‘Onnies wat evolusie verwerp, moet afgedank word’

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Beeld verskyn. Kommentare verskyn in rooibruin blokhakies tussen die teks.

*********

‘Onnies wat evolusie verwerp, moet afgedank word’

Deur Hannes Kruger

9 Maart 2017 15:14

Onderwysers wat aan leerlinge sê hulle moenie in evolusie glo nie, moet afgedank word, sê kenners.

“As Suid-Afrika agter die klip wil bly, moet onderwysers aanhou om vir leerlinge te sê hulle glo nie in evolusie nie,” sê prof. George Claassen, wetenskapskrywer en -joernalis.

Claassen sê onderwysers mag onder geen omstandighede vir kinders sê hulle moenie in evolusie glo nie.

[Skeppingsleerders het dit nog altyd aangemoedig om wel evolusie op skool te leer, maar dan met al die probleme daarvan daarby (“warts and all”). Kyk Creation and evolution: teaching two histories.]

“Onderwysers wat lewenswetenskap aanbied op skool en nie evolusie as wetenskaplike feit aanvaar nie, behoort nie ’n onderwyser te wees nie en moet op die plek afgedank word,” sê Claassen.

[Hierdie is bietjie belaglik, want evolusie is nie ’n wetenskaplike feit nie. Kyk Operasionele vs historiese wetenskap.]

Hans Pietersen van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) sê hulle kry gereeld klagtes van ouers wat uitvaar teen onderwysers wat aan leerlinge sê hulle hoef nie in evolusie te glo nie.

Hy sê die meeste klagtes is teen onderwysers in Pretoria.

Oupa Bodibe, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, sê die onderrig van evolusie is op wetenskaplike bewyse gegrond.

“Onderwysers is veronderstel om die feite aan die leerlinge te leer en moet dit nie aan die hand van hul geloof doen nie,” sê Bodibe.

Pietersen sê evolusie is nie ’n geloof nie. “Dis ’n wetenskaplik bewysbare teorie. Dit is die onderbou van die wetenskap.”

Claassen sê biologie draai om evolusie.

“Biologie kan nie bestudeer word sonder om evolusie ten volle te begryp nie. Onderwysers wat dit nie wil aanbied nie of vir leerlinge sê om dit nie te glo nie, mislei die kinders en leer hulle nie om krities te dink nie,” sê Claassen.

[Nie waar nie. Prof Louis Bounoure het die volgende gesê: “Evolusionisme is ’n sprokie vir grootmense. Hierdie teorie het niks gehelp in die vooruitgang van die wetenskap nie. Dit is nutteloos.” Kyk ook Aanhalings – Evolusie dra nie by tot wetenskap.]

Bodibe sê leerlinge sal erg benadeel word indien onderwysers evolusie nie deeglik met hulle behandel nie.

Evolusie is deel van lewenswetenskap se leerplan en dié wetenskaplike teorie maak meer as 40% van vraestel 2 uit.

“Leerlinge wat dus nie evolusie deeglik onder die knie het nie, gaan sukkel om vraestel 2 te beantwoord, wat hulle uitslae negatief gaan beïnvloed,” sê Bodibe.

Hy sê leerlinge sal nie sonder kennis van evolusie verder in enige wetenskaplike rigting kan studeer nie.

Pietersen sê niemand “hoef hul geloof by die venster uit te gooi nie”.

“Daar is duisende gelowiges wat evolusie onderskryf. Dis deel van die wetenskap. Dit is egter oningeligte gelowiges wat dink evolusie is ’n saak van aanvaarding of verwerping,” sê Pietersen.

[Die vraag is of jy werklik die Bybel met evolusie kan versoen. Die antwoord is “nee”. Kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?.]

Bodibe sê die nasionale kurrikulumverklaring (NKV) het die doel en visie van onderrig in Suid-Afrika herdefinieer.

“Die NKV se doel is om leerlinge deeglik te laat nadink oor wat hulle leer en hul kennis in verskeie situasies toe te pas.

“Die NKV se doel vereis ook van leerlinge om krities te dink. Hulle moet ook bewus wees van die sosiale en etiese kwessies wat Suid-Afrikaners in die gesig staar.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui