Taakspan Regte, aangewend word om die grondige besware wat onder die Algemene Sinode se aandag gebring is, van die vergadering van die Algemene Sinode te weerhou. Dit kan egter nie toegelaat word, veral in die posisie waarin die NG Kerkverband tans verkeer. Dit is wonderlik dat daar vanaf die Algemene Sinode ’n oproep gemaak word oor die genesing van die land, maar dan moet die kerkleiers en kerkvergaderinge wat daarvoor vra, self hand in eie boesem steek. Wat help dit om te sê: “Met totale gebrek aan verantwoordbaarheid word die gesag van die parlement ook ondermyn en weerspieël debatte al hoe meer ’n gebrek aan respek vir die kiesers”, as dit net so in die NG Kerk ook gaan? En wat van die regering wat sonder morele kompas is, as die NG Kerk ook sy morele kompas verloor het. Is die “leierskap” van die NG Kerk bang dat die waarheid uitkom oor hulle eie optrede? Is hulle bang om dit te laat toets aan die hand van die Bybel, die Belydenis en die Kerkorde? Waarom dan die gesukkel om die Algemene Sinode self in te lig en te laat besluit oor die wyse waarop die 2019besluite oor Selfdegeslagverbintenisse tot stand gekom het, of glo u regtig dat alles eerbaar en korrek geskied het, ongeag die talle bewyse tot die teendeel?

Daar is nog tyd om reg te maak wat verbrou is. Maar word dit nie gedoen nie, gaan hierdie klad op die naam van die NG Kerk bly en gaan die Kerk in die toekoms, wanneer die Here en geskiedenis oordeel, bedroef daarvan afkom.

Met agting

Die uwe

JH ERNST (DR)

*********************

BESWAARSKRIF OOR LEER-/ETIESE SAKE TEEN DIE BESLUITE VAN DIE ALGEMENE SINODE VAN 2019 OOR SELFDEGESLAGVERBINTENISSE

DR J H ERNST

[Die gebruik van name in hierdie geskrif word tot die minimum beperk. Waar name gebruik word, is dit vir die oorweging van die feite onvermydelik. Verskoning word vooraf aangebied aan enigiemand wat oordeel dat hy of sy deur die inhoud van hierdie geskrif benadeel word. Regstellings sal gedoen word waar enigiemand oortuigend kon aantoon dat hy of sy op enige wyse hierdeur skade aangedoen is.]

Amore et studio elucidandae veritatis. In nomine domini nostri Iesu Christi.

[Uit liefde en ywer om die waarheid te verhelder. In die naam van ons Here Jesus Christus.]

Die Beswaarskrif/Gravamen word ingevolge Artikels 23.2, 23.4 en 23.5 van die Kerkorde 2019 binne die voorgeskrewe tyd by die gewone vergadering van die Algemene Sinode, wat gehou sal word vanaf 15 tot 20 Oktober 2023, ingedien. Ampsdraers en lidmate van die Kerk is daartoe opgeroep om voortdurend met die Woord van God, die Belydenis en die Kerkorde as maatstaf die werk van vergaderings en ampsdraers te beoordeel. Hierdie is ’n beswaarskrif oor leer/etiese sake (gravamen) wat handel oor besluite van die Algemene Sinode oor Selfdegeslagverbintenisse en word aan die Algemene Sinode in sitting gerig. Die beswaarskrif is gegrond op die Bybel en die Belydenis en handel in besonder oor oortredings van die NEGENDE GEBOD wat begaan is by (i) die saamstel, goedkeuring en indiening deur die “Wes-Kaap”, (ii) die beoordeling van en besluit oor die ontvanklikheid deur die Algemene Taakspan Regte”, (iii) die hantering, bespreking en goedkeuring deur die vergadering van die Algemene Sinode, en (iv) die daaropvolgende aanbieding deur die gevolmagdigdes van die Algemene Sinode van die “beskrywingspunt van die Sinode van WesKaapland”, naamlik: “Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie” en wat die NEGENDE GEBOD eis soos vervat in Sondag 43 van die Heidelbergse Kategismus Antwoord 112, naamlik: “Ek mag teen niemand vals getuienis aflê, niemand se woorde verdraai, nie ’n kwaadsteker of lasteraar wees nie, niemand ligtelik en onverhoord veroordeel of help veroordeel nie. Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel se eie werke vermy as ek nie die sware toorn van God oor my wil bring nie. So moet ek in regsake en in alle ander handelinge die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely. My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder.” Die Bybel as die heilige on onfeilbare Woord van God (vgl. Kerkorde Artikel 1) vereis dat gelowiges onder mekaar die waarheid sal praat. Dit moet ook by ’n kerkvergadering soos die Algemene Sinode die geval wees. In aanloop tot, tydens en na afloop van ’n vergadering van die Algemene Sinode moet die lede van vergaderings of die lede van die gevolmagtigdes van vergaderinge hulle in alle opsigte daarvan weerhou om op ’n oneerlike, leuenagtige en bedrieglike wyse op te tree. Wanneer die werk van vergaderings en ampsdraers beoordeel word (vgl. Kerkorde Artikel 23.2) en daar by vergaderings en ampsdraers met die oog daarop navraag gedoen word oor hulle werksaamhede, is die vergaderings en ampsdraers verplig om op ’n eerlike, deursigtige en verantwoordbare wyse rekenskap te gee. In die Gedragskode vir vir Predikante van die NG Kerk staan onder Betroubaarheid (punt 2) “deur dit wat aan die predikante toevertrou is met eerlikheid en noukeurigheid te hanteer; onder Administratiewe Aksies (punt 7) “Gelegitimeerdes moet deursigtig en eerlik die dag-tot-dag administrasie wat van hulle in die bediening verwag word, uitvoer; onder Integriteit (punt 9) “Gelegitimeerdes moet integriteit toon in persoonlike karakter” deur eerlik te wees; en onder Verantwoordelikheid (Aanspreeklikheid) (punt 10) “Gelegitimeerdes het die verantwoordelikheid om met ywer, toewyding, opregtheid en eerlikheid te dien in hul onderskeie werkkringe tov Bedieningsverantwoordelikheid in gemeente en ander werkkring aan hul toevertrou [en] Breër kerklike verband waar hul dien.”

Hierdie Beswaarskrif (Gravamen) dien nie as klagstaat wat betref die persoonlike en gevolglik tugwaardige optrede van enige individu nie. Dit handel oor die optrede in amptelike hoedanigheid (nomen officio) van ampsdraers in bepaalde posisies en kerkvergaderinge of die vergadering se gevolmagtigde(s). Waar daar na bepaalde individue se optrede verwys word, kan gemeld word dat daar met hulle die weg van Matteus 18:15-18 gevolg is. Oor hulle persoonlike optredes is daar oor ’n tydperk van meer as 4 (vier) jaar heelwat persoonlike gesprek gevoer, ook in die teenwoordigheid van ander persone. Maar in hierdie Beswaarskrif (Gravamen) handel dit oor die kollektiewe aanspreeklikheid en aanspreekbaarheid van diegene wat saam besluit het om op ’n oneerlike en bedrieglike wyse die steun van vergaderings te werf om ’n “beskrywingspunt”, wat nie by ’n kerkvergadering of sy gevolmagtigde sy oorsprong gehad het nie, maar daarbuite, tot amptelike besluite van die Algemene Sinode van die NG Kerk te maak. Gevolglik word die Algemene Sinode van 2023 opgeroep om self te beslis of beskrywingspunte wat op leuenagtige en bedrieglike wyse en langs oneerbare en onwettige weë op die tafel van die vergadering gekom het en daarna onder valse voorwendsels goedgekeur is, staande kan bly en steeds tot uitvoering gebring kan word. Ongelukkig kan die doel nie die middele heilig nie. Vir die Christen wie se natuur deur Christus verander is (2 Kor 5:17) is daar geen regverdiging van onetiese gedrag nie, maak nie saak wat die motivering vir die uitkoms daarvan is nie. Vanaf hierdie heilige en volmaakte God kry ons ‘n wet wat Sy karakter reflekteer (Ps 19:7; Rom 7:12). Die Tien Gebooie maak dit duidelik dat moord, egbreuk, diefstel, leuentaal en hebsug onaanvaarbaar is in God se oë en Hy maak geen “ontsnappingsklousule” as motivering of rasionalisasie nie. Let op dat Hy nie sê, “Moenie lieg en bedrieg nie, tensy jy die kerk kan help om uit ’n vasgelooptheid (etiese of leerstellige dilemma) te kom nie.” Dit word genoem “omstandigheidsetiek” en daar is geen ruimte daarvoor in God se wet nie. Dus is dit baie duidelik vanuit God se perspektief dat daar geen doel is om die middele te heilig, wat die middele regverdig deur Sy wet te verbreek nie (vgl. www.gotquestions.org/Afrikaans/doel-heiligmiddele).

’n Hartseer dag vir ’n kerk het aangebreek wanneer haar vergaderings en ampsdraers nie meer aan die kant van die waarheid staan nie en daarop uit is om ampsdraers en lidmate van die kerk te mislei en te bedrieg. Die woorde van die Here Jesus in Johannes 8 vers 44 tot 47 kom hier na vore: “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen. En omdat Ek die waarheid praat, glo julle nie in My nie. Wie van julle kan sonde by My aanwys? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle nie in My nie? Wie ‘n kind van God is, luister na die woorde van God. Juis daarom luister julle nie, omdat julle nie kinders van God is nie.”

  1. DIE BESWAAR IS DAT BESKRYWINGSPUNT B12 OOR SELFDEGESLAG-VERBINTENISSE WAT OP BLADSY 528 EN 529 IN DIE AGENDA VIR DIE ALGEMENE SINODE VAN 2019 OPGENEEM IS AS ’n “BESKRYWINGSPUNT VAN DIE SINODE VAN WES-KAAPLAND”, NIE ’n BESKRYWINGSPUNT IS WAT VAN DIE SINODE VAN WES-KAAPLAND AFKOMSTIG WAS NIE, MAAR SY OORSPRONG GEHAD HET BY DIE MODERATOR VAN DIE SINODE VAN WESKAAPLAND WAT, NA VOORAF OORLEG MET DIE AKTUARIUS VAN DIE ALGEMENE SINODE, DIE MODERATUUR EN MODERAMEN VAN DIE SINODE VAN WES-KAAPLAND BEWEEG HET OM OP SPOEDEISENDE EN WEDEREGTELIKE WYSE DIE STAANDE BESLUITE VAN DIE SINODE VAN WES-KAAPLAND TE WYSIG OM, SONDER OPDRAG VAN DIE SINODE DAARTOE EN SONDER DAT DAAR IN PERSOON DAAROOR VERGADER IS, VALSLIK AS “BESKRYWINGSPUNT VAN DIE SINODE VAN WES-KAAPLAND” AAN DIE ALGEMENE SINODE VOOR TE LÊ. DIE IMPLIKASIE VAN HIERDIE BESWAAR IS DAT BEIDE DIE “BESKRYWINGSPUNT” ASOOK DIE BESLUITE WAT DAARUIT VOORVLOEI ONKERKORDELIKE EN IN GEHEEL ONWETTIG IS.
  2. DIE BESWAAR IS DAT DIE MODERATUUR IN DIE KENNISGEWING AAN DIE LEDE VAN DIE MODERAMEN VAN DIE SINODE VAN WES-KAAPLAND VALSLIK AANGEVOER HET DAT DIT DIE SINODE SE “BEDOELING [WAS] DAT DIE BESLUITE AS BESKRYWINGSPUNTE AAN DIE ALGEMENE SINODE GESTUUR WORD.”
  3. DIE BESWAAR IS DAT DIE SKRIBA VAN DIE “MODERATUUR NG KERK IN SUID-AFRIKA” OP 28 JUNIE 2019 BY DIE INDIENING VAN DIE BESKRYWINGSPUNT AAN DIE ALGEMENE SEKRETARIS NOMEN OFFICIO VALSLIK GESKRYF HET DAT “DIE SINODE VAN WESKAAPLAND” DIE BESKRYWINGSPUNT INDIEN.
  4. DIE BESWAAR IS DAT DIE ALGEMENE TAAKSPAN REGTE (ATR), NADAT DIT ONDER HULLE AANDAG GEKOM HET DAT DIE “BESKRYWINGSPUNT” NIE VAN DIE SINODE VAN WESKAAPLAND AFKOMSTIG WAS NIE, GEEN POGING AANGEWEND HET OM DIE WAARHEID DAAROOR AAN DIE ALGEMENE SINODE BEKEND TE MAAK NIE, SELFS TOE DAAR VANAF DIE VLOER TYDENS DIE HANTERING VAN DIE BESKRYWINGSPUNT TELKENS DAARNA VERWYS IS AS ’n “BESKRYWINGSPUNT VAN DIE SINODE VAN WES-KAAPLAND” SOOS VALSLIK IN DIE AGENDA AANGEDUI.
  5. DIE BESWAAR IS DAT DIE ALGEMENE TAAKSPAN REGTE (ATR) VALSLIK AAN DIE VERGADERING VAN DIE ALGEMENE SINODE VERSLAG GEDOEN HET DAT DAAR BLOOT “NAVRAAG” GEDOEN IS OOR DIE “BESKRYWINGSPUNT”, TERWYL DIT OM BEWEERDE KERKREGTELIKE ONGERYMDHEDE GEHANDEL HET WAAROOR DIE ATR BEHOORLIK ONDERSOEK MOES GEDOEN HET.
  6. DIE BESWAAR IS DAT DIE SINODE VAN WES-KAAPLAND IN 2019 SY BESLUITE OOR SELFDEGESLAGVERBINTENISSE GENEEM HET IN DIE LIG VAN DIE 2015 EN 2016 BESLUITE VAN DIE ALGEMENE SINODE DAAROOR, EN NIE MET DIE OOG OP ALGEMENE SINODE 2019 NIE, EN DAT DIE WAARHEID DAAROOR AAN DIE ALGEMENE SINODE VAN 2019 VERSWYG IS.
  7. DIE BESWAAR IS DAT DIE SKRIBA VAN DIE MODERATUUR EN MODERAMEN IN ’n GESKREWE ANTWOORD AAN DIE INLIGTINGSBEAMPTE, WAT DIE MODERATUUR OP 24 JANUARIE 2020 BEVESTIG HET, ONOMWONDE GESÊ HET DAT DAAR GÉÉN KORRESPONDENSIE OF E-POSSE VÓÓR DIE MODERATUURSVERGADERING WAS NIE, TERWYL DIT ONWAAR IS. DIE VOORSITTER EN SKRIBA VAN DIE MODERATUUR EN DIE SAAKGELASTIGDE WAT OP 24 JANUARIE 2020 BY DIE MODERATUURSVERGADERING TEENWOORDIG WAS EN BESLIS GEWEET HET VAN DIE VORIGE KORRESPONDENSIE OF EPOSSE, HET HIER WILLENS EN WETENS DIE WAARHEID VERSWYG EN DIE LEUEN BEVESTIG.
  8. DIE BESWAAR IS DAT DIE VERTEENWOORDIGER(S) VAN DIE MODERATUUR VAN WESKAAPLAND DIE ALGEMENE TAAKSPAN REGTE (ATR) EN DIE ALGEMENE SINODE MISLEI HET IN SY/HULLE REPLIEK OP DIE BEWEERDE KERKREGTELIKE ONGERYMDHEDE DEUR INLIGTING TE VERSWYG, FEITE TE VERDRAAI EN WANVOORSTELLINGS OOR DIE OORSPRONG EN HANTERING VAN DIE “BESKRYWINGSPUNT” TE MAAK.
  9. DIE BESWAAR IS DAT DAAR LEUENS AAN DIE VERGADERING VAN DIE SINODE VERTEL IS OOR DIE INDIENING VAN DIE MOTIVERING VIR DIE “BESKRYWINGSPUNT” EN DAT DIE VERGADERING ’n BESLUIT DAAROOR GENEEM HET SONDER DIE VOORAF VERPLIGTE INSAE DEUR DIE AFGEVAARDIGDES EN ANDER PERSONE AAN WIE DIE AGENDA VIR DIE VERGADERING VOORSIEN MOET WORD.
  10. DIE BESWAAR IS DAT TYDENS DIE VERGADERING VAN DIE ALGEMENE SINODE VALSLIK AANGEVOER EN BESLIS IS DAT DIE “BESKRYWINGSPUNT VAN WES-KAAPLAND” DIE BESLUITE VAN 2007 EN 2011 BY WYSE VAN VOORAF KENNIS VAN REVISIE KAN WYSIG. TOE DIE “BESKRYWINGSPUNT” INGEDIEN IS, WAS DIE 2015-BESLUITE WEENS DIE HOFBESLISSING DIE BINDENDE BESLUITE. KENNIS VAN REVISIE KAN SLEGS GEGEE WORD TEN OPSIGTE VAN DIE “VORIGE” BINDENDE BESLUIT EN NIE DIE “VORIGEVORIGE” NIE. TOE DIE VERGADERING BESLUIT HET OM DIE 2015-BESLUITE NIETIG TE VERKLAAR HET ALLE BESKRYWINGSPUNTE TEN OPSIGTE VAN HIERDIE BESLUITE OOK VERVAL. DIE VERGADERING IS HIERDEUR MISLEI EN BEDRIEG.
  11. DIE BESWAAR IS DAT GEVOLMAGTIGDES VAN DIE ALGEMENE SINODE IN DIE GIDS : AGTERGROND EN INLIGTING : DIE ALGEMENE SINODE SE 2019-BESLUIT OOR SELFDEGESLAGVERHOUDINGS MISLEIDEND EN VALSLIK AANGEVOER HET DAT ’n BESKRYWINGSPUNT VAN DIE SINODE VAN WES-KAAPLAND (MEI 2019) AS VOORSTEL AANGEBIED IS EN SO AANVAAR IS, TERWYL DIE BESKRYWINGSPUNT NIE DEUR DIE SINODE VAN WES-KAAPLAND, WAT IN MEI 2019 VERGADER HET, AAN DIE ALGEMENE SINODE DEURGESTUUR IS NIE.
  12. DIE BESWAAR IS DAT DIE VOORSITTER VAN DIE MODERATUUR EN DIE MODERAMEN VAN DIE SINODE VAN WES-KAAPLAND NIE DIE WAARHEID VERTEL HET OOR DIE OORSPRONG VAN DIE “BESKRYWINGSPUNT” NIE EN DAT HY DIE MODERATUUR ONDER VALSE VOORWENDSELS BEWEEG HET OM TEENOOR DIE MODERAMEN AAN TE VOER DAT DIT DIE BEDOELING VAN DIE SINODE WAS OM DIE “BESKRYWINGSPUNT” BY DIE ALGEMENE SINODE IN TE DIEN, TERWYL DIT OORSPRONKLIK SY EIE BEDOELING WAS.

Die vraag wat beantwoord moet word aan die hand van hierdie Beswaarskrif (Gravamen), is of ’n besluit deur ’n kerkvergadering onder valse voorwendsel en op grond van talle leuens geneem, ’n regsgeldige en uitvoerbare besluit daar kan stel. Die antwoord daarop is doodeenvoudig: NEE! Spreuke 12 vers 17 en verder: “Wie die waarheid aan die lig bring, lewer betroubare getuienis; ’n getuie wat lieg, maak alles vals. Die waarheid hou vir altyd, die leuen net ’n oomblik. Die Here het ’n afsku van leuenaars; Hy hou van betroubare mense.” Efesiërs 4 vers 25: “Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam.”

LITANIE VAN LEUENS

1. INLEIDING

Die kerkvergaderinge, ampsdraers en lidmate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk verkeer heimlik onder die indruk dat die besluite van Algemene Sinode 2019 oor selfdegeslagverbintenisse korrek en gevolglik regsgeldig tot stand gekom het. Maar dit is nie die geval nie. Soos vóór, tydens en ná die Algemene Sinode van 2015 die geval was, het hier weer heelwat agter die skerms plaasgevind. Die agteraf planmakers het nie self eerlik daarmee uitgekom en openlik gesê wat aan die gang is nie. Hulle het deurentyd hulle kaarte stryf teen die bors gehou en ’n kat-en-muis speletjie gespeel. Dié oneerlike misleiers glo selfs dat hulle daarmee weggekom het en dat geen haan daar ooit na sal kraai nie. Danksy die hermeneutiek van suspisie of agterdog, én danksy volgehoue navraag by al die rolspelers, én danksy die hulp wat burgerlike wetgewing gebied het, én danksy individue wie se gewetes hulle bly pla het, het die waarheid tog stukkie vir stukkie begin uitkom en kan die hele bedrogspul nou feitlik volledig aan die lig gebring word.

2. AGENDA ALGEMENE SINODE 2019

2.1 Toe die Agenda vir Algemene Sinode 2019 in Augustus 2019 op die Algemene Sinode se webblad verskyn het, is daar op 18 Augustus 2019 ’n skrywe aan die Algemene Sekretaris gerig waarin navraag gedoen is oor ’n “beskrywingspunt” wat onder B12 in naam van die Sinode van Wes-Kaapland oor selfdegeslagverbintenisse verskyn het. Die Algemene Sekretaris is die volgende meegedeel:

Volgens die Notule van die onlangse vergadering van die Sinode van Wes-Kaapland is daar nie besluit om sodanige beskrywingspunt aan die Algemene Sinode vir oorweging voor te lê nie. Iemand het skynbaar na die sinodesitting die selfstandige besluite van die Sinode van WesKaapland oor die genoemde aangeleentheid verander en “Sinode” met “Algemene Sinode” en “STLAS” met “ATLAS” gaan vervang en sodoende die besluite van daardie vergadering by u Kantoor ingedien met die bedoeling dat die eerskomende Algemene Sinode by goedkeuring van die “beskrywingspunt” feitlik ooreenstemmende besluite neem. Aangesien die Moderamen van Wes-Kaapland nog nie na afloop van die Wes-Kaapse sinodesitting vergader het [nie], kan hierdie “beskrywingspunt” ook nie van die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland as die Sinode se gevolmagtigde afkomstig wees nie. Die Moderatuur van die betrokke Sinode of Moderamen het ingevolge die toepaslike reglemente ook nie jurisdiksie in dié verband nie. Daarom verneem ons graag van u wie dan wel hierdie “beskrywingspunt” by die Kantoor van die Algemene Sinode ingedien het en waarom dit in die Agenda van Algemene Sinode 2019 aangebied word as “beskrywingspunt” van die Sinode van Wes-Kaapland. ’n Afskrif van die begeleidende skrywe en/of enige ander dokument wat lig op die saak kan werp, word dus van u verlang. Ter wille van die permanente en tydelike taakspanne wat ingevolge die kerklike bepalinge die “beskrywingspunt” moet oorweeg, behoort die korrekte en volledige inligting ook in die Agenda opgeneem te word en per amptelike skrywe vanaf u Kantoor onder alle belanghebbendes se aandag gebring te word. Die redelike vermoede bestaan dat daar hier, soos by Algemene Sinode 2015, van ’n kerkregtelike ongerymdheid sprake kan wees. By Algemene Sinode 2015 is daar vanuit die Sinode van Wes-Kaapland ’n beskrywingspunt namens die Kuratorium van Stellenbosch aangebied (sien Aanvullende Agenda bladsy 98) wat later geblyk het nie van die Kuratorium self afkomstig was nie. Dit is daarom noodsaaklik dat ook oor die nuutste “beskrywingspunt” vanuit dieselfde Sinode die nodige sekerheid verkry word. Gegewe die uitspraak in die onlangse hofsaak teen die Algemene Sinode moet die Kerk se voorgeskrewe prosedures noulettend en korrek nagevolg word en rus daar ’n verantwoordelikheid op almal in die Kerk om sorgvuldig toe te sien dat dit inderdaad die geval is. Dit is nie nodig om u daarop te wys dat ingevolge Bepaling 3.1 van die Reglement van Orde die Agenda vir die vergadering van die Algemene Sinode toeganklik is vir alle diensdoende predikante van die Kerk. Hierdie aangeleentheid is dus, wat die NG Kerk betref, in die openbare kerklike domein. U word egter versoek om hierdie navraag nie op die oomblik met enige afgevaardigde of verteenwoordiger van die Sinode van Wes-Kaapland op te neem alvorens die korrekte inligting tot op datum onder die skrywer hiervan se aandag gebring is en alle onsekerheid oor die korrekte feite uit die weg geruim is nie. ’n Afskrif van hierdie skrywe word ook gestuur aan die Aktuarius van die Algemene Sinode, dr Dewyk Ungerer.

Sedert daar by die elektroniese publikasie van die Agenda vir Algemene Sinode 2019 kennis geneem is van die “beskrywingspunt”, is daar oor ’n tydperk van 30 dae nie minder nie as 5 (vyf) skrywes aan die Algemene Sekretaris gerig, elke keer met ’n dringende versoek om die inligting te voorsien oor wie hierdie “beskrywingspunt” by die Kantoor van die Algemene Sinode ingedien het en waarom dit in die Agenda van Algemene Sinode 2019 aangebied word as “beskrywingspunt” van die Sinode van Wes-Kaapland. ’n Afskrif van die begeleidende skrywe en/of enige ander dokument wat lig op die saak kan werp, is telkens aangevra. Die Algemene Sekretaris het elke keer spoedig per e-pos ontvangs van die skrywes erken, maar ten spyte van die herhaalde versoeke nie die verlangde inligting voorsien nie. Die Aktuarius van die Algemene Sinode is van ’n afskrif van elk van dié briewe voorsien, maar van hom is géén reaksie ontvang nie. Uiteindelik, nadat meer as 3 (drie) weke verloop het en die Algemene Sekretaris selfs per e-pos laat weet het dat die Aktuarius in die Kaap was en dat sy terugvoer is “dat die skrywe van die Wes-Kaaplandse Sinode aan al die vereistes voldoen”, het die Algemene Sekretaris besluit om die saak na die Aktuarius te verwys “met die versoek dat hy amptelik aan die Wes-Kaap kommunikeer dat daar ‘n navraag is oor die wettigheid van die beskrywingspunt” en dat Wes-Kaap versoek word “om bewys te lewer dat hulle dit wettig ingestuur het.” Sedertdien het nóg 10 (tien) dae verloop en het nóg die Algemene Sekretaris nóg die Aktuarius van hulle laat hoor.

2.2 Die huiwering of versuim van die Kantoor van die Algemene Sinode om die verlangde inligting te voorsien, het ’n eie verdere ondersoek na die aangeleentheid genoodsaak deurdat ook ’n skrywe aan die Skriba van die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland gerig is met die dringende versoek om nie later nie as Vrydag 20 September 2019 teen dagsluiting bepaalde agendas, notules en korrespondensie betreffende die aangeleentheid te voorsien. Die versoek is op drie agtereenvolgende dae per brief aan die Skriba gerig en eers na die derde skrywe is ’n ontvangserkenning gestuur. Die Skriba het laat weet dat hy nie voor Woensdag 25 September 2019 op die skrywe kan reageer nie. Dit het egter nie gewaarborg dat die verlangde inligting gestuur sal word nie en daar kon nie meer tot dan gewag word om die beweerde ongerymdhede vóór die aanvang van Algemene Sinode 2019 onder aandag van die ATR te bring nie. Dit het in elk geval gaandeweg duidelik geword dat nóg die Algemene Sekretaris nóg die Aktuarius van die Algemene Sinode nóg die Skriba van die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland bereid was om spoedig, deursigtig, eerlik en verantwoordbaar met die aangeleentheid om te gaan.

2.3 Die ondersoek wat noodgedwonge onderneem moes word, het spoedig die ware toedrag van sake aan die lig gebring. Tog sou daar nog verdere pogings aangewend word om die ongerymdhede wat in die proses plaasgevind het te verswyg, te verberg en te vergoeilik en dit sodoende ten alle koste van die vergadering van die Algemene Sinode weg te hou.

3. BEWEERDE KERKREGTELIKE ONGERYMDHEDE

3.1 ’n Skrywe is op 23 September 2019 via die Kantoor van die Algemene Sinode aan die Algemene Taakspan Regte (ATR) gerig ingevolge 3.1.4 van die Reglement vir die Algemene Taakspan Regte. Die ATR is versoek om spoedeisend, indringend en daadwerklik kennis te neem van ernstige en omvangryke kerkregtelike ongerymdhede wat in algemene sinodale verband plaasgevind het. Hierdie ongerymdhede het plaasgevind by die opstel, goedkeuring en indiening van die “beskrywingspunt” oor selfdegeslagverbintenisse onder die naam van die Sinode van Wes-Kaapland wat op bladsy 528 en 529 in die Agenda vir Algemene Sinode 2019 verskyn. Die kerkregtelike ongerymdhede is met hierdie skrywe formeel onder aandag van die ATR gebring met die versoek om spoedig en dringend ingevolge 3.1.4 van die Reglement vir die Algemene Taakspan Regte te handel en die ondergemelde kerkregtelike ongerymdhede onder die aandag van die Algemene Sinode in sitting te bring met ’n aanduiding van die moontlike weg tot herstel. Die ATR is die volgende meegedeel:

3.1.1 Opstel, goedkeuring en indiening van die “beskrywingspunt”

3.1.1.1 Daar is met groot moeite en danksy die hulp van lede van die Sinode van Wes-Kaapland vasgestel waar die “beskrywingspunt” vandaan kom, waarom dit vir die Algemene Sinode voorberei is, hoe dit spoedeisend deur die Moderamen goedgekeur is en wanneer dit aan die Kantoor van die Algemene Sinode deurgestuur is. Uiteraard ontbreek daar nog bykomende inligting en sal bepaalde individue onder eed gevra kan word om die volle waarheid te kom vertel, maar wat wel nou beskikbaar is, is genoegsaam om die ernstige en ergerlike aard van die kerkregtelike ongerymdhede te bewys en om die Algemene Sinode tot daadwerklike optrede te beweeg.

3.1.1.2 Die “beskrywingspunt” het sy formele oorsprong gevind by ’n vergadering van die Moderatuur van Wes-Kaapland wat op Woensdag 12 Junie 2019 gehou is. Aan die lede van die Moderamen is na afloop van die vergadering soos volg berig: “Die Moderatuur het tydens sy vergadering van Woensdag 12 Junie besluit om die twee besluite [van die sinodesitting insake selfdegeslagverbintenisse] in een beskrywingspunt saam te vat en as voorstel aan die moderamen voor te lê vir goedkeuring om as beskrywingspunt aan die Algemene Sinode gestuur te word. Die oorspronklike besluite is nou in die vorm van ’n beskrywingspunt geskryf sodat dit tegnies korrek op die tafel van die Algemene Sinode kan land.” Volgens die Moderatuur se kennisgewing aan die lede van die Moderamen was dit die Sinode se “bedoeling dat die besluite as beskrywingspunte aan die Algemene Sinode gestuur word.” Die Moderatuur het besluit om die “beskrywingspunt” deur die Moderamen te laat goedkeur en om daarvoor ’n buitengewone elektroniese vergadering te belê. Beskrywingspunte wat by die Algemene Sinode ingedien word, moet minstens 3 (drie) maande voor aanvang van die vergadering deur die Algemene Sekretaris ontvang word. Die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland se eerste gewone vergadering was vir einde Augustus 2019 geskeduleer, en daar kon nie, aldus die Moderatuur, tot dan gewag word om die “beskrywingspunt” goedgekeur en ingedien te kry nie.

3.1.1.3 Op 13 Junie 2019, in minder as 24 (vier-en-twintig) uur, het die “Skriba van die Moderatuur” aan die lede van die Moderamen per e-pos kennis gegee van ’n elektroniese vergadering van die Moderamen. Volgens hierdie “DRINGENDE KENNISGEWING” is die duur van die vergadering vasgestel vanaf Vrydag 14 Junie om 12:00 tot Woensdag 19 Junie om 12:00. Die moderatuurslede is slegs gevra om die ontvangs van die kennisgewing per e-pos te erken, aan te dui of dit moontlik sal wees om tydens die duur van die vergadering te stem en om dan tydens die vergadering net JA of NEE – dus vir of teen die “voorstel van die Moderatuur – te stem, [naamlik] dat hierdie besluite van die Sinode aan die Algemene Sinode as beskrywingspunt gestuur word.” Die elektroniese vergadering, so is in die kennisgewing gesê, is noodsaaklik “om die besluit [van die Moderatuur] te bekragtig.” ’n Uiteensetting van die elektroniese stemproses soos vervat in Reglement 2.12.5 van die Sinode van Wes-Kaapland se Kerkorde en Reglemente 2015 is vervolgens aan die lede gegee. Op Vrydag 14 Junie 2019 en minder as 48 (agt-en-veertig) uur nadat die Moderatuur daarop besluit het, is die lede van die Moderamen per e-pos en SMS versoek om “iewers tussen Vrydag 12:00 en Woensdag 12:00 ’n stem uit te bring vir of teen die voorstel van die Moderatuur.”

3.1.1.4 Die rede vir die haas moes die aanbreek van die skoolvakansie op Vrydag 14 Junie 2019 gewees het. Die skoolvakansie het op 7 Julie 2019 verstryk, dus presies 3 (drie) maande voor die aanvang van Algemene Sinode 2019.

3.1.1.5 Die gemelde Reglement vereis dat die notule van die buitengewone elektroniese vergadering by die eersvolgende gewone vergadering van die Moderamen goedgekeur word. Geen korrespondensie kon gevind word wat die uitslag van die stemming bekend maak nie en die betrokke notules kon weens die gebrek aan voorsiening daarvan nie nagegaan word om die nakoming van die voorgeskrewe bepalings te kontroleer nie.

3.1.1.6 Die Algemene Sekretaris en die Skriba van die Moderatuur/Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland se skynbare weiering of nalating om die korrespondensie tussen die Sinode en Algemene Sinode beskikbaar te stel, het dit onmoontlik gemaak om vóór aanvang van die Algemene Sinode te bepaal presies op watter datum die “beskrywingspunt” aan die Kantoor van die Algemene Sinode gestuur is en deur wie. Of dit vóór 7 Julie 2019 was, moes nog bevestig word. In elk geval was dit voordat die Agenda vir Algemene Sinode 2019 vir die eerste keer ongeveer 6 (ses) weke voor die vergadering elektronies gepubliseer is. ’n Motivering vir die “beskrywingspunt”, wat nie aan die lede van die Moderamen tydens die buitengewone elektroniese vergadering voorgelê is vir die nodige goedkeuring nie, het intussen ook die lig gesien, maar is nie saam met die “beskrywingspunt” in die Agenda vir Algemene Sinode 2019 opgeneem nie. Sodanige motivering vorm deel van die beskrywingspunt, moes saam met die beskrywingspunt in die Agenda opgeneem gewees het en moes dus ook nie later nie as 3 (drie) maande voor die vergadering deur die Algemene Sekretaris ontvang gewees het. ’n Bewering is gemaak dat die Algemene Sekretaris dit saam met die “beskrywingspunt” ontvang het, maar nagelaat het om dit in die Agenda op te neem. Iemand anders het genoem dat dit eers later opgestel en aangestuur is. Die waarheid hieroor moes nog bepaal word en net die korrespondensie tussen die Skriba van Wes-Kaapland en die Algemene Sekretaris kon hierop die antwoord gee.

3.1.1.7 Totdat die teendeel bewys is, het die “beskrywingspunt” as regsgeldige beskrywingspunt in die Agenda vir Algemene Sinode 2019 verskyn en het die afgevaardigdes onder die indruk verkeer dat dit inderdaad die geval is.

3.1.2 Kerkregteike beoordeling van die “beskrywingspunt”

’n Kerkregtelike beoordeling is van die “beskrywingspunt” gemaak en aan die hand van ’n deeglike motivering aan die ATR voorgelê waarmee die beweerde kerkregtelike ongerymdhede aan die hand van ’n aantal stellings uitgelig is:

3.1.2.1 Stelling 1: Die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland beskik nie oor die nodige handelingsbevoegdheid om die betrokke beskrywingspunt by die Algemene Sinode in te dien nie.

3.1.2.2 Stelling 2: Die Moderatuur/Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland beskik nie oor die nodige handelingsbevoegdheid om na afloop van die sinodesitting besluite van die Sinode te herformuleer en as beskrywingspunt by die Algemene Sinode in te dien nie.

3.1.2.3 Stelling 3: Die Moderatuur het die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland mislei oor die rede waarom die sinodebesluite herformuleer is om as “beskrywingspunt” op die tafel van die Algemene Sinode te kom.

3.1.2.4 Stelling 4: Die Moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland het geen bevoegdheid of opdrag gehad om die besluite van die Sinode te herformuleer en vir bekragtiging aan die Moderamen met slegs ’n stem daarvoor of ’n stem daarteen voor te lê nie.

3.1.2.5 Stelling 5: Die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland het Reglement 2.12.5 van die Sinode van Wes-Kaapland oortree by die hou van die buitengewone elektroniese vergadering vir die goedkeuring van die “beskrywingspunt”.

3.1.2.5.1 Bepaling 2.5.1.1 is oortree deur ’n besluit te neem wat nie van spoedeisende aard was nie en wél oor ’n kontroversiële saak gehandel het.

3.1.2.5.2 Bepaling 2.5.1.2 is oortree deurdat die besluit wat geneem moes word nie dringend was nie en die advies van die Aktuarius nie ingewin is omdat daar wel twyfel oor die meriete van die saak bestaan.

3.1.2.5.3 Bepaling 2.5.1.3 is oortree deurdat daar inderdaad van revisie by die goedkeuring van die “beskrywingspunt” sprake was.

3.1.2.5.4 Bepaling 2.5.1.3 is oortree deurdat die lede van die vergadering nie ’n redelike tyd vooraf kennis van die elektroniese vergadering ontvang het nie.

Die lede van die Moderamen het slegs 1 (een) dag kennis ontvang van die vergadering. Die Reglement bepaal dat lede ’n redelike tyd vooraf kennis moet ontvang. Daar is geen statutêre definisie van wat ’n redelike tyd sou wees nie, maar in die algemeen word in die reg aanvaar dat 3 (drie) tot 5 (vyf) dae aan die definisie sou voldoen. Indien enige persoon binne die 1 (een) dag kennisgewing-tydperk nie op die kennisgewing gereageer het nie (en dit kan slegs bepaal word as volledige vergaderingstukke beskikbaar is), het die vergadering in elk geval nie met behoorlike kennisgewing plaasgevind nie. Om egter binne 48 (agt-en-veertig) uur nadat die Moderatuur ’n besluit geneem het van die volle Moderamen te verwag om die besluit te bekragtig, kan as onredelik geag word, veral as die meriete van die saak eers nagegaan moet word, sekerheid oor die regsgeldigheid van die handeling verkry moet word en die gevolge van die optrede vooraf bepaal moet word. Om só ’n ingrypende besluit in so ’n beperkte tyd te neem, getuig van onverantwoordelike bestuur en gebrekkige verantwoordbaarheid (“accountability). Besluite wat oorhaastig geneem word, kan maklik onwyse besluite wees. Spreuke 21 vers 5 waarsku: “Goeie beplanning bring sukses. Oorhaastige optrede kan jou duur te staan kom. Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur gewis op gebrek af.

3.1.3 Samevattend

Daar is samevattend soos volg bevestig:

3.1.3.1 Daar word spesifiek beswaar gemaak teen die optrede van die Moderatuur en die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland wat buite hulle bevoegdheid en buite die tans geldende Kerkorde, die toepaslike reglemente van die Algemene Sinode én die Sinode van WesKaapland én die goedgekeurde besluite van die Sinode van Wes-Kaapland betreffende hierdie saak gehandel het.

3.1.3.2 Daar word spesifiek versoek:

3.1.3.2.1 dat die ATR spoedeisend kennis neem van die kerkregtelike ongerymdhede wat plaasgevind het by die opstel, goedkeuring en indiening van die “beskrywingspunt” oor selfdegeslagverbintenisse onder die naam van die Sinode van Wes-Kaapland wat op bladsy 528 en 529 in die Agenda vir Algemene Sinode 2019 verskyn;

3.1.3.2.2 dat die ATR spoedig en dringend ingevolge 3.1.4 van die Reglement vir die Algemene Taakspan Regte handel en die kerkregtelike ongerymdhede onder die aandag van die Algemene Sinode in sitting bring met ’n aanduiding van die moontlike weg tot herstel;

3.1.3.2.3 dat ’n afskrif van hierdie skrywe onverwyld aan al die lede van die Algemene Taakspan Regte versend word en dat die lede van die Algemene Taakspan Regte, wat hulle reeds op een of ander wyse ten gunste van die geldigheid van die “beskrywingspunt” uitgespreek het of by die stemming daaroor betrokke was, hulle van die hantering hiervan onttrek;

3.1.3.2.4 dat mondelinge getuienis oor die aangeleentheid nie aangehoor sal word sonder die geleentheid tot kruisondervraging nie;

3.1.3.2.5 dat die volle inhoud van hierdie skrywe vooraf aan al die afgevaardigdes na die eerskomende vergadering van die Algemene Sinode gestuur sal word of in die Aanvullende Agenda opgeneem sal word, sodat verseker sal word dat daar eerlik en deursigtig met die saak omgegaan word;

3.1.3.2.6 dat die lede van die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland versoek word om uit die vergadering van die Algemene Sinode te onttrek wanneer die saak aan die orde gestel word en nie een van hulle enige aandeel sal hê in enige bespreking en besluitneming oor die saak nie;

3.1.3.2.7 dat alle nuwe of verdere inligting oor die saak voorsien sal word en dat enige reaksie wat van enige lid van die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland ontvang word, onverwyld gedeel sal word; en

3.1.3.2.8 dat die skriba van die Sinode/Algemene Sekretaris die aanbringer van die beweerde kerkregtelike ongerymdhede op hoogte hou van die vordering by die hantering van hierdie saak sowel as die uitkoms daarvan.

3.1.4 Gerugte het reeds geruime tyd die rondte gedoen dat sekere individue en groeperinge van lidmate hulle met korrupsie en kerkkaping binne die NG Kerk besig hou. Korrupsie beteken hier “a form of dishonesty undertaken by a person or organization entrusted with a position of authority, often to acquire illicit benefit, or, abuse of entrusted power for one’s private gain.” Kerkkaping dui op “a type of systemic [theological] corruption in which [church member’s] private interests significantly influence a [church’s] decision-making processes to their own advantage.” Gebeure in aanloop tot, tydens en na afloop van die vorige sittings van die Algemene Sinode (2015 en 2016) én die daaropvolgende sitting van die Sinode van Wes-Kaapland blyk al hoe meer gestaltes hiervan te wees en vereis indringende ondersoek. Wat veral dringende aandag moet geniet, is die wyse waarop daar tans binne die NG Kerk maar buite die amptelike kerkvergadering deur individue en groeperinge van lidmate gewerk word om grootliks selfoortuiging en selfbelang te bevorder, wat reeds tot ernstige nadeel en skade vir die NG Kerk geskied het. So sal persone wat die NG Kerk se Algemene Sinode na die burgerlike hof gesleep het oor die nie-nakoming van die Kerk se eie prosedures nie skroom om self die prosedures te oortree om die eiebelang te laat seëvier nie. So sal verslaggewers en rubriekskrywers tendensieus en subjektief berig oor bepaalde kwessies en moeite doen om diegene wat van hulle verskil in ’n swak lig te probeer stel. So sal persone wat by die Kerk se inrigtings ’n bepaalde posisie beklee, nie huiwer om die posisie te misbruik om hulle eie agenda te bevorder, hulle eie begeertes te volg, sprekers na hulle eie smaak na kerklike konferensies te nooi en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sê wat hulle graag wil hoor. So sal kerkleiers wat in kerkvergaderinge bepaalde posisies beklee, nie aarsel om daardie posisie te misbruik om eie eer en aansien te verwerf, om kerklike reëls tot eie voordeel te verbuig en om met uitgesproke bevooroordeeldheid tydens en rondom kerkvergaderinge doelgerig die belange te bevorder van diegene met wie se oortuigings hulle openlik saamstem. Die saak wat met hierdie skrywe na vore gebring word, is maar net een stuk in ’n veel groter legkaart waarvan die volle prentjies nog voltooi sal moet word. Van gesonde teologiese gesprek, gebalanseerde teologiese standpunt en ordelike kerkvergaderings is daar nie meer sprake nie. Het dit nie nou die tyd geword om die lyne te begin trek tussen die kolletjies nie (“to connectthe-dots”)?

4. DIE AKTUARIUS VAN DIE ALGEMENE SINODE SE HANTERING VAN DIE BEWEERDE KERKREGTELIKE ONGERYMDHEDE

4.1 Die Aktuarius van die Algemene Sinode het die skrywe met die beweerde kerkregtelike ongerymdhede onder die lede van die ATR versprei met die versoek om voor Donderdag 26 September 2019 aan hom daaroor terugvoering te gee. Hy het onderneem om “daarna ’n verslag op te stel vir goedkeuring van die volle ATR en met verslag aan die A[lgemene] S[inode]”. Verder het hy die versekering gegee dat hy sal toesien dat al die beskrywingspunte beoordeel sal word vir ontvanklikheid en dat hy so ver moontlik sal seker maak dat beskrywingspunte wat nie ontvanklik is nie, nie ter vergadering sal dien nie.

4.2 Ten spyte van ’n aansoek wat op 25 Oktober 2019 ná die vergadering van die Algemene Sinode ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA Vorm-C versoek) gebring is, is géén inligting vanaf die Inligtingsbeampte van die Algemene Sinode ontvang oor (i) die terugvoer van die ATR-lede aan die Aktuarius van die Algemene Sinode oor die beweerde kerkregtelike ongerymdhede en (ii) die verslag (met aanbeveling) van die Aktuarius aan die ATR is sitting voor en/of tydens Algemene Sinode 2019 nie. Die Aktuarius van die Algemene Sinode het wel later in verdere korrespondensie erken dat sodanige aanbeveling gemaak is nog voordat die ATR oor die ontvanklikheid van die “beskrywingspunt” beslis het. Dus is die verslag met aanbeveling wat die Aktuarius self sou opstel “vir goedkeuring van die volle ATR”, nie soos wetlik verplig geopenbaar nie en is die ATR se verslag aan die Algemene Sinode bloot dat die “beskrywingspunt” as ontvanklik beoordeel is. Geen gronde of motivering is ooit daarvoor deur die ATR self gegee nie (sien 4.2 hieronder). Dus is die beweerde ongerymdhede nooit onder aandag van die vergadering van die Algemene Sinode gebring deur dit in die Aanvullende Agenda of Verslag van die ATR aan die Algemene Sinode op te neem nie, is daar géén terugvoer aan die aanbringer gegee oor enige nuwe inligting ontvang nie en is die reaksie van “Wes-Kaap” daarop ook nie met hom gedeel nie. Verder is die volledige skrywe waarin die ongerymdhede vervat is, deur ’n lid van die ATR of ’n lid van die Moderatuur van Wes-Kaapland aan die verslaggewer van Rapport gegee nog vóór die ATR daaroor vergader het, terwyl die dokument VERTROULIK gemerk is. Terwyl afgevaardigdes die oggend van die aanvang van Algemene Sinode 2019 in die pers van die skrywe moes verneem, is hulle nooit daarna oor die inhoud daarvan ingelig nie. Die betrokke verslaggewer het later persoonlik teenoor die indiener van hierdie beswaarskrif erken dat die skrywe om kwaadwillige redes aan hom voorsien is. Namate die saak ontvou het, het dit al hoe meer duidelik geword dat eerbaarheid en vertroue nie hoë aansien in sekere kringe geniet nie. Liefde is ook net liefde vir die eie, nie ook vir die ander nie. As ’n geleentheid hom voordoen om iemand van wie daar verskil word se goeie naam in die koerant te beswadder, sal daardie geleentheid gebruik word.

4.3 ’n Skrywe wat uiteindelik deur die Inligtingsbeampte van die Sinode van Wes-Kaapland geopenbaar is, maar nie deur die Inligtingsbeampte van die Algemene Sinode ingevolge die PAIA Vorm-C versoek voorsien is nie (alhoewel daar later verkeerdelik beweer is dat dit wel die geval was), het tog aan die lig gebring wat werklik agter die skerms gebeur het, maar waaroor die Algemene Sinode en moontlik die ATR nooit ingelig is nie. Die Aktuarius van die Algemene Sinode het naamlik op 27 September 2019 ’n e-pos aan die “lede van die Moderatuur Sinode Wes-Kaap” gestuur, waarvan die tersaaklike inhoud hier vermeld moet word:

Beste Nelis, Charl en Francois

Vertrou dat dit met julle goed gaan daar in die Kaap. Ek groet julle uit ’n besondere koelerige Pretoria die tyd van die jaar! Ek weet nie eintlik aan wie ek die [navraag] moet rig nie, maar doen dit aan julle synde die moderator, aktuarius en die skriba van julle sinode. Ek het ’n [navraag] waarmee julle moet help:

Besware teen die Beskrywingspunt (B12) van die Sinode van Wes-Kaap

Agtergrond:

– Tokkie het navraag gedoen oor die ontvanklikheid [van] julle beskrywingspunt (met sy versoek om dit sensitief te hanteer)

– Ek het persoonlik navraag by Charl gedoen – hy het geantwoord dat dit elektronies goedgekeur is

– Intussen het ek die skrywe soos aangeheg vanaf Tokkie ontvang.

– Dit is op die agenda van die ATR vergadering volgende week. Dus het ek ook hierdie dokument aan die ATR lede versprei, uitgesluit Charl sodat hy nie gekontamineer kan word nie en dat hy ook julle antwoord kan help formuleer en aan die ATR voorlê. (dus stuur ek dit nou vir julle kommentaar)

– Kan ek asb vra dat julle kyk na Tokkie se dokumente en persoonlik en vertroulik na my kommentaar lewer

– Help my ook asb met:

1) Datum waarop julle die Beskrywingspunt aan Gustav gestuur het

2) Datum waarop die motivering van die beskrywingspunt aan Gustav gestuur is

Julle sal aanvaar dat ek dit eers met julle drie opklaar voordat ek na die ATR gaan. Ek wil nie daarvan ’n groot saak maak nie. As ek van julle die antwoord ontvang het, kan ek maklik die saak by die ATR hanteer, sonder dat Charl ook te veel blootgestel word om Wes-Kaap te verdedig. Ek wil dat ek gereed is om die tegniese (kerkregtelike) vereistes nagegaan het en op grond daarvan ’n aanbeveling maak.

Hoop julle kan help. Sterkte met die lees van Tokkie se stuk en julle reaksie daarop.

Baie dankie

Groetnis

Dewyk

Terwyl ’n aantal beweerde kerkregtelike ongerymdhede op formele wyse ingevolge die Reglement vir die Taakspan Regte onder aandag van die Taakspan self gebring is en die Aktuarius van die Algemene Sinode oor geen jurisdiksie of opdrag of magtiging beskik om, soos hy dit in sy e-pos stel, “persoonlik” daarmee te handel nie, word hierdie ernstige beweringe in ’n informele, oppervlakkige en bevooroordeelde skrywe afgemaak as ’n blote navraag, dus ’n versoek om inligting of advies. Verder word dit gedoen sonder om die beskikbare dokumentasie daaroor, soos reeds in besit van die Kantoor van die Algemene Sinode, en waarvoor reeds verskeie kere per skrywes gevra is, en waarvan die Aktuarius afskrifte ontvang het, by die Algemene Sekretaris aan te vra en vooraf self die inhoud daarvan na te gaan. Die Sinode van Wes-Kaapland het reeds verdaag, en daarom is daar ook nie meer ’n Moderator, Aktuarius en Skriba van die Sinode nie, maar slegs van die Moderamen. Hoe ondersoek ’n mens ’n aangeleentheid wat juis handel oor die kerkregtelike onderskeid wat tussen die sinode as kerkvergadering aan die een kant en die moderatuur/moderamen wat alleen as gevolmagtigdes van daardie kerkvergadering kan handel aan die ander kant gehandhaaf moet word, as hierdie onderskeid reeds in vooraf korrespondensie deur die ondersoeker geskend en verbreek word? Daarby versoek die Aktuarius van die Algemene Sinode by die reeds geïmpliseerde oortreders van die kerklike bepalinge (diegene wat die beweerde ongerymdhede gepleeg het) die “antwoord” waarop hy sy aanbeveling aan die ATR wil grond. Daar is nie van amptelike en behoorlike ondersoek hier sprake nie, maar daar word bloot na “opklaring” gesoek, en nogal voordat die ATR daaroor vergader. Die onttrekking van die Aktuarius van Wes-Kaapland aan die saak, blyk bloot simbolies te wees. Sy mondelinge bevestiging dat die “beskrywingspunt” op wettige wyse goedgekeur is, is reeds aanvaar en aan die Algemene Sekretaris gekommunikeer. Géén verdere ondersoek daarna is dus eintlik nodig nie. Die onttrekking van die Aktuarius van Wes-Kaapland is gegewe die skrywe nie om ’n onpartydige en onafhanklike ondersoek te verseker nie, maar slegs om persoonlike besmetting te voorkom en verdere eksterne beïnvloeding moontlik te maak. Soos daar inderdaad op 12 Maart 2020 aan die Aktuarius van die Algemene Sinode geskryf is nadat hierdie epos die lig gesien het:

Die inhoud en trant van jou e-pos/brief van 27 September het my eintlik verstom gelaat. Hoe weet ’n mens nie aan wie die “navraag” gerig moet word, as die gevolmagtigdes van die Sinode van Wes-Kaapland duidelik die geïmpliseerdes is nie? Hoe word ’n saak wat formeel per skrywe onder die ATR se aandag gebring is, so informeel, willekeurig en met ’n tendensie opgeneem en ondeurdag en oppervlakkig hanteer?

Natuurlik moet die ander kant van die saak aangehoor word en moet daar ook repliek daarop gelewer kan word, maar dit hef geensins die vereistes vir behoorlike ondersoek en onpartydige beslissings op nie. Dit het gaandeweg egter duidelik geword dat die Aktuarius van die Moderamen van die Algemene Sinode hom op een of ander wyse reeds, wat die “beskrywingspunt” betref, gekompromitteer het en dat daar nie meer vir hom omdraaikans was nie. Die waarheid hieroor sou eers drie jaar later uitkom (sien 7.1 hieronder).

4.4 Die woord van die Aktuarius van die Algemene Sinode moet aanvaar word dat ook die “antwoord” of “repliek” van Wes-Kaap met aangehegte “stawende” dokumentasie vooraf aan al die ATR-lede, uitgesluit die twee gemelde lede, gestuur is en dat die Aktuarius se aanbeveling soos volg was:

Ek het die saak baie vertroulik probeer hanteer en die dokumente wat ek van Wes-Kaap ontvang het aan die ATR lede gestuur met die versoek dat ons dit dan sal hanteer. Dit was my aanbeveling dat ons almal saam daarna sal kyk en ’n oordeel oor die ontvanklikheid daarvan sal maak. Ek het geen ander aanbeveling aan die ATR oor die aangeleentheid gemaak nie. Die volle ATR (uitgesluit Charl en Cobus) het die meriete daarvan beoordeel.

Die probleem bly egter dat twee sake hier met mekaar vermeng word en afsonderlik aangespreek moes word, naamlik (1) die beweerde kerkregtelike ongerymdhede en (2) die ontvanklikheid van die “beskrywingspunt”. Sonder deurtastende ondersoek na eersgenoemde is daar uiteindelik slegs ’n beslissing oor laasgenoemde gemaak, en dit op grond van die Wes-Kaap se “antwoord” dat die Moderamen wel die “beskrywingspunt” elektronies goedgekeur het en die magtiging daartoe sou hê. Sonder om enigsins ’n eie ondersoek na die beweerde kerkregtelike ongerymdhede te loods en sonder om noukeurig te bepaal of die “beskrywingspunt” inderdaad regsgeldig op die tafel van die Algemene Sinode gekom het, is daar uitspraak ten gunste van die tweede saak gegee, sonder om eers iets te sê oor elk van die toe beweerde en tans bevestigde onreëlmatighede. Nêrens kan rekord gevind word dat die ongerymdhede soos uitgespel, enigsins ondersoek en beoordeel is nie. Daar is ongetwyfeld vooraf besluit dat die “beskrywingspunt”, ongeag enige besware, ten alle koste op die tafel van die Algemene Sinode moes kom, en daarvan moes die Aktuarius van die Algemene Sinode, onder invloed van die voorsitter van die Moderamen van Wes-Kaapland en sy ondersteuners, seker maak.

4.5 Die “antwoord” of “repliek” van Wes-Kaap, soos opgestel en/of saamgestel deur die Skriba van die Moderamen van Wes-Kaapland, verdien besondere aandag, want dit is op grond hiervan dat die ATR sy beslissing gemaak het dat die “beskrywingspunt” ontvanklik sou wees.

4.5.1 Vir die eerste keer in korrespondensie aan die Algemene Sinode word in die “repliek” gesê dat die “beskrywingspunt” deur die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland aan die Algemene Sinode gestuur is. Soos wat later by openbaarmaking van die voorafgaande korrespondensie sou blyk, is die Algemene Sinode tot enkele dae voor die sitting valslik onder die indruk gebring dat hierdie “beskrywingspunt” van die Sinode van Wes-Kaapland afkomstig is. Was dit nie vir die aanbring van die beweerde ongerymdhede en die “repliek” van Wes-Kaap daarop nie, sou dit ongemerk by die ATR verbygegaan het. Die Sinode van Wes-Kaapland het net meer as ’n maand voor die indiening van die “beskrywingspunt” vergader en op 28 Junie 2019 skryf die Skriba van die Moderatuur NG Kerk in Suid-Afrika | Sinode van Wes-Kaapland aan die Algemene Sekretaris:

Hiermee dien die Sinode van Wes-Kaapland die volgende beskrywingspunt (reglement 3.6) by die Algemene Sinode in. Die motivering vir die beskrywingspunt sal binnekort gestuur word.

Die verwysing na die Algemene Sinode se Reglement van Orde (Reglement 3:6) is van besondere belang, omrede daarin uitdruklik staan dat alleen ’n kerkvergadering óf sy gevolmagtigde ’n beskrywingspunt by die Algemene Sinode mag indien. In die agenda vir die Algemene Sinode is in die verlede konsekwent aangedui of ’n bepaalde beskrywingspunt van die sinode self of van die sinodale kommissie/moderamen/diensraad van ’n sinode afkomstig is. Alhoewel die ATR nou skriftelik ingelig was dat die “beskrywingspunt” nie van die Sinode van Wes-Kaapland as kerkvergadering afkomstig was nie, is die vergadering van die Algemene Sinode nooit deur die ATR of deur die afgevaardigdes van die Sinode van Wes-Kaapland “tegnies korrek” oor die insender daarvan ingelig nie. Dit het tot gevolg gehad dat die vergadering volhoudend onder die valse indruk gelaat is dat dit inderdaad van die Sinode self gekom het en so is ook, sonder enige regstelling, daarna tydens die debat by die vergadering verwys. Daar is selfs later in ’n amptelike stuk wat voor die Algemene Sinodale Moderamen gedien het, verwys na as ’n “beskrywingspunt” van die Sinode van Wes-Kaapland soos geneem deur die Sinode self. In die Gids : Agtergrond en Inligting : Die Algemene Sinode se 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings, wat as konsepdokument vir bespreking deur die ASM in Maart 2020 voor die uitgebreide Moderamen gedien het, staan swart op wit geskryf (let op die verwysing na Mei 2019):

Die 2019 Algemene Sinode het die vorige besluit wat in 2015 geneem is, ter syde gestel, ook omdat die verkeerde prosedure met die neem daarvan ge[volg] is. ’n Beskrywingspunt van die Sinode van Wes-Kaapland (Mei 2019) is as voorstel aangebied en dit is so aanvaar …

4.5.2 Dit is verder onwaar, soos in die “repliek” aangevoer, dat “Wes-Kaap” uitstel gevra het vir die indiening van die motivering wat saam met die “beskrywingspunt” moes gaan. Die skrywer van die “repliek” se eie korrespondensie met die Kantoor van die Algemene Sinode, soos by die “repliek” aangeheg, weerspreek hierdie stelling. Op 22 Julie 2019 skryf die Skriba van die Moderamen van Wes-Kaapland aan die Algemene Sekretaris:

In my vorige epos het ek genoem dat daar ’n motivering saam met die beskrywingspunt (oor sefdegeslag verhoudinge) van die [S]inode van Wes-Kaapland sal kom. Die beskrywingspunt (lees: motivering) is gereed, maar dit dien eerskomende Woensdag by die moderatuur. Ek sal dit so spoedig moontlik daarna aan jou stuur.

Duidelik word die Kantoor van die Algemene Sinode steeds onder die wanindruk gelaat dat die “beskrywingspunt” van die Sinode van Wes-Kaapland afkomstig is en word géén versoek tot uitstel gerig nie. Dus word nog ’n leuen sito-sito vertel. Maar reeds hier moes die waarskuwingsligte by die Algemene Sekretaris, en ook daarna by die Aktuarius van die Algemene Sinode en die ATR aangegaan het, dat nóg die Sinode van Wes-Kaapland nóg die Moderamen van die Sinode van WesKaapland met hierdie “beskrywingspunt” na die Algemene Sinode kom, maar dat die Moderatuur agter die gekonkel sit. Maar enkele dae voor die Algemene Sinode soek die Aktuarius nog na die korrespondensie aan die hand waarvan die “beskrywingspunt” ingevolge 7.4 van die Reglement van Orde deur die Algemene Sekretaris na die ATR verwys is. Die motivering is op 30 Julie 2019 met die volgende mededeling aan die Algemene Sekretaris gestuur (nadat die datum vir indiening verstryk het):

Hiermee die motivering saam met die beskrywingspunt wat die Sinode van Wes-Kaapland by die Algemene Sinode indien.

Weereens word valslik gesê dat die “beskrywingspunt” van die “Sinode van Wes-Kaapland” afkomstig is. Toe die Agenda vir Algemene Sinode 2019 in Augustus 2019 verskyn, verneem die Skriba van Wes-Kaapland dat die motivering nie by die beskrywingspunt geplaas is nie. Hy skryf op 16 Augustus 2019 aan die Algemene Sekretaris:

Ons het die afgelope week die agenda vir die Algemene Sinode se sitting in Oktober ontvang en verneem dat die motivering nie by die beskrywingspunt van die Sinode van Wes-Kaapland geplaas is nie. Is dit steeds moontlik dat die motivering wel as laatstuk elektronies versprei kan word?

Hierop het die Algemene Sekretaris, sonder dat hy enigsins openlik en eerlik ingelig is dat nóg die “beskrywingspunt”, nóg die motivering deur die Sinode van Wes-Kaapland aan die Algemene Sinode gestuur is, geantwoord dat dit jammer is dat dit gebeur het en dat dit as laatstuk hanteer kan word. Natuurlik sou slegs die Tydelike Taakspan Regte ingevolge die Reglement van Orde oor die ontvanklikheid van die motivering as laatstuk kon oordeel, wat die TTR klaarblyklik nie na behore gedoen het nie. Na verneem is die motivering wel by die vergadering uitgedeel, maar in wie se opdrag en met wie se goedkeuring dit geskied het, moet nog uit die ontbrekende vergaderstukke bepaal word. Dit is onwaar, soos in die “repliek” beweer word, dat die Algemene Sekretaris verskoning gemaak het dat die motivering nie saam met die “beskrywingspunt” gepubliseer is nie. “Dit is jammer” beteken nie dieselfde as “Ek is jammer” nie. So word nog ’n leuen in selfregverdiging vertel.

4.5.3 Die “versekering” wat in die “repliek” gegee is dat aan al die kerkordelike vereistes voldoen is betreffende die korrekte prosedure gevolg vir die indiening van die beskrywingspunt by die Algemene Sinode, is ongelukkig valse, leë woorde. Die uitdaging wat aan die ATR gerig is om die korrektheid daarvan na te gaan en te toets, is ongelukkig nie deur die ATR met die nodige erns en verantwoordelikheidsbesef aanvaar en uitgevoer nie.

4.5.4 Daar is ’n belangrike en betekenisvolle aangeleentheid, soos in die motivering vervat, wat beide die ATR en die vergadering van die Algemene Sinode ontgaan het en ’n beslissende impak moes hê op die besluit of die “beskrywingspunt” ontvanklik kan wees. Dit kom reeds in die eerste paragraaf van die Moderatuur van Wes-Kaapland se motivering vir die “Sinode” se beskrywingpunt voor, naamlik die woorde:

Die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland het in Maart 2017 besluit om ’n proses van voortgesette besinning oor selfdegeslagverhoudings in gemeentes en ringe aan te moedig en te fasiliteer sodat ingeligte besluiteneming uiteindelik moontlik is. Hierdie besluite is geneem “deeglik bewus van die uiteenlopende standpunte rondom die 2016-besluit van die buitengewone Algemene Sinode.

Indien die ATR die nodige moeite gedoen het om die motivering, wat nie by die “repliek” se aanhangsels ingesluit is nie, maar reeds in besit van die Algemene Sinode was én as laatstuk vir ontvanklikheid in elk geval beoordeel moes word, noukeurig na te gaan en sorgvuldig te kontroleer, sou die ATR agterkom het dat besluite van die Sinode van Wes-Kaapland wat in prinsipieelgewysigde vorm aan die Algemene Sinode 2019 as “beskrywingspunt” opgedis is, nie geneem is met die oog op Algemene Sinode 2019 nie, maar weens Buitengewone Algemene Sinode 2016. Die besluit van die Moderamen geneem in Maart 2017 begin met die woorde:

Die moderamen is deeglik bewus van die uiteenlopende standpunte rondom die 2016 besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings; Die moderamen besluit om ….”

Die verslag wat die uittredende Moderamen van Wes-Kaapland aan die Sinode van Wes-Kaapland in Mei 2019 gelewer het, was die einde van ’n proses wat met die besluit(e) van die 2016 Buitengewone Algemene Sinode in verband gestaan het en het géénsins te doen gehad met Algemene Sinode 2019 nie. Dit verklaar ook die kleitrappery tydens Algemene Sinode 2019 oor waarvan die “beskrywingspunt” nou kwansuis kennis van revisie sou gee – van die 2007- en 2013 besluite óf van die 2015 besluite of watter ander staande besluit ook al.

4.5.4.1 Die beoordeling van die ontvanklikheid van die “beskrywingspunt” moes op grond van die laat ingediende motivering van die Moderatuur van Wes-Kaapland, eintlik ’n eenvoudige en maklik saak gewees het. Die Hooggeregshof in Pretoria het op 8 Maart 2019 uitspraak gelewer ten gunste van die applikante en daarmee die 2016-besluit(e) van die Buitengewone Algemene Sinode nietig verklaar. Dit het beteken dat die 2015-besluit(e) nou weer geldig geword het. Toe die Sinode van Wes-Kaapland dus kort daarna in Mei 2019 byeengekom het, die verslag van die Moderatuur oor selfdegeslagverbintenisse behandel het en daaroor besluite geneem het, was die 2015-besluit(e) reeds deur die Hof bekragtig en bindend bevind. Weens die “leierskap” van Wes-Kaapland se uitgesproke steun vir die 2015-besluite, hulle uitgesproke afkeur in die 2016-besluite en die gaping wat hulle in die 2016-besluit gesien het om tot ’n eie standpunt oor die aangeleentheid te kom, was daar by die Sinode van Wes-Kaapland géén behoefte of intensie om die 2015-besluit(e) gewysig te kry nie. Die besluite wat die Sinode van Wes-Kaapland in Mei 2019 geneem het, was die gevolg van ’n eie proses en deur en deur (uit en uit) ’n aantal interne besluite wat deur die vergadering vir uitsluitlike uitvoering binne die eie sinodale verband geneem is. So is dit in die vergaderingstukke vervat, geformuleer, genotuleer en gekommunikeer. Daar moes dus na ander redes gesoek word waarom hierdie “beskrywingspunt” ingestuur is, wat later sou blyk die vrees te wees dat die besware teen die 2015-besluite gehandhaaf sou word en dat die 2007- en 2013 besluite dat die enigste wettige besluite sou wees – dus geen besluit meer ten gunste van selfdegeslagverbintenisse nie – dit wat Wes-Kaap se Moderatuur, al was dit op slinkse en onwettige wyse, wou voorkom.

4.5.4.2 Die Moderatuur het sy eie Moderamen, maar so ook die ATR bedrieg toe daar in die kennisgewing van die elektroniese moderamenvergadering – wat op baie kort kennisgewing belê is om die “beskrywingspunt”, soos net redaksioneel verander is, goed te keur – op skrif vir almal om te lees aangevoer is dat dit die “bedoeling” van die Sinode was om die twee besluite geneem insake selfdegeslagverbintenisse as “beskrywingspunte” aan die Algemene Sinode te stuur. Daar het duidelik iets ná die Hofuitspraak en ná die Sinode van Wes-Kaapland plaasgevind wat tot die Moderatuur se dringende optrede aanleiding gegee het, maar hieroor is soos die graf geswyg (totdat dit eers byna drie jaar later per abuis aan die lig gekom het). Indien die bedoeling met die “beskrywingspunt” was om die toe geldende 2015-besluit(e) te wysig, moes die rede(s) daarvoor in die motivering vervat gewees het en moes daar ’n duidelike aanduiding daartoe (kennis van revisie daarvan) gegee gewees het. Dat die ATR/TTR so ’n mistasting (oorsig) begaan het en die “beskrywingspunt” as ontvanklik, en nogal as kennis van revisie van die 2007- en 2013-besluite toegelaat het, is ergerlik skreiend en kan in geen opsig kerkregtelik verskoon word nie.

4.5.5 In die “repliek” word Stellings 1 tot 4, wat betref die ongerymdhede, saam beantwoord. Wat Stelling 1 betref, naamlik dat die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland nie oor die nodige handelingsbevoegdheid beskik om die “beskrywingspunt” by die Algemene Sinode in te dien nie, word 3.1 tot 3.2.4 van die Reglement van die Moderatuur as bewys tot die teendeel aangebied. Dit was reeds in besit van die ATR soos aangehaal in die skrywe waarmee die beweerde ongerymdhede onder aandag van die ATR gebring is.

4.5.5.1 Terwyl dié Reglement duidelik slegs met interne sake rakende die eie Sinode handel en daar nie ’n enkele verwysing, direk of indirek, is na die indien van beskrywingspunte namens of naas die Sinode nie, word die volgende met stelligheid, maar ooglopend onoortuigend, aangevoer:

Vanuit [die inhoud van die Reglement] is dit duidelik dat die moderatuur (let wel: nie die moderamen nie, maar die moderatuur) as dagbestuur van die moderamen en die moderamen as gevolmagtigde van die sinode wel handelingsbevoegdheid het om beskrywingspunte in te dien. Die beskrywingspunt is deur die moderamen by die Algemene [S]inode ingedien.

Dat dit geen “beskrywingspunt” van die Moderamen was, is duidelik. Dit was ’n “beskrywingspunt” van die Moderatuur waarvoor die instemming van die Moderamen net vinnig verkry is. Die moderatuur van ’n sinode kan egter nie ’n beskrywingspunt by ’n sinode indien nie, soos die Dagbestuur van die Kuratorium Stellenbosch ook by Algemene Sinode 2015 moes hoor. Wat vir die een geld, geld ook vir die ander, tensy die reg intussen verwerf is om die wet te verbreek, wat hier die geval is. Dat die nog altyd bevoegde en deurlugtige ATR, met die Reglement van die Moderamen en die Reglement van die Moderatuur voor oë, hierdie antwoord vir soetkoek opgeëet het, laat ’n mens net wonder hoe dit enigsins kon gebeur het. Die minste wat die ATR kon doen, was om te laat notuleer watter bepaling van die twee reglemente dan van toepassing sou wees, daaroor met gesag aan die Algemene Sinode verslag te doen én om die partye in die saak (die aanbringer van die beweerde ongerymdhede en die Moderatuur van Wes-Kaapland) van die behoorlike gronde vir hulle beslissing in kennis te stel.

4.5.5.2 In die bevinding oor hierdie beweerde kerkregtelike ongerymdheid het die ATR duidelik regtens en feitlik fouteer en sonder behoorlike gronde die Moderamen en Moderatuur van WesKaapland toegelaat om bevoegdhede uit te oefen waaroor hulle ingevolge hulle eie reglemente, en gevolglik ook sinodale besluite en/of volmagte, nie beskik nie. Daar was moontlik een grond wat wel aangevoer en gebruik kon word, maar dan nie ingevolge die inhoud van die bepalinge of die feite aangevoer in die saak nie, naamlik die reg van usansie. Die reg van usansie kom daarop neer dat kerkregtelik ’n saak daarvoor uit te maak is dat ’n kerkordelike praktyk deur die loop van die tyd in die kerk algemeen geword het, sodat iemand wat in sodanige praktyk volhard, nie daaroor onder kritiek geplaas kan word nie. ’n Ondersoek na ’n kerkordelike fomulering in historiese verband (die Wirkungsgeschichte van ’n bepaalde kerkordelike reël) kan dalk ’n argument na vore gebring het dat sinodale kommissies van ’n sinode in die verlede wel ingevolge die Kerkorde en reglemente van die Algemene Sinode oor die bevoegdheid beskik het om beskrywingspunte aan die Algemene Sinode voor te lê. Maar in die “repliek” van die Skriba van die Sinode van Wes-Kaapland word nie hierop ’n beroep op kondonasie op grond van usansie gemaak nie. In elk geval is die ou kerkordelike bepaling wat na “sinode of sinodale kommissie” verwys het, geruime tyd gelede deur die Algemene Sinode gewysig om pertinent te lees “die sinode se gevolmagtigde”. Daar is regsreëls wat geld vir volmagte en hier kan van geen algemene volmag sprake wees nie.

4.5.5.3 Indien verteenwoordigers van die Sinode van Wes-Kaapland dan wil beweer dat hulle oor sodanige volmag in sy volle regstegniese betekenis beskik, moet hulle soos alle handelende partye bewys lewer dat hulle bo redelike twyfel daaroor beskik. Nóg die gelewerde “repliek”, nóg die optrede van die ATR op grond daarvan het enige deurslaggewende bewys daartoe opgelewer.

4.5.5.4 Enige beroep op 3.2.4 van die Reglement van die Moderamen, naamlik optrede in “alle dringende sake en besluite in algemene belang van die kerk”, sal nutteloos wees, omrede daar uitdruklik bepaal word dat hierdie bevoegdheid slegs afhandelingsbevoegdheid behels. Afhandelingsbevoegdheid beteken die verleende gesag om sake wat reeds deur die volmaggewer aan ’n ampsdraer, amptenaar of vergadering opgedra is, te finaliseer. Só moes die Skriba van WesKaapland slegs die besluite wat die Sinode van Wes-Kaapland wél vir aandag van die Algemene Sinode geneem het (en daar is sodanige besluite, waarvan een besluit, naamlik ’n voorstel vanaf die vloer, nie op sodanige wyse afgehandel is nie), na afloop van die vergadering afhandel deur dit in opdrag van die Sinode aan die Algemene Sekretaris deur te stuur. In hierdie opsig was sy eie “repliek” aan die ATR ook buite orde, omdat die Reglement vir die Skriba duidelik nie vir die afhandeling deur die Skriba van ’n kerkordelike navraag van die ATR aan die Moderatuur/Moderamen/Sinode voorsiening maak nie.

4.5.5.5 Duidelik handhaaf die Skriba ook nie die semantiese verskil tussen “breedvoerig” en algemeen of ongespesifiseerd in sy repliserende opmerkinging dat die “opdrag en funksies van die sinode so breedvoerig [in die reglement van die moderamen en die reglement van die moderatuur] omskryf [word] dat dit oorbodig sou wees om die volmag ook nog te noem.” Hoe die ATR hiermee ’n rat voor die oë gedraai is, is onverstaanbaar. “Breedvoerig” beteken immers “met volle besonderhede, uitvoerig, in alle besonderhede”. In sy poging om aan die gestelde probleem te ontkom, beland die Skriba deur sy eie toedoen in die moeilikheid en word hy in sy eie strik gevang: Hy erken openlik dat die gemelde reglemente nie die volmag noem nie en dat dit slegs op eie afleiding gegrond is dat sodanige volmag wel sou bestaan. Dit moes die ATR nog meer versigtig gemaak het om bloot op grond van ’n ander se woord te handel en nie self tot ’n behoorlike begronde beslissing oor ’n duidelik betwiste kerkordelike aangeleentheid te kom nie.

4.5.5.6 Verder handhaaf die Skriba ook nie die semantiese onderskeid tussen “redaksionele” en “inhoudelike” veranderings wanneer hy die ATR inlig dat die moderatuur die twee besluite van die Sinode in een “beskrywingspunt” saamgevat het en “slegs redaksionele veranderinge aan die besluit van die sinode aangebring het om dit toepaslik vir die Algemene Sinode te maak”. Volgens die Skriba is daar “geen inhoudelike veranderinge aan die besluit van die sinode aangebring nie … Die dele van die besluit wat uitsluitlik op die Sinode van Wes-Kaapland van toepassing is, is uitgehaal en die inhoudelike van die besluit is onveranderd as beskrywingspunt aan die Algemene Sinode gestuur.” Maar is dit waar? Verseker nie! Streng gesproke behels redaksionele veranderinge ook inhoudelike veranderinge. So sal ’n redakteur die inhoud en styl van letterkundige, artistieke of musikale werk van ander hersien, verbeter en rangskik met die oog op publikasie. Wat egter in die Kerk met redaksionele veranderinge bedoel word, is taalkundige en stillistiese veranderinge aan bestaande teks sonder om enigsins aan die wesenlike of essensie daarvan te verander. Om “Sinode” met “Algemene Sinode” in ’n reeds genome, geldige en bindende besluit te verander, is nie redaksionele veranderinge nie, maar in alle opsigte wesenlike, fundamentele, inhoudelike veranderinge. Die eenvoudige toets wat aangelê behoort te word, is om die oorspronklike teks en die veranderde teks naas mekaar te plaas en dan te vra of daar enigsins aan die betekenis verander is – m.a.w. kom die twee “werke” inhoudelik ooreen en sê dit presies dieselfde, al verskil die woordgebruik, punktuasie, spelling en uitleg in sekere opsigte van mekaar. Dit is absoluut skreiend dat die moderamen van ’n sinode, ’n taakspan van ’n algemene sinode én ’n volle vergadering van ’n algemene sinode hulle laat bedrieg het deur ’n moderatuur van ’n moderamen van ’n sinode wat onbeskaamd aanvoer dat twee besluite van ’n sinode slegs redaksioneel verander is om volgens bedoeling van ’n sinode as beskrywingspunt voor ’n algemene sinode te dien, terwyl dit met die eerste oogopslag al duidelik is dat dit nie die geval is nie. In Mei 2019 neem die Sinode van Wes-Kaapland, na ’n eie proses wat gevolg het op die 2016besluite van die Buitengewone Algemene Sinode, ’n aantal besluite wat vir die Sinode self, die Sinode se Taakspan Leer- en Aktuele Sake en die Sinode se eie mindere vergaderings, ampsdraers en lidmate bedoel is. Net meer as ’n maand later matig die Moderatuur haar aan om hierdie besluite ingrypend inhoudelik te verander en onder valse voorwendsels (dit was die bedoeling van die Sinode en die veranderinge is slegs redaksioneel) die Moderatuur van die Sinode te beweeg om die wesenlike inhoudelike veranderinge, sonder om by die Sinode die vereiste revisie daarvoor te vra, voor die voet goed te keur en as “beskrywingspunt van die Sinode van Wes-Kaapland” by die Algemene Sinode aan te bied. Toe die Moderatuur en Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland se handelingsbevoegdheid betwis word om na afloop van ’n sinodesitting besluite van die Sinode te herformuleer en as beskrywingspunt by die Algemene Sinode in te dien, word daar volhard met die leuen dat daar géén inhoudelike veranderinge aan die besluite van die Sinode aangebring is nie en dat die veranderinge slegs redaksioneel of tegnies van aard was. ’n Verdere leuen word vertel, naamlik dat die besluite wat uitsluitlik op die Sinode van Wes-Kaapland van toepassing is, uitgehaal is, wat ook nie die geval is nie. Die ATR koop die leuens, gaan gevolglik nie die besluitneming tydens die Sinode behoorlik na nie en kondoneer sodoende die kerkregtelike wanoptrede en die opeenvolging van leuens van die Moderatuur van die Moderamen van die Sinode van WesKaapland.

4.5.5.7 Die verwysiging in die “repliek” dat dit nie nodig was dat die lede van die Moderamen oortuig moes word oor die beskrywingspunt nie, is eintlik ’n aanklag teen die lede van die Moderamen self en ’n verdere bevestiging dat die lede van die Moderamen openlik misluk het om verantwoordelik en aanspreekbaar (“accountable”) in die aangeleentheid op te tree. Ter versagting moet aangevoer word dat die lede van die Moderamen ook nie ’n geleentheid daartoe gegun is tydens ’n behoorlike gekonstitueerde gewone of buitengewone vergadering, waartydens daar ook bespreking oor die saak toegelaat word en die Sinode se Regskommissie/Taakspan Regte behoorlike advies in die aangeleentheid kon gee nie. Die Skriba neem in sy “repliek” ook nie in ag dat by elke gewone sinodesitting ’n nuwe moderamen saamgestel word en dat die funksionering van die vorige moderamen by die sinodesitting tot ’n einde gekom het nie. Maar binne die kerkverband van die Sinode van Wes-Kaapland ken die Moderatuur en Moderamen skynbaar aan hulleself magte toe waaroor slegs die Sinode beskik. En verder funksioneer die Moderatuur as ’n soort super-liggaam met buitengewone gesag, gelei deur ’n Moderator met buitengewone magte. Vir die Moderatuur het die Moderamen by die goedkeuring van die Moderatuur se selfopgelegde en selfgemodifiseerde “beskrywingspunt” oor selfdegelagverbintenisse niks meer as ’n rubberstempel geword in ’n subversiewe aksie wat op berekende wyse uitgevoer is om ’n vooropgestelde doel mee te bereik. Vir die Moderatuur heilig die doel die middele (‘n bekende uitdrukking wat inhoudelik die regverdiging van bedenklike optrede en middele in die lig van “hoë en rein” ideale beskryf). Daarom kan misplaaste antwoorde op eerlike navrae verstrek word en kan alle aanspreeklikheid gemaklik ontduik of ontken word, solank daar net gekry word waarna gesoek word. Maar in die Kerk van die Here werk dit ongelukkig nie só nie en moet leuens en bedrog aan die man gebring word en moet die sondaars getug word.

4.5.5.8 Volgens die Skriba was daar “geen onduidelikheid” oor die proses wat die Moderatuur gevolg het, die voorstel wat voor die Moderamen gedien het, die redes waarom daar ’n elektroniese vergadering gehou is en waaroor die Moderamen moes stem nie. “Onduidelikheid” beteken hier “maklik waarneembaar en verstaanbaar, oog-lopend, voor die hand liggend, klaarblyklik”. Maar dat die Moderatuur sy eie Moderamen, die ATR, die Algemene Sinode en gevolglik die hele NG Kerk mislei en bedrieg het, is nou nét so duidelik: die proses wat die Moderatuur gevolg het, was duidelik ongemagtig, oorhaastig, voortydig en subversief; die voorstel wat voor die Moderamen en uiteindelik voor die Algemene Sinode gedien het, was duidelik bedink, bekonkel, bedek en bereken; die redes waarom ’n elektroniesese vergadering gehou is, was duidelik voortgebring, versin, vervals en om te verlei; waaroor die Moderamen moes stem, was duidelik ongrondwetlik, oorhaastig, vooropgeset, beperkend, onverantwoordelik en gepatroneer. In hierdie opsig hoef daar eintlik net drie vrae beantwoord te word: (i) Was dit inderdaad die bedoeling van die Sinode van Wes-Kaapland om die besluite van Mei 2019 oor selfdegeslagverbintenisse as beskrywingspunt aan die Algemene Sinode 2019 te stuur en, indien wel, wat sou hierdie bedoeling dan gewees het (a) tydige en dus ontvanklike kennis van revisie van die 2015-besluit(e) óf voortydige en dus onontvanklike kennis van revisie van die 2007- en 2013-besluite? (ii) Is die afgevaardigdes na Algemene Sinode 2019 by wyse van die vooraf Agenda, die Verslag van die ATR en die verslae van die Tydelike Taakspan Regte (TTR) aan die Algemene Sinode en deur die sprekers tydens die debatte by die Algemene Sinode en die lede van die Moderamen van die Algemene Sinode ná Algemene Sinode 2019 eerlik en openlik ingelig oor die feit dat die “beskrywingspunt” van Wes-Kaapland met motivering NIE deur die Sinode van Wes-Kaapland aan die Algemene Sinode gestuur is nie, maar dat dit sy oorsprong by die Moderatuur gehad het en dat die indiening (nie die inhoud) inderhaas deur die Moderamen goedgekeur is? (iii) Is die veranderinge wat die Moderatuur van Wes-Kaapland aan bindende besluite van die Sinode van Wes-Kaapland aangebring het en op twyfelagtige wyse op die tafel van die Algemene Sinode geplaas is, slegs redaksioneel van aard – dus is die Sinode van Wes-Kaapland se Taakspan Leer-en Aktuele Sake steeds besig om uitvoering aan sy opdragte te gee? Indien die antwoord op enige van hierdie vra NEE sou wees, is daar geen twyfel meer nie (is dit dus duidelik) dat die “leierskap van die Sinode van Wes-Kaapland” inderdaad die Algemene Sinode mislei en bedrieg het.

4.5.6 Die “repliek” op Stelling 5 is eweneens vals, misleidend en inhoudelik verkeerd. Die volle waarheid, wat die Moderatuursvergadering van 12 Junie 2019 betref, is nie geopenbaar nie en sedertdien verswyg. In die PAIA Vorm C-aansoek het die volgende aan die lig gekom:

4.5.6.1 Die Moderatuursvergader van 12 Junie 2019 is voorafgegaan deur ’n aantal gebeure wat goedskiks verswyg word:

Daar het tussen 10 en 12 Junie 2019 ’n klompie dinge gebeur waarvan die Skriba in die “repliek” welwetend geen melding maak nie, maar wat danksy die beperkte inligting bekom, tog duidelike lig werp op hoe die proses eintlik verloop het en hoe oneerlik die lede van die Moderatuur werklik opgetree het.

4.5.6.1.1 Die Skriba het in ’n geskrewe antwoord aan die Inligtingsbeampte, wat die Moderatuur op 24 Januarie 2020 bevestig het, onomwonde gesê dat daar géén korrespondensie of e-posse vóór die Moderatuursvergadering is nie. Dit is nie die waarheid nie. Weens die persoonlike korrespondensie tussen die Versoeker en die Inligtingsbeampte het ’n baie belangrike en betekenisvolle e-pos van die Skriba aan die Inligtingsbeampte, wat ook die Saakgelastigde van die Sinode van Wes-Kaapland is, aan die lig gekom. Dit is op 10 Junie 2019 om 03:36 namiddag aan laasgenoemde gestuur. By hierdie e-pos is ’n dokument aangeheg gemerk as “Prosesvoorstel” waarin slegs die “legitimasiebesluit” as Sinodebesluit en as beskrywings- of besprekingspunt aan die Algemene Sinode gestuur sou word. Dit was in volle ooreenstemming met die besluit van die Sinode self en die Skriba, wat vir die notulering tydens die sinodevergadering verantwoordelik is, het hiermee te kenne gegee dat slegs die “legitimasie-besluit” vir die aandag van die Algemene Sinode bedoel was. Dit is belangrike getuienis wat in die “repliek” aan die ATR weerhou is en ook nie ingesluit is by die PAIA Vorm Cversoek nie. Die bestaan van hierdie e-pos is reeds die eerste aanduiding dat veel meer vooraf plaasgevind het as wat geopenbaar is.

4.5.6.1.2 Wat nog meer ergerlik is, is dit wat die Inligtingsbeampte op 22 November 2019, dus ná die sitting van Algemene Sinode 2019 en in samehang van die Vorm C-versoek, geskryf het:

“[Die Skriba] wou net hierdie stukkie (Punt 9) aan die Algemene Sinode stuur. Dit sou nie sin maak nie. ’n Beskrywingspunt aan ’n Algemene Sinode moet tog behoorlik gemotiveer word. Dit het gelei tot ’n klompie oproepe en raadpleging en uiteindelike advies dat die moderamen dit sal moet stuur en dat die moderatuur dus ’n besluit moet neem om ’n vergadering te hou…. so is die telefoniese vergadering vir 12 Junie 2019 gereël. Die kennisgewing vir die vergadering was met WhatsApp/SMS/sekretaresse tot sekretaresse en hoe ook al gereël sonder dik pakke dokumentasie. Nelis (as voorsitter) het uiteraard die “call” gemaak dat die moderatuur moes vergader. Sanet het die reëlings getref. Die feit van die saak is dat die Sinode ’n besluit geneem het en dat die besluit was dat die “saak” na die Algemene Sinode moes gaan (sien notule). Dit is ongelukkig genotuleer as ’n “prosesvoorstel” – wat eintlik ’n beskrywingspunt moes wees. Die doel van die moderatuur se vergadering (soos volledig in die notule staan) was om die saak reg te stel deur die moderamen te laat vergader om ’n beskrywingspunt aan die Algemene Sinode van die Sinode se besluit te maak … Die stukke wat voorgelê is, is nie nuwe skryfsels nie. Dit is ’n saamvoeging van wat by die Sinode gedien het en vooraf by vorige moderamenvergaderings. Francois het dit saamgevoeg soos verskillende lede van die moderatuur aan hom verduidelik het hoe ’n beskrywingspunt lyk … Heerden en Pieter het gewerk aan die motivering vir die beskrywingspunt.

Hierdie “getuienis” van die Inligtingsbeampte, wat persoonlik by die gebeure betrokke was en eertehands daaroor kan getuig, bevestig dat daar inderdaad “korrespondensie” bestaan wat met die kennisgewing vir die vergadering in direkte verband staan en daarvan ’n wesenlike deel vorm, wat nie blootgelê is nie. Die WhatsApp’s en SMS’e wat gestuur is, is niks anders as elektroniese korrespondensie tussen die partye nie. Opvallend herhaal die Inligtingsbeampte die leuen dat die Sinode die besluit geneem het dat al die besluite na die Algemene Sinode moet gaan, terwyl dit net die “prosesvoorstel” of “legitimasie-besluit” was.

4.5.6.1.3 Die Inligtingsbeampte noem in hierdie persoonlike korrespondensie dat die “legitimasiebesluit” op sy eie nie sin gemaak het nie. Dit is juis hier waar die betrokkenes dit heeltemal verkeerd het, omrede die “prosesvoorstel” of “Legitimasie-besluit” juis oor die enkele saak in die twee sinodebesluite handel waaroor die Algemene Sinode, wat beleid betref, toe die uitsluitlike besluitnemingsbevoegdheid gehad het. Die Sinode kon dus nie hieroor finaal besluit nie, maar dit alleenlik onder aandag van die Algemene Sinode by wyse van ’n beskrywingspunt bring.

4.5.6.1.4 Vir waarskynlik die eerste keer in die bestaan van die NG Kerk het dit gebeur dat ’n motivering vir ’n reeks eie sinodebesluite gebruik is om ’n “beskrywingspunt” by te laat pas, waarna die motivering weer verander is om by die “beskrywingspunt” te pas. Dit is soos om ’n mooi rok te hê wat nie by ’n man pas nie. Maar in plaas daarvan om ’n mooi hemp vir die man uit die materiaal van die rok te maak, word die man deur rekonstruksie so verander dat hy gemaklik en gelukkig in ’n rok pas. Omdat die rok egter ’n bietjie te groot is, word dit verklein en in ’n hangkas opgehang. Later word dit by ’n vergadering uitgehaal en aangetrek asof niks verkeerd is nie, solank sy net ’n rok het.

4.5.6.2 Die Moderatuursvergadering van 12 Junie 2019 was ’n buitengewone vergadering:

Volgens die Notule van die Moderatuursvergadering gehou op 26 Mei 2019 was die volgende gewone vergadering vir 19 Julie 2019 geskeduleer. Die vergadering van 12 Junie 2019 was dus ’n buitengewone vergadering wat op baie kort kennisgewing gereël is om ’n enkele saak te bespreek. Dit word nie in die Skriba se “repliek” vermeld nie. Dit is van belang as daar na die volgende punt gekyk word.

4.5.6.3 Die Moderatuursvergadering van 12 Junie 2019 beskik nie oor ’n behoorlike en noodsaaklike skriftelike kennisgewing en vooraf opgestelde volledige agenda nie:

4.5.6.3.1 Volgens die Reglement vir die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (2015) behels die agenda vir ’n kerkvergadering óók die kennisgewing vir die vergadering met ’n duidelike aanwysing van die saak/sake wat tydens die vergadering bespreek sal word. Alle lede moet betyds skriftelik/elektronies kennis van ’n buitengewone vergadering ontvang. Sodanige buitengewone vergadering word deur ’n lid of lede met opgaaf van rede/redes versoek. Tydens ’n buitengewone vergadering mag slegs dié sake bespreek waarvoor dit belê is.

4.5.6.3.2 Die vergadering van 12 Junie 2019, so het dit ook geblyk uit die dokumente wat ingevolge die PAIA Vormn C-versoek ontvang, was ’n telefoonvergadering. Dit is al wat die Skriba in sy “repliek” aan die ATR vermeld. Die Algemene Sinode van 2011 se besluit oor Telefoon-/Elektroniese Vergaderings en Stemwyses, soos vervat in Kerkordeboek 2015 en van toepassing op die vergaderinge van die sinodes se gemagtigdes, bepaal dat (i) telefoniese vergaderings toelaatbaar is vir die hantering van spoedeisende sake onder bepaalde voorwaardes; (ii) die vereistes vir die telefoonvergadering is dieselfde wat geld vir gewone vergadering, onder andere ten opsigte van kennisgewing, agenda, kworum en besluitneming. Die agenda vir ’n vergadering dien nie as kennisgewing vir die vergadering nie, en word afsonderlik vermeld.

4.5.6.3.3 Volgens die Notule van die Moderatuursvergadering van 12 Junie 2019 het ’n Bylaag 1 voor die vergadering gedien. Hierdie dokument bevat meer as net die Sinode se besluite, omrede die besluite daarin vervat rééds herformuleer is om as “Beskrywingspunt” aan die Algemene Sinode 2019 voorgelê te word. Die herformuleerde sinodebesluite in die vorm van ’n “beskrywingspunt” blyk eerder die aanleiding tot die Moderatuursvergadering en nie die gevolg daarvan te wees nie. Volgens die Inligtingsbeampte se persoonlike mededeling was die Skriba verantwoordelik vir die herformulering van die Sinode se besluite om as “Beskrywingspunt” aan die Algemene Sinode deurgestuur te word. Wanneer het die Skriba die herformulering gedoen en Bylaag 1 geskep? Was dit reeds vóór die Moderatuursvergadering? Op hierdie vrae is volhoudend nie antwoorde verstrek nie.

4.5.6.3.4 Die volgende noodsaaklike inligting wat die Agenda vir die Moderatuursvergadering van 12 Junie 2019 betref, bly dus ontbreek en is vermoedelik opsetlik verswyg:

4.5.6.3.4.1 Geskrewe inligting oor wie die buitengewone vergadering aangevra het, wanneer die aanvraag geskied het, waarvoor die vergadering spoedeisend verlang is en hoe daar opdrag gegee is om van die vergadering kennis te gee.

4.5.6.3.4.2 Die skriftelike/elektroniese kennisgewing vir die vergadering waarby die geskrewe sakelys ingeluit is asook die volledige inligting rakende die versending daarvan aan die lede van die Moderatuur (insluitende aan wie gestuur en wanneer).

4.5.6.3.4.3 Die oorspronklike elektroniese weergawe van die Agenda wat vooraf aan die lede van die Moderatuur versend is, om die egtheid en oorspronklikheid daarvan te bepaal.

4.5.6.3.4.4 Die oorspronklike elektroniese weergawe van die Bylaag 1 wat voor die Moderatuursvergadering van 12 Junie 2019 gedien het, met ’n spesifieke aanduiding van (i) wie die dokument aanvanklik opgestel het, (ii) wanneer die dokument opgestel is, (iii) wanneer die dokument aan die lede van die Moderatuur beskikbaar gestel is, en (iv) wanneer die voorgestelde “Beskrywingspunt” deur die Moderatuur in finale vorm goedgekeur is vir voorlegging aan die lede van die Moderamen (voor, tydens of na die vergadering).

4.5.6.3.4.5 Die redes waarom meer as net die “legitimasie-besluit”, soos in ’n konsepbrief van die Skriba vervat, as “beskrywingspunt” aan die Algemene Sinode gestuur is.

4.5.6.3.5 Toe die Versoeker teen 5 Maart 2020 en na die agste opvolgskrywe vir die soveelste keer daarop aandring om ingevolge die Wet “al die rekords soos reeds versoek in oorspronklike en ongewysigde formaat te ontvang, wat ook insluit die rekords in persoonlike besit van die moderatuurlede, by gebrek waarvan daar tot straf- en siviel-regtelike aksie ingevolge die Wet oorgegaan sal word”, het die Inligtingsbeampte die versoek probeer ontduik deur die volgende namens die Moderatuur aan te voer:

Die leierskap wys daarop dat jy moontlik nie bewus is van hoe die Moderatuur in die Wes-Kaap funksioneer nie. Die Wes-Kaap se Moderatuur bestaan uit gewone predikante (en enkele ander lede) in gewone gemeentes. Die Skriba van die Moderamen (ds Francois Herselman) is byvoorbeeld die predikant van die NG Gemeente Parow-Panorama. Hy tik die notules van die Moderatuur en die Moderamen in die pastorie in sy gemeente op sy eie persoonlike skootrekenaar. Hoeveel keer hy ’n notule proeflees en verbeter weet ons nie en is ook nie ter sake nie. Daar is net een notule wat regsgeldig is en dit is die notule wat goedgekeur word by ’n volgende vergadering, in harde kopie gedruk word en met swart ink geteken word en uiteindelik gebind word en in die Argief in Stellenbosch bewaar word. Die “rekenaarstelsel en -netwerk van die NG Kerk in SA” beskik nie oor hierdie verskillende voorlopige weergawes van ’n notule nie. Die harde kopie is die inligting wat die NG Kerk in SA volgens die Argief se Reglement bewaar. Daar kan inderdaad verskillend elektroniese weergawes van ’n notule bestaan, soos wat lede gevra is om te help met ’n formulering of wat ook al. Hierdie weergawes het geen betekenis hoegenaamd nie. Die notule wat tel is die een wat by die volgende vergadering as die notule aangebied word en geteken word.

Terwyl daar na die oorspronklik elektroniese rekords gesoek is, het die Inligtingsbeampte hom by die moontlike gewysigde dokumentasie bepaal. Tog het hy presies geweet wat gevra word en waarom. Maar hier is die senuwee raak geboor en het die bokspringe begin en skouspelagtig geraak. Ongelukkig het die Moderatuur en Inligtingsbeampte van die Sinode van Wes-Kaapland nie rekening gehou met die bepalings van die Wet nie. Artikel 4 van die Wet lees:

4. Rekord gehou deur beampte of onafhanklike kontrakteur van openbare liggaam of privaatliggaam

Vir doeleindes van hierdie Wet maar, behoudens artikel 12, word ’n rekord in besit of onder die beheer van-

(a) ’n beampte van ’n openbare liggaam of privaatliggaam in sy of haar hoedanigheid as sodanig; of

(b) ’n onafhanklike kontrakteur in diens geneem deur ’n openbare liggaam of privaatliggaam in die hoedanigheid as sodanige kontrakteur, beskou as synde ’n rekord van onderskeidelik daardie openbare liggaam of privaatliggaam te wees.

Gegewe die woordomskrywing van “beampte” en “privaatliggaam” in Artikel 1 van die Wet bestaan daar nie die minste twyfel nie dat elke lid van die Moderatuur en Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland en elke beampte in diens van die Sinode van Wes-Kaapland verplig is om enige rekord in sy of haar besit, wat wetlik geag word ’n rekord van die Sinode van Wes-Kaapland as die privaatliggaam te wees, te oorhandig wanneer daar ingevolge die Wet daarom gevra word. Dus:

4.5.6.3.5.1 Enige rekord wat deur die Skriba as beampte van die privaatliggaam tuis op sy persoonlike rekenaar geskep is en wetlik as ’n rekord van die privaatliggaam beskou word, is ’n rekord in besit van die privaatliggaam en moet op aanvraag geopenbaar word. Die rekords wat deur die Inligtingsbeampte as regsgeldig geag word, is nie die rekords wat ingevolge die Wet as die enigste regsgeldige rekord geag word nie. Elke rekord in besit van enige beampte of lid van die privaatliggaam synde wetlik ’n rekord van die privaatliggaam, moet op versoek geopenbaar word.

4.5.6.3.5.2 Al beskik die “rekenaarstelsel en -netwerk van die NG Kerk in SA” nie oor die oorspronklike of verbeterde uitgawe van ’n bepaalde rekord nie, beteken dit nog geensins dat sodanige oorspronklike of verbeterde uitgawe nie bestaan en daarom nie op versoek gelewer kan word nie. Die Skriba en enige ander lid van die Moderatuur is wetlik verplig om enige rekord wat deur hom of haar geskep en selfs verbeter is, en geag word ’n rekord van die privaatliggaam te wees, op versoek te oorhandig.

4.5.6.3.5.3 Indien ’n rekord in ’n beampte of lid van die privaatliggaam se persoonlike besit is, maar ingevolge die Wet as rekord van die privaatliggaam beskou word, vernietig of beskadig of gewysig word, of verberg word, of vervals word of as vals rekord geskep word, maak die persoon hom of haar skuldig aan ’n misdryf en kan daarvoor gestraf word.

4.5.6.3.5.4 Dit gaan dus nie oor die rekord “wat tel” nie, maar elke rekord “wat bestaan”, naamlik die rekord soos oorspronklik geskep, die rekord soos verbeter, die rekord soos versprei en die rekord soos goedgekeur en die rekord soos bewaar. Elk hiervan verteenwoordig ’n afsonderlike rekord en moet op versoek gelewer word.

4.5.6.3.6 Die Inligtingsbeampte en Moderatuur het uiteindelik geweier om behoorlik en volledig aan die PAIA Vorm C-versoek te voldoen en hulle inderdaad aan strafregtelike vervolging skuldig gemaak en is skynbaar net bereid om die gewraakte inligting beskikbaar te stel as die hof hulle daartoe verplig.

4.5.6.3.7 Die eierdans wat uitgevoer is, het maar net verder bevestig dat die Moderatuur van WesKaapland nie bereid is om met die hele mandjie patats voor die dag te kom nie. Dus die volle waarheid oor die gebeure wat tussen 10 en 12 Junie 2019 afgespeel het, is doodeenvoudig verswyg. Dit het alles met die Agenda en Kennisgewing vir die Moderatuursvergadering te doen en moes gevolglik geopenbaar word.

4.5.6.3.8 Dit kan nie waar wees wat die Skriba in die Inligtingsbeampte se verslag aan die Moderatuur (nogal die geïmpliseerde party) geantwoord het nie, naamlik dat daar geen korrespondensie of eposse is nie. Beteken dit dat daar dan ook géén skriftelike/elektroniese kennisgewing vir die vergadering, soos vereis, uitgestuur nie? Het Bylaag 1 bloot tydens die vergadering uit die lug geval? Het geen lid van die Moderatuur vooraf geweet van die voorstel dat die besluite van die Sinode herformuleer is/word om as “beskrywingspunt” aan die Algemene Sinode deurgestuur te word nie? Het die gedagte bloot by die vergadering self ontstaan om die beskrywingspunt soos tydens die vergadering geformuleer aan die Algemene Sinode te stuur? Het niemand met iemand vóór die vergadering oor die saak gepraat of gekorrespondeer nie? Het geeneen van die lede van die Moderatuur die vergadering aangevra en die saak as enigste saak op die Agenda laat plaas nie? Is die saak binne 55 minute ontvang, hanteer en afgehandel (ingeslote die versoek, die beredenering, die herformulering en goedkeuring)? Dit is wat die Moderatuur se bevestigende besluit by implikasie gesê het: Álles het by die Moderatuursvergadering plaasgevind! Maar dit was doodeenvoudig nie waar nie.

4.5.6.4 Die Moderatuursvergadering van 12 Junie 2019 se Notule bevestig dat dat daar geen bedoeling by die Sinode was om die besluite van die Sinode as beskrywingspunte na die Algemene Sinode te verwys nie:

4.5.6.4.1 By die lees van die Notule van die Moderatuursvergadering saam met die “Agenda” vir die daaropvolgende elektroniese Moderamenvergadering val dit dadelik op dat daar uit die “pen” van dieselfde skrywer twee teenstrydige weergawes gegee word van wat by die Sinode gebeur het en wat vorentoe daaroor gesê moet word.

4.5.6.4.2 In die Notule van die Moderamen word verwys na die prosesvoorstel, bedoelende die “legitimasie-besluit” wat die enigste besluit onder die twee stelle besluite is wat deur die Sinode vir deursending aan die Algemene Sinode besluit is. In die “Agenda” vir die Moderamenvergadering en in die “repliek” aan die ATR word dit heeltemal verswyg.

4.5.6.4.3 In die “Agenda” vir die Moderamenvergadering word reeds in die tweede sin van die skrywe met stelligheid aangevoer dat dit die bedoeling van die Sinode was om die twee besluite insake selfdegeslagverbintenisse as beskrywingspunte aan die Algemene Sinode te stuur, terwyl dit nie genoem word in die Notule van die Moderatuursvergadering en in die “repliek” aan die ATR nie.

4.5.6.4.4 Hierdie inkonsekwentheid het duidelik die ATR, wat beide dokumente as aanhangsels tot die “repliek” ontvang het, by die beoordeling van die ontvanklikheid van die “beskrywingspunt” ontgaan. Die gevolg was dat die ATR, waarskynlik weens gebrekkige aandagbesteding of opset, versuim het om die waarheid daaragter te soek en die Algemene Sinode daaroor te adviseer.

4.5.6.4.5 Die Notule van die Moderatuursvergadering bevat meer die waarheid, terwyl die “Agenda” vir die Moderamenvergadering van ’n blatante leuen uitgegaan het.

4.5.6.5 Die Moderatuursvergader van 12 Junie 2019 se Notule maak nie melding van redaksionele veranderinge wat aan die besluite van die Sinode aangebring is om dit as “beskrywingspunt” na die Algemene Sinode deur te stuur nie:

4.5.6.5.1 Die Skriba noem in sy “repliek” dat daar slegs “redaksionele” veranderinge aan die besluit[e] van die Sinode aangebring is, maar dit staan nie so in die Notule van die Moderatuursvergadering en in die “Agenda” vir (en Notule) van die elektroniese Moderamenvergadering. In die Notule van die Moderatuursvergadering word gemeld dat die besluit wat die Moderamen moet neem nie oor die inhoud van die besluite nie, maar wel oor “tegniese aspekte van die besluite” gaan. In die “Agenda” vir die elektroniese Moderamenvergadering word vermeld dat die oorspronklike besluite nou in die vorm van ’n beskrywingspunt geskryf is “sodat dit tegnies korrek op die tafel van die Algemene Sinode kan kom.” Verder word die Moderamen versoek om kennis te neem dat die inhoud van die besluit[e] reeds deur die Sinode goedgekeur is en dat die Moderamen nie daaroor besluit nie. “Dit gaan oor of die besluit as beskrywingspunt aan die Algemene Sinode gestuur word of nie.”

4.5.6.5.2 Die vraag is nou: Wat behels die “tegniese aspekte” van ’n besluit” en wat beteken “tegnies korrek”? Wat die Moderatuur waarskynlik bedoel het, is dat die besluite van die Sinode tegniese versorg is om aan die vereistes vir ’n beskrywingspunt te voldoen, sodat dit by ’n opvolgende kerkvergadering in sy geredigeerde formaat ontvang, gestel, geamendeer, goedgekeur, afgekeur of verwys kan word.

4.5.6.5.3 Die besluit wat die Sinode as sogenaamde “prosesvoorstel” goedgekeur het, kon uiteraard “tegnies versorg” word omdat hierdie “legitimasie-besluit” duidelik deur die Sinode vir uiteindelike besluitneming na die Algemene Sinode verwys moes word. Dit het egter nie gebeur nie en het steeds tegnies onversorg by die Algemene Sinode aangekom. Dus, wat moes gebeur het, het nie gebeur nie, en wat nie kon gebeur nie, het wel gebeur. Die Moderatuur van Wes-Kaapland se preokkupasie en obsessie om weens die een of ander onuitgesproke rede bepaalde besluite van die eie Sinode wederegtelik maar betyds op die tafel van die Algemene Sinode te kry, het tot gevolg gehad dat twee besluite wat die Sinode wel regtens vir aandag van die Algemene Sinode geneem het, enersyds onversorg en andersyds te laat by die Kantoor van die Algemene Sinode gekom het (sien al die besluite geneem vir aandag van die Algemene Sinode, Acta 2019).

4.5.6.5.3.1 By die deurlees van die “beskrywingspunt” val dit op dat punt 7 (voorheen punt 9) steeds onversorg na die Algemene Sinode deurgestuur is. By die “tegniese” en/of “redaksionele” versorging van hierdie “prosesbesluit” of “legitimasie-besluit” moes die besluit, wat as beskrywingspunt na die Algemene Sinode gestuur is, van die volgende aanvangswoorde voorsien gewees het: “Die Algemene Sinode besluit dat ….” Maar dat dit nie hier vir die Moderatuur om tegniese versorging gegaan het nie, blyk uit die feit dat by punt 2, 3 en 9 die woord “sinode” met “Algemene Sinode” vervang moes gewees het, soos by punt 1, 4, 5, 6, 8, 10 en 11 die geval was. Verder moes die Moderatuur, Moderamen, ATR én die Algemene Sinode hulle “tegnies” gehou het by 10.2 van die Reglement van Orde, naamlik dat, indien die Algemene Sinode beleidsbesluite neem wat opgevolg of in die praktyk uitgevoer moet word, die Algemene Sinode deur die samestellende sinodes werk. Daarom moes punt 4 “tegnies korrek” verander word om te lees: “Die Algemene Sinode versoek sinodes om gemeentes aan te moedig om …..” En punt 6 moes “tegnies” verander word om te lees: “Die Algemene Sinode versoek sinodes om kerkrade aan te moedig om …

4.5.6.5.3.2 Die Sinode van Wes-Kaapland het ’n tweede besluit vir deursending na die Algemene Sinode geneem. Toe daar by die Bestuurder van die Algemene Sinode navraag gedoen is oor die “Sinode van Wes-Kaapland” se “beskrywingspunt”, het ’n tweede besluit aan die lig gekom. In ’n uittreksel uit ’n brief van die Skriba van Wes-Kaapland gerig aan die Algemene Sekretaris, waarvan die datum nie aangetoon is nie, staan die volgende:

Beste Gustav, tydens die sinodesitting van die Sinode van Wes-Kaapland is onderstaande mosie goedgekeur. (Skrywe 9 Julie 2019)

Kan jy my dalk help om te bepaal wat die beste wyse sal wees waarop die mosie by die Algemene Sinode kan dien of hoe ek dit aan jou moet stuur sodat dit op korrekte wyse by die Algemene Sinode kan dien.

Besluit 29 (Mosie 2) [Goedgekeur]

Die sinode van die NG Kerk in SA besluit om in die lig van die onvoorwaardelike genade van Jesus Christus, die allesinsluitende liefde van God die Vader, en die allesomvattende troos van die Heilige Gees:

    1. nie enige vorm van diskriminasie op grond van ras, kleur, gender, seksuele oriëntasie, godsdiens, taal, sosiale en ekonomiese status, ras, of wat die menswaardigheid van enige mens sou kon aantas, te onderskryf nie;
    2. Betreur enige besluit wat voorheen deur die sinode geneem is wat tot enige vorm van diskriminasie soos in punt 1 gedefinieer, gelei het;
    3. en versoek die Algemene Sinode om ʼn soortgelyke besluit as hierdie te neem.

Voorsteller: Monty Sahd

Sekondant: Louis Jonker

Wanneer hierdie besluit, wat beslis laat ingedien is en tegnies onversorg gelaat is, die Kantoor van die Algemene Sinode bereik het en wat uiteindelik daarvan geword het, kan nie bepaal word nie. Dit was definitief nie voor 9 Julie 2019 (laaste datum vir indiening van beskrywingspunte drie maande voor vergadering) soos in die e-pos verwys word nie. Toe die navraag gedoen is, was die besluit/beskrywingspunt, soos in die skrywe staan, nog nie eers aangestuur nie.

4.5.7 Die “repliek” op Stelling 5, wat die Moderamenvergadering van 14 tot 17 Junie 2019 betref, kan ook nie so gelaat word nie. Die volgende is hier van belang:

4.5.7.1 Die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland vergader die eerste keer na die gewone sitting van die Sinode vir ’n buitengewone elektroniese vergadering onder valse voorwendsels en neem ’n onregmatige en onwettige besluit:

4.5.7.1.1 Die werksaamhede van ’n moderamen neem ’n aanvang by konstituering tydens of na afloop van die sinodesitting.

4.5.7.1.2 Die nuut saamgestelde Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland het na die gewone sitting van die Sinode in Mei op 14 Junie 2019 tydens ’n buitengewone elektroniese vergadering gekonstitueer om slegs een besluit te neem.

4.5.7.1.3 Die een besluit is geneem deur slegs JA of NEE te stem vir die voorstel van die Moderatuur om die reeds herformuleerde besluite van die Sinode oor selfdegeslagverbintenisse as “beskrywingspunt” aan die Algemene Sinode te stuur.

4.5.7.1.4 Die besluit van die Moderamen is onder twee valse voorwendsels geneem, naamlik (i) dat dit die bedoeling van die Sinode was om die twee besluite as beskrywingspunte aan die Algemene Sinode te stuur, en (ii) dat die twee besluite geensins inhoudelik verander is nie, maar slegs redaksioneel en/of tegnies verander is om sodoende korrek op die tafel van die Algemene Sinode te kom.

4.5.7.1.5 Die Moderamen het nie in uitvoering van enige opdrag van die Sinode besluit om die twee besluite van die Sinode as “beskrywingspunt” aan die Algemene Sinode deur te stuur nie. Die Moderamen het dit op versoek van die Moderatuur, wat net die Moderamen se goedkeuring daarvoor gesoek het, gedoen. Dit was die Moderatuur se “beskrywingspunt” en die goedkeuring van die “voorstel” van die Moderatuur om dit as “beskrywingspunt” na die Algemene Sinode deur te stuur, het dit nóg die beskrywingspunt van die Moderamen, nóg die beskrywingspunt van die Sinode van Wes-Kaapland gemaak. Die Moderamen het net JA-gesê dat die Moderatuur se “voorstel” as “beskrywingspunt” aan die Algemene Sinode gestuur word. Die Moderamen is nie in enige opsig gevra om die “beskrywingspunt” as sulks goed te keur of sy eie te maak nie. Daarom kan dit nie eers geag word ’n Beskrywingspunt van Die Moderamen te wees nie.

4.5.7.1.6 Die Moderamen het oor ’n voorstel gestem wat vooraf van die volgende opskrif voorsien is: Beskrywingspunte van die Sinode van Wes-Kaapland vir Algemene Sinode. Só is dit ook aan die Algemene Sinode deurgegee, wat duidelik die indruk geskep het dat die “beskrywingspunt[e] van die Sinode self afkomstig was. Die besluit wat die Moderamen geneem het, het dan in die Notule van die vergadering aangedui dat dit ’n beskrywingspunt van die Sinode self is. In die Skriba se kennisgewing vir die vergadering, en so is dit dan ook genotuleer, het gestaan dat die Sinode in sy besluitneming pertinent gesê het dat die twee besluite as beskrywingspunte aan die Algemene Sinode gestuur word. Daarom was die enigste wyse waarop dit gedoen kan word “as die sinode dit pertinent doen of as die moderamen die besluit neem om ’n beskrywingspunt aan die [algemene] sinode te stuur”. Al is die besluit toe deur die Moderamen geneem, is dit aan die Algemene Sinode deurgegee as sou die Sinode die besluit geneem het. Eers in die “repliek” wat enkele dae voor die aanvang van die Algemene Sinode aan die ATR voorsien is, is erken dat dit nie ’n “beskrywingspunt” van die Sinode self is nie, maar van die Moderamen (maar dan van die Moderatuur, wat net die Moderamen se goedkeuring vir hulle eie “voorstel” gesoek het om dit wettig op die tafel van die Algemene Sinode te probeer kry).

4.5.7.1.7 Wat die Moderatuur en Moderamen van Wes-Kaapland duidelik nie besef het nie, was dat die twee besluite van die Sinode by die Sinode in regstegniese sin die uitsluitlike eiendom van die Sinode van Wes-Kaapland geword het en dat nét die Sinode met hierdie eiendom kan handel. Oor daardie eiendom moes trou gewaak gewees het. Om daardie eiendom vir eie doeleindes te misbruik sonder om die goedkeuring van die regmatige eienaar daarvoor te kry, kom op roof en diefstal neer. Dit is onwettig om ’n ander se eiendom sonder die wetlike eienaar se toestemming van hom of haar te vervreem. Die Moderatuur en/of die Moderamen het glad nie die reg daartoe gehad om enigsins aan die besluite van die Sinode te verander nie en allermins om die bedoeling daarvan te wysig. Dit was nie die bedoeling van die Sinode om met die besluite na die Algemene Sinode te gaan nie en daarby moes gebly gewees het. Indien die Moderamen as gevolmagtigde van die Sinode wel ingevolge die Kerkorde beskrywingspunte by die Algemene Sinode kan indien, kan dit sekerlik geskied, maar dan nie by wyse van die wysiging of verandering van bestaande, regsgeldige Sinodebesluite nie. Dit is onwettig. Die Sinode kan nie toelaat dat sy eie besluite deur sy eie gevolmagtigde gewysig of verander word om besluite daar te stel wat strydig met sy eie besluite en die inhoud en bedoeling daarvan is nie. En dit is nou die geval, want in Mei 2019 het die Sinode besluit om dit aan die Sinode se Taakspan Leer- en Aktuele Sake op te dra om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag. Maar in Junie 2019 besluit die Moderatuur met die Moderamen se gemanipuleerde en geforseerde goedkeuring dat die Algemene Sinode gevra word om dit aan die Algemene Sinode se Taakspan Leer- en Aktuele Sake op te dra om dit te doen. Dit is tog duidelik in stryd met die Sinode se eie besluit. Maar in die Sinode van Wes-Kaapland het die Moderatuur skynbaar gesag oor die Moderamen en die Moderamen gesag oor die Sinode. En die ATR en die Algemene Sinode het met die ontvang van en goedkeuring van die “beskrywingspunt” dit as kerkordelik-gerymd aanvaar. Die Algemene Sinode het dus ingestem dat ’n moderamen of selfs ’n moderatuur besluite van ’n sinode kan verander of wysig strydig met Artikel 23.1 van sy eie Kerkorde.

4.5.7.1.8 Die ATR het nie net gruwelik versuim om die kerkregtelike ongerymdhede rakende die “beskrywingspunt” van Wes-Kaapland ingevolge sy eie Reglement onder aandag van die Algemene Sinode te bring nie, maar ook versuim om ’n aanduiding te gee van die moontlike weg tot herstel. Wat laasgenoemde betref, was daar net twee maniere waarop die “beskrywingspunt”, soos ingedien onder naam van die Sinode van Wes-Kaapland, deur die Algemene Sinode in ontvangs geneem kon word.

4.5.7.1.8.1 Omdat Artikel 23.1 van die Kerkorde dit duidelik stel dat besluite van die Sinode bindend is, kan daaroor in appèl na die Algemene Sinode gegaan word. Daar kan in die appèl byvoorbeeld aangevoer word dat die Sinode inderdaad besluit het om die aanbevelings van die Moderamen oor selfdegeslagverbintenisse goed te keur én as beskrywingspunt(e) na die Algemene Sinode deur te stuur, maar dat dit per abuis nie so genotuleer is nie en dat die Skriba van die Sinode nagelaat het om dit korrek en betyds aan die Algemene Sinode deur te stuur. Bewyse hiervoor kan dan gelewer word en die Algemene Sinode of sy gevolmagtigde appèlliggaam kan dan daaroor beslis. Omrede niemand na afloop van die sitting van die Sinode van Wes-Kaapland die korrektheid van die Notule betwis het nie én die Moderatuur dit by die eerste vergadering dit selfs só goedgekeur het, is hierdie weg van herstel (remedie) nie hier van toepassing nie.

4.5.7.1.8.2 Omdat die Reglement vir Appèl en Beswaar dit duidelik stel dat besluite van die Sinode bindend is, kan besluite herroep, gewysig of vervang word by wyse van revisie tydens die eersvolgende gewone of buitengewone vergadering van die Sinode van Wes-Kaapland. Die Moderamen of die Sinode se Taakspan Leer- en Aktuele Sake kan betyds vooraf by wyse van verslag of beskrywingspunt nuwe aanbevelings oor vorige besluite maak. Eers wanneer die revisie- of hersieningsvoorstel goedgekeur is, vervang dit die vorige besluit(e).

4.5.7.1.8.3 Nóg die kerklike bepalinge van die Sinode van Wes-Kaapland nóg die kerklike bepalinge van die Algemene Sinode maak voorsiening daarvoor dat die gevolmagtigde van die sinode (moderatuur en/of moderamen) die bindende besluite van die Sinode kan herroep, wysig of vervang. Die Moderatuur en/of Moderamen van Wes-Kaapland het dus wederegtelik gehandel om “Sinode” met “Algemene Sinode” te vervang in die Sinodebesluite; die Moderatuur en/of Moderamen van Wes-Kaapland het dus wederegtelik gehandel om in geheel die Sinodebesluite “tegnies”, “redaksioneel” én “inhoudelik” te wysig om nou as “beskrywingspunt” vir die Algemene Sinode, en nie meer as selfstandige besluit van die Sinode, te dien; die Moderatuur en/of Moderamen van WesKaapland het dus wederegtelik gehandel om ’n opdrag wat die Sinode aan sy eie Taakspan vir Leer- en Aktuele Sake verleen het, te herroep en dit nou ’n opdrag van die Algemene Sinode aan sy Taakspan te maak.

4.5.7.1.8.4 Daar is nog ’n laaste aspek wat met hierdie ongemagtigde en onregmatige optrede van die Moderatuur en Moderamen van Wes-Kaapland in direkte verband staan: besluite van die Sinode word van krag by die publikasie van die Handelinge van die Sinode, tensy die vergadering anders besluit. Ten tye van die buitengewone, elektroniese vergadering van die Moderamen was die besluite waarmee gehandel is, reeds van krag. Beskrywingspunte kan tot besluite lei wat eers van krag word as die beskrywingspunt goedkeur is. Die Moderamen het dus met die besluit om die besluite van die Sinode as “beskrywingspunt” na die Algemene Sinode te stuur, die besluite van die eie Sinode met ’n enkele JA-stem ontkragtig. Die Moderamen het as die handperd van die Moderatuur in enkele dae, en oor die uitgestrekte gebied van die hele Sinode, al die ligte, wat betref selfdegeslagverbintenisse afgeskakel en die risiko begin loop dat dit nie weer aangeskakel kan word nie. Sou die nuutste besluite van die Algemene Sinode om welke rede ook al nietig verklaar word, het die magtige Titanic met al haar personeel en passasiers saam daarmee ondergegaan, tensy die besluite van die Sinode steeds as regsgeldig en uitvoerbaar binne sinodale verband geag word en die hantering daarvan deur die Moderatuur en Moderamen deur die Sinode self as onregmatig en ongeldig verklaar word. Soos die Spreukedigter (10:13 en 26:3) dit stel: “Daar is wysheid in die woorde van een wat insig het; slae is vir dié wat nie hulle verstand gebruik nie … ’n Sweep vir ’n perd, ’n toom vir ’n donkie en ’n lat vir ’n dwaas.

4.5.7.1.9 In ’n e-pos wat op 14 Junie 2019 ter herinnering van die vergadering aan die lede van die Moderamen gestuur is, word die leuen herhaal dat die Sinode klaar die inhoud van die besluit goedgekeur het en dat die Moderamen dus nie daaroor besluit nie. Dit gaan slegs oor of die besluit as beskrywingspunt aan die Algemene Sinode gestuur word of nie. Dus het dit by hierdie vergadering nie daaroor gegaan of die Moderamen ’n eie beskrywingspunt ingevolge die Algemene Sinode se Reglement van Orde by die Kantoor van die Algemene Sinode indien nie. Dit het slegs daaroor gegaan of die besluite wat die Sinode reeds geneem het nou in redaksioneel en/of tegnies veranderde formaat as “beskrywingspunt” na die Algemene Sinode deurgestuur kan word. Die Moderamen kon egter nie so ’n besluit neem nie, bloot omrede die Sinode nóg by implikasie nóg pertinent só besluit het. Nóg die werklike oorsprong, nóg die korrekte inhoud, nóg die bedrieglike tegniese redigering, nóg die motivering kan, wat hierdie “beskrywingspunt” betref, by die Sinode óf die Moderamen gevind word. Inhoudelik was die besluite wat die Sinode geneem het, vir die Sinode self en vir die ander kerkvergaderinge en lidmate van die eie Sinode bedoel, met uitsondering van die “prosesbesluit” of “legitimasie-besluit” natuurlik. Wat hier gebeur het, was ernstige misleiding en opsetlike wanvoorstelling wat aan bedrog grens. Tog het die ATR is sy hantering van die “repliek” dit oorgesien en versuim om die nodige stappe te neem om die saak in die reine te bring. Die skurke in hierdie verhaal is duidelik die lede van die Moderatuur (“leierskap”) wat skotvry daarvan afgekom het, omdat nóg die “ongekontamineerde” lede van die Moderamen van Wes-Kaapland, nóg die onbevooroordeelde lede van die ATR, hulle statutêr-kerkordelike plig en hul Christelik-etiese verantwoordelikheid in hierdie opsig nagekom het.

4.5.7.2 Die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland vergader inderhaas en neem onder druk ’n ondeurdagte besluit:

4.5.7.2.1 Die Moderatuur het in sy aandrang dat die Moderamen spoedeisend vergader, net één ding in gedagte gehad: die reeds saamgestelde en herformuleerde “beskrywingspunt” moet betyds by die Kantoor van die Algemene Sinode uitkom. Omdat haastige hond sy mond verbrand, moet ’n mens versigtig wees om haastige besluite te maak. Haastige besluite laat jou in die warm water beland. Haastige besluite kan gevaarlik wees. En haastige besluite vertroebel verhoudings. ’n Mens moet altyd daarteen waak om een ding te doen en ‘n hele klomp ander ewe belangrike dinge in die proses na te laat.

4.5.7.2.2 Uit die “repliek” van die Skriba blyk dit dat “behoorlike kennisgewing” slegs gereduseer word tot bepaalde e-posse en SMS’e, die verlenging van die duur van die vergadering en die uitslag van die stemming. In geeneen van die stellings is die stemming bevraagteken nie, maar die Skriba wil skynbaar daarmee die ATR oortuig dat alles reg verloop het en/of dat die uitslag alles goed maak.

4.5.7.2.3 Enige vergadering wat sy sout werd is, sal baie versigtig wees om halsoorkop, d.w.s. sonder om behoorlik daaroor na te dink, te werk te gaan. Later kan besef word dat dit onbesonne was. Benewens die feit dat die besluit van die Moderamen om met ’n JA-stem die “beskrywingspunt” goed te keur, die besluite van die Sinode de facto tot niet gemaak het, en benewens die feit dat die besluit van die Moderamen tot gevolg gehad het dat die “beskrywingspunt” valslik as beskrywingspunt van die Sinode van Wes-Kaapland deur die Algemene Sinode ontvang en aangebied is, is ’n reeks ander onbesonne dade deur die Moderatuur en Moderamen van WesKaapland gepleeg wat nie onaangespreek gelaat kan word nie:

4.5.7.2.3.1 In die reg is dringendheid ’n gekompliseerde onderwerp, ’n kwessie van graad en hoogs kontekstueel. Wanneer dringendheid as regsoorsaak aangevoer word, moet daar bewys gelewer kan word dat die hoogste mate van goeie trou aan die dag gelê is en dat alle relevante en wesenlike feite geopenbaar is. Word die feite nie sodanig geopenbaar nie, hetsy opsetlik, mala fide of nalatig, en die besluit daardeur beïnvloed is, is die liggaam aan wie die besluit voorsien is, verplig om die besluit ter syde te stel op die basis van nie-openbaarmaking. Die vraag moet beantwoord word of die indiening van die “beskrywingspunt” dan so dringend was, gegewe die feit dat die ATR by die oorweging van die “beskrywingspunt”, en nadat beswaar daaroor gemaak is, regtens verplig was om die basis vir dringendheid te ondersoek en daaroor ’n bevinding te maak. Die volgende is deur die ATR in sy regsversuim oorgesien en dit het tot gevolg dat die onregmatige optrede van die Moderatuur en Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland deur die ATR gekondoneer is:

4.5.7.2.3.1.1 ’n Kwessie van dringendheid kan nie uitgemaak word as die Sinode, na twee jaar se besinning en optrede, self nie pertinent of by implikasie besluit het om sekere besluite as beskrywingspunt(e) aan die Algemene Sinode deur te stuur nie. Omrede die Sinode ingevolge die regsbevoegdheid aan hom deur die Reglement van Orde van die Algemene Sinode verleen, nie sy diskresie en reg in hierdie verband uitgeoefen het nie, kan geen ander instansie namens die Sinode hierdie reg opneem en uitoefen nie. Natuurlik sou die Moderamen, indien ’n ander dringende saak sou opduik vóór die eersvolgende Algemene Sinode en ná die eie Sinode dit kon doen, mits die Moderamen die volmag daartoe het, maar dan nie oor ’n saak waaroor die Sinode reeds self anders besluit het nie. Die kerklike bepalinge maak geensins ruimte daarvoor dat regsgeldige en bindende besluite van die sinode deur ’n moderamen gereviseer (hersien en gewysig) kan word en onder die naam van die sinode by die Algemene Sinode ingedien kan word nie.

4.5.7.2.3.1.2 Die Sinode van Wes-Kaapland het op 17 Mei 2019 die tersaaklike twee besluite geneem en die Notule van die betrokke sittingsdag is op 26 Mei 2019 deur die Moderatuur tydens die eerste vergadering na die sinodesitting goedgekeur. Tydens hierdie vergadering en onder die punt “induksie van die moderatuur” is die volgende genotuleer: “Die waardes van die moderatuur is eerlikheid, deursigtigheid, luisterend, waarheid en lojaal.” Daarna is onder “Sake vir die agenda” en voortspruitend uit die Algemene Sinode die volgende genotuleer:

Die Algemene Sinode het reeds in 2018 ’n skrywe aan die streeksinodes gestuur waar insette en sake gevra is vir die Algemene Sinode se sitting in Oktober. As gevolg van die hofuitspraak wat die Algemene Sinode se vergadering van 2016 nietig verklaar het, is daar verskeie beswaarskrifte en gravamen (seker: gravamina) wat tydens die sinodesitting hanteer moet word. Die moderatuur (seker: vorige moderatuur) het die volgende sake reeds aan die Algemene Bestuurder van die Algemene Sinode gestuur: 1) Teologie van diversiteit wat insluit selfdegeslagverhoudings, 2) multikulturaliteit wat insluit gender, transformasie en veeltaligheid, 3) evangelisasie, 4) hoër onderwys, 5) ekonomie en geregtigheid, kerk en armoede wat insluit vroeë-kind ontwikkeling (VKO), en 7) kerk se versoeningswerk wat insluit die kerk as brug bouer in Suid-Afrika. Die aanbeveling wat tydens die sinodesitting goedgekeur is tesame met die prosesvoorstel word ook nou aan die Algemene Sinode gestuur word … Die Moderatuur besluit om die drie prioriteite (VKO, Ekologie en Ekonomie) wat tydens die sinodesitting geïdentifiseer is, as prioriteite aan die Algemene Sinode deur te gee. Die skriba sal ’n skrywe aan die Algemene Bestuurder hieroor rig.

Kontekstueel, wat die kwessie van dringendheid betref, kan dus gesê word: (i) Die Moderatuur tree eerlik, deursigtig en nie in stryd met die waarheid op nie; (ii) Na die hofsaak dien verskeie beswaarskrifte en gravamina voor die Algemene Sinode; (iii) Die vorige moderatuur het reeds die saak van ’n teologie van diversiteit, wat insluit selfdegeslagverbintenisse, as inset met die oog op die Algemene Sinode se sitting in Oktober 2019 gestuur; (iv) Die aanbeveling wat tydens die sinodesitting goedgekeur is, tesame met die prosesvoorstel word ook nou aan die Algemene Sinode gestuur. Die aanbeveling waarna hier in die enkelvoud verwys word, is waarskynlik die voorstel van Monty Sahd, gesekondeer deur Louis Jonker, wat die Sinode afsonderlik goedgekeur het. Die Skriba wat hier genotuleer het, het op 10 Junie 2019 in sy skrywe aan die Saakgelastigde nog duidelik verstaan dat dit nie hier handel oor die ander besluite van die Sinode oor selfdegeslagverbintenisse wat sáám met die prosesvoorstel geneem is nie, en sy latere navraag gerig aan die Algemene Sekretaris oor die hantering van die Sahd-voorstel bevestig dat dit hier om twee afsonderlike sake, reeds geoormerk vir aandag van die Algemene Sinode, gaan; (v) Selfdegeslagverhoudings tel nie onder die drie prioriteite wat nou aan die Algemene Sinode deurgegee moet word nie.

4.5.7.2.3.1.3 Op 10 Junie 2019, naamlik 3 weke en drie dae nadat die Sinode sy besluite oor selfdegeslagverbintenisse geneem het, skryf die Skriba aan die Saakgelastigde:

Bossie, ek hoop jy kan my dalk help.

Ek moet die besluit van die sinode oor selfdegeslagverhoudings aan die Algemene Sinode stuur. Ek wil net seker maak dat die dokument wat ek saamgestel het wel die regte inhoud het.

Ek heg vir jou aan.

Groete

By die e-pos word ’n dokument aangeheg gemerk as “Prosesvoorstel” en by die oopmaak van hierdie dokument staan bo-aan geskryf:

Die sinode besluit

1. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente se:

1.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,

1.2 toegang tot die sakramente,

1.3 integriteit van verhoudings, en

1.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem word, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.

Daarna verskyn as “Motivering” die volledige verslag van die uittredende Moderamen aan die Sinode van Mei 2019 met daaronder slegs Besluit 25 soos deur die Sinode goedgekeur en waarbinne die “prosesvoorstel” vervat is. Opvallend word Besluit 41, waarin al die besluite wat vir aandag en uitvoering binne die Sinode van Wes-Kaapland bedoel was, nie bygevoeg nie, waarmee sekerlik te kenne gegee word dat dit nie vir aandag van die Algemene Sinode bedoel is nie.

4.5.7.2.3.1.4 Op 12 Junie 2019, dus presies 26 dae nadat die Sinode sy besluite oor selfdegeslagverbintenisse geneem het, besluit die Moderatuur op kort kennisgewing tydens ’n telefoniese vergadering (indien dit wel ’n amptelike en wettige vergadering was) dat die twee besluite van die Sinode saam gevoeg word, redaksioneel en/of tegnies verander word en met die dringende goedkeuring van die Moderamen as “beskrywingspunt” aan die Algemene Sinode deurgestuur word. Die redes wat daarvoor gegee word is uiteenlopend, weersprekend en vals. Die Saakgelastigde sê die prosesvoorstel (“legitimasie-besluit”) maak op sy eie nie sin nie. Die Moderatuur sê vir die Moderamen dit was die bedoeling van die Sinode dat die twee besluite as beskrywingspunt aan die Algemene Sinode gestuur word. Die Moderamen verneem dat die besluite slegs tegnies verander is en nie inhoudelik nie. Maar sedertdien swyg die Moderatuurslede, wat die waardes van eerlikheid, deursigtigheid en die waarheid aanhang, soos die graf oor die eintlike rede(s).

4.5.7.2.3.1.5 Op 14 Junie 2019, dus presies 4 weke na die sinodesitting, begin die lede van die Moderamen stem vir die indiening van ’n “beskrywingspunt” met inhoud wat nie vir die Algemene Sinode bestem is nie, maar “tegnies” verander is om korrek (maar eintlik verkeerdelik) en betyds (maar eintlik ontydig) op die tafel van die Algemene Sinode te kom.

4.5.7.2.3.1.6 Die dringendheidskwessie moet verder opgeweeg word teen die ander remedies wat vir die Moderamen van Wes-Kaapland beskikbaar was ten tye van die neem van die besluit. Benewens die remedies van appèl en revisie waarna reeds hierbo verwys is, was die moontlikheid steeds daar dat ’n beskrywingspunt van die Moderamen oor die tersaaklike aangeleentheid as ’n laatstuk aan die Algemene Sinode deurgestuur kan word. Naas Bepaling 6.3 van die Reglement van Orde wat reël dat beskrywingspunte minstens drie maande voor die vergadering deur die algemene sekretaris ontvang moet word, is daar ook Bepaling 6.4 wat lees: “Beskrywingspunte van spoedeisende aard mag deur die vergadering in behandeling geneem word, indien die vergadering, na raadpleging en aanbeveling van die Tydelike Taakspan Regte, daartoe besluit.” Die dringendheid van hierdie saak is nie deur die dringendheid van die saak self bepaal nie, maar deur die dringendheid van die keerdatum vir die indiening daarvan. Dit Moderamen kon steeds vir sy gewone vergadering soos geskeduleer vir Augustus 2019 byeengekom het, die Moderatuur se voorstel(le) vir die indien van ’n beskrywingspunt by die Algemene Sinode oorweeg het, die advies van die Sinode se Taakspan Regte daaroor verkry het, en ’n ingeligte en inhoudelik-korrekte besluit daaroor geneem het. Sodoende sou niemand by die aanbreek van die Skoolvakansie op 14 Junie 2019 in ’n blik gedruk gewees het om met slegs ’n JA of NEE só ’n aanvegbare en gedwonge besluit geneem het nie.

4.5.7.2.3.1.7 Daar is genoegsame en voldoende bewyse dat die Moderatuur van Wes-Kaapland nie in goeie trou gehandel het nie en dat alle relevante en wesenlike feite nie aan die Moderamen en die ATR geopenbaar is nie. Die Moderamen was nie eerlik, deursigtig en waarheidsgetrou in die aangeleentheid nie. Die ATR moes, nadat die nodige ondersoekwerk gedoen is, bevind het dat die ware feite opsetlik, mala fide en/of nalatig deur die Moderatuur aan die Moderamen én ATR verswyg is en dat die besluit om ’n “beskrywingspunt” by die Algemene Sinode in te dien, daardeur wesenlik beïnvloed en tot niet gemaak is. Die ATR moes by die Algemene Sinode aanbeveel het dat die beskrywingspunt, onder meer op die basis van nie-openbaarmaking en misleiding, onontvanklik is en dus ter syde gestel word. ’n Vergadering kan nie belieg en bedrieg word en dan besluite neem waardeur hierdie leuens en bedrog tot waarheid gemaak en gekondoneer word nie.

4.5.7.3 Die Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland hou ’n buitengewone elektroniese vergadering oor ’n uiters kontroversiële saak, terwyl die eie Reglement dit uitdruklik verbied:

4.5.7.3.1 Die Moderamen van Wes-Kaapland het nie net onder aanvoering van die Moderatuur Bepaling 2.5.1.1 van sy eie Reglement oor die hou van elektronies vergadering oortree deur ’n saak sonder die nodige dringendheid in behandeling te neem nie, maar ook deur ’n kontroversiële saak ter tafel te neem, terwyl die Reglement dit uitdruklik verbied het.

4.5.7.3.2 Die antwoord wat die Skriba in sy “repliek” aan die ATR daaroor voorsien het, bevestig net dat die Moderatuur en Moderamen van Wes-Kaapland nie hulle eie Reglement verstaan en korrek interpreteer nie. Om te bepaal of ’n saak kontroversieel is, kan daar nie ’n subjektiewe toets aangelê word, soos die Skriba dit doen nie. Volgens die Skriba kan enige oortreding van enige regsreël plaasvind, solank almal daarby betrokke net daaroor saamstem. Skynbaar weet die Skriba ook nie wat “kontroversieel” beteken nie en word “kontroversieel” en “kontensieus” deur hom as wisselterme gebruik. Die twee woorde verskil tog effens van mekaar. Kontensieuse sake is voorstelle, bewerings en/of geskrifte wat twis veroorsaak, teëspraak uitlok en tot geskille aanleiding gee. Presies dit wat die geval was met die besluite van 2015 én 2016 se Algemene Sinodes en weer die geval sou wees by 2019 se Algemene Sinode met al die beswaarskrifte en gravamina wat tydens die sinodesitting, aldus die Moderatuur se eie Notule van 26 Mei 2019, hanteer moet word. Kontroversieel het meer die betekenis van omstrede, of soos dit in Engels gestel word: “giving rise or likely to give rise to controversy or public disagreement, causing or likely to cause disagreement, because many people have strong opinions about the subject being discussed.

4.5.7.3.3 Ter bevestiging dat die hele aangeleentheid van selfdegeslagverbintenisse inderdaad ’n kontroversiële aangeleentheid is, word die volgende vermeld:

4.5.7.3.3.1 Dit het in die pers tot uitdrukking gekom: Op 1 Desember 2016 verskyn daar na afloop van die Buitengewone Sinodesitting van 2016 ’n berig op news24 onder die opskrif Gaan die NG Kerk skeur oor Gay verhoudings? In die berig word gesê:

Hierdie kontroversiële saak het groot verdeeldheid veroorsaak. Enersyds binne die kerk self, en andersyds binne gemeentes. Dominees met wie die uwe gepraat het, wou niks op die rekord sê nie, maar dis duidelik dat daar sterk menings aan albei kante is.

4.5.7.3.3.2 Dit het by die Sinode van Wes-Kaapland tot uitdrukking gekom:

4.5.7.3.3.2.1 Tydens die debat oor selfdegeslagverbintenisse het die ondervoorsitter van die uittredende Moderamen ter inleiding by die behandeling van die Moderamen se Verslag oor Selfdegeslagverbintenisse aan die vergadering gesê:

U het reeds gehoor dat ons na die breë konsultasie duidelik weet dat gemeentes van ons streek oor hierdie saak verskil … Ek gaan ’n persoonlike opmerking hieroor maak: Van my naaste vriende en langste kollegas met wie ek persoonlik ’n baie nou verhouding gehad het en baie saam mee gewerk het, verskil so diep van my oor hierdie saak dat die vriendskap moeilik gedra word. Ek het ’n idee baie van u sal met my kan saamvoel op hierdie punt. En as dit nie is vir ons respek vir die tradisie waarin ons is … was die vriendskap waarskynlik reeds tot niet. Ek dink u moet die voorstelle wat ons maak in hierdie lig sien.

Duideliker kan dit nie gestel word dat die voorstelle van die Moderamen, en gevolglik die besluite van die Sinode van Wes-Kaapland, ’n kontroversiële saak is nie – woorde uit die perd se bek!

4.5.7.3.3.2.2 Die besluite wat geneem is, is sprekend van die ernstige verskille wat oor die saak binne die eie sinodale gebied bestaan en nou tot ’n vasgelopenheid daaroor gelei het. Die besluite opsigself bevestig dat die saak kontroversieel is, naamlik dat dit ernstige verskil in mening tot gevolg het en dat mense wedersyds sterk menings oor ’n saak het.

4.5.7.3.3.2.3 Een van die lede van die vergadering en ook uittredende lid van die Moderamen wie se saak dit was, het na die Algemene Sinode geappelleer oor die besluite. Dit dui onteenseglik en genoegsaam op ernstige verskil van mening binne die Sinode en bevestig onomwonde dat die saak kontroversieel van aard is.

4.5.7.3.3.3 Dit het by die Algemene Sinode 2019 tot uitdrukking gekom: Tydens Algemene Sinode 2019 is debat gevoer oor die beswaarskrifte/gravamina ingedien teen die 2015-besluite oor selfdegeslagverbintenisse. Hierdie debat is opgevolg met die debat oor die “beskrywingspunt van die Sinode van Wes-Kaapland”. Tydens eersgenoemde debat het prof Louis Jonker die versekering gevra dat, sou die 2015-besluite deur die Algemene Sinode op prosedure gronde en in die lig van die Hofuitspraak nietig verklaar word, die vergadering wel ander voorstelle in die Agenda in behandeling sal neem. Omdat die teologiese aspekte soos vervat in die beswaarskrifte/gravamina nog nooit aan die orde gekom het nie en totaal verval het, wat opsigself verkeerd was, was daar net die “beskrywingspunt van die Sinode van Wes-Kaapland” soos in die Agenda ingebind, wat ter tafel sou kom. Prof Jonker het hiermee die aan-die-orde-stel van die “beskrywingspunt” geantisipeer en reeds vooruitgeloop, maar daarmee weggegee waarom die “beskrywingspunt” in die eerste instansie na die Algemene Sinode gestuur is, naamlik dat die drywers en ondersteuners van die 2015-besluite daarmee vir hulle die agterdeur wou oophou indien die 2015-besluite, by handhawing van die besware daarteen, verval. Prof Jonker het ook spesifiek daarna verwys dat die 2007-besluite dan geldig sal wees en hy (en sekerlik ook ander) wou vooraf die sekerheid hê dat die 2007- en 2013besluite dan tog tydens hierdie sitting gewysig kon word. Dit was natuurlik buite orde, omrede (i) daar nie kennis gegee kan word van revisie van die 2007- en 2013-besluite alvorens die 2015-besluite verval het nie, en (ii) twee afsonderlike sake nie gelyktydig of saamlopend aan die orde gestel kan word nie. Maar wat 2019 se Algemene Sinode betref, het dit gebeur en die oudio-visuele rekords van die debatte is beskikbaar. Voordat daar nog gestem is oor die nietigverklaring van die 2015-besluite, het prof Nelis Niemandt, wat voorheen moderator van die Algemene Sinode was, oor die saak van selfgeslagverbintenisse en die besluite daaroor gesê: “In die lig van die kontroversie van die saak …” Toe die vergadering tot stemming gebring is oor die nietigverklaring van die 2015-besluite, het die Aktuarius, wat ook voorsitter van die ATR was wat oor die beweerde ongerymdhede rakende en die gevolglike ontvanklikheid van die “beskrywingspunt” van Wes-Kaapland moes besluit, aan die vergadering van die Algemene Sinode gesê: “Ek oordeel dat hierdie ’n kontensieuse saak is; dat ons met geslote stembriefies sal stem; dat ons doodseker sal maak ook oor die stemtelling.

4.5.7.3.3.4 Dit het by die Algemene Sinodale Moderamen vóór Algemene Sinode 2019 tot uitdrukking gekom:

By die ASM-vergadering van September 2016 is die volgende onder meer in ’n aanbeveling voor die vergadering gesê:

Die besluit van die A[lgemene] S[inode] 2015 rondom selfdegeslagverhoudings word deur talle in die kerk as ’n kontroversiële besluit beleef wat die potensiaal het om nie net die kerk se voortbestaan in sy huidige formaat wesenlik te bedreig nie, maar wat uiteindelik mag lei tot kerkskeuring.

4.5.7.3.3.5 Dit het by die Algemene Sinodale Moderamen ná Algemene Sinode 2019 tot uitdrukking gekom:

Nadat die Algemene Sekretaris ’n aantal briewe ontvang het van gemeentes wat aandui dat hulle doleer as gevolg van die 2019-besluite insake selfdegeslagverbintenisse en ook ’n aantal leergeskille ontvang het, het die ASM-Dagbestuur die volgende by die ASM aanbeveel:

Besluit: Die ASM

    1. neem kennis van die gemeentes waar daar besware is teen die Algemene Sinode se besluite oor selfdegeslag verhoudinge;
    2. moedig gemeentes wat beswaard is aan om van kerkregtelike weë gebruik te maak wanneer beswaar aangeteken word;
    3. moedig almal aan om steeds met deernis en liefde mekaar te omarm en na mekaar te luister wanneer daar verskil word oor kontensieuse kwessies.
    4. nooi sinodes uit om gebruik te maak van die Ad hoc Taakspan wat aangewys is om te help met die gesprek oor selfdegeslag verbintenisse onder leiding van ds Heerden van Niekerk

4.5.7.3.3.6 Bogenoemde is meer as genoegsaam om op objektiewe wyse bewys te lewer dat die Moderamen van Wes-Kaapland inderdaad Bepaling 2.5.1.1 van sy eie Reglement oor die hou van elektronies vergaderings oortree het en dat die buitengewone elektroniese Moderatuursvergadering gevolglik onwettig plaasgevind het. Soos daar in die hof gesê word: “I rest my case!” “‘I rest my case’ means therefore that, as far as you are concerned, you’ve done more than enough to prove your point, and need say no more.” Die besluit om die betrokke “beskrywingspunt” na die Algemene Sinode te stuur, is alleen op grond daarvan nietig en ’n nuliteit. Gevolglik is die besluite van die Algemene Sinode op grond daarvan geneem ook ongeldig en nietig. Die feit dat die Aktuarius van die Algemene Sinode, wat ook as voorsitter van die ATR voor die sinodesitting opgetree het, dit self as sodanig gestel het tydens die vergadering van Algemene Sinode 2019, bevestig net verder dat die besluit van die ATR om by die Algemene Sinode aan te beveel dat die “beskrywingspunt” ontvanklik is, nie die toets van die kerkreg kan slaag nie. Toe daar aan die einde van die tweede debat oor die “beskrywingspunt” soos geamendeer gestem moes word, is ook hierdie stemming weens die kontroversiële aard van die saak in die geheim gehou.

4.5.8 Daar moet ten slotte op twee ander opmerkings in die Skriba se “repliek” gewys word.

4.5.8.1 Die opmerking dat die tekort aan bewyse van die aanbringer van die ongerymdhede nie voor die deur van die Sinode van Wes-Kaapland gelê kan word nie, is vals, misplaas en ’n ontkenning van eie aanspreeklikheid. In die skrywe waarmee die beweerde kerkregtelike ongerymdhede onder aandag van die ATR gebring is, is duidelik aangetoon hoe daar tevergeefs gepoog is om bepaalde inligting van die Skriba van Wes-Kaapland, dieselfde persoon wat die opmerking maak, te bekom. Die Skriba het geweier om enige inligting te voorsien en geeneen van die verlangde dokumente op skriftelike versoek gelewer nie. Hierdie weiering het direk aanleiding gegee tot die PAIA Vorm C-versoek en na meer as 3 maande en na nie minder nie as 10 skrywes is bepaalde inligting steeds wederegtelik weerhou. Uiteindelik moes daar of Hof toe gegaan word om die ontbrekende inligting te bekom, of moes daar berus word by dit wat wel gelewer is. Die feit dat daar steeds beskikbare dokumentasie weerhou is, veral betreffende die gebeure voor die Moderatuursvergadering van 12 Junie 2019, kan allermins voor die deur van die Versoeker geplaas word, maar volledig voor die Skriba en die ander lede van die Moderatuur, wat steeds geweier of versuim het om die aangevraagde dokumentasie te voorsien en die waarheid te vertel oor wat eintlik aanleiding tot die opstel van die “beskrywingspunt” gegee het. Hierdie waarheid het, wat die bewys betref, vir meer as 3 (drie) jaar verswyg gebly, totdat dit per abuis op ’n heel ander forum aan die lig gekom het (sien 7.1 hieronder). Die waarheid is dat die voorsitter van die Moderatuur van Wes-Kaapland met die hulp en steun van ander, dit gedoen het om ’n agterdeur by die Algemene Sinode oop te hou om hulle eie agenda te bevorder, maar weens die kontensieuse aard daarvan nie kon waag om dit buite eie kring te openbaar nie. Hulle het verkies om liewer die leuen van hulle selfgerigte liefde te leef, as om in die liefde by die waarheid van die Woord, die Belydenis en die Kerkorde te bly.

4.5.8.2 Die Notule van die Moderamenvergadering is wel by die Moderatuursvergadering van 24 Julie 2019 goedgekeur. Maar wat met die PAIA Vorm C-versoek aan die lig gekom het, is dat die Notule van die Moderatuursvergadering van 12 Junie 2019 nêrens goedgekeur is nie. Die Voorsitter het dit onderteken as sou dit voor die vergadering van 24 Julie 2019 gedien het en toe goedgekeur is. Maar daar is geen verwysing na hierdie Notule in die Agenda én Notule van die Moderatuursvergadering van 24 Julie 2019 nie. Toe dit per skrywe onder die Inligtingsbeampte se aandag gebring is, het hy bloot geantwoord dat die Moderatuur daarvan kennis geneem het. Die moontlikheid bestaan dus dat nie net die Agenda nie, maar ook die Notule van die Moderatuursvergadering van 12 Junie 2019 eers later, en waarskynlik na 24 Julie 2019 tot stand gekom het. Dit kan dus ’n latere fabrisering of selfs ’n vervalsing wees. Die vraag bestaan of dit eers gedoen is toe daar navraag daaroor gedoen is en later wetlik daarvoor gevra is. Die waarheid kan net bepaal word as die oorspronklike elektroniese kopieë daarvan gelewer word, wat strydig met die Wet weerhou is. Waarom? Omdat die waarheid daarmee aan die lig sal kom. Só het die prentjie net al hoe duideliker begin word dat daar waarskynlik ernstige misdrywe agter die skerms plaasgevind het (soos dieselfde rolspelers by Algemene Sinode 2015 saamgesweer en planne beraam het). Die geleerde professor in kommunikasiekunde het nie verniet aan sy studente gesê: “Leer om te luister vir dit wat ongesê bly.” Die waarheid sal moet uit, anders gaan die leuens in die Kerk bly voortleef en nog kleintjies kry. Geen kerk sal bly staan wat deur leuens aanmekaar gehou word nie. Dalk sal iemand se gewete hom of haar begin pla en sal die waarheid tog aan die lig gebring word. Of anders moet dit by wyse van ’n kerklike tugondersoek na die oppervlakte gebring word. Maar tans is dit nog diep onder die kombers en in die heel donkerste hoekie versteek. Die uitdrukking sê nie verniet: Al loop die leuen nog so snel, die waarheid agterhaal hom wel!

5. DIE ATR/TTR SE HANTERING VAN DIE BEWEERDE KERKREGTELIKE ONGERYMDHEDE

5.1 Daar is reeds gewys op die Aktuarius se hantering van die skrywe waarmee die beweerde kerkregtelike ongerymdhede aangebring is en die Skriba van Wes-Kaapland se “repliek” daarop. Hier word slegs stilgestaan by wat tydens die ATR-vergadering, wat van 4 tot 5 Oktober 2019 kort voor die Algemene Sinode gehou is, gebeur het. Slegs die Notule van hierdie vergadering is ingevolge die PAIA Vorm C-versoek beskikbaar gestel, terwyl die Agenda vir die vergadering asook enige korrespondensie tussen die Aktuarius en die lede van die ATR, asook korrespondensie tussen die lede onderling (sou daar enige wees) nie geopenbaar is nie. Indien daar wel in die Agenda na die aangeleentheid verwys is, en indien daar enige ander korrespondensie, wat redelik vermoed word, bestaan, sal dit ’n strafregtelike oortreding wees dat dit nie geopenbaar is nie. Daar moet immers ’n Agenda vir die vergadering opgestel wees en daar moet immers ’n begeleidende e-pos of brief wees waarmee die skrywe betreffende die kerkregtelike ongerymdhede aan die ATR-lede deurgestuur is, en daarna die “repliek” daarop. Kan dit wees dat dit ook weerhou is omrede daar iets nadelig in hierdie dokumente staan? Die reg is daarom voorbehou om later op enige ander dokumente wat moontlik nie voorsien is nie, te reageer.

5.2 Die notulering van die hantering van die skrywe rakende die beweerde kerkregtelike ongerymdhede, die Skriba se “repliek” daarop en die “beskrywingspunt” is kursories en daar word aanvaar dat heelwat meer oor die saak gesê is. Die volgende verskyn in die Notule:

5.4 Navraag JH Ernst– ontvanklikheid van Beskrywingspunt 12 van Wes-Kaap (Bylaag 2)

Ds C Stander van die Wes-Kaap verlaat die vergadering.

Die ATR bespreek die stukke van Dr Ernst en die repliek van die Wes-Kaap. Dr JH Ernst maak onder andere beswaar oor die beskrywingspunt wat ingebind is in die Agenda van die AS. Hy verwys na ʼn kerkregtelike ongerymdheid.

Die aktuarius van die AS het navraag gedoen by Wes-Kaap. Dit blyk uit die skriftelike antwoord van Wes-Kaap dat daar geen ongerymdheid plaasgevind het nie.

5.4.1 Die ATR besluit dat die beskrywingspunt van Wes-Kaap ontvanklik is by die AS.

5.5 Ontvanklikheid van beskrywingspunte

Die ATR bespreek die beskrywingspunte wat ingebind is in die agenda. Reglement 3 se voorskrifte word as kriteria gebruik.

5.5.1 Die ATR oordeel dat beskrywingspunte wat ingebind is in die agenda, ontvanklik is.

Oor wat hier staan, kan baie gesê word. Tog word daar gepoog om dit so kort en saaklik moontlik te doen. Bewus daarvan dat belangrike inligtings steeds ontbreek en selfs nog meer aan die lig kan bring, word vir eers met die volgende volstaan:

5.2.1 As daar een ding in die reg is, en daarom ook die kerkreg is, wat onverskoonbaar is, is dit onnoukeurigheid en slordigheid as dit by regsake kom. Die NG Kerk in algemene sinodale verband kom pas uit ’n hofsaak waarin die Kerk ’n drag slae gekry het. Dit het veral daaroor gegaan dat die Kerk daarvan aangekla is dat sy nie haar eie voorskrifte nagekom en haarself behoorlik in die hof verdedig het nie. Die volgende onjuisthede verskyn in die Notule van die ATR:

5.2.1.1 Daar is nie by die ATR navraag gedoen oor die ontvanklikheid van die Beskrywingspunt B12 van Wes-Kaap nie. In die betrokke skrywe word die woord “navraag” net een keer gebruik en wel in verband met die talle vooraf versoeke om inligting te voorsien oor die “beskrywingspunt” en spesifiek toe die Algemene Sekretaris besluit het om die saak na die Aktuarius te verwys “met die versoek dat hy amptelik aan Wes-Kaap kommunikeer dat daar ’n navraag is oor die wettigheid van die beskrywingspunt”, en dat Wes-Kaap versoek word “om bewys te lewer dat hulle dit wettig ingestuur het.” Onnodig om te sê dat die Aktuarius dit toe nie amptelik gedoen het nie en dat die gemagtigde verteenwoordigers van die Sinode van Wes-Kaapland gevolglik ook nie die bewyse gelewer het nie. Hierdie versuim en gebrek aan bewyslewering het, nadat die bewyse ook nie direk vanaf die WesKaap bekom kon word nie, direk aanleiding gegee tot die skrywe ingevolge 3.1.5 van die Reglement vir die Algemene Taakspan Regte en behels ’n totaal ander aksie. “Navraag” beteken om inligting aan te vra. Daarteenoor is ’n aantal kerkregtelike ongerymdhede onder aandag van die ATR gebring ingevolge 3.1.4 van die Reglement vir die Taakspan Regte. Die Reglement skryf voor hoe dit hanteer moet word. Die opskrif is dus vals en ’n verdraaiing van die waarheid. ’n Donker dag het vir die Kerk aangebreek as diegene wat as regters aangestel is, hulle opdrag nie uitvoer nie en selfs in die mees basiese dinge nie meer by die waarheid hou nie.

5.2.1.2 Toe die Aktuarius van Wes-Kaapland versoek is om die vergadering te verlaat, het net die voorsitter en 6 stemhebbende lede oorgebly. Sommige van hulle was uitgesproke ondersteuners van die 2015-besluite en sou ook moontlik wou toesien dat daar nie weer na die 2007- en 2013besluite teruggekeer word nie. Die voorsitter en ondervoorsitter het ook namens die ATR in die Ad Hoc-Taakspan vir Beswaarskrifte gedien en het teen hierdie tyd waarskynlik geweet dat die 2015besluite nie staande sou bly nie. Dit is nie uitgesluit dat lede van die ATR direk of indirek betrokke was by die Kaapse strategie om met die “beskrywingspunt van Wes-Kaap” ’n plaasvervanger vir die 2015-besluite te kry nie. Daar is tekens wat daarop dui en daar kan onder eed daarop geantwoord word. Die Aktuarius self was teen dié tyd waarskynlik reeds gekompromitteer, omdat die voorsitter van die Moderatuur van Wes-Kaapland én ook voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen hom reeds in Mei 2019 by die saak betrek het en hom beïnvloed het (sien 7.1 hieronder). Dit kan dus bevraagteken word of die oorblywende lede onbevange oor die saak sou kon oordeel. In elk geval is dit te betwyfel of die Aktuarius die lede van die ATR volledig ingelig het oor die aanloop tot en die vooraf verloop van die saak. Die toets sou wees of die ATR-lede ook in Bylaag 2 voorsien is van die Aktuarius se e-pos waarmee die “repliek” aangevra is en wat weergee wat die inhoud van die gesprek(ke) tussen die Aktuarius van die Algemene Sinode en die die Aktuarius van Wes-Kaapland vooraf was. Dit was nie die geval nie.

5.2.1.3 Die woorde “repliek van Wes-Kaap” is eweneens misleidend, omrede nóg die Moderamen nóg die Moderatuur amptelik op die beweerde kerkregtelike ongerymdhede gereageer het. Die saak het selfs ’n absurde afmeting aangeneem toe daar in ’n latere moderatuursverslag aan die Moderamen ontken is dat daar enigsins repliek gelewer is. Die wyse waarop daar gepoog is om dit reg te stel, is iets om oor te glimlag. Maar hierop hoef nie nou ingegaan te word nie, tensy iemand meer daaroor wil weet. Die punt is dat die “repliek” deur die Skriba op sig-waarde in sy persoonlike hoedanigheid gelewer is, maar dat iemand hom moontlik dalk daarmee gehelp het. Dit is egter nie deur ’n vergadering goedgekeur en aangestuur nie. Die “repliek” bevat talle onjuisthede en valshede en daarmee is reeds hierbo gehandel. Dit wil voorkom of die ATR-lede nie die mees basiese gedoen het om die oorsprong, egtheid en inhoud van die “repliek” te kontroleer, alvorens enige bevinding op grond daarvan gemaak is nie. Daarby het die ATR die opsie gehad om die indiener van die kerkregtelike ongerymdhede se reaksie op die “repliek” te vra of om hom toe te laat om die opsteller(s) van die “repliek” te kruisondervra. Maar dit was duidelik nie die erns van die ATR om die saak behoorlik te ondersoek en tot ’n grondige bevinding te kom nie. Die “beskrywingspunt” moes ten alle koste voor die vergadering van die Algemene Sinode dien, en die ATR moes, al was dit op ’n slinkse wyse, daarvoor sorg.

5.2.1.4 Die Aktuarius se woord het die deurslag in die aangeleentheid gegee, want daar is genotuleer: “Die aktuarius van die AS het navraag gedoen by Wes-Kaap. Dit blyk uit die skriftelike antwoord van WesKaap dat daar geen ongerymdheid plaasgevind het nie.” Dat hier rugspraak tussen die twee aktuarii (en moontlik ook ander rolspelers) plaasgevind het, staan nou swart op wit. Wat egter nog meer is, is dat die Aktuarius hiermee in amptelike hoedanigheid aanspreeklik gehou moet word vir die onregmatige beïnvloeding en gevolglike wanfunksionering van die ATR, die gebrekkige aandagbesteding aan die saak, die onwaarhede wat die vergadering van die Algemene Sinode ingedra is en die kondonering van al “Wes-Kaap” (individue en vergaderings) se wanoptredes. Daarby het die ATR sy kerkordelike plig versuim deur die Algemene Sinode van onbehoorlike, gebrekkige en verkeerde advies te voorsien. Die toets is hier of dit wat die Hof gesê het oor behoorlike kennis van revisie ingevolge die kerklike bepalinge nagekom is. Die “beskrywingspunt” is so aangebied (as kennis van revisie op die 2007- en 2013 besluite, terwyl daar nog net kennis van revisie van die 2015-besluite gegee kon word) en verstommend genoeg het die ATR later lustig saamgespeel toe die gravamina en die “beskrywingspunt” saam op die tafel beland het en verslag, spreekbeurte en voorstelle toegelaat is strydig met 4.2 van die Reglement van Orde. Dat die ATR deel gehad het aan die vermenging van die twee sake, op sleeptou geneem is deur die “Wes-Kaap” en gevolglik aktief deelgeneem het aan die agteraf plan, blyk uit die volgende in ’n Verslag van die TTR aan die Sinode (my kursivering):

Die TTR oordeel dat indien die vergadering die gravamina handhaaf en oordeel dat daar wel growwe en nalatige proseduriële foute gemaak is met die neem van die 2015 besluit, dit die volgende kerkordelike implikasies het:

– Die 2015 besluit ter syde gestel word

– Die besluite van 2007 en 2013 soos in die Kerkordeboek opgeneem is, dan die geldende besluite is

Die vergadering besluit of hierdie besluite so gehandhaaf kan word en of die vergadering nuwe of ander besluite oor die saak wil neem

Indien die vergadering nie die 2015 besluit op grond proseduriële foute ter syde stel nie, is die implikasie dat:

– Die gravamina wat beswaar maak teen die leerstellige hanteer word

Die vergadering besluit of hierdie besluite so gehandhaaf kan word en of die vergadering nuwe of ander besluite oor die saak wil neem

1.4 AANBEVELING:

Die TTR beveel aan:

1.4.1 Die vergadering oordeel dat die gravamina ontvanklik is

1.4.2 Die vergadering staan die versoek tot revisie toe

1.4.3 Die vergadering oorweeg die gravamina wat ontvang is na aanleiding van die verslag van die Ad Hoc Taakspan Gravamina

1.4.4 Beoordeel die gravamina wat beweer dat daar proseduriële foute gemaak is tydens die neem van die 2015 besluit, aan die hand van Reglement 3 wat die orde van vergaderings bepaal soos uiteengesit in die verslag Bylaag A op p 11-27

1.4.5 Die vergadering neem ook tydens die bespreking die tersaaklike voorstelle, amendemente en beskrywingspunte in behandeling

1.4.6 Die vergadering besluit of om die vorige besluite te handhaaf, of om dit te wysig, of dit ter syde te stel of om nuwe besluite te neem

Waarmee die ATR die vergadering op die verkeerde weg gestuur het, was om aan te beveel dat die “vergadering ook tydens die bespreking die tersaaklike voorstelle, amendemente en beskrywingspunte in behandeling [neem]”. Opsigself klink dit in orde, maar die probleem is dat dit slegs kon gebeur indien daar vooraf kennis van revisie van die 2007- en 2013-besluite gegee is. Daar bestaan géén rekord van sodanige kennisgewing nie. Die nietigverklaring van die 2015-besluite was iets heel anders as die revisie van ’n bestaande besluit was by wyse van kennisgewing via ’n verslag van ’n taakspan van die Algemene Sinode óf by wyse van ’n beskrywingspunt van ’n mindere vergadering gewysig kan word. In die 2007-besluite word uitdruklik gesê dat dit ná deeglike studie geneem is, en in die 2013 word uitdruklik vermeld dat ’n besluit eers na verdere studie geneem kan word. Laasgenoemde opdrag tot verdere studie is nie by wyse van revisie gestaak nie, maar bloot nie nagekom nie. Dit is verder ingevolge die Reglement van Orde só dat twee sake nie gelyktydig tydens ’n vergadering aan die orde kan kom nie. Vir die gravamina is ’n afsonderlike ad hoc-taakspan aangewys en verslag van hierdie taakspan moes eers afgehandel gewees het, alvorens enigsins oor die “beskrywingspunt” of enige ander moontlike nuwe sake gehandel kon word. Maar wat gemaak as jou regskommissie pens en pootjies deel geword het van die geknoei? Dat die ATR, na alles wat in die Hofuitspraak gesê is, nog die volgende aan die vergadering van die Algemene Sinode kon sê, maak dat ’n mens net jou hande in ongeloof saamslaan: “Die vergadering besluit of hierdie besluite so gehandhaaf word en of die vergadering nuwe of ander besluite oor die saak wil neem.” Dit is dan juis wat by Algemene 2015 gebeur het en waaroor die 2015-besluite nou deur die vergadering nietig verklaar moet word. Dit is waarom 2016 se besluite deur die Hof vernietig is. Daar moes aanbeveel gewees het dat die vergadering nie nou nuwe besluite kan neem nie, want niemand het nog van die 2007- en 2013-besluite, wat nou weer van krag geword het, kennis van revisie gegee nie. Daar was ook nog verdere aanbevelings van die uittredende Moderamen wat voor Algemene Sinode 2015 gedien het, wat nou weer aan die orde moes kom. En ook die teologiese aspekte vervat in die onderskeie beswaarskrifte. En daar was ook nog die 2013-besluit oor verdere studie, wat nie behoorlik uitgevoer is, wat weer van krag geword het. Daar is geen manier waarop die “beskrywingspunt van die Sinode van Wes-Kaapland as kennis van revisie op die 2007- en 2013-besluite kon dien nie. Waarom? Want die Hof het gesê daar is nie by 2016 kennis van revisie van 2015 gegee nie, al het die Gravamen van Noord-Kaapland die voorstelle of aanbevelings voorsien op grond waarvan die Buitengewone Algemene Sinode 2016 tot sy besluite geraak het. ’n Donkie stamp hom nie twee maal teen dieselfde klip nie, maar die Algemene Sinode met die bystand van die ATR doen dit drie keer in vier jaar! Die “beskrywingspunt” van Wes-Kaap het net soos die gravamen van Noord-Kaapland, nie uitdruklik gesê dat revisie van die staande besluit gegee word nie, nóg van 2015 se besluite nóg van 2007 en 2013 se besluite. Daarom is die 2019-besluite op grond van die kerklike bepalinge en die hofbeslissing net so nietig as die 2016- en 2015-besluite. Daarvoor is nie meer ’n beslissing van die hof of ’n algemene sinode nodig nie. Soos die regsmening ten opsigte van die 2016-besluite gesê het: Die besluite van Algemene Sinode 2015 is ’n nuliteit en kan nie wettig uitgevoer word nie. Enige optrede in die lig daarvan sal ook nietig wees. Die ATR se aanbevelings 1.4.5 en 1.4.6 was dus buite orde en die besluite wat op grond daarvan geneem is, nietig. Dit word slegs verswaar deur die feit dat die “beskrywingspunt van Wes-Kaapland” op bedrieglike en leuenagtige wyse op die tafel van die vergadering gekom het en dat sekere lede van die vergadering, in besonder die leierskap en afgevaardigdes van die Sinode van Wes-Kaapland, nooit tydens die vergadering met die waarheid agter die “beskrywingspunt” na vore gekom het nie. Selfs ná die vergadering is die leuens skaamteloos gehandhaaf.

5.2.1.5 Die ATR het deur sy gebrekkige hantering van die beweerde kerkregtelike ongerymdhede heimlik en openlik saamgespeel om die “beskrywingspunt” van Wes-Kaap as deel van die pakkie op die tafel van die Algemene Sinode te kry en te hou. Die aanbring van die kerkregtelike ongerymdhede was net ’n lastige struikelblok om te oorkom, en daar was genoeg gelykgesindes om dit te oorkom, al moes dit op ’n oneerlike en onordelike wyse geskied.

6. GEBEURE TYDENS DIE ALGEMENE SINODE

6.1 Tydens die vergadering van die Algemene Sinode het dit gou duidelik geword dat sekere afgevaardigdes met ’n eie vooraf opgestelde plan na die vergadering gekom het. Die besef het toe reeds by diegene deurgedring dat die 2015-besluite moontlik, weens die talle prosedurele besware in die ingediende gravamina, nietig verklaar kan word. Om iets in die plek daarvan te stel wat sogenaamd “hoop aan LGBTI+-gelowiges” sou bied (vgl. Verklaring in Kerkbode van 6 Oktober 2019), is die “beskrywingspunt van Wes-Kaapland” daarvoor ingevoer. In sy spreekbeurt vanaf die vloer het prof Louis Jonker, wat net in adviserende hoedanigheid namens die teologiese opleiding Stellenbosch teenwoordig was, dit duidelik gemaak dat by verval van die 2015-besluite die “beskrywingspunt” moet dien. Sonder om enigsins verder op die teologiese besware soos vervat in die gravamina in te gaan, het die vergadering net voortgegaan om aan die vooraf ooreengekome “plan” uitvoering te gee. Een klein hekkie moes oorgesteek word, naamlik die feit dat daar géén motivering vir die “beskrywingspunt” ter tafel was nie. Daarvoor is vinnig nog ’n leuen uitgedink. Dr Danie Mouton het dit op 8 Oktober 2019 soos volg aangeteken:

AS 2019, Dag 3 -SELFDEGESLAGVERBINTENISSIE

Aangesien die 2015-besluit nou van die tafel is, dien ’n beskrywingspunt van die Wes-Kaapse Sinode oor Selfdegeslagverbintenisse. Dit is in die Sakelys ingebind op bl 528-9. Bykomend het die Wes-Kaapse Sinode ook betyds ’n motivering ingedien wat per abuis uit die sakelys geval het. Dit word met toestemming van die vergadering uitgedeel.

6.2 Dat daar by ’n kerkvergadering waartydens afgevaardigdes onder die Woord staan en deur die Gees gelei word, in so ’n kort tydsbestek soveel leuens vertel kan word, sê iets van hoe die besluite wat in die lig (of dan duisternis) daarvan geneem is, ontvang en beoordeel behoort te word.

6.2.1 Ten eerste is dit onwaar dat ’n “beskrywingspunt van die Wes-Kaapse Sinode oor Selfdegeslagverbintenisse” dien en bevestig dr Mouton se aantekening dat die vergadering daaroor mislei is en dat, ten spyte van vooraf kennis, nie ’n enkele persoon wat oor die waarheid daaromtrent beskik het, na vore getree het en die nodige regstellings gemaak het nie.

6.2.2 Ten tweede is dit onwaar dat die “Wes-Kaapse Sinode ook betyds ’n motivering ingedien het”. Op 22 Julie 2019 het die Skriba van die Moderamen van Wes-Kaapland aan die Algemene Sekretaris geskryf dat die motivering gereed is, maar dat dit nog by die moderatuur moet dien. Op 30 Julie 2019, nadat die datum vir indiening bykans ’n maand verstryk het, is die motivering ingedien. Terwyl daar openlik in die vergadering gesê is dat die motivering “betyds” ingedien is, het nie ’n enkele persoon wat oor die waarheid daaromtrent beskik het, na vore getree en die vergadering daaroor ingelig nie. Hierdie beswaar moet in ’n baie ernstige lig beskou word, omrede die Bybel gelowiges verplig om die waarheid onder alle omstandighede lief te hê en daaroor te getuig.

6.2.3 Ten derde is dit onwaar dat die motivering “per abuis uit die sakelys geval het.” Toe die motivering ontvang is, was die sakelys reeds in voorbereiding om gepubliseer te word en was die motivering, wat saam met die “beskrywingspunt” ingedien én deur die Moderamen (nie Moderatuur) as die indiener daarvan goedgekeur moes gewees het, dus as laatstuk aan die algemene sekretaris voorsien.

6.2.4 Ten vierde moes die motivering as laatstuk eers deur die Projekspan van die Agenda in ’n addendumverslag opgeneem gewees het en vóóraf aan die lede van die vergadering voorsien gewees het. Die vergadering kon nie self daaroor beslis nie.

7. SKOKKENDE NUWE INLIGTING

7.1 Nadat daar met groot moeite inligting verkry is, ook deur gebruikmaking van die Wet op die Bevordering van Inligting, het die redelike vermoede bly bestaan dat daar ’n afspraak of samespanning tussen die Voorsitter van die Moderatuur en Moderamen van die Sinode van WesKaapland en die Aktuarius van die Algemene Sinode was om die “beskrywingspunt van die Sinode van Wes-Kaapland” saam met die ingediende gravamina op die tafel van die Algemene Sinode te kry. Die rede daarvoor, so is vermoed, was dat die gravamina wat ingedien is teen die 2015-besluite, daardie besluite in geheel tot niet kon maak en dat al die pogings om sedert 2007 by die Algemene Sinode ’n besluit ten gunste van selfdegeslagverbintenisse te verkry, waarin die Voorsitter deurentyd ’n aktiewe rol gespeel het, na al die jare op niks sou uitloop nie. Die korrespondensie wat nou eers beskikbaar geword het, nadat dit vir geruime tyd wederregtelik weerhou is, bevestig die vermoede onomwonde dat die indien van die “beskrywingspunt van Wes-Kaapland” dit ten doel gehad het, en dat die inisiatief daarvoor by die Voorsitter self gelê het. Dit is hy, wat deur die hof in die Gaum-saak aangespreek is oor sy foute in reg en feite, wat die proses gedryf het deur daarvoor sý moderatuur en sý moderamen in te span en die ATR en die Algemene Sinode onregmatig laat beïnvloed het om sý vooropgestelde doel ten alle koste te bereik. Dit mag nie uit die oog verloor word dat ’n soortgelyke werkwyse die 2015-besluite tot stand gebring het nie en dat dit ’n beswaar (appèl) en beswaarskrif (gravamen) gekos het om dit toe uit te wys en aan die man te bring. Die waarheid kan alleen gedien word en reg en geregtigheid kan alleen geskied as die besware teen die 2019-besluite hanteer word, anders sal die leuen bly voortleef en die kerklike verval nie gestuit word nie. Die herhaling van dieselfde ongerymdhede deur dieselfde groep individue en hulle saamlopers wat die aangewese kerkordelike pad verlê het om hulle eie agenda te dien, is hier ter sprake en sal verder ondersoek móét word.

7.2 Soos hierbo aangevoer, het dit geskied deur die pleeg van ’n reeks bedrieglike voorstellings en kerkregtelike ongerymdhede, waarin beide die persone tussen wie hierdie korrespondensie gevoer is, ’n aktiewe aandeel gehad het. Die volgende in die korrespondensie tussen die gemelde voorsitter en aktuarius gevoer op 29 en 30 Mei 2019 spreek vanself:

Voorsitter: “Die Regskommissie sal vir ons uitsluitsel moet gee oor die volgorde waarin die sake ter tafel moet kom in die AS 2019. Indien daar ’n permanente kommissie verslag doen oor die aangeleentheid, moet hulle aanbevelings eerste dien? Daar is ook ’n nuwe beskrywingspunt van Wes-Kaap oppad oor die aangeleentheid. Dan is daar die gravamina. In watter volgorde hanteer ons tydens die vergadering die sake en veral die beskrywingspunte en gravamina? En die aanbevelings van ATLAS en die Regskommissie?

Aktuarius: Waar gravamina en/of beskrywingspunte in Taakspanne se verslae opgeneem is, word dit op daardie punt hanteer[.] Hierdie sou vir my die logiese volgorde wees waarin die sake op die tafel geneem kan word[.] [D]ie ATR sou die AS kon adviseer dat waar daar bv ’n duidelike en ooglopende teenoorstaande standpunt(e) deur bv die Taakspan en Beskrywingspunt/Gravamen voorkom die vergadering kan besluit om die twee standpunte ewewigtig aan te hoor en te hanteer. Die ATR sou kon adviseer dat die voorsitter die verslag van die Taakspan laat dien, sonder enige bespreking en direk daarna die beskrywingspunt/gravamen wat daaroor gaan (ook sonder bespreking). Nadat beide standpunte deur die vergadering aangehoor is, kan bespreking plaasvind en sprekers kan vir of teen enige standpunt praat. Sprekers kan ook enige van die voorstelle/aanbevelinge in enige van die standpunte ondersteun, amendeer en daarteen praat[.]

7.3 Die Voorsitter van die Moderatuur en Moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland maak hier reeds op 29 Mei 2019 by die Aktuarius van die Algemene Sinode en Voorsitter van die ATR voorbrand oor die hantering van “‘n nuwe beskrywingspunt van Wes-Kaap” wat oppad is oor die aangeleentheid (lees: selfdegeslagverbintenisse). Die Aktuarius is reeds in sy antwoord op 30 Mei 2019 daarby ingetrek.

7.4 Maar daar word eers op 12 Junie 2019 by ’n Moderatuursvergadering besluit om die besluite van die Sinode van Wes-Kaapland “redaksioneel en tegnies” te verander en op kort kennisgewing aan die Moderamen vir “Ja” of “Nee” voor te lê. Die Voorsitter werk reeds twee weke vroeër met ’n plan in sy kop en toets die Aktuarius se mening oor die uitvoering daarvan. Hy kry by voorbaat die antwoord waarna hy soek, naamlik dat die standpunt gestel in ’n gravamen [lees: teen selfdegeslagverbintenisse] gestel kan word naas of in opeenvolging van die standpunt in ’n beskrywingspunt [lees: ten gunste van selfdegeslagverbintenisse].

8. WAT WORD GEVRA VAN DIE ALGEMENE SINODE?

8.1 Aangesien die AS 2019-besluite rakende selfdegeslagverbintenisse soos in die gravamen aangetoon, deur die aflê van valse getuienis, die vertel van onophoudelike leuens, die opwekking van verkeerde voorstellings en die openlike en volgehoue verdraaiing van die waarheid en die onkerkordelike wyse waarop dit ingedien en hanteer is, tot stand gekom het, gehandhaaf en verdedig word en tot groot verdeeldheid in die kerk aanleiding gegee het, besluit die Algemene Sinode

8.1.1 om die leuens aan die kaak te stel, besluite weens die valse gronde waarop dit geneem is, met onmiddellike effek tot niet te verklaar en om op ’n gepaste wyse ingevolge die Gedragskode vir Predikante, in besonder 2, 7, 9 en 10 daarvan, op te tree teen, of by die gepaste kerkvergadering optrede aan te beveel teen, dié ampsdraers en funksionarisse wat die eerbaarheid en integriteit van die vergadering van die Algemene Sinode deur hulle optrede in oneer gebring het; en

8.1.2 om te volstaan met die besluite van AS 2007 en AS 2013 en slegs daaraan veranderinge aan te bring nadat behoorlike studie gedoen is, breë instemming oor die uitkoms daarvan bereik is en daar in alle opsigte eerlik en deursigtig daarmee omgegaan is.

30 JUNIE 2023

1 thought on “Litanie van leuens”

  1. Dankie aan Dr Ernst vir die deeglike manier waaarop die feite ingewin en dit uiteengesit is.
    Dankie ook Daniel dat jy dit hier publiseer. Dit gee my die bewyse vir kerkkaping en oneerlikeheid wat nie juis terugstaan by die ANC en Statskaping nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui